Skip to main content

Uittreksel | Die Bybelse vas

Hoofstuk 1

Die praktyk van vas

Vir die grootste gedeelte van my lewe het ek, soos die meeste mense, glad nie geweet van die Bybelse vas nie. Ook nie hoekom mense wil vas nie. Ek het wel geweet dat die Moslems gereeld vas, maar dit was al. Al was ek van my kinderjare af reeds ’n gelowige, was die gebruik van vas vir my ’n vreemde konsep. Dit was nie iets waarin ons onderrig is of wat aangemoedig is in die gemeentes of gemeenskappe waarin ek grootgeword het nie.

Dis eers nadat ek in 2008 Jentezen Franklin se boek Wanneer julle vas gelees het dat daar ’n heel nuwe wêreld vir my oopgegaan het. Ek het daardie jaar vir die heel eerste keer besef dat Jesaja 58 verwys na ’n vas wat God wil hê. Franklin skryf in sy boek van die bonatuurlike wonderwerke in die lewens van mense wat in gebed en vas tot God genader het. Ook van die verskillende soorte en tydperke van vas, en die fisiese voordele wat dit vir die menslike liggaam inhou.

Dit was asof ek ’n waardevolle skat wat diep gebêre was, ontdek het. Jesaja 45:2-3a (AFR83) lui: “2 Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak. Ek sal bronspoorte oopbreek en sluitbalke van yster stukkend kap. 3 Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word, die rykdomme wat weggesluit is, sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het …

Soos wat ek die Bybelse vas in my eie lewe begin toepas het, het dit die sleutel geword wat oneindig baie nuwe geestelike waarhede vir my ontsluit het. Ek het God en Sy koninkryk op ’n heel nuwe manier ervaar. Ja, ek het ’n nuwe dimensie van God die Vader, die Heilige Gees en die koninkryk van God leer ken – en ek was sowaar deel daarvan! Vir die heel eerste keer het ek besef dat die geesteswêreld en die vleeslike wêreld onlosmaaklik deel van mekaar is. Die heiligheid van God het my totaal en al oorweldig. Sy majesteit en heerskappy is ver verhewe bo enige iets wat ek geken het. Die omvang van Sy goedheid en die rykdom van Sy wysheid is ver meer as wat ek my ooit sou kon voorstel.

Dis eers wanneer jy self begin bid en vas dat jy sal beleef dat God Hom op ’n ander manier aan jou openbaar as wanneer jy net bid sonder om te vas. Tydens die Bybelse vas word die klanke van die res van die wêreld uitgedoof, sodat jy God se stem duideliker kan hoor. Gedurende vas voed ons ons gees meer as ons vlees, en daarom kan ons gees sterker word en beter onderskei.

Wanneer jy eers die waarde van vas ontdek, is dit onmoontlik om God net as ’n ritueel te aanbid. Hy raak so ontsettend betrokke dat godsdiens plek maak vir ’n lewende en kragtige verhouding met ’n bonatuurlike God. Dis ’n verhouding wat toeneem in vrymoedigheid, kinderlike geloof, sterk salwing en nuwe geleenthede.

Tydens gebed en vas gee ons aan God die geleentheid om ons te vorm tot bruikbare instrumente in Sy koninkryk. Gebed en vas is ’n kragtige instrument in die proses van heiligmaking, iets wat almal van ons gereeld nodig het.

1.1 Vir wie is gebed en vas bedoel?

Dit is nie verpligtend vir ’n Christen om te vas nie. Nêrens in die Bybel gee God aan die mens ’n opdrag om te vas nie. As jy nie vas nie, sal dit jou nie uit die koninkryk van God hou nie, maar jy mag jouself dalk net van ’n hele paar geleenthede en deurbrake ontneem.

Jesaja 58:6 (AFR83) verwys na die vas wat God wil hê: “Is die vas wat Ek wil hê nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?”

Tydens vas en gebed wil God ons vrymaak van die houvas wat die vyand soms ongesiens of deur generasies heen op ons gekry het. Daar is sekere tipes houvas wat die vyand op ons het, waarvan ons net kan loskom wanneer ons bid en vas. God wil die onmenslike swaar jukke wat Satan op ons sit, afhaal.

Vas is bedoel vir mense wat groot struikelblokke in die lewe wil oorkom. Dit is vir die gewone mens wat ’n lewe van oorwinning wil leef. Ook vir elkeen wat glo dat Jesus gekom het sodat ons die lewe in oorvloed kan hê, presies soos Johannes 10:10 sê.

Vas is bedoel vir die lewensmaat wat wil sien dat sy huwelik of gesin struikelblokke oorkom, floreer en vooruitgaan. Dit is vir die ouer wat wil sien dat sy kinders vryword van die houvas van die vyand – daardie houvas wat dikwels manifesteer in woedeuitbarstings, nagmerries, afknouerigheid, ensovoorts. Ook die ouer wat wil toelaat dat God sy kind bonatuurlik beskerm teen boelies by die skool.

Vas is bedoel vir die besigheidspersoon wat jaar na jaar moeilike besluite moet neem in ’n vinnig veranderende wêreld. Tydens vas kan God aan jou duidelikheid gee oor die toekoms van ’n besigheid. Net Hy ken die toekoms. Vas sal jou help om op kort kennisgewing die regte besluit te neem in uitdagende omstandighede. Dit sal jou in staat stel om ongekende wysheid – daardie skatte wat diep gebêre is – te bekom, sodat jy die besigheid vernuftig en suksesvol deur stormwaters sal kan bestuur.

Vas is bedoel vir die persoon wat worstel met ’n erge diagnose, in ’n finansiële krisis is of belangrike besluite moet neem. Ook vir die bedelaar op straat wat min of geen middele tot sy beskikking het nie. Dit is vir die politikus wat ander se belange op die hart dra en gereeld met vindingryke oplossings vir en benaderings tot ’n probleem vorendag moet kom.

Vas is bedoel vir die leraar wat graag ’n fontein van lewende water wil wees wat nooit opdroog nie, iemand wat gereeld lyk soos ’n tuin met ’n oorvloed water. Dis vir die oupa en ouma wat die volgende generasies in gebed aan God opdra, sodat hulle familiestamboom vooruit sal gaan en nuwe, kreatiewe oplossings en strategieë van God sal ontvang.

Vas is bedoel vir elke jongmens wat belangrike toekomsbesluite moet neem rakende ’n studierigting of die keuse van ’n lewensmaat. Dit is vir elke student wat moet aansoek doen om ’n beurs, ’n eksamen aflê of begin werk soek. Ook vir elke sportman wat in ’n kompeterende omgewing funksioneer en ’n mededingende voorsprong wat net God kan gee, nodig het. Dit is vir iemand wat graag ’n kragtige instrument in God se hand wil wees en Hom deur sy loopbaan en lewe wil verheerlik.

Vas is bedoel vir elke sosialemediabeïnvloeder wat graag binne God se wil wil funksioneer. Dit is vir elke verkoopsverteenwoordiger wat van kommissie afhanklik is vir ’n inkomste. Ook vir elke akteur wat rolle meesterlik wil vertolk en graag ’n goeie bestaan daaruit wil maak. Dit is vir elke kunstenaar wat innoverend en vernuwend wil dink en met ongekende idees, teksture en konsepte wat skreeu van briljantheid vorendag wil kom.

Vas is bedoel vir elke onderwyser wat daagliks ’n see van gesiggies, wat smag na meer van God se liefde en genade, voor hom of haar het. Tydens vas kan hy ’n bonatuurlike aanvoeling, wysheid en insig kry in elke kind se unieke omstandighede, om te weet hoe om by elkeen aanklank te vind en hulle ontwikkeling aan te por.

Vas is bedoel vir alle gelowiges wat besef dat hulle die Here in hulle lewens nodig het. Wanneer jy begin vas, sal jou geloof geweldig groei. Dit sal jou oplig in nuwe dimensies van God se koninkryk en jou vrymoedig maak om vir ver meer te vra as wat jy ooit andersins sou kon doen. Tydens vas gee God jou so ’n kykie in hoe dinge kan wees, sodat jy dit in gebed van Hom kan vra.

Ons lees in Hebreërs 11:6 (AFR83): “As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

Die nuwe vrymoedigheid wat tydens gebed en vas ontwikkel, anker jou geloof onwrikbaar sterk. Dit gee jou geestelike vlerke om uit te styg bo jou uitdagende omstandighede. Dit bring ’n vars, nuwe en baie duidelike perspektief waarby jy andersins nie sou uitkom nie.

1.2. Wat sê God oor vas?

Jesaja 58:6-7 (AFR83) lui: “6 Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? 7 Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?” (Eie beklemtoning.)

Vers 6 sê duidelik dat daar ’n vas is wat God wil hê. Hy wil self afreken met die onreg in mense se lewens. Daar is sommiges wat onregverdig gevange gehou word deur die vyand, of dit nou deur ’n siekte, ’n verslaafdheid, onvergewensgesindheid of ’n verkeerde denkpatroon is. God wil die jukke wat op mense druk, afhaal. Hy wil ons vrymaak en sommer ook daardie jukke breek, sodat ons nie weer daaronder kan inkom nie.

Ons lees verder: “8 Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom. 9 Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie, 10 as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.” (Jes. 58:8-10, AFR83) (Eie beklemtoning.)

God sê self in vers 8: Wanneer jy vas, sal Hy voor jou uitgaan en Sy magtige teenwoordigheid sal agter jou aankom. Wie wil nie dit hê nie? Hoe gepas sal dit nie wees om aan die begin van elke jaar te vas vir die onbekende jaar wat voorlê nie? Tydens ’n vas kan God jou voorberei vir enige onbekende situasie wat in daardie jaar opduik, want Hy gaan voor jou uit, en Sy teenwoordigheid kom agter jou aan. Hy dek jou voor- en agterhoede.

Ons lees verder: “11 Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie. 12 Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as ’n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.” (Jes. 58:11-12, AFR83) (Eie beklemtoning.)

Vers 11 sê dat jy soos ’n tuin met volop water sal wees. Daar sal dus lowergroen blare, blomme en vrugte in jou lewe sigbaar wees. Ander mense sal die verskil in jou lewe kan sien. Jy sal self die fontein wees wat nie opdroog nie. God sal aan jou openbarings gee, wat jou in die gees en in die vlees sal laat floreer.

Jesaja 58:6-12 beskryf wat God vir ons kan doen. Jou donker omstandighede kan verlig word en “Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel.” (Vers 8) Die Here sal jou gebed beantwoord. Hy sal in tye van skaarste, “selfs in dor streke” (Vers 11), in al jou behoeftes voorsien, of dit nou fisies, finansieel of emosioneel van aard is. “Hy sal jou sterk maak.” (Vers 11) Jou deurbraak sal van so ’n aard wees, dat jy vermoedelik fisies, emosioneel en finansieel sterker sal wees. God wil jou al die pad bevoordeel.

Die vas waarvan die Bybel praat is nie ’n wettiese uitvoer van iets soos ’n hongerstaking nie, maar ’n dieper verhouding met God. Tydens ’n geestelike vas kies jy God se Woord en wil. Jy kies om met ’n sterker geestelike honger in te tree as wat jy normaalweg kan doen. Die onthouding van basiese voedsel soos brood, vleis, pasta en suiwel veroorsaak later ’n vreeslike verlange na daardie lekker geurige kos, maar die verlange na God en Sy wil is groter as die verlange na kos. ’n Mens voel aan jou eie lyf hoe dit voel om na iets te smag. Net so begin jy smag na God se wil en waarheid in jou lewe.

Wanneer jy tydens vas jou liggaam weerhou van sekere voedsel en in daardie tyd jou gees meer voed as jou vlees, sal jou geesmens sterker word en jy sal in gebed die dinge van God vra wat op Sy hart is vir jou en jou mense. Jy sal in lyn met Sy volmaakte wil begin bid. Daarom sal jou gebede beantwoord word.

Tydperke van vas suiwer ons harte van enige valsheid en dan kom ons by die basis van ons menswees in Christus uit. Alle pretensies val weg.

Die gebruik van vas kom nie net in die Ou Testament voor nie. Daar is verskeie Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament wat ook na vas verwys as ’n geestelike dissipline wat die vroeë kerke in hulle proses van heiligmaking gebruik het.

1.3 Wat is vas?

Die Bybelse vas is die onthouding van voedsel vir geestelike doeleindes. Dit gaan altyd saam met gebed. Indien jy vas sonder om te bid, is dit eintlik niks anders as ’n hongerstaking of ’n dieet nie. Die bekende onderbroke vas is ’n tipe dieet wat wel fisiese voordele inhou, maar nie dieselfde geestelike voordele bied as die Bybelse vas nie.

Tydens vas weerhou jy jou liggaam van sekere (of alle) voedsel en spandeer meer tyd in God se Woord, sodat jou gees sterker as jou vlees kan word en jy tot beter geestelike onderskeiding kom. Dit wat jy in jou gees toelaat, sal altyd jou vleeslike lewe beïnvloed. Deur te vas, ontdek jy hoe om jou begeertes te beheer, sodat dit jou nie beheer nie. Dit help jou om oor jou vlees te heers. Paulus sê in Romeine 7:19 dat hy dinge doen wat hy nie wil doen nie.

Jy probeer nie met vas om God se hart te beweeg nie. Dit laat jou hart nader aan God beweeg. Dis nie asof Hy jou meer liefhet wanneer jy vas nie, maar dit gee wel aan Hom die geleentheid om meer betrokke te raak by jou heiligmaking. Vas raak ontslae van onsigbare sonde in jou lewe, soos hoogmoed, jaloesie, skinder, bedrog en ander sondes van die vlees. Dit gaan oor bevryding.

Vas handel nie daaroor dat jy net jou eie belange soek nie, maar dat jy na meer van God in jou situasie smag. Jy verander jou skedule om meer tyd saam met God deur te bring en so meer van Hom en Sy weë te leer. Dis ’n gefokusde poging om meer intens as ooit tot God te nader. As jou gebedslewe nie tydens vas verander nie, is jy bloot besig met ’n dieetplan. Jy mag selfs besluit om minder tyd voor die TV of op sosiale media deur te bring en om meer tyd saam met God te spandeer.

Vas verg sekere dinge van ons.

Vas verg opoffering
Ons leef in ’n era waarin daar ’n oordrewe fokus op vermaak, plesier en persoonlike erkenning is. Daarom is dit vir baie mense amper ondenkbaar om te verwag dat hulle iets moet prysgee. Die gedagte aan ’n opoffering maak die meeste mense se knieë lam en dan hou hulle liewer verby. Opoffering klink na ekstra swaarkry, en wie is nou lus dáárvoor? Is die lewe dan nie moeilik genoeg nie?

Die moeilike kant van die lewe kom nie van God af nie. Hy wil jou las ligter maak. Jesus sê in Matteus 11:29-30 (AFR83): “29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30 My juk is sag en my las is lig.”

Die wêreld laat die klem voortdurend op jou behoeftes en geluk asook die erkenning en aansien wat jy kan verwerf, val. Soveel wil, veral op sosiale media, tog so graag bekend of belangrik wees. Hulle wil graag as sosialemediabeïnvloeders gesien word en meet hulleself aan die hoeveelheid likes en volgelinge. In die lig hiervan is daar bitter min mense wat kans sien om hulleself van iets te ontneem, sodat dit later tot hulle voordeel kan wees.

Vas verg geheimhouding
Daar is ook baie min mense wat kans sien om hulle goeie dade geheim te hou. Jesus sê in Matteus 6:3b-18 (AFR83): “3 … as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4 sodat jou goeie daad verborge kan bly … 6 … as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon … 17 … as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig 18 sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” (Eie beklemtoning.)

Wanneer ons goeie dade in die geheim doen, sien God dit raak. Hy sal ons daarvoor beloon. Die fokus van vas is egter nie die beloning nie, maar die verhouding tussen jou en God. God begeer in die heel eerste plek dat ons verhouding met Hom suiwer, intiem en baie persoonlik sal wees, weggesteek vir die wêreld.

Is intimiteit in ’n huwelik dan nie juis dít nie? Dit is privaat en nie vir almal se oë bedoel nie. Ook is dit die diepste en intiemste vorm van vertroue en oorgawe. God begeer dat ons tydens vas ons begeertes aan Hom bekendmaak omdat ons Hom vertrou. Net soos wat huweliksintimiteit weggesteek word vir die wêreld, net so is ons intieme verhouding met God iets wat privaat is. Uit hierdie private verhouding vloei daar egter baie krag, sekerheid, dapperheid en ’n sterk oortuiging.

Vas verg waaksaamheid
Dit is nie altyd ’n plesier om te vas nie, maar dit is geweldig kragtig. Die vyand hou net mooi niks daarvan dat ons vas nie, want hy verloor sy houvas en invloed op ons lewe. Die salwing wat tydens gebed en vas ontstaan, veroorsaak dat Satan sy greep op jou, of die persoon vir wie jy in gebed instaan en vas, verloor. Hy weet dat jy voorberei word en al hoe kragtiger raak in die gees. Ook weet hy dat jy tydens en ná die vas God se stem duideliker sal hoor en beter sal onderskei. Daarom sal hy enige iets doen om te keer dat jy vas en dit probeer stop.

Dis nie maklik om te vas nie. Druk deur. Soek God met alle mag. Satan het selfs vir Jesus tydens Sy vastyd in die woestyn versoek. Wat maak van jou minder van ’n teiken? Die vyand sal jou nie skade kan aanrig tydens die vas nie, maar hy sal probeer verhinder dat jy verder gaan. Wees dus op jou hoede.

Moenie jou vas breek indien jy dalk in ’n oomblik van swakheid ’n slap tjippie eet nie. As jy vir die kinders broodjies maak vir skool en per ongeluk ’n stukkie kaas in jou mond sit, moenie jouself kasty en die vas breek nie. Sê net: “Oeps! Jammer, Here, ek was nou so ingedagte.” Gaan dan voort om te vas. Moenie dat ’n klein foutjie jou van stryk bring nie. Bely jou foute voor God, stof jouself af en staan op. Kom dan sterker terug. Jy sal nie jou beloning verloor nie. God sal dit waardeer as jy voortgaan met die vas en dit klaarmaak.

Vas is iets wat ’n mens elke nou en dan vir jou hele lewe lank doen, want die stryd tussen die gees en die vlees sal, totdat ons eendag ’n verheerlikte liggaam ontvang, nooit heeltemal oor wees nie.

Vas verg tyd saam met God
Wanneer ons die kans kry om ’n kundige te raadpleeg, sit ons genoeg tyd opsy vir die afspraak – verál wanneer die raad, oplossings en strategieë gratis is. Ons skuif ander afsprake rond om daardie belangrike persoon te ontmoet en berei ons vrae deeglik voor. (As ons nie vrae vra nie sal ons nie antwoorde kry nie. Omdat Hy ons hemelse Vader is, bestaan daar geen swak of dom vrae nie.)

Presies dieselfde geld vir ons ontmoetings met God. Vas is daardie gefokusde tyd wat ons eenkant sit om aan Sy lippe te hang en ons oë en ore op Hom en Sy Woord te fokus. Hy het ’n baie groter verwysingsraamwerk en diepgaande kennis as ons van elke onderwerp wat ons aan Hom kan voorhou. Ons kan idees voorlê en hoor wat Hy daarvan dink, maar die beste is eintlik om te hoor wat Hy sê. Deur te vas, skakel ons die geraas van die wêreld uit, sodat ons goed kan konsentreer en alles kan hoor en waarneem.

Wanneer jy tot God nader deur te vas en oor ’n aangeleentheid te bid, moet jy seker maak daar is geen onderbrekings nie. Jy kan nie net kortstondig inloer en opdragte wil gee nie. Dit sal uiters onvanpas wees. Hy is die gesaghebbende Persoon, nie jy nie. Dit is dan juis waarom jy Sy raad vra.

Praat met Hom vanuit verskillende invalshoeke oor die kwessie wat jou kwel. Wat sal die regte benadering wees? Hoe moet jy die opsies evalueer? Wat is die voor- en nadele? Gebruik al die bronne tot jou beskikking om jou ontmoetings met Hom maksimaal te benut. Prioritiseer julle gespreksgeleenthede. Spits jou ore nadat jy ’n vraag gevra of opsies voorgelê het. Skryf julle gesprek of die raad of opsies of nuwe inligting neer. Ek weet uit ondervinding dat een stuk inligting op ’n volgende bou. Jou liefdevolle hemelse Vader ken jou. Hy weet teen watter tempo Hy inligting aan jou kan gee.

Draai jou ore en jou hart na Hom toe, en laat die res van die wêreld in die agtergrond verdwyn. Die wonderlike ding van jou vastyd is dat jy nie nét tydens geskeduleerde tye met Hom hoef te praat nie. Jy kan deur die loop van die dag Sy raad of nuwe perspektief oordink en met nuwe vrae of opsies na Hom toe kom. Dit is ’n verhouding.

1.4 Waarom moet ons vas?

Begeer jy dat God se Gees kragtig deur jou werk? Wil jy graag meer van Hom hê? Indien wel, is dit belangrik dat jy vas.

Jesus stel vir ons die voorbeeld om gereeld te vas. Hy het nie net vir veertig dae in die woestyn gevas nie; Hy het ook ’n leefstyl van vas gehandhaaf en dit gereeld beoefen.

Vas is nie iets waarmee jy loop en spog nie. Dit is nie iets wat jy uitblaker of waarmee jy te koop loop nie. Vas is ’n geheime wapen waarvan min mense weet.

Ons lees in Matteus 6:16a (AFR53): “… wanneer julle vas …” Dit wys daarop dat Jesus ook in die Nuwe Testament van ons verwag om te vas. Die 83-vertaling praat van “As julle vas …”, wat eintlik die noodsaaklikheid van vas wegneem.

Ons lees ook in Matteus 17:18 (AFR53) dat Jesus ’n seun wat geestesversteurd was, genees het deur die demoon uit te dryf. In vers 21 sê Hy: “Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.” Jy sal oplet dat Matteus 17:21 uit die 83-vertaling van die Bybel gelaat is. Markus 9 (AFR53) vertel dieselfde verhaal. Ons lees in vers 29: “En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.” Die 83-vertaling laat die woord “vas” uit. “Hy het vir hulle gesê: Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

Kan dit wees dat vas en gebed so ’n geweldige groot bedreiging vir die vyand en die koninkryk van duister inhou, dat hy selfs die vertalings van die Bybel moes manipuleer, sodat niemand daarvan moet uitvind nie?

Omdat Jesus ’n leefstyl van gereelde tye van vas en gebed gehad het, het Hy ’n sterker geestelike vermoë as Sy dissipels gehad. Al het hulle probeer, kon hulle nie die demoon uitdryf nie. Jesus praat in hierdie selfde gedeelte ook oor Sy dissipels se ongeloof. Vas verlos ons van die gees van ongeloof. Dit anker ons geloof in die regte verhouding met God.

Vas bring openbarings: “Toe hulle op ’n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir my af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.’” (Hand. 13:2, AFR83) Tydens die vas het God aangekondig dat Hy gereed is om dié twee manne te gebruik vir die werk waarvoor Hy hulle afgesonder het.

Wonder jy nog waarom jy moet vas? Vra jouself of jy gereed is dat die Heilige Gees met jou praat. God het ’n opdrag vir jou in gedagte. Ons is altyd besig om op God te wag, maar eintlik wag Hy dat ons Hom in vas en gebed aanbid. So hoor ons die Heilige Gees duidelik.

Vas is ’n krities belangrike deel van bediening. Handelinge 14:23 (AFR83) lui: “In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.”

’n Mens kan amper sê dat gebed en vas jou voorberei en die atmosfeer skep, sodat jy in jou bediening kan inbeweeg. Lees in die volgende hoofstuk meer oor my persoonlike getuienis oor vas en die bedieningsgeleenthede wat daaruit voortgespruit het.

Nog redes waarom ons moet vas

Vas breek die vyand se houvas: Tydens vas word die vestings van die vyand gebombardeer, sodat ons kan vrykom van alles waarvan God al lankal begeer om ons te bevry. Hy wil juis hê dat ons moet vas, sodat ons kan vrykom, want Hy het reeds aan die kruis die prys vir ons vryheid betaal.

Ons verkry seëninge en guns deur God se genade. Die bloed van Jesus Christus het reeds aan die kruis die seëninge losgemaak en tot ons beskikking gestel. Soms verhinder die vyand dat hierdie seëninge by ons uitkom. Tydens vas en gebed breek die houvas van die vyand, sodat ons toegang kry tot alle seëninge wat God vir ons in gedagte het.

Vas berei ons harte voor: Vas en gebed berei ons harte voor, sodat ons God se antwoord kan ontvang. Ons onderwerp ons daardeur aan Sy wil en gesag, sodat ons Sy stem kan hoor en Sy raad, strategieë en gedagtegang kan ontvang. Ons vleeslike mens word weer tot sy regmatige plek herstel – onder God se gesag.

Verder word ons hart, gedagtes en gesindhede in lyn gebring met God se wil en koninkryk. Dit is nie meer ons vlees wat heers nie, maar ons gees. Ons gees raak weer dominant in ons denke, woorde en optrede, terwyl ons vlees ondergeskik bly.

Dit gaan nie oor ons wil, planne of perspektief nie, maar oor Sy wil, allesomvattende perspektief en planne.

Vas gee ons kans om te vra: Ons mag vir God iets vra wanneer ons vas. Daar is niks verkeerd daarmee om te vra nie. Die Heilige Gees skep ’n reuse vrymoedigheid in ons binneste. Ons kan egter niks van God eis, ’n ultimatum aan Hom stel of Hom beveel nie. Wanneer ons dít probeer doen, is ons nie meer ondergeskik aan God nie. Hy is nie ondergeskik aan ons nie, maar ons aan Hom.

Tydens vas laat ons toe dat God se gesag in en oor ons heers. God wil hê dat ons Hom moet vra vir nuwe strategieë, idees, antwoorde, benaderings en perspektiewe, sodat Hy deel kan wees van die veranderende en vernuwende proses wat diep binne ons plaasvind. Deur te vas, nooi ons God uit om deel te word van ons uitdagende omstandighede en lewensvraagstukke.

Vas bring ons in lyn met God se Woord en wil: Ons kom in lyn met Hom wanneer ons vas. Hy was nooit uit lyn uit nie. Ons, aan die ander kant, kan maklik uit lyn uit raak omdat ons toelaat dat ons vleeslike mens ons hart, gedagtes en dade oorneem. Vas beweeg ons om in lyn met God se wil te kom. Daarná beweeg Hy namens ons.

Vas verhoog ons ontvanklikheid om God se stem te hoor, en maak ons meer sensitief vir dit wat in die geesteswêreld gebeur. As gevolg hiervan word ons geestelike sintuie skerper, wat groter onderskeidingsvermoë moontlik maak.

’n Mens kan nie God met gebed en vas manipuleer nie. Moenie dink dat jy daardeur God se arm kan draai, sodat Hy iets vir jou sal doen wat nie in Sy aard is om te doen nie. Dit werk nie so nie. Jy kan nie deur vas en gebed God se guns of seën verdien nie. Hy sal jou seën, of jy nou vas of nie.

Daar is niks wat ons kan doen wat sal maak dat Hy vir ons liewer kan wees nie. Hy het ons reeds tot die uiterste toe lief. Hy kan ons nie méér liefhê nie. Dit is waarom Hy Sy enigste Seun gestuur het om in ons plek te sterf.