Uittreksel | Die dokter langsaan
Een
’n Wit sportmotor blits rakelings by Bea Botes se pers bromponie verby en sy verloor so byna-byna haar balans. “Seriously?” brom sy onderlangs en kyk die luukse ryding agterna. “Kyk waar jy ry, mamparra!” skree sy luidrugtig agter hom aan. Hy dink sekerlik omdat hy met sy pa se geld ’n peperduur stel wiele kan bekostig, beteken dit hy kan hier op die kampus ry soos en waar hy wil. Oukei, dis nie baie ladylike om so te skree nie, maar het sy dan nie saam met twee ouer broers grootgeword en geleer om op haar regte te staan wanneer nodig nie?
“Sorry, Blondie!” ’n Diep lag weerklink bo die snor van die sportmotor se enjin uit en hy waai net vrolik vir haar. Tipies mansmens. Hy gaan heel waarskynlik nou vir sy vriende vertel van die dom blondine wat voor hom ingery het.
Bea skud haar kop. Diesulkes sal daar altyd wees. “Ek wed jy het nie nodig om jou CV oral rond te stuur om aansoek te doen vir werk soos ek nie. Jy stap natuurlik reguit in ’n korporatiewe pos in Pappie se besigheid in,” brom sy onderlangs en trek agter hom aan weg na die hoofuitgang van die kampus toe. Daar aangekom, is hy reeds ’n hele ent in die besige straat af middestad se kant toe.
Steeds opgewerk, klik sy haar tong. Oukei, vergeet van hom. Vanaand vier sy en haar twee woonstelmaats die einde van ’n era op tipiese studentemanier en sy sien uit daarna. Sy gaan nie toelaat dat ’n ongeskikte vent dit bederf nie.
Sy draai op die sitplek om en laat loop haar oë vir oulaas oor die kampus. Die einde van haar studentelewe het aangebreek en sy voel effens nostalgies. Hier het sy hard gewerk, maar ook net soveel pret saam met haar vriendinne gehad. Ten spyte van baie belangstelling van die teenoorgestelde geslag, was romanse egter nooit deel van daardie pret nie. Sy wat Bea is, stel nie belang in die storm en drang van romantiese liefde nie. Sy het te veel kere gesien hoe dit iemand bitter seer kan maak, soos byvoorbeeld vier jaar gelede toe haar stiefsussie Karien op haar broer Schalk verlief was, en haar ander broer Jaco weer sy hart op Karien verloor het. Sy is doodseker Karien en Jaco loop albei nou nog met littekens op hul harte rond. Nee dankie, dis nie vir haar nie.
Dis ’n soel someraand in Pretoria en die atmosfeer in die besige opelugrestaurant, gepak met jillende studente, is feestelik. By ’n tafel eenkant sit Bea met haar twee beste vriendinne, Zoë en Karien. Bea en Karien het stiefsusters geword nadat Karien se pa, die welbekende argitek, en Bea se ma, ’n uiters gewilde spanningsverhaalskrywer, vier jaar gelede getroud is.
Vanaf hul eerste dag op universiteit was die drie meisies onafskeidbaar. Hulle was nie een oomblik spyt oor hul besluit om nie koshuis toe te gaan nie maar eerder ’n woonstel te huur. Om geld te bespaar, het Karien en Bea vir Zoë as huurder van die derde slaapkamer in hul woonstel aanvaar en ’n beste vriendin bygekry.
“Ons het tydens die inperking gedink ons gaan dalk nie ons studie kan voltooi nie, maar hier is ons nou.” Zoë Gericke, die petite een met ’n manjifieke maanhaar van rooi krulle en fyn sproetjies op haar neus, lig haar wynglas in ’n heildronk. “Op ons gradedag. Mag ons almal se drome ver oortref word.”
“Hopelik sal ons in die toekoms iets beter as hierdie goedkoop huiswyn kan bekostig,” bekla Karien Vermeulen hulle lot en lig haar lang donker hare uit haar nek in ’n poging om af te koel.
“Ek sal seker nooit beter as Chateau de Cardboard kan koop nie,” borduur Bea effens moedeloos voort.
“Julle ouens, ek raak so ’n bietjie desperaat. Ons het maande gelede reeds begin aansoek doen vir werk, maar niks gebeur nie. Wat gaan ons doen? Ons kan nie vir ewig op ons ouers se nekke lê nie.”
“Jip. Die meeste van die plekke waar ek aansoek gedoen het, het laat weet ek het ondervinding nodig om te kwalifiseer vir die pos. Waar moet ’n mens ondervinding opdoen as niemand jou ’n kans wil gee nie?” laat Karien van haar hoor.
Zoë trek ’n gesig. “Ek het BCom geswot om my pa gelukkig te maak, en hy hou vol dat ek saam met hom in sy rekenmeestersbesigheid in Johannesburg moet gaan werk, maar ek sal krepeer as ek heeldag syferwerk moet doen. Ek wil liewer iets meer kreatief doen.”
Karien skud haar kop. “My honneursgraad in letterkunde beteken ook blykbaar min. Al wat beskikbaar is, is onderwysposte en nes jy, sal ek omkom as ek elke dag vir ’n klomp kinders moet leer spel en opstelle skryf. Ek sal veel eerder graag wil skryf soos Ma, maar sy vertel my dit neem tyd om naam te maak. Boonop is die Afrikaanse boekebedryf so klein dat ’n mens nie genoeg geld kan verdien om van skryfwerk te leef nie.”
“Ek weet ons het die idee vantevore afgeskiet, maar wat daarvan ons drie begin saam ’n besigheid?” wonder Bea hardop.
Zoë neem ingedagte ’n slukkie van haar wyn. “Dit sal fabulous wees as ons saam iets kan doen, maar wat? Ons het gepraat van ’n koffiewinkel omdat Bea ’n paar baristakursusse gedoen het toe sy naweke in ’n koffiewinkel gewerk het, of ’n boekwinkel, omdat Karien so ’n boekwurm is, maar nie een van die twee sal genoeg geld kan inbring om al drie van ons te onderhou nie.”
“Nee, die huur van winkels hier in die stad is astronomies. Dit sal al ons wins insluk,” laat Karien weer van haar hoor.
Op daardie oomblik kom hul kelner aangestap met ’n bottel vonkelwyn in ’n ysemmer en drie langsteelglase op ’n skinkbord. Hy sit dit op hul tafel neer.
“Ons het dit nie bestel nie,” keer Bea vinnig voordat hy dit kan oopmaak.
“Dit kom van die meneer daar in die hoek.” Hy wys na waar ’n man in ’n donker aandpak alleen by ’n tafeltjie sit. “Hy stuur hierdie ook.” Hy sit ’n briefie voor Bea neer.
Sy vou dit oop. Die mamparra is jammer oor vanoggend. Hoop dit smaak beter as die huiswyn wat julle drink, staan daar in ’n sterk handskrif. Bea kyk op na waar hy haar glimlaggend sit en dophou. Natuurlik het hy vanoggend daar op die kampus gehoor wat sy hom toegesnou het, want sy sportmotor se leerdakkie was afgeslaan. Vanselfsprekend dink die gepoleerde meneer sy keuse van drank is beter as hulle s’n.
Bea skud heftig haar kop. “Nee dankie, neem dit vir hom terug. Ons kan ons eie wyn koop.”
“Aikôna, ons weier nie goeie vonkelwyn nie,” keer Zoë en laat haar oë waarderend oor die goue letters op die etiket gaan. Sy sluk die laaste bietjie van haar wyn weg en sit die leë glas op die kelner se skinkbord neer. “Sê vir die meneer baie dankie,” keer sy hom en beduie dat hy die bottel vir hulle kan oopmaak.
Bea sug oorwonne. “Oukei, skink dan maar.”
Toe sy weer opkyk, sit daar ’n ooglopend verliefde paartjie by die tafeltjie in die hoek en hul aantreklike weldoener is skoonveld.
“Wie was dit?” vra Karien nuuskierig. “Hy is nogal sag op die oog. So tall, dark and handsome en duidelik welvarend. Wat sê die briefie?”
“Welvarend met sy pa se geld, dis vir seker.” Bea gee die briefie vir haar stiefsussie wat dit hardop voorlees.
Zoë lyk nou hoogs geamuseerd. “Mamparra? Klink of hier ’n storie is. Komaan, uit daarmee, Bea.”
Bea is genoodsaak om van die oggend se insident te vertel. “Te oordeel na sy blink sportmotor, die deftige aandpak en die duur vonkelwyn, is sy pa sekerlik skatryk,” sluit sy haar vertelling af.
“En weereens bewys dit net dat blondines al die pret het. Al die jare hier op kampus het Bea met haar goue lokke altyd al die sexy manne se aandag getrek, en ek en Karien moes droëbek toekyk hoe jy hulle een na die ander in die stof laat byt omdat jy allergies vir romanse is,” kla Zoë kastig.
“Jip, niemand het nog ooit vir my vonkelwyn gestuur omdat hy jammer oor iets was nie. Gelukkig deel ons darem vanaand in die buit,” sê Karien en lig haar vonkelwynglas. “Op ons studentedae wat nou finaal finish en klaar is.”
“Op die besigheid wat ons saam gaan begin en die eerste miljoen wat ons gaan maak,” droom Zoë lekker.
Karien lag. “Daar sal baie water in die see moet loop voor dit gebeur,” reken sy, maar dan versober haar gesig. “Miskien kan Ma en Pa ons raad gee daaroor. Gaan jy nog die vakansie saam met my en Bea huis toe, Zoë?”
“Net vir twee weke. Daarna moet ek ernstig werk soek voordat my pa my dalk regtig oorreed om vir hom te werk en dis die laaste ding wat ek wil doen.”