Uittreksel | Die boekengel

1
Mara sug saggies en roer die stomende koffie wat op die tafeltjie voor haar staan. In die akkerboom wat sy skadu oor hulle gooi, sit ’n duif wat koer. Was sy maar ’n voël wat haar vlerke kon sprei en wegvlieg van haar sorge, die geploeter en onvergenoegdheid van haar bestaan.
“Ek hoor jou sug,” sê Liana, en kyk skuins na haar. “Jy’s nie helemaal lekker vandag nie. Wat kou aan jou?”
“Ag, ek het al vergeet hoe snikheet Februarie in Stellenbosch kan wees,” jok sy. “Toe ek ’n student hier was, het ek meer weerstand daarteen gehad. Nou is ek dubbeld so oud soos destyds, my vel is dun en my weerstand afgetakel.”
Die skoonheid van dié omgewing met akkerbome al langs die strate en wit historiese geboue, die pragtige Moederkerk hier naby met sy spits toring, die vele straatkafees waar mense iets te ete geniet, is veronderstel om haar nuwe paradys te wees.
Sy het tog terugverlang, herinneringe gekoester aan ’n plek waar sy gelukkig was voordat sy die lewe se draaie, skeefgetrekte sekerhede en uitdagings die hoof moes bied.
Nou veg sy teen bitterheid en neerslagtigheid. Sy moenie haar naam gestand doen nie. Iewers in Eksodus het die Israeliete by water gekom wat hulle nie kon drink nie omdat dit bitter was. En die plek se naam was Mara. Sy was mos ’n ongewenste laatlam, vandaar dié naam. Haar ma het gedink sy is al te oud om nog ’n baba te kry. Haar eerste kind was reeds sewe jaar oud.
Sy het nie vir haar ouers vertel van die laaste druppel gal wat die glas laat oorloop het nie. Hulle reaksie op haar egskeiding was teleurstelling en woede. Sy was te verneder om hulle van die ander vrou, die jong houvrou, in Gawie se lewe te vertel. Dit was ook waarom die fisieke sy van haar en Gawie se huwelik so onbevredigend was. Die weelde waarin sy gelewe het, kon nie vergoed vir die vernedering en vir die leegheid van haar huwelik nie.
Toe die gifbeker oorloop, het sy Gawie gekonfronteer en aangedring dat hulle skei. Sy het geweier om langer stil te bly en die goeie gasvrou te wees wat hom sy ordentlike front moes help voorhou. Toe hol sy hierheen, so ver weg in Suid-Afrika van Gawie soos sy kon.
Sy is maklik deur Liana, haar ou kamermaat op Universiteit en jare lange vriendin, oortuig om hierheen te kom. “Ek is ’n weduwee, Mara, en ons enkelinge kan mekaar onderskraag. Noudat my enigste kind in Kaapstad argitektuur swot, het ek leënessindroom.
Pleks van tuis, voel Mara egter meesal soos ’n inkommer tussen vreemdelinge. Het sy ’n groot fout gemaak om Stellenbosch toe te vlug en nou kan sy nie omdraai nie?
“Ek voel so rigtingloos,” kla sy. “Ek het uit ’n besoedelde huwelik ontsnap, maar nou dryf ek soos ’n boot sonder ’n anker.”
Liana teug aan haar kokende koffie en dep haar mondhoeke versigtig. Aan die rand van die wit koppie en die wit servet bly die rooi lipstiffiemerk sit. “Mara, jy’s pas geskei en skielik op jou eie. Natuurlik voel jy soos iemand wat uit die tronk vrygelaat is en nie weet wat om nou met haar lewe te doen nie. Gawie was uiteindelik ’n disaster, al was hy ryk. Kyk vorentoe. Daar lê ’n nuwe lewe vir jou voor.”
Mara kyk gebelg na haar. Dink Liana dat sy Gawie vir sy geld getrou het? As sy heeltemal eerlik wil wees, moet sy erken dit is halfpad waar. Sy het hom ontmoet pas nadat sy haar onderwysgraad behaal en net begin skoolhou het. Sy het hom bewonder, na hom opgesien, die suksesvolle sakeman wat almal as ’n goeie vangs beskou het. Haar ouers was in hulle noppies dat sy so “goed” trou. Toe kom sy agter hoe materialisties Gawie is. Geld en besittings was sy enigste geloof. Hulle het wel op haar kerkvaste ouers se aandrang in die kerk getrou, maar daarna het hulle nie eens aan ’n kerk behoort nie. Die anker wat geloof veronderstel was om te wees, het eenvoudig uit haar lewe verdwyn.
Liana rol haar swaargegrimeerde blou oë. “Gelukkig het hy jou nie kaalgestroop toe jy hom los nie. Mense kan horrible dinge aan mekaar doen as hulle skei.”
Nee, Gawie het haar nie gestroop nie. Haar diskresie oor sy owerspel het hom vrygewig gemaak. Sy het hom nie by vriende en familie beswadder en verkla nie. Haar trots het gemaak dat sy dit eerder geheim hou. Sy het ook nie vir Liana vertel van die wulpse, jong blonde houvrou in ’n weelderige kothuis op ’n pypsteelerf in Waterkloof nie.
“Ek moet iets doen wat aan my lewe betekenis gee, Liana. Dit frustreer my om net rond te sit in coffee shops en rigtingloos te wees.”
“Gaan gee onderwys. Jy het mos geswot. Maar ek moet sê, ek sien nie kans vir die ongepoetste kinders wat jy deesdae in die skole kry nie. Mens mag hulle mos nie meer straf nie.”
“Ek is heeltemal verroes. Gawie het mos geweier dat ek werk.”
Jaarin en jaaruit het sy geen beroep gehad nie. Sy het net op ’n sosiale mallemeule gery. Het sy kinders gehad, sou sy nie so rigtingloos gevoel het nie. Gawie wou eintlik nie kinders gehad het nie. Ons het nie ’n nageslag nodig nie, het hy volgehou.
“Om ’n lady of leisure te wees is nie die ergste wat jou kan oorkom nie,” beweer Liana. “As Johan nie genoeg vir my en Jean nagelaat het nie, sou ek moes gaan werk. Oukei, mens raak soms verveeld, maar jy hoef darem nie iets te doen wat jy haat net om te oorleef nie, en dis ’n helse troosprys, believe you me.”
“Jy dink ek kla met die witbrood onder die arm.”
“Sommer ’n duur suurdeegbrood. Jy’s in die fleur van jou lewe en nog mooi genoeg om mans se aandag te trek. ’n Vrou het darem lyflike behoeftes ook. Gryp die lewe met al twee kloue aan, Mara, soos die visarend wat die vet vis van die lewe vang. Jy’s mos nou weer single. Dalk loop jy ’n man raak wat beter by jou pas as Gawie.”
Mara drink haar koffie klaar. Wag vir die kaffeïen om in te skop. “Ek soek nie ’n man nie. Ek soek iets wat my elke dag rede gee en lus maak om op te staan. Een of ander soort werk, of iets skeppends.”
Liana skreef haar oë en teug weer aan die koffie. “Hierdie plek hype dat hulle die beste koffie in Stellenbosch bedien, maar hierdie brousel kon beter gesmaak het.”
’n Groep mense stap by ’n voetgangeroorgang oor die straat. Mara verstar. “Haai, kyk daar.”
Liana draai om en kyk na waar sy met haar vinger beduie. “Wat?”
“Daardie boekwinkel oorkant die straat. Die Boekhoekie. In die venster staan Te koop.”
“So what?”
Mara sug ergerlik. “So what? Hier is ’n boekwinkel te koop, in Dorpstraat waar baie voete loop. Dis quaint, in ’n historiese gebou, en ek is ’n opperste bibliofiel.”
Lees was haar groot troos, haar leemtevuller toe sy met Gawie getroud was. Sy het fiksie en niefiksie verslind. Nou kan sy darem daarop aanspraak maak dat sy belese is.
Liana kyk geskok na haar. “Komaan, Mara, wat het vandag in jou gevaar? Jy wil tog nie so iets gaan staan en koop nie, wil jy?”
Mara ervaar ’n ongewone bruising van opwinding. “Waarom nie? Dit sal wonderlik wees om so ’n plek te besit. Mense te sien kom en gaan, lekker met klante te gesels en baie boeke te hê om te lees.”
“Dalk kan jy beter koffie daar bedien as dié brousel,” spot Liana. “Boeke en koffie, ’n onverbeterlike kombinasie.”
“Ja!”
Liana trek ’n gesig. “Ag, jis, ek moet jou mal idees nie aanmoedig nie. Ek terg net.”
Mara lag. “Jy’s briljant. Drink jou brousel klaar, dan gaan chat ons daar oorkant.”
Binne tien minute loop hulle oor die straat en by die winkel in.
Die boekrakke strek tot by die plafon. Hier is ’n outydse toonbank, verslete, veelkleurige matjies op ’n vaal plankvloer, ’n vaas met blomme van blou vere op die toonbank. In een hoek is drie ou houtgemakstoele met gestoffeerde sitplekke wat so grys is van ouderdom dat sy skaars kan uitmaak wat die oorspronklike kleur was. Die vensters wat op Dorp- en Andringastraat uitkyk, is groot en die glas vaal. Op ’n breë vensterbank in ’n sonkolletjie lê ’n groot grys gestreepte kat, vas aan die slaap.
“Hierdie plek is in ’n time warp vasgevang,” fluister Mara.
“Mens kan soveel doen om dit beter en geselliger te maak.”
“Ja, dis maar droewig. Waar op aarde is die mense? Is hulle nie bang iemand kom hier in en besteel hulle nie? Die deur en veiligheidshek staan wawyd oop.”
’n Outydse koperklokkie staan op die toonbank. Mara laat dit hard klingel. ’n Deur agter in die winkel gaan oop en ’n bejaarde man in ’n swart broek en hemp kom uit. Hy vee sy mond met ’n sakdoek af asof hy pas geëet en gedrink het. Sy baard en snor is spierwit, so ook sy yl hare. Agter sy ronde brilglase sit twee vaalblou oë.
Hy glimlag vriendelik. “Môre, dames, kan ek help?”
Mara probeer nie te gretig lyk nie. “Goeiemôre, Meneer, ek sien die boekwinkel is te koop.”
Hy kyk stip, ondersoekend, na haar. “Ja, dit is. Ek en my vrou sal ook maar swaar afskeid neem. Dit was ’n saak van gebed. Die ding is, ons raak nou te oud. Ons enigste seun is ’n finansiële ghoeroe in Londen en hy raai ons aan om af te tree en soontoe te gaan. Maar ons wil nie soontoe gaan nie. Ons wil in Stellenbosch bly, in ons huis hier naby in Louwstraat, naby ons kerk en ons dokter en apteker.”
Die stortvloed inligting laat dit klink asof hy haar wil gerusstel dat hy nie verkoop omdat die boekwinkel moontlik swaar trek nie, maar vir ander persoonlike redes.
“Ek stel belang,” sê Mara. “Ek het onlangs na Stellenbosch getrek. Nou soek ek iets om te doen en ek is mal oor boeke. ’n Boekwinkel sal net die regte ding vir my wees.”
Sy welige grys wenkbroue boog boontoe. “O, jy’s ’n inkommer?”
Hy stap deur toe en roep: “Martie, kom bietjie hier. Ek dink ons het ’n koper gekry.”
’n Kort, ronde vroutjie met grys hare in ’n perfekte kapsel met ’n ligpers skynsel, in ’n blou rok, pêrels om hals en aan ore, kom te voorskyn. Sy kyk krities na Mara en Liana.
Die oom beduie na Mara. “Dié enetjie sê sy wil die winkel koop.”
Die vroutjie glimlag, skielik ingenome en vriendelik. “Dan moet ons seker praat.”
“Laat ek ons voorstel,” sê die man. “Ek is Stefaans Viljoen, en dis my vrou Martie.”
Mara steek haar hand uit. “Ek is Mara Gericke, en dis my vriendin Liana Rossouw.”
Hulle skud plegtig hande.
“As ek mag vra,” vra die oom, “is daar ’n man iewers in die saak?”
“Nee,” sê Mara. “Ek is geskei en my vriendin is ’n weduwee.”
Sy wenkbroue boog weer. “Gaan julle saam in die besigheid in?”
Mara kyk na Liana. “Ek weet nie of Liana kans sien nie, anders doen ek dit alleen.”
“Ek sien kans om voorlopig jou assistent te wees,” sê Liana, ’n versigtige klankie in haar stem.
Mara kan haar vriendin se versigtigheid verstaan. Sy was al weer impulsief en hierdie groot hap wat sy vat, sal eers gekou moet word. Liana sien seker nie kans om in ’n besigheid te belê nie. Sy het al gesê dit kos haar baie geld om haar seun op Universiteit te hou en ook vir sy akkommodasie in Kaapstad naby die universiteit te betaal.
“Kom môreaand na ons huis in Louwstraat toe, dan praat ons,” sê oom Stefaans. “My vrou maak die beste bobotie wat jy ooit sal eet. Sal dit jou pas?”
Mara is verbaas en bly dat hy so tegemoetkomend is. “Ja, dankie.”
Hy kyk na Liana. “Jy kan gerus ook kom.”
“Dankie. Dit klink gaaf.”
Hy gee die adres.
Mara voel soos ’n kat in ’n mandjie op pad veearts toe. Vasgevang, en daar gaan gevolge wees.