Uittreksel | Die dogters van Casalina

Proloog
1941–1945
Met die Tweede Wêreldoorlog in volle gang het Italië en Duitsland in 1942 nederlae in Noord-Afrika teen die Geallieerdes (Engeland, Frankryk, Rusland en China, insluitend Suid-Afrika) gely. Duisende Italiaanse soldate is in Noord-Afrika en tydens veldtogte in die Egiptiese en Libiese woestyne gevange geneem.
Die roetes na elders in Europa was te gevaarlik vir skepe. Die krygsgevangenes is vanaf die fronte in Ethiopië en Eritrea in die Suez-kanaal op skepe gelaai. Daarná is hulle in Suid-Afrika by die Durbanse hawe afgelaai en per trein na Zonderwater-interneringskamp naby Cullinan, so neffens Pretoria, gestuur.
Die instroming van die sowat 90 000 gevangenes was vir Suid-Afrika ’n uitdaging. Daar is inderhaas reëlings getref vir soveel mense se verblyf en die logistiek daaromheen.
Benewens Zonderwater is van die gevangenes ook later in Koffiefontein, die Paarl, Robertson, Pringlebaai en Durban aangehou. Hulle is van daar verskuif na plase en ander werksplekke waar hulle ook kon bly.
Op 8 Mei 1945 het die Tweede Wêreldoorlog finaal en amptelik tot ’n einde gekom, maar die Zonderwater-interneringskamp is eers in 1947 gesluit.
’n Paar dekades later vervleg die lewe van ’n jong weduwee met die nageslag van ’n Italiaanse krygsgevangene – een van hulle wat met ’n doel na Suid-Afrika teruggekeer het.
1
Ciska staar lank na die e-pos op die rekenaarskerm voor haar.
Haar oë skeer nog ’n slag oor die brief:
Liewe mevrou Luckhoff
Ek hoop dit gaan goed.
Ek val sommer met die deur in die huis, want ek
is oud en sieklik en het nie baie tyd oor nie. Ek het
dringend iemand nodig om my memoires te skryf.
Ek stuur my kleinseun se telefoonnommer. Sal u ons
asseblief so spoedig moontlik van u besluit verwittig?
Dis dringend.
Ek het ’n groot huis. U kan kom oorbly.
Groetnis
Francina Bernardi
Sy glimlag en skryf die man se naam en telefoonnommer in die notaboek langs haar neer. Hierdie tante is die soveelste persoon wat glo dat hulle storie uitsonderlik is. Dis of die ouderdom en gepaardgaande verlies aan aktiwiteite by afgetredenes lei tot meer tyd om oor die lewe te reflekteer. Negatiewe emosies, soos skuldgevoelens en selfverwyt oor besluite wat tot verkeerde keuses gelei het, word uit verband geruk. En tog, die tyd bring insig en ’n sagtheid mee waarmee ’n mens die lewe wil afsluit van die onerbarmlike; die skurwe kante wil afskaaf.
Nadat Ciska by Dagblad onbetaalde verlof geneem het om vir Liam by te staan, het sy terwille van oorlewing nogal oorweeg om so iets te doen. Sy het al soveel geleenthede gehad. Maar sy het destyds daarteen besluit, want dan kon sy netsowel maar by Dagblad aangebly het. Dit sou haar te veel van Liam af wegneem. Sy sou te veel tyd aan ander moes spandeer, terwyl haar lewensmaat se tyd so kort geword het.
Sy wou nie eens toelaat dat ’n versorger haar ontneem van die laaste paar maande in sy lewe nie. Daarby het sy meer as genoeg manuskripte ontvang om te ontwikkel. Sy het ook ’n paar rubrieke behartig en so hier en daar ’n kortverhaal in tydskrifte gepubliseer gekry. In dieselfde kamer waar Liam gesukkel het om asem te kry, kon sy op ander maniere probeer geld verdien en terselfdertyd toesien dat sy suurstofsilinder beheer word.
Die woorde voor haar op die rekenaar raak dof. Die chemosessies het meer geword. So ook die finansiële eise. Sy het dit nie voorsien nie en moes meer werk aanvaar; het later soos ’n robot tussen behandelings en chemosessies deur gefunksioneer.
En toe kom die skuldgevoelens en die angsaanvalle. Onverwerkte emosies as gevolg van trauma oor ’n lang tydperk, het Isobelle, die sielkundige wat so tydig in haar lewe gekom het, gesê. Haar pa en ma is binne ’n jaar weg. Daarna Liam. Die drie belangrikste mense in haar lewe waaroor sy moes rou. Steeds rou. Maar sy kan nou teruggaan Dagblad toe en haar lewe hervat.
Sy kry nie meer angsaanvalle wat sy as verskoning kan gebruik om nie weer tussen en saam met ander mense te werk nie. En sy het geld nodig. Maar haar keel trek toe as sy net daaraan dink dat sy haar óú lewe, soos sy meer en meer daaraan dink, moet hervat. Haar gedagtes word gedefinieer deur haar lewe voor en na die diagnose.
Die diagnose!
Ciska byt vertwyfeld aan die ingeskeurde velletjie langs haar een vingernael – ’n duidelike bewys dat haar hande versorging nodig het. Sý het versorging nodig, dink sy wrang. Sy sal iets daaraan moet doen. Haar lewe het benoud en bekrompe geword. Uitsigloos. As … ás sy dalk ’n nuwe fase in haar lewe wil aanpak, moet sy ten minste ’n nuwe sweetpak kry. En iets nuuts om in die openbaar mee te verskyn. Dalk net ’n mooi, nuwe trui saam met haar denim. Sy glimlag skeef. Isobelle sal baie bly wees om dit te hoor. Haar sielkundige is seker al moedeloos met haar.
In die tyd toe haar ma al baie siek was, het sy een aand ’n faktuur van Isobelle uit die Bybel voor haar bed gehaal. “Dis baie swaar om ’n geliefde te verloor. Ek het hierdie vrou gaan sien ná jou pa se dood.”
Ciska het voor die verlatenheid in haar ma se oë gekrimp. Sy was geskok. Was sy waaragtig só blind en ongevoelig dat sy nie agtergekom het hoe moeilik haar ma ná haar pa se dood gekry het nie? Te besig om self kop bo water te probeer hou met Liam? Soveel so dat haar ma elders moes gaan soek na ’n oor om te luister en ’n skouer om op te leun in haar stryd teen die hartseer. ’n Sielkundige?
Sy wou nie hoor wat haar ma suggereer nie. “Liam gáán hierdie siekte oorwin, Mamma,” het sy teëgestribbel. “Hy sal nie doodgaan nie.”
“Dis nie wat ek gesê het nie, my kind. Maar jy kan nie alleen deur my skete, jou werk én Liam se toestand kom nie.” Sy het die faktuur met ’n bewerige hand uitgehou. “Hierdie vrou is professioneel en het my baie gehelp. Sy sal jou ook help om deur die traumas te kom.”
“Niemand sal doodgaan nie.” Haar keel het gebrand, soos wanneer sy voor Liam moes voorgee dat alles oukei is. Sy wou nie haar ma óók verloor nie.
“Belowe my dat jy haar sal gaan sien. Asseblief, dit sal vir my gemoedsrus gee.”
“Mamma …”
“Belowe, Ciska!”
“Ek belowe.”
Sy het toegegee, want iewers diep binne-in haar het sy geweet dat die geelbleek vrou in die bed voor haar nie vir lank meer daar sou wees om haar met Liam te help nie. Sy het nie daardie dag die faktuur geneem nie. Haar ma is kort daarna sonder ophef in die hospitaal opgeneem en het nie weer huis toe gekom nie.
Eers toe Ciska haar ma se Bybel saam met ander persoonlike goed ná haar dood by die hospitaal gaan haal, het sy van haar belofte onthou.
Een oggend toe sy vir Liam by ’n versorger moes los vir noodsaaklike inkopies, het sy die faktuur gesoek en gevind. Sy het ’n afspraak by die sielkundige gekry, maar nie in haar wildste drome gedink hóéveel sy haar sou nodig kry in die moeilike maande wat voorgelê het nie.
Isobelle was sedertdien daar om haar te help om afstand te kry en praktiese besluite te neem, al het dit sommige dae gevoel of sy nie sterk genoeg is om deur haar dag te kom nie. Ciska het aanklank by die sielkundige gevind.
“Moet net nie vir my preek nie, asseblief,” het sy die heel eerste dag by die sielkundige gepleit. “Daar is te veel dinge wat ek nie verstaan nie.”
Stadigaan het daar ’n vriendskap tussen hulle ontstaan. Dit het egter nie vir Isobelle weerhou om streng professioneel op te tree wanneer dit nodig was nie. Sy het selfs pilletjies voorgeskryf om teen die angsaanvalle wat ná Liam se dood ingetree het, te help.
Ciska probeer weer om haar aandag by die rekenaarskerm te bepaal. “Van sit en staan kom niks gedaan,” hoor sy haar ma se stem asof sy steeds deel van haar lewe is.
Ja, Mamma, ek onthou ook van die flukse miere waarna die luiaard moet gaan kyk, maar die woorde van die Prediker sê ook ’n mens moet jou werk geniet.
Sy kyk verby die rekenaarskerm na die kaal, bedremmelde takke van die perskeboom reg langs haar studeerkamervenster. Dit wys nog geen teken van ’n komende warm seisoen nie. Wanneer laas het sy haar werk geniet? Wanneer laas was sy opgewonde oor die dag wanneer die lig teen haar venster haar soggens wakker maak? Wanneer laas het sy gevoel dat sy lewe, nie net bestaan nie?
Sy fokus met mening op die manuskrip voor haar. Hoe eerder sy hiermee klaarmaak, hoe beter vir haar gemoed. Die skrywer het nie ’n idee hoe om hoofstukke logies op mekaar te laat volg nie. En dan het sy nog ’n spelprobleem ook.
Die tyd vervaag en die skrywer se storie begin ontwikkel tot iets wat moontlikhede het. Maar toe Ciska besef dat sy dors en honger is, skakel sy haar rekenaar af en rol haar stoel onder haar lessenaar uit. Sy staar vir ’n lang oomblik na die reëndruppels wat huilspoortjies teen die venster maak. Miskien sal sy weer nuwe energie kry as die winter verbygaan. As die son ná die weeklange Kaapse reën net weer een oggend kan skyn, sal dit ligter word in haar gemoed.
“Dis tyd om voort te gaan met jou lewe.” Só het Isobelle met die vorige sessie gemaan.
Ciska plak ’n snytjie ham op die gebotterde ciabatta-broodjie, sny ’n paar skyfies komkommer bo-oor en huiwer vir ’n oomblik voor sy die bottel mayonnaise uit die yskas haal. Sy is ook siek en sat van gesonde kosse. Sy wil weer normaal voel. Normaal soos in lus wees om asem te haal sonder om skuldig te voel omdat die diagnose Liam se asem van hom ontneem het.
Oudergewoonte skakel sy die televisie aan terwyl sy haar regskuif om haar broodjie en koffie te geniet – die enigste kontak wat sy deesdae met die buitewêreld het. In afgryse staar sy na ’n grondverskuiwing wat iewers in die Kaap in ’n pas plaasvind. Bome, bosse en rotse rol en skuif onstuitbaar teen die berg af. Groot inheemse bome word deur die watermassas ontwortel, tuimel oor die afgrond en tel spoed op waar dit die grysblou pad uitkalwe en in massas na benede stort.
Dis metafories vir hoe dit met haar lewe gegaan het die laaste paar jaar, asof daar nie keer aan haar verliese was nie. Eers haar pa se skielike heengaan; toe haar ma se niere wat weier om saam te werk. En toe Liam: Liam met die lus vir lewe wie se lewenswortel deur die kanker ontneem is.
Daarmee saam het die geldelike verliese opgehoop. Dat sy haar ouerhuis kon verloor, het ’n werklikheid geword. Sy sal moet meet en pas. En óf teruggaan Dagblad toe, óf baie vinnig werk maak van die versoek van die ou tante wat haar memoires opgeteken wil sien vir die nageslag. Iewers moet sy ’n begin maak voordat sy gek word van bekommernis oor haar toekoms. Sy het haar lus vir eet verloor, sluk net haar louwarm koffie, reik dan doelgerig na haar foon.
Die vrou se brief sê nie veel nie, en sy wil darem ook nou nie tot in Timboektoe ry vir ’n inkomste nie. Sy pons die nommer op haar foon in.
“Dokter Bernardi en vennote. Goeiemiddag.”
Ciska sit orent en hou die foon ’n paar oomblikke weg van haar oor toe die ontvangsdame die gegewens in Engels herhaal. Oepsie, sy sal eerder gaan kyk of die ou tante dalk ’n ander selfoonnommer ook gegee het. Sy stotter ’n verskoning dat dit ’n verkeerde nommer is en plak haar foon versigtig op ’n droë plekkie tussen die krummels en komkommerskille op haar kombuistoonbank neer.
Metodies ruim sy die kombuis op. Sy wil graag aangaan met haar nuwe lewe en móét haarself dwing om uit maande se lusteloosheid op te staan. Dis om terug te gaan Dagblad toe wat haar kuite lam maak. Sy sien nog nie kans vir die kollektiewe energie van ’n koerantkantoor nie. Lafhartig? Miskien, maar miskien ook bang vir die mense se simpatieke blikke en woorde wat haar, so goed as wat hulle dit ook al bedoel, onmiddellik terug laat tuimel in ’n donker put.
Uiteindelik trek sy haar rekenaar weer nader, huiwer ’n lang oomblik en stuur dan ’n e-pos aan die tante. Sy stel beslis belang, skryf sy, en gee haar selfoonnommer. Hulle moet háár nou maar kontak.
Nou maak sy die huidige manuskrip voor haar oop. Haar skouers sak moedeloos vorentoe. Nee! Sy sien nie meer kans om ander se kreatiewe pogings te verwerk nie. Sy sal moet teruggaan Dagblad toe as sy nie die kans wat die sieklike ou vrou haar bied, met al twee hande aangryp nie. Sy druk die potlood uit gewoonte in haar hare bokant haar oor in om te verhoed dat sy die agterste punt afkou.
Die selfoon skel onverwags. Onbekende nommer.
“Mevrou Luckhoff? Mateo Bernardi hier. My moeder het u glo gevra …”
Ciska kan sweer sy hoor ’n sug. “Sy het my gekontak,” antwoord sy vinnig.
“As jy belangstel, sal my prokureur jou kontak vir ’n onderhoud.”
Kortaf. Koud.
Onthou die rooi strepie op jou bankbalans, Ciska. “Ek stel belang, soos ek in my e-pos aan u moeder genoem het.”
Die oproep word abrup beëindig nadat hulle ooreengekom het dat die prokureur verder met haar onderhandel. Sy ou moeder moes ’n baie vinnige oproep na sy spreekkamer gemaak het, besluit sy, en voel hoe haar mondhoeke onwillekeurig optrek in ’n glimlag. Klink of die seun bekonkeld is.
Die Kaap is deurweek. Al wat ’n hol ding in die Boland is, is tot oorlopens toe gevul. Die damme loop oor.
Die onderhoud met die prokureur, ene Tinus Vermaak, was heel aangenaam, oordink Ciska die uur wat sy met die man op die lughawe spandeer het voordat hy koers gekry het na ander belangrike vergaderings. Al die pad van Plettenbergbaai af gekom. Die Bernardi’s is ’n formidabele, gerespekteerde familie, met ’n sterk Italiaanse agtergrond, kon sy uit die gesprek aflei.
Mevrou Bernardi, wat sy in haar gedagtes as ’n goedige tante sien, het ’n mediese probleem wat tans haar bewegings beperk. Maar met haar geheue skeel daar niks, het die prokureur klem daarop gelê. Die personeel woon op die perseel, aangesien die villa, Casalina, tussen Plettenbergbaai en Knysna tussen inheemse bosse op die kuslyn geleë is.
Die prokureur het haar half verbaas aangekyk toe sy gevra het waar mevrou Bernardi van haar gehoor het.
“Ek het aangeneem dat die redakteur van Dagblad waar u voorheen gewerk het vir haar ’n verwysing oor u gegee het. Dat hy u aanbeveel het toe dokter Bernardi na ’n skrywer vir sy ma se lewensverhaal begin soek het.”
Sy het geknik. Dit maak sin. Dagblad se redakteur is ’n baie billike man. Hy verstaan dat sy nog nie gereed is om weer as ondersoekende joernalis op te tree nie.
Die prokureur het nadenkend na haar gekyk terwyl hy sy notas in sy aktetas gepak het.
“Interessantheidshalwe, mevrou Luckhoff, wat verhoed iemand met jou ervaring om weer tot die joernalistieke wêreld toe te tree?”
“Om weer my ekwilibrium terug te kry ná my man se dood, en die feit dat ek gewoond geraak het om in die stilte van my huis te werk, speel ’n groot rol. Ek het ervaring van die gewoel en gewerskaf van die koerantwese, en ek dink die tussentydse rol as skrywer van iemand se memoires sal vir my die nodige tyd en spasie verskaf om weer my ewewig te herwin.”
Hy het sy kop instemmend geknik.
“Ek sal vanaand nog met dokter Bernardi praat oor ons onderhoud. Hy sal met u in verbinding tree.”
Sy het ook opgestaan. “Sou ek aanvaar word vir die pos … is daar werklik nie ’n kans dat ek in die naaste dorp verblyf kan kry nie? Ek het my eie vervoer en verkies om onafhanklik te kom en gaan.” Dat daar van haar verwag word om by die familie in hulle huis tuis te gaan, is die enigste werklike rede wat haar onseker maak.
Die man aan die oorkant van die restauranttafeltjie het sy kop beslis geskud.
“As u weet hoe ongemaklik die pad na die villa is, sal u nie vir ’n oomblik twyfel aan die redelikheid van hulle versoek nie.”
“Ek het ’n stewige voertuig van my pa geërf wat kleingeld maak van ongemaklike paaie.”
“Nee.” Hy was beslis. “Die familie sal verantwoordelik vir u wees. Hulle verkies dat u inwoon.”
Die e-pos bereik Ciska ná ’n vol dag waarin sy haarself vir die eerste keer in baie maande bederf het. Sy voel letterlik van kop tot toon geoverhaul, soos haar ma dit sou noem.
Sy sien haarself raak in die ingangsportaalspieël die oomblik toe sy by die voordeur instap. Die oliebehandeling en kopmassering het wondere gedoen. Die haarkapper het haar donkerblonde hare ’n bietjie korter gesny, maar lank genoeg gehou om in ’n Franse vlegsel te kan knoop. Die bietjie bederf aan haar hare, voete en naels sorg al klaar vir ’n vreemde gevoel van vryheid en bring ’n onverwagse glinstering in haar blou oë. Dit voel asof sy weer haar kop kan lig. Asof sy weer deel word van die wyer wêreld.
Sy is nog besig om die sambreel toe te vou, toe sy die tieng hoor – nuwe e-pos:
Beste mevrou Luckhoff
Dit is vir my aangenaam om u mee te deel dat ons
u graag as skrywer van my moeder se lewensverhaal
wil aanstel. Ons hoop dat u kans sal sien om haar
lewensverhaal in ’n storie te omvorm. Vind asseblief
die formele aanstellingsbrief – wat die terme
en voorwaardes van u indiensneming uiteensit,
insluitende die salaris, voordele en ander relevante
besonderhede – hierby aangeheg.
Indien u enige vrae het, kontak my asseblief.
Mateo Bernardi
Ciska druk die dokument uit. Om darem ’n kontrak só vinnig te teken …? Dit sal haar voorwaarde wees: Sy wil eers die familie ontmoet voor sy so ’n drastiese stap doen.
Dit voel skielik asof al haar binnegoed in een groot spasma gaan. Wat as …? Sy besluit om eers by Isobelle te gaan kers opsteek.