Uittreksel | Diagnose hart verloor

Een
Herfs is die mooiste seisoen in Pretoria, besluit Retha Malan. Alles is nog groen ná die goeie somerreëns, maar die bladwisselende bome staan reeds uitgedos in hulle lieflike herfskleure: goudgeel, oranje, dofrooi en elke moontlike skakering van bruin. Die lug is helderblou en die effense briesie is net lekker koel ná die hitte van die hoogsomer.
Die wêreld is mooi en die lewe is interessant en vol moontlikhede, dink Retha opgetoë. Natuurlik is daar moeilike en hartseer dae ook. Dis maar ’n jaar vandat haar dierbare ma oorlede is ná ’n lang stryd teen kolonkanker, en haar pa begin nou eers stadigaan weer homself word. Sy was bang hy gaan hom letterlik dood treur. Haar ouers het ’n wonderlik gelukkige huwelik gehad. Sy het al vir haar vriendin Karen gesê sy dink haar pa se liefde vir haar ma was die soort wat AG Visser bedoel het toe hy gedig het van die “liefde weergaloos”. Miskien het dit juis die voortydige afskeid nog moeiliker gemaak, maar nou is die herinneringe soveel mooier.
Die gedagte aan Karen laat haar glimlag. Haar goeie vriendin, wat vroeg in verlede jaar met groot stelligheid beweer het dat sy nog lank nie reg is vir man soek en man vat nie, het daarna eers verlief geraak op een ou, hom in die pad gesteek en toe haar hart gegee vir die besonderse man met wie sy kort gelede getroud is: Werner Scholtz, ’n man van formaat, al het Retha hom aanvanklik as ’n “kreupel kluisenaar” beskryf. Self was sy strooimeisie by die troue en kon haar vriendin se stralende vreugde van naderby beleef. Sy wonder darem of sy ooit so oor enige man sal voel. Daar is ’n hele paar belangstellendes, soos Roelof, een van die studente wat saam met Karen in die kommune gewoon het. Hy was Werner se strooijonker en sy het dit geniet om tydens die onthaal met hom te gesels oor sy planne vir nagraadse studie in ingenieurswese hierdie jaar. Toe hulle laataand groet, nadat die bruidspaar onder uitbundige toejuiging vertrek het, het hy half versigtig gesê hulle het so lekker gesels en gevra of hy haar dalk ’n keer mag kom haal vir roomys of so . . .
Retha sug liggies terwyl sy die trappe na die derde vloer van die mediese sentrum op die hospitaalterrein sommer opdraf. Roelof is ’n baie gawe en ordentlike jong man en glad nie onaansienlik nie, maar sy weet net hy sal nooit haar hartsnare kan roer nie. Buitendien wag daar ’n bedrywige jaar of twee vorentoe. Sy gaan hard moet studeer, want die MA-graad in navorsingsielkunde vereis baie fokus en toewyding. Net ’n handjievol studente is gekeur vir die kursus en sy is dankbaar dat sy goed genoeg gevaar het in haar honneursgraad om een van die klein groepie te wees. Afgesien van die teoretiese werk waarvoor sy alreeds tweeweekliks lesings moet bywoon en heelparty artikels moet lees, is daar die uitdaging van ’n stewige navorsingskripsie. Dit is juis waarom sy nou op pad is na doktor Milton se spreekkamer in die mediese sentrum wat naby die dosent se huis geleë is, en dus die terugry kampus toe onnodig maak. Doktor Milton, wat deels as kliniese sielkundige werk, het gevra om met haar te praat oor ’n moontlike inskakeling van haar navorsing vir die skripsie by ’n groter projek waarmee die doktor self besig is.
Die deur van die spreekkamer staan halfoop, maar sy gaan staan eers doodstil sonder om te klop, want sy hoor stemme in die vertrek. Die een stem is haar dosent s’n, sag en goed gemoduleerd, maar die ander een is diep en ferm, vir seker dié van ’n man en boonop, soos dit vir Retha klink, ’n erg omgekrapte een.
“Jy moet goed luister na wat ek vandag vir jou sê, Katrien,” hoor Retha die manstem kwaai praat, “julle sielkundiges dink mos julle kan enige mens se probleme met een uur minus vyf minute se storietjies aanhoor en ’n paar diepsinnige vragies stel sommer net laat verdwyn. Maar ek het gesien hoedat my suster totaal afhanklik geword het van haar sogenaamde kopdokter wat haar laat glo het sy is nou heeltemal reg en haar toe aangemoedig het om haar pille weg te smyt. En toe gebeur dít natuurlik. Magtag, Katrien, ons het haar amper verloor!”
“Ek is oortuig daarvan,” praat Katrien Milton toe sy weer ’n woord inkry, “dat ’n ingeligte sielkundige jou sussie nooit sou aangemoedig het om haar medikasie te staak nie. Ons het goeie kennis van die verskillende siektetoestande wat chemiese ingryping onontbeerlik maak en ons meng nie in nie, om die waarheid te sê, ons werk dikwels baie nou saam met die psigiater wat die persoon behandel.”
“Hmmf,” hoor Retha sy skeptiese reaksie.
“Isak, ons sal weer gesels,” sê haar dosent om dit duidelik te maak dat die gesprek eers verby is. “Ek het nou ’n afspraak met iemand wat altyd betyds is en seker al wag.”
“Seker nog ’n goedgelowige skepsel wat glo die vyf en vyftig minute op jou biegbank gaan al hulle probleme laat verdwyn soos mis voor die môreson!” hoor Retha hom sê voordat die deur van binne oopgeruk word en sy amper onderstebo geloop word. Die man steek onwillekeurig sy hande uit en vang haar aan haar boarms om te keer dat sy val. Vir enkele tellings hou hy haar teen hom vas en is sy gesig baie naby aan hare. Hy is jonger as wat dit geklink het, dink sy vlugtig, en hy sou filmstermooi gewees het met sy netjiese gelaatstrekke en groenbruin oë as dit nie was vir die frons op sy voorkop wat sy digte donker wenkbroue teenmekaar trek en hom na ’n donderwolk laat lyk nie.
Doktor Milton kom ook in die gang uit en hy neem dadelik sy hande van Retha se arms weg, draai met ’n vinnige kopknik in haar en haar dosent se rigting weg.
“Jy’t seker sy betoog teen sielkundiges gehoor?” vra Katrien Milton met ’n skewe glimlag terwyl hulle in haar spreekkamer inloop en sy wys dat Retha op een van die stoele voor haar lessenaar moet gaan sit.
“Ja, ek kon hoor hy’s baie omgekrap,” erken Retha. “My ma sou gesê het hy is regte brombeer.”
Sy en haar dosent is al op ’n gemaklike voet met mekaar. Katrien is net dertien jaar ouer as sy en het gevra dat Retha haar op haar naam noem wanneer hulle nie in lesings saam met ander studente is nie. Sy gaan waarskynlik nou Retha se studieleier vir die M-skripsie wees en hulle sal dus gereeld moet gesels. Dit is daarom vir Retha vreemd toe Katrien nie reageer op haar opmerking dat haar ma die kwaai man ’n brombeer sou genoem het nie, maar by haar verbykyk na die oop deur. Sou haar dosent haar kwalik neem omdat sy met die ontstoke besoeker spot? Die volgende oomblik kom die nimlike Isak egter met twee lang treë by haar verbygestorm en gryp ’n bos sleutels van Katrien se lessenaar af.
“Jammer, Juffrou, om nog ’n kosbare minuut van jou tranetyd te steel,” sê hy toe hy weer op pad deur toe is, “maar die brombeer het sy sleutels vergeet!”
Sy is nou erg verleë en wil net begin verskoning maak vir haar onvanpaste opmerking toe Katrien Milton haar kop agteroor gooi en lag tot daar trane oor haar wange loop.
“Isak Vermeulen is seker stomgeslaan,” kry sy darem tussendeur gesê, “om ’n keer te hoor hy’s nie te slim en te mooi om met ’n beer vergelyk te word nie.”
“Maar sal hy dit nie nou teen Doktor . . . teen jou . . . hou dat jy so ’n ongeskikte vrou nie tereggewys het nie?”
Katrien skud haar kop beslis en haal ’n snesie uit om haar wange af te droog.
“Nee wat,” stel sy vir Retha gerus, “ons ken mekaar al jare lank en ons verstaan mekaar goed, al het hy so kom uitvaar teen my beroep. Jy sien, ons ouers was huisvriende en ons moes in ons jonger jare mekaar dikwels geselskap hou wanneer hulle oor en weer gekuier het. Hy was vir my soos ’n klein boetie. Hy’s omtrent vier jaar jonger as ek.”
“Het hy nie ander broers of susters gehad nie?” vra Retha toe daar ’n stiltetjie val.
“Nie toe sy en my ouers bevriend geraak het nie. Isak was vir lank die enigste kind. My ma het my later vertel dat sy ma ná sy geboorte gesukkel het om weer swanger te raak en ook meer as een keer babas voor geboorte verloor het. Uiteindelik is daar toe tog ’n sussie gebore, maar eers toe Isak al op pad na elf jaar was. Sy ouers, en Isak self ook, het vir klein Lizette soos ’n prinsessie behandel en vertroetel en – het ek as jong meisie wat toe al in sielkunde belanggestel het, gedink – haar nooit kans gegee om op haar eie voete te staan en die lewe te leer hanteer nie.
“Toe Isak hoërskool en ek universiteit toe is, het ons tydelik kontak verloor. Sy ouers en Lizette was later ook ’n tyd lank in Duitsland vir sy pa se werk, en sy ma en suster het eers weer teruggekom nadat sy pa ’n virussiekte opgedoen het en toe aan longontsteking oorlede is. Dit was vanselfsprekend vir hulle ’n geweldig traumatiese tyd. My ouers het Lizette en haar ma ná hulle terugkeer onder die vlerk geneem, en my ma het tannie Wilna met praktiese goed gehelp, soos om huis op te pak voor hulle trek na ’n kompleks. Hulle het steeds goeie vriende gebly, maar tog minder saam gekuier omdat oom Dawid nie meer by was nie.”
“Maar jy en Isak sien mekaar seker nog gereeld? Ek bedoel, as hy die vrymoedigheid het om in jou spreekkamer in te storm en lawaai te maak . . .”
Katrien glimlag.
“Ja,” beaam sy, “ek en hy het die drade weer opgetel toe hy ’n hospitaalpos hier gekry het terwyl hy besig was om te spesialiseer. Einde verlede jaar het hy toe sy eie praktyk begin en nou loop ons mekaar dikwels hier in die sentrum raak. Sy spreekkamer is op die vierde vloer.”
“Is hy dan ’n dokter?” vra Retha verbaas. Dis vir haar nogal moeilik om te glo dat die man wat so driftig gepraat het en boonop by die deur uitgestorm en haar amper onderstebo geloop het, ’n koelkop, wetenskaplik opgeleide mediese spesialis kan wees.
“Ja, en op een en dertig al ’n internis, hoewel hy nog daaraan sal moet werk om sy praktyk uit te bou. Maar sy professor in interne geneeskunde, wat toevallig saam met my man gholf speel, het vir Bertus vertel dat Isak sy topstudent was en gou opgang sal maak met sy knap diagnoses. Maar genoeg van Isak Vermeulen. Kom ons gesels oor jou navorsing en hoe dit aansluit by die groter projek.”
Retha het vir haar honneursskripsie navorsing gedoen oor studente se seksualiteit en het ’n etiese klaring gekry om met vroulike studente in verskeie koshuise van die universiteit gesprekke te voer om vas te stel hoeveel van hulle reeds seksueel aktief is. Die respondente se antwoorde is uiteraard anoniem hanteer. Doktor Milton en haar medewerkers is nou besig met ’n ondersoek na die faktore wat bydra tot jong, ongetroude vroue tussen agtien en vyf en twintig jaar se algehele fisiese, emosionele en psigiese welstand. Die motivering vir die ondersoek is dat lede van dié groep uitdagings soos skeiding van die ouerhuis, moeilike studies en toetrede tot die beroepslewe die hoof moet bied. Terselfdertyd moet studente in dié jare ook lewensbelangrike besluite neem oor verhoudings, die keuse van ’n lewensmaat en seksuele gedrag. Al dié faktore kan daartoe lei dat van die jong vroue soms vir die eerste keer in hulle lewe aan ernstige depressie begin ly, wat in enkele gevalle tot selfdoodpogings of selfdood lei.
Respondente uit Retha se vorige groep sal, indien hulle nog beskikbaar is, ingesluit word, maar daar sal beduidend meer vraelyste uitgestuur word en ook uiteindelik enkele fokusgroepgesprekke gereël word. Retha se vraelyste sal nou, afgesien van die vrae oor seksuele gedrag, ook aspekte dek soos dieet, eetversteurings, oefening en slaappatrone. Katrien Milton en een of twee ander navorsers in haar span sal fokus op verdere kwessies wat respondente se emosionele en psigiese welstand beïnvloed, soos hulle studies, toetrede tot die arbeidsmark en hulle verhoudingslewe.
Retha en haar dosent, wat nou ook haar studieleier gaan wees, het ’n vrugbare gesprek en sy is dankbaar dat sy so vroeg in die jaar reeds ’n voorstel vir haar navorsingskripsie kan begin formuleer. Katrien het nog ’n afspraak en Retha groet dus en loop uit na die trap. ’n Vrolike liedjie speel in haar kop en sy begin sommer, toe sy niemand anders gewaar nie, saggies sing. Net toe sy amper onder is, hoor sy ’n spottende stem agter haar.
“Dit lyk my die bieg-amperse uurtjie het jou goed gedoen, Juffrou,” sê dokter Isak Vermeulen toe sy verleë omdraai. Sy vervies haar vir sy volgehoue afleiding dat sy doktor Milton se pasiënt is en boonop spot met die feit dat sessies met ’n sielkundige gewoonlik vir een uur geskeduleer word en dan vyf minute vroeg afgesluit word om gereed te maak vir die volgende persoon.
“Luister, Dokter,” antwoord sy hom nou koeltjies, “ek is doktor Milton se student, nie haar pasiënt nie. Boonop kan ek u verseker dat sy groot sukses behaal met die bieguurtjies soos jy dit noem, want ek het mense hoor sê hoe goed sy is en hoe sy hulle gehelp het om trauma te verwerk.”
Hulle is nou onder in die portaal van die gebou en hy gaan staan stil en kyk fronsend na haar.
“Jammer vir die misverstand,” sê hy toe, maar hy klink nie boetvaardig nie en sy volgende woorde bevestig dit. “Brombere is immers nie bedeel met baie goeie onderskeidingsvermoë nie.”
“Ek is spyt dat ek . . .” begin sy praat, maar hy val haar in die rede.
“Nee, moenie nou om verskoning vra nie. Jy het dit bedoel en ek is seker jou dosent het dit geniet. Maar sê my: Het julle toe lekker verder oor my geskinder? Ek hoor jy noem my dokter, dus het doktor Milton jou een en ander omtrent my vertel.”
“As iemand in hierdie gebou nauurs met die trap afloop, kan mens seker raai dat hy in ’n mediese rigting werk,” skerm sy eers, maar erken dan dat Katrien wel genoem het dat hy ’n internis is toe sy die spottende vraagteken van sy wenkbroue sien.
“En wat het jy daarvan gedink?” wil hy weet. “Dat dit darem ’n goed opgeleide brombeer is?”
Hulle staan nou reg teenoor mekaar en sy moet ’n hele entjie opkyk in sy ongetwyfeld baie aantreklike gesig. Hy frons nie meer soos vroeër nie, maar kyk ernstig na haar met sy opvallende groenbruin oë – groen met spikkeltjies bruin – en wag duidelik dat sy die vraag moet beantwoord.
“Mens kry seker brombere in enige beroep én onder meer en minder goed opgeleide mense,” sê sy met ’n ontwapenende glimlag. Waarom moet hy so aanhou met die storie? Sy het haar ma se uitdrukking net ligtelik met Katrien gedeel en hierdie man het dit toevallig gehoor.
“Dis waar,” gee hy toe, “en natuurlik kan nie almal vrolike vinkies wees soos jy nie.”
Retha kyk verbaas na hom en hy is gou om op sy stelling uit te brei.
“Jou rok het baie geel in en jy het sing-sing die trappe afgeloop. Verder merk ek geen ringe op nie, wat my laat vermoed dat jy nog nie tevrede was met die nessies wat vir jou aangebied is nie. Jy is baie mooi en sekerlik oud genoeg om hubaar te wees, maar dit lyk my jy wag soos ’n wafferse vinkwyfie om te sien watter mannetjie die beste aanbod gaan maak. Vroumense is mos maar so: Hulle wag altyd vir die hoogste bieër!”
Wat ’n onaangename, siniese man, internis of nie! besluit Retha vererg.
“Dit kom voor asof u hoofsaaklik met stereotipes werk, Dokter,” sê sy koel. “Sielkundiges, vroue . . . U meen alle lede van een groep is presies eenders. Dis ’n eng siening en boonop onwetenskaplik.”
“Sjoe, maar die meisie is nie net so sierlik soos ’n vinkie nie, maar slim en welsprekend ook! En sê my bietjie, Juffrou die sielkundige-in-wording: Is daar dus verskillende soorte brombere ook, of word hulle almal oor dieselfde kam geskeer?”
“Ek hét mos gesê mens kry hulle in enige beroep en by geleerde en ongeleerde mense, Dokter. Maar in hulle geval is daar een kenmerkende eienskap by almal: Hulle is kwaad vir die wêreld en hulle soek altyd iemand om te beskuldig.”
Hy bly stil en toe sy na hom kyk, sien sy tot haar verbasing nie meer verergdheid of spot nie, maar onmiskenbare tekens van hartseer en moedeloosheid.
“Jy is seker reg, Juffrou,” sê hy eindelik, “maar miskien weet hulle nie wat anders om met die ‘kwaadwees’ te doen nie.”
Voordat sy aan iets kan dink om hom te antwoord, of selfs om hom dalk te bemoedig, het hy sy hand in ’n groetgebaar gelig en weggedraai om uit te loop na die afdakke waar die dokters parkeer.
Retha ry werktuiglik na haar woonstel toe terug. Sy groet die veiligheidswag by die hek en trek haar motor op haar parkeerplek in, maar sy voel vreemd afwesig, asof haar fokus êrens anders is. Eers toe sy haar voordeur oopgesluit en die staanlamp aangeskakel het om die skemer te verdryf, erken sy teenoor haarself dat sy ontsteld is. Sy gaan sit met haar skouersak, waarin haar aantekeninge van die gesprek met doktor Milton is, op die sitkamerbank. Dit was ’n goeie gesprek dink sy, en sy behoort eintlik nou opgewonde te voel. Toe sy dokter Isak Vermeulen op die trap raakgeloop het – of hy vir haar – was sy in ’n goeie bui en boonop gereed om die man om verskoning te vra vir die verspotte brombeerstorie. Hy wou nie haar poging om dit te doen aanvaar nie en het op sy beurt uitgewei oor haar ooreenkoms met ’n geelvink. Die geel rok en singery op die trap sou sy kon weglag, maar sy het haar opnuut vir hom vervies toe hy geïnsinueer het dat sy nog nie ’n ring dra nie omdat sy vir die ou met die meeste geld wag. Sy het gereken dat hy sinies is en hom van stereotipering beskuldig. Eers ná haar opmerking oor brombere wat die skuld op ander pak wanneer hulle kwaad is vir die wêreld, het sy besef dat hy so teen Katrien Milton uitgevaar het omdat hy seer het.
Sy wens dikwels dat sy nie so voortvarend is nie. Karen sal twee maal dink voordat sy iemand met ondeurdagte woorde krenk. Nou onthou sy ook weer Isak Vermeulen se uitroep in doktor Milton se kantoor: “Magtag, Katrien, ons het haar amper verloor!” Dit het gegaan oor sy suster se “kopdokter” wat haar blykbaar aangeraai het om haar pille weg te gooi. As sy nou twee en twee bymekaar tel, is daar net een afleiding moontlik: ’n selfdoodpoging van die sussie. Volgens sy eie erkenning het Isak teen Katrien en alle ander sielkundiges uitgevaar omdat hy nie geweet het wat anders om met die “kwaadwees” te doen nie. Wat sy egter op sy gesig gelees het net voordat hy sonder verdere woorde weggedraai het na sy motor toe, was eerder droefheid en kommer as woede . . .
Karen se Werner kan nie op ’n tennisbaan rondhardloop nie omdat sy een been jare gelede in ’n ernstige motorongeluk vermink is en hy gevolglik mank loop, maar hy gun haar met graagte haar en Retha se tennisafspraak Saterdagoggende.
Dis ’n heerlike oggend, koelerig maar windstil, en hulle speel twee stelle wat hulle om die beurt wen. Nie een van hulle is baie kompeterend van geaardheid nie, maar hulle speel nietemin voluit vir die oefening en die pret. Gelukkig weeg hulle spel goed teen mekaar op.
Die son is nou al warmer en hulle gaan sit op ’n bankie onder ’n kareeboom om die appelsap en muffins te geniet wat Karen ingepak het. Hulle maak beurte om iets kleins te ete en drinke vir ná die spel te bring.
“Hoe het jou gesprek Maandag met doktor Milton afgeloop?” wil Karen weet en Retha dink weer hoe lojaal en betrokke hierdie vriendin van haar is. Dit het nie en sal ook nie verander noudat sy ’n gelukkig getroude vrou is en haar fokus op haar man is nie.
“Die gesprek het baie goed afgeloop en dit lyk beslis asof ek my navorsing as ’n deel van die groter projek sal kan aanbied. Maar daar was . . . daar het iets gebeur voordat ons begin praat het wat toe later tot verdere komplikasies gelei het.”
Karen kyk afwagtend na haar. Retha haal eers diep asem voordat sy die vorige middag se gebeure in besonderhede vir haar vriendin skets.
“En toe die dokter daar wegloop, het ek gewens ek was soos jy en het eers nagedink voordat ek hom beskuldig het van stereotipering, en dat hy – soos alle brombere – kwaad is vir die wêreld en dan die skuld op ander mense pak.”
Karen het, soos haar gewoonte is, aandagtig gesit en luister sonder om kommentaar te lewer. Nou skud sy egter haar kop beslis.
“Nee, Retha, moet nie jouself onnodig verwyt nie. Dis miskien waar dat jy impulsief is en soms te vinnig is om gevolgtrekkings te maak, maar ek ken jou goed genoeg om te weet jy sal nooit iemand doelbewus seermaak nie. Jy wou die dokter maar net op sy plek sit omdat jy jou vervies het vir sy geelvinkstorie. Ek moet erken, dis nogal snaaks!”
“Dit was net snaaks totdat die man geïmpliseer het dat ek nog nie ’n verloof- of trouring dra nie omdat ek eers wil wag vir die beste aanbod.”
“As hy maar net weet dat jy die laaste mens op aarde is wat behep is met geld en goeters. Jy is ’n idealis, nie ’n materialis nie!”
“En tog, weet jy, Karen, toe ek onlangs min of meer dieselfde vir my pa gesê het, het sy kommentaar my nogal verleë laat voel. Hy het my daarop gewys dat ek nie op die aankoop en versamel van besittings hoef te fokus nie, want ek het klaar alles wat ek op hierdie stadium van my lewe nodig het: ’n splinternuwe motor vir my twee-en-twintigste verjaarsdag, ’n woonstel in ’n goeie woonbuurt op my naam, mooi meubels en oorgenoeg goeie klere. Dan boonop ’n ruim maandelikse toelaag van my pa wat my lewensuitgawes dek. Dit alles terwyl ek nog nie eens begin werk het nie!”
Karen glimlag begrypend.
“Jou pa is seker reg,” gee sy toe, “maar dis tog nie jou skuld dat hy toevallig ’n welgestelde sakeman is en jy sy lieflingdogter nie.”
“Nie moeilik as mens ook die enigste dogter is nie!”
Retha lag effens selfspottend, maar dan sug sy weer.
“Maar, Karen, die uiteinde is dat ek nou sleg voel oor my opmerking oor brombere soos dokter Vermeulen, en dit terwyl die man werklik besorgd is oor sy suster. Ek wens ek het hom gekeer en jammer gesê voordat hy so vinnig weggeloop het.”
“Miskien loop jy hom raak wanneer jy weer met doktor Milton gaan gesels.”
“Nee, want die kans is klein dat ons volgende afsprake by haar werkkantoor sal wees. Sy was net haastig vir ons eerste gesprek oor my navorsing en daarom het sy my sommer na die dokterskamers by die hospitaal laat kom. Ons volgende gesprekke sal seker op kampus wees.”
“Nou maar moet jou nie verder daaroor bekommer nie, Retha. Die man het dit waarskynlik klaar vergeet. En nou sal ek op pad moet wees om te gaan kyk of my eie man darem al begin kos maak het.”
Die teerheid en liefde in Karen se stem bring onverwags ’n knop in Retha se keel. Sy is diep dankbaar oor haar vriendin se geluk, maar sy voel ook bietjie uitgesluit. Verlede jaar het sy meestal vir Karen gaan oplaai by die kommune en ná die tennis was daar dikwels lang kuiersessies, of hulle het die middag weer iets saamgedoen. Nou ry Karen self met Werner se motor tennis toe en sy en Retha kuier daarna net vir ’n kort rukkie sommer op die gras by die universiteit se sportvelde.
Daar het darem heelwat by daardie kommune gebeur die afgelope jaar, dink Retha terwyl sy terugry na haar woonstel. Eers het Karen op George Ferreira verlief geraak, maar mettertyd besef haar hart behoort aan die “kreupel kluisenaar”, Werner Scholtz, wat haar glo heimlik al ’n paar jaar liefgehad het. Toe was daar die gewapende roof, waarin niemand genadiglik beseer is nie, en tussendeur talle gesellige kuiers in die groot kombuis. Sy het so dikwels by Karen gekuier dat die ander vier studente in die kommune ook haar vriende geword het. Roelof was een van hulle en nou die enigste een wat nog daar bly.
Hy sou haar nog vir roomys genooi het, onthou sy nou weer vir die eerste keer. Sy is eintlik bietjie verlig dat hy sy voorstel nie opgevolg het nie, want sy was bang die gawe jong man wil dalk gereelder kuier en sy wil hom nie laat dink dat daar enige moontlikheid van iets meer as vriendskap tussen hulle kan wees nie. Dis nie omdat sy verwaand is dat sy bang is Roelof sal dalk ernstig word nie, maar omdat ’n hele paar seuns in haar laaste hoërskooljare, en talle jong manne die afgelope vier jaar op universiteit, hulle bes gedoen het om haar in ’n vaste verhouding te kry. Sy is nie juis geneig tot introspeksie nie, maar sy het al dikwels eerlik gewonder wat die voornemende kêrels nou juis in haar sien.
Sy gaan staan soms voor die spieël in haar kamer en kyk dan doelbewus krities na haarself. Wat sy sien is elke keer dieselfde en bring nie antwoorde nie: ’n jong vrou met ’n netjiese figuur, maar beslis nie uitlokkende kurwes nie, en kort geknipte blonde hare waarvan ’n paar veertjies teen haar voorkop en wangbene lê. Haar oë, soos by baie blondines, is helderblou, maar in haar geval is haar wimpers onverwags donkerder, wat haar oogkleur nog opvallender maak. Haar pa noem haar gesig “pikant”, maar vir haar lyk dit maar na ’n doodgewone gesig met ’n neus wat effens geboë is by die brug, en ’n mond wat maklik en wyd glimlag en dan kuiltjies in haar wange laat verskyn. Mans verkies volgens die populêre mening blonde vroue, maar daar is darem ’n groot verskil tussen ’n meisie wat toevallig blonde hare het en ware blondines van faam soos Marilyn Monroe, Madonna en Dolly Parton.
Sy het verniet begin glo dat Roelof vergeet het van sy plan om te kom kuier, want daardie selfde middag lui haar selfoon en sy naam verskyn op die skerm.
“Hallo, Roelof,” antwoord sy vriendelik. Hy groet ook en maak dadelik verskoning omdat hy haar nog nie vir die beloofde roomys kom haal het nie. Die twee proffies wat hy genader het as moontlike studieleiers vir sy nagraadse ingenieurstudies, het hom toegegooi onder leeswerk wat hy moes afhandel voor hulle volgende gesprekke. Nou is hy darem klaar daarmee en kan hy bietjie asemskep. Die roomys bly ’n belofte, maar aangesien dit môre Sondag is, het hy gewonder of sy nie saam met hom wil kerk toe gaan nie. Die studentepredikante is besig met ’n boeiende preekreeks met die tema “Die Christenstudent en . . .” oor verskillende onderwerpe wat ’n besondere impak op jongmense se lewens het. Temas waaroor reeds gepreek is, is studies, verhoudings en keuses. Môreaand se tema is die Christenstudent en gemoedsversteurings soos onder meer depressie.
“Dit klink interessant,” sê Retha terwyl sy dink dat die onderwerp nogal inpas by haar beoogde navorsing oor die verskeie uitdagings in jong vroue se lewens. “Dankie, Roelof, ek gaan graag saam. Moet ek jou by die kerk kry?”
“Nog nooit nie, Retha. My pa slag my af as hy hoor ek laat ’n meisie wat ek iewers heen genooi het, self ry, veral in die aand. Dis ongelukkig maar ’n gevaarlike land waarin ons leef. Jy onthou mos van daardie nare roofaanval by die kommune verlede jaar. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek het ’n skokstok en is reg vir die skurke! Sal ek jou dan so halfsewe kom oplaai? Jy moet net asseblief jou adres gee.”
Sy belowe om die inligting te whatsapp en hy groet, maar nie voordat hy met ’n spesiale warmte in sy stem gesê het dat hy baie daarna uitsien om haar te sien nie. Retha sug liggies nadat die oproep verby is. Partykeer is dit vir haar maklik om ’n voornemende vryer op sy plek te hou, want daar was al van hulle wat net bietjie té selfversekerd of amper arrogant was. Wat moeiliker is, soos in Roelof se geval, is om ’n belangstellende wat gaaf en ordentlik is en eerlik te kenne gee dat hy baie van haar hou, te laat verstaan dat sy nie dieselfde oor hom voel nie. Dis altyd vir haar sleg om iemand seer te maak, maar aan die ander kant is dit teen haar aard om iemand aan te moedig en die aandag te geniet as sy goed weet haar hart is nie daarin nie.
Voordat sy die daardie aand aan die slaap raak, lê Retha weer oor die ingewikkeldhede van verhoudings en nadink en wonder opnuut of sy dit ooit sal regkry om dolverlief op iemand te raak – soveel dat hy die middelpunt van haar bestaan sal word en sy niks meer sal begeer as om die res van haar lewe by hom te wees nie. Miskien is sy maar net te nugter en onemosioneel om oorweldig te word deur die liefde met ’n groot L en sal sy uiteindelik – as sy wil trou en kinders kry – met haar kop op die mees geskikte kandidaat moet besluit. Dit laat haar onwillekeurig dink aan Isak Vermeulen se siniese opmerking dat sy nog wag met die ring om die man te kies wat haar die beste voordele kan bied.
Wel, slim dokter Vermeulen, praat sy nou in haar kop met hom, die finansiële posisie van die betrokke man sal seker een van die faktore moet wees om te oorweeg – my kinders moet immers kan eet – maar daar sal ook ander eienskappe wees wat net so swaar weeg. Jy vra watter? Wel, vir my is die twee i’s byvoorbeeld baie belangrik: intelligensie en integriteit. O, en natuurlik sal ek eers baie seker maak dat hy geheel en al nie ’n brombeer is nie!
Retha glimlag tevrede oor haar kopgesprek met die dokter, maar dan onthou sy weer met skielike deernis sy ontsteltenis oor sy suster wat hulle “amper verloor” het. Dit was sekerlik depressie waaraan sy gely het en wat toe gedreig het om fataal te word. Miskien moet die suster na die preek oor die Christen en depressie gaan luister, dink Retha nou. Sou sy nog ’n student wees en die studentekerk besoek? Dis seker moontlik, want Katrien het mos vertel dat Isak se sussie gebore is toe hy amper elf jaar oud was. Dan is die meisie nou nog in haar vroeë twintigs.
Vir ’n oomblik wonder sy of sy dalk Sondagoggend vir Katrien Milton moet bel en vra of sy haar vriend Isak wil laat weet van die tema van die aand se preek. Maar sê nou net Katrien laat val dat die inligting van Retha af kom en dat sy haar dosent pertinent gevra het om dit aan hom oor te dra. Sal Isak dit reg vertolk as eerlike belangstelling of sal hy dink sy probeer inmeng in sy en sy suster se lewens? Nee, besluit sy net voordat sy eindelik insluimer, laat sy maar liewer nie bel nie. Laat sy haar nie met die kwaai dokter se sake bemoei nie. Netnou vervies die brombeer hom weer vir haar.