Uittreksel | Déjà vu

Een
Saterdagaand 21 Oktober
Mosselbaai
Zabeth
Die kopligte slaan nou al vir kilometers silwer teen die digte reënsluier vas.
Haar oë brand van konsentrasie. Die rit was en is steeds ’n nagmerrie met plek-plek eenrigtingverkeer en tot ’n halfuur by sommige stop-en-ry-vertragings. Veral nadat die donker begin toeslaan het. En dan stroom daar nog water in laer gebiede oor die pad ook.
Amper te laat sien sy die blou ligte raak en toe eers die skynsels van mense in glimbaadjies. Sy rem, maar die motor verstadig skaars, hou aan gly. Daar moet olie op die teer wees benewens die laag water. Sy lê op die toeter.
Twee persone spat in ’n v uit haar pad.
Die Jimny skiet rakelings verby die begin van ’n versperring, hou aan gly, tot in ’n dieper stroom water oor die pad.
O, vrek. O, vrek. Die enjin moet net nie nou stol nie.
Die wiele kry weer traksie. Low revs, low revs, eggo haar pa se stem in haar kop.
Dit wil-wil voel of die water die Jimny na regs sleur. Sy versnel effens en dan is sy anderkant uit.
’n Glimbaadjie en flitslig dwing haar tot stilstand. Sy hou die enjin aan die luier en maak die venster op ’n skreef oop.
“Jirre, mevrou, is jy van jou fokken verstand af?” Die verkeersman is bleek in die lig van sy flits. Water stroom van sy reënhoed af.
“Ek kon nie gestop kry nie.” Haar stem klink yl in die gedreun van die reën teen metaal. “Ek het probeer. Regtig.”
“Jy het ons almal ’n hartaanval gegee. Ek moet jou eintlik aankla van roekelose bestuur, maar nou moet ons eers hierdie fokken versperrings op kry om ander soos jy te keer dat hulle donnerse selfmoord pleeg.” Die verkeersman haal diep asem. “Sorrie, mevrou, ek vloek nie op die job nie, maar ek het my gedermtes los geskrik.”
“Meneer, ek kan nie vir jou sê hoe jammer ek is nie. Daar moes olie op die pad gewees het.” Die trane van skrik begin loop.
“Dit ook nog! Seker nog van gister se lorrie vol kiste kookolie wat omgeslaan het. Nou toe. Volg die detour-bordjies van hier af en gaan meld aan by Kronkelrivier se polisiestasie.”
“Gaan hulle my arresteer?”
“Nee, mevrou. Jy kan nie verder as Kronkelrivier kom nie. Hulle gaan vir jou probeer blyplek reël tot die pad weer oop is. Die inwoners maak hulle huise oop vir die gestrandes. Die gastehuise is al vol. Daar is oral rotsstortings in die passe en al die brûe in die dorp is oorstroom. Verderaan ook. Draai links in die dorp in, die polisiestasie is aan die linkerkant. Gaan vra daar waar jy kan oorslaap. Ry nou!”
“Dankie, meneer.”
Haar hemp is sopnat toe sy die venster toedraai. Vermoedelik omtrent ewe veel angssweet as reën. Sy trek stadig weg. Haar hand bewe onbedaarlik toe sy van rat verwissel.
Gelukkig is Kronkelrivier haar bestemming. En hopelik is die gastehuis waar Niall, haar werkgewer se lewensmaat en sakebestuurder, vir haar bespreek het nie in die pad van hierdie groot water nie. En aan diékant van die oorstroomde brûe. Dit sal sy eers moet uitvind voor sy die plek gaan soek. In hierdie omstandighede kan sy nie op Google Maps staatmaak nie.
Jimmel, wat gaan aan met die wêreld? Dis asof die planeet mal geraak het. Twee weke gelede het die Wes-Kaapse kus deurgeloop onder storms en ’n besonder hoë springgety wat oral strukture vernietig en kuslyne verander het. En nou hierdie vloedreën.
Klimaatsverandering maak deesdae sy stem vreesaanjaend dik.
Die reën bedaar effens, net baie effens, vlak voor sy die afdraaipad na Kronkelrivier neem. Die straatligte lyk egter steeds soos bruide met digte sluiers toe sy die dorp binnery.
’n Plaat motors staan voor die polisiestasie. Nog ’n glimbaadjie beduie met ’n flits waarheen sy moet ry. Die parkering waarin sy die Jimny moet inmaneuvreer, is net-net groot genoeg. En maklik honderd meter van die geboue af.
Sy sukkel haar in haar kappiebaadjie in, kry haar handsak en skuur by die nou gaping uit.
’n Man hou ’n sambreel oor haar. Hy kry haar arm beet en begin draf na die geboue.
“Dankie!” roep sy bo die lawaai van reën en stemme uit toe sy onderdak kom. Hy knik net en durf weer die reën aan.
In die aanklagkantoor drom druipende mense soos nat hoenders saam in plassies water.
“Nommer sewe en twintig!” roep ’n konstabel uit van agter die toonbank. ’n Man, vrou en huilende dogtertjie beur deur die skaretjie.
Nog ’n polisieman, net links van haar, wink hulle nader. “Ons het net een kamer vir julle al drie. Oukei?”
Die man knik. Die vrou vat haar man se hand en knik sommer drie keer.
“Wag net by die ingang. Die eienaar van die huis kom julle haal. Hy het ’n four-by-four. Kan nie met ’n gewone kar by hulle huis uitkom nie. Hy sal sy ligte flash.”
“Dankie! Baie, baie dankie.” Die vrou begin snik.
Die polisieman kom na Zabeth toe. “Het mevrou al ’n nommer?’
Sy skud haar kop. “Maar ek is by ’n gastehuis bespreek. Ek wil net uitvind of ek daar sal kan uitkom. En hoe. Ek ry ’n Jimny.”
“Watter gastehuis?”
“Sheldon Manor.”
“A. En mevrou se naam?”
“Zabeth. Zabeth Meyer.”
Hy laat sy blik oor die mense gaan en steek dan sy hand op.
“Meneer Liam!” roep hy oor die gedruis heen.
’n Man wat soos Saul van ouds kop en skouers bo die ander uittroon, draai in sy rigting. Hy lyk bekend, maar sy kan hom nie plaas nie. Iets aan die deurmekaar kuif en die amperse baard wat nie kan besluit of dit donkerbruin, blonderig of rooierig wil wees nie.
“Die Meyer-vrou is hier!”
Die mense maak pad vir die lang man.
Sy is self nie kort nie, maar sy moet opkyk na hom.
Hy kyk haar op en af voor hy sy hand uitsteek. “William Sheldon. Mense noem my Liam.”
“Zabeth Meyer.” Sy handdruk is bedagsaam gegewe die grootte van sy hande. Sy blougroenerige oë verklap onderdrukte ongeduld.
“Nie gedink jy gaan dit maak nie. Ons moes jou suite vir mense met kinders gee toe die ander kamers vol was. Maar daar is nog plek in die boothuis.”
Boothuis? Met die rivier wat in vloed is?
Hy moes haar vertwyfeling gesien het. “Kyk, juffrou Meyer, ons het ’n rowwe dag agter die rug. Huise moes ontruim, diere gered en mense gekalmeer word. Sommige inwoners weet nie of hulle huise nog teen môre gaan staan nie.”
Hy skep asem asof hy sy geduld sterk moet beteuel. “Die boothuis is stewig en staan op hoë pilare. Dit verduur al vloede sedert dit in 1898 gebou is. Kyk na die mense om jou. Hulle wag om te hoor waar hulle kan oornag. Samaritane rig tans ’n skool- en kerksaal in. Dis waarskynlik waar hulle gaan beland. En jy huiwer oor my aanbod?”
“Maar ek het bespreek. Vir ’n maand lank. Hoekom het julle nie die mense wat nou in my suite is, eerder in die sogenaamde boothuis gesit nie?”
“Omdat dit te klein is om ’n gesin van vyf te huisves. En ons het nie gedink jy sal kan deurkom nie. Kan ons nou asse-donnerse-blief net ry?”
“Jammer. Ek het ook nie ’n wonderlike dag gehad nie. Dit was ’n skrikwekkende rit.”
Hy haal sy foon uit. “Kleur, model, registrasienommer van jou motor?”
“Suzuki Jimny, blou, CEM-nommer.”
“Hermanus?”
“Ja.” Wat de hel is verkeerd met Hermanus? Want hy lyk beslis nie beïndruk nie.
Hy bel en stap ’n entjie weg van die druising van stemme.
Zabeth volg hom.
“Sy is hier. Kom kry die sleutels by die toonbank. Bring haar kar, sy kan saam met my ry.” Hy rammel die inligting wat sy vir hom gegee het af.
“Ja.” Hy kyk op plafon toe. Sy kan sommer sien sy geduld word weer beproef. “Ja, ek weet, Keith. Kan ons nou net kos in ons lywe kry sodat ons in die bed kan kom. Môre kan daar dalk nog groter chaos wees. Raait. Los haar kar by die boothuis en kry huis. Pamela is seker al bekommerd. Ek sal verder sorg. Raait. Sien jou môre.”
Hy hou sy hand uit. “Sleutels, asseblief?”
“Ek kan self bestuur. Jou volg.”
“Nee, jy kan nie.”
Zabeth rol haar oë, maar oorhandig nietemin die sleutels. Die man is duidelik op die punt om te ontplof.
Hy gee dit af by die toonbank, wissel ’n paar woorde met die polisieman en beduie dat sy hom moet volg.
Buite reën dit met meer geweld as toe sy hier aangekom het. Hy gryp haar hand toe sy amper gly, en drafstap met haar na ’n viertrek van ’n aard wat oorkant die pad geparkeer staan. ’n Jeep, sien sy toe sy naderkom. ’n Embleem op die deur, maar sy kan nie uitmaak wat daarop uitgebeeld word nie. Dalk ’n voetspoor?
Hy maak die deur vir haar oop en help haar inklim voor hy omdraf na die bestuurderskant.
Beteken die bedagsame gebaar hy is ’n bedonnerde heer, of ’n hoflike bliksem?
Kronkelrivier
Liam
’n Meyer onder ’n Sheldon-dak. Kan jy nou donnerswil meer. Dit kan net op konsternasie uitloop, weet hy al vandat Wilbur vir Ethel gekontak het. Kon die man nie ’n ander navorser vir sy boek gestuur het nie?
Natuurlik is daar baie Meyers oor die land heen. Daarom het hy nie ag geslaan op die van nie. Wilbur het net gesê sy navorser is ’n ene me E.A. Meyer. Maar hoeveel Meyers woon in Hermanus?
En hoekom wil Wilbur ewe skielik Kronkelrivier as agtergrond vir sy nuwe boek gebruik? Sy spanningsromans speel gewoonlik in en om Kaapstad af. Of begin daar voor die speurpaar na die uithoeke van die aarde gaan om moorde en ander misdade op te los.
Buitendien, Wilbur ken Kronkelrivier en sy geskiedenis. Hy kon net vir Ethel of Marjorie gevra het as hy seker wou maak van feite. Vir Rien van die museum. Of vir hom. Of self hierheen gekom het.
Hy loer onderlangs na die vrou langs hom. Dalk veertig, give or take. Langer as die gemiddelde vrou. Slank met mooi boobs. Of ’n goeie Wonderbra. Nogal ’n sexy agterstewe.
Dit alles het hy in die aanklagkantoor al gesien. Haar haarkleur kon hy nie mooi bepaal terwyl dit nog so nat is nie. Lyk donkerig. Blou oë met ’n donkerder rand. Fyn neus. Gul mond, mooi gevorm met ’n gedefinieerde kupidoliplyn en voller onderlip.
Hy verminder spoed, al kruip hulle reeds, en sit sy flikkerlig aan.
Die kopligte dring nie ver in deur die struikgewas weerskante van hulle nie. ’n Ent verder doem die ligte van die Manor op.
By die begin van die oewertuin draai hy regs en die kopligte tref die massas water wat verby die vloedvlak stroom. Weer baie tuinmaakwerk na dese vir Godfrey en sy kleinseun, Rasta. Die vaste kaai is onder water en sal ook skade hê, maar die drywende kaai hou darem nog. Hy parkeer voor die boothuis.
Dorie of dalk Liesa het gelukkig die ligte by die trappe en weerskant van die voordeur aangeskakel.
“Dís die boothuis?” Zabeth klink verras.
“Dís die boothuis,” beaam hy.
“Maar dit lyk soos …” Sy vind klaarblyklik nie die regte word nie.
“Dis eintlik ’n kothuis met vasmeer- en stoorplek vir bote en kano’s daaronder. Ons praat maar net nog al die jare van die boothuis.” Ligte flits in die truspieël. “Hier is Keith nou met jou kar.” Hy grawe in die holte agter die rathefboom en hou ’n stel sleutels na haar toe uit. “Gaan solank binnetoe. Versigtig net op die trap, dit sal glad wees van die reën. Ek sal jou bagasie bring.”
“Ek sal help, daar is baie.”
Hy sug heimlik. Vroumense. “Toemaar, Keith sal help. Gaan word droog. Daar behoort ’n kaggel te brand. Daar is handdoeke in die linnekas in die gang. Die eerste slaapkamer is joune. Dis en suite, maar net met ’n stort. Daar is egter ’n bad en ’n stort in myne. Jy is welkom om die bad te gebruik as jy wil.”
Sy kyk hom effens verwilderd aan. “Ons deel die kothuis?”
“Dis my woonplek, ja. Toe, gaan word solank droog. Ek sien jou nou.”
“Maar …”
Hy klim uit en draf na die driedeur-Jimny. Nogal ’n nuwe een lyk dit. Nuwe Jimny, bly in Hermanus. Wilbur moet haar goed betaal.
Zabeth
Van die groot huis waar hulle ingedraai het, was daar min te sien, maar van die aantal ligte wat binne brand, lei sy af dis reusagtig. Met die Jeep se kopligte wat direk daarop skyn, kan sy die dusdanige boothuis egter goed sien.
Boothuis se dinges. Onder is buitengewoon hoë en breë deure met gotiese skarniere en handvatsels. Dit verberg seker die boot en vasmeerplek. Die kothuis bo slaan haar asem weg. Gebou van gedresseerde klip met baie houtaksente en ’n spitsdak en -dakvensters lyk dit asof dit uit Cotswold hierheen verplaas is. Veral met die reën wat daaroor sif.
Sy kry haar handsak beet en trek die kappie van haar baadjie oor haar kop voor sy uitklim en met die trap opdraf. Die trappe is ook van klip en inderdaad effens glad.
Die grootste sleutel pas in die houtdeur met sy brandglasruite.
In die ingangsportaal trek Zabeth haar tekkies uit en hang haar nat baadjie aan ’n haak van die antieke kapstok langs die deur.
Dié ruimte lei na ’n sitkamer waar daar inderdaad ’n kaggel brand. ’n Oorgroot rusbank en bypassende leunstoele lyk gesellig. Regs is ’n eetkamertafel met ses hoërugstoele en ’n blommende siklaam in die middel van die blad.
Verder regs is ’n kombuis. Outydse kaste van greinhout met diamantglasinsetsels in die boonste kasdeure en ’n donkerhoutwerkblad verskaf ’n knus gevoel, maar op die oog af is die kombuis met moderne toestelle uitgerus.
Sy draai links waar die gang met ’n loodglasdeur afgeskort word.
Die gang lewer ’n linnekas op, ’n deur aan die einde van die gang en een na regs. Sy kry ’n handdoek uit en begin haar hare met een hand droogvryf terwyl sy die eerste deur met die ander hand oopmaak. Binne ontdek sy ’n kamer wat lyk asof dit uit ’n Britse tydskrif kom wat spesialiseer in outentieke ouwêreldse kothuise. Die saliegroen gordyne met ’n dowwe pienk blompatroon al langs die soom is toegetrek, maar sy kan sweer sy hoor die water verby stroom.
Wat haar daaraan herinner dat sy by ’n toilet moet uitkom.
’n Vlugtige bestekopname lewer met die eerste oogopslag geen en suite-badkamer op nie. Sy begin die greinhoutkasdeure wat een hele muur beslaan, oopmaak, en ja, een lei na ’n klein maar lieflike badkamer met ’n dakvenster.
Toe sy uitkom, lê haar tas op die kis aan die voetenent van die antieke baldakynbed, met haar badkamertassie daarnaas.
Sy verruil haastig haar nat klere vir ’n droë denim en langmou T-hemp, trek ’n kam deur haar hare en sit lipstiffie aan. Met ’n kopskud sien sy hoe die krulle al klaar weer begin oorneem noudat haar hare droër is. Veel meer is daar nie te redde aan haar voorkoms nie.
Vars stompe knetter en vlam in die kaggel. Liam staan met sy rug na die woonkamer by die kombuistoonbank.
“Dankie vir my tasse.”
Hy swaai om met ’n bottel wyn en kurktrekker in sy hande.
“Plesier. Ek het jou skootrekenaar ook binnetoe gebring, maar die res kan liewer in jou kar bly tot jy by die gastehuis kan intrek.” Hy beduie na die rekenaarsak wat op een van die eetkamerstoele staangemaak is. “Jy is nie dalk ’n wiskundige nie?”
Sy kyk hom fronsend aan. “Nee, inteendeel, ek is vrot met somme. Hoekom vra jy?”
“Dis net iemand wat meetkunde verstaan wat soveel goed in daardie klein bagasieruim kan inpas.”
“Die sitplekke is platgeslaan.”
“Ja, dit het ek gesien, maar nogtans. Wat de hel is in al daardie bokse wat so nommerpas soos ’n Rubik’s cube se blokkies ingepak is?”
“Navorsingsbronne, my eksterne sleutelbord en muis … en sulke goed.”
“Boeke? Ons het vesel, nè.”
“Die internet, handig soos dit is, is nie die alfa en omega nie. Ek hou daarvan om uit boeke te werk. Veral ou boeke wat nie meer beskikbaar is nie.” Hy sal seker flou val as hy sien hoe lyk haar studeerkamer in die Hermanus-huis wat eerder aan ’n Afrikana-boekwinkel herinner. Dis nou behalwe die boeke in die bibliotekie waar sy en haar ma so dikwels saam sit en lees het.
Die gedagte aan haar ma laat weer ’n pyn deur haar hart skiet.
Hy hou die bottel wyn in die lug. “’n Glasie cab of is jy ’n witwynmeisie? Of dalk ’n geenwynmeisie?”
“Cab is gaaf, dankie. Dit lyk my die Sheldons se temperance-beleid strek nie tot by hulle nasate nie.”
“Sit gerus, ek bring vir jou. Nee, die Sheldons is lankal nie meer geheelonthouers nie. Behalwe vir wyn aan tafel, is Ethel lief vir haar sjerrie en port en Marjorie vir haar pienk gin. Keith is nou weer ’n whisky-man.”
“So verwater die bloed,” grinnik sy voor sy in een van die oorgroot leunstoele wegsink. “Ethel is die eienaar wat die Manor as ’n gastehuis bestuur, as ek reg onthou? En Marjorie is haar skoonsuster. Sy is ’n kunstenaar. Was met Ethel se oorlede broer getroud.”
“Jy het jou huiswerk gedoen.” Hy gee ’n glas robynrooi wyn vir haar aan.
“En waar pas jy in? En Keith?”
Hy gaan sit oorkant haar. “Ethel en Marjorie is my groottantes.
Keith is Marjorie se kleinseun. Hy is met Pamela getroud. Hulle woon almal in die Manor. Net die onderste deel van die huis word as gastehuis bedryf.” Hy neem ’n sluk wyn en rol dit om en om in sy mond voor hy sluk. “H’m. Goeie jaar.”
Sy proe en knik. “Uitstekend.” Sy skommel die wyn en hou dit teen die lig. “Goeie bene.”
“Jy ken wyn?”
“Ek behoort. My pa was immers ’n wynboer in die Robertson-omgewing.”
Hy dink ’n oomblik na. “Ek herinner my nie ’n plaas wat aan ’n Meyer behoort nie? En ek gaan doen gereeld aankope vir die Manor se wynkelder daar rond.”
“Hy was nie ’n Meyer nie. Dis eintlik my stiefpa van wie ek praat, Kobus van der Merwe. Hy het my grootgemaak vandat ek drie was; dus was hy in elke opsig my pa, al is daar nie ’n biologiese verwantskap nie. Hy was ’n lieflike man en ’n wonderlike pa.”
“Ek lei af hy is oorlede?”
Zabeth knik. “Twintig jaar gelede al. Hy was heelwat ouer as my ma.” Sy kyk weg. “My ma is verlede jaar dood.”
“Ek is jammer om dit te hoor.”
Sy haal net haar skouers op en neem nog ’n sluk wyn. Dis steeds te moeilik om daaroor te praat.
“Dit raak minder pynlik, maar die gemis gaan nooit weg nie.”
Daar is ware simpatie in sy stem.
“Jou ouers?”
Liam knik. “En Keith s’n. Al vier tegelyk. Asook my ouma en oupa en Keith se oupa. Sewe mense weg op een dag.”
“Hoe so?” Jimmel, dit moet verskriklik wees.
“Dis ’n lang storie en het lank terug gebeur.” Hy kom orent en stap kombuis toe. Toe hy die oond oopmaak, laat die geur wat daaruit stoom haar mond water.
“Ek dink die bobotie is warm. Sal jy ons glase aanvul terwyl ek opskep?”
“Graag.”
Die tafel moes hy gedek het terwyl sy verklee het. Nogal heel stylvol. Twee plekmatjies, lapservette en silwereetgerei. Daarby ’n mooi, vermoedelik antieke, Delft-sout-en-peperstel en drieling kristalbakkies met piesangskywe, klapper en blatjang.
Liam sit ’n bypassende kristalbak met mengelslaai wat hy uit die yskas gehaal het tussen hulle neer en ’n stel silwerslaailepels daarnaas voor hy die borde tafel toe bring.
“Nou nie juis die gemeste kalf nie, maar Dorie was baie besig met dié dat die gastehuis so vol is.”
“Dit lyk heerlik. Is Dorie julle kok?” Die bobotie is inderdaad heerlik, kom sy agter toe sy haar eerste happie neem.
“Nie meer nie. Sy staan nou aan die hoof van die huishouding en die gastehuis, en sorg ook vir my. Sy het haar dogter, Liesa, opgelei om by haar oor te neem as kok soos haar ma, Maureen, ook met Dorie gedoen het. Die ander dogter werk in die museum wat gedeeltelik deur die Sheldon-familietrust onderhou word. Niggies en neefs vervul nou weer ander take. Die Volkwyns en hulle nasate werk al meer as ’n eeu vir die Sheldons. Dorie se pa, ons tuinier, se oorgrootjie het al hier tuingemaak.”
Klink omtrent na ’n uitgebreide personeel. Op die plaas was daar natuurlik ook volop hulp vir die huis en tuin benewens die plaaswerkers, maar dis nie dieselfde nie. Hier bevind sy haar klaarblyklik tussen ’n familie wat sterk aan die Britse landelike adel herinner.
Liam
Krulhare. Goudbruin. Die oë toe nie ’n suiwer blou nie. Silwer vlekkies dryf daarin en die donker wenkbroue kontrasteer met die uitsonderlike kleur.
Die manier waarop sy haar eetgerei gebruik, verklap verfyndheid.
“Ek verstaan jy het amper weggespoel toe jy deur die versperrings gebars het op pad hierheen?”
Sy kyk op, sluk eers klaar.
“Die versperrings was nog nie opgestel nie. Die verkeersmense het nog net daarmee begin. Aan die Mosselbaai-kant. Aan die anderkant van die oorstroming was daar nog geen versperring nie. Die verkeersman het dit nog net afgelaai. En hoe weet jy van die petalje?”
“Op die nood-WhatsApp-groep vir die omgewing gesien. Hy sê jy was baie gelukkig om nie beheer oor die voertuig te verloor nie.”
Sy sit haar mes en vurk netjies langs mekaar en druk die servet teen haar mond. “Ek gaan verkies om dit as ’n kompliment te beskou. My pa het my leer bestuur en hy was streng in daardie opsig. Hy het my gereeld laat bande omruil. My geleer hoe om ’n voertuig te jumpstart. En hoe om op glibberige paaie te ry. Behalwe vir die pad van die ingang af was daar op die plaas net grondpaaie. Ek moes leer hoe om in modder en deur waterplasse te ry.”
“Jy het dus op die wynplaas grootgeword?”
Sy knik. “Was in die koshuis van graad agt af, maar vakansies moes ek oral hand bysit.”
“Wat het van die plaas geword ná jou pa se dood?”
“Sy seun uit sy eerste huwelik het dit geërf. En met reg. Hennie is ’n uitstekende wynmaker en boer. My ma het die Hermanus-huis geërf. Met my stiefbroer se seën.”
Klink soos een happy family. As hy maar dieselfde van hulle familie kon sê. “En nou is die Hermanus-huis joune? En jy doen navorsing vir die alombekende skrywer, Wilbur Sheldon.”
“Nie net vir hom nie. Ek help ’n hele paar skrywers. Maar Wilbur is my prioriteitskliënt. Hy stuur my soms na die uithoeke van die aarde en ek geniet dit.”
“En nou beland jy op ’n vervelige dorpie soos Kronkelrivier.”
“Is dit vervelig hier? Met die vloede en al die geskiedenis wat hier opgesluit lê?”
“Daar is die geskiedenis wat in die boeke opgeteken is; daar is die geskiedenis wat deur die geslagte heen oorvertel is en steeds oorvertel word en stertjies kry, en dan is daar die geskiedenis van wat werklik hier gebeur het. Moet nooit die drie met mekaar verwar nie. Die Sheldons is ’n familie wat stilbly oor baie dinge.” Hy vleg sy hande en laat rus sy elmboë op die tafel.
As Ethel hier was, sou sy hom met ’n frons laat verstaan het dat elmboë op die tafel ongeskik is. Maar sy is nie. En dis sy elmboë en sy tafel. Laasgenoemde voorlopig. Wanneer Ethel sterf, is niks meer seker nie. En Ethel is ’n tough old nut, maar sy is ook al amper vyf en tagtig.
En Marjorie het in Februarie tagtig jaar oud geword. Nie dat Marjorie enigiets aan hy wat Liam is se heil sal kan of wil doen nie. Keith nog minder.
“Nou het jy my nuuskierig. Ek het nog net breë trekke by Wilbur gekry en deur Margie Lyndon se boek oor die geskiedenis van Kronkelrivier begin blaai. O, en ook deur die boek oor die bruin mense van die omgewing. Maar ek moet albei nog bestudeer. Ek wou dit juis in situ doen.”
“Enigiets oor die voorgeskiedenis?”
“Net internetartikels oor Pinnacle Point en so aan.”
Hy grinnik. “Oukei, dit gaan millennia terug in die verlede. Veertig tot honderd en sewentig duisend jaar terug. Ek praat eintlik van die Gourikwa-, Outeniekwa- en Attakwa-stamme van die Khoi. En natuurlik die San. Hulle …” Hy word deur die gelui van sy selfoon onderbreek.
Een kyk na die skerm laat hom opspring. “Ja?”
“Nou vir wat het hulle nie ontruim nie?” Hy vee oor sy voorkop. “NSRI?”
Hy begin op en af stap. “Fok.”
“Oukei, ek en Keith sal die rubberduck vat. Ek het dit gelukkig gereed gehou met die toerusting steeds daarop.
“Kry ’n ambulans of minstens ’n medic om oorkant die polisiekantoor vir ons te wag. Die kaai daar staan nog. Bye.”
Zabeth
Dit klink nie goed nie.
“Wat gaan aan?”
Liam hou net sy hand op en bel terwyl hy solank sy skoene met een hand begin uittrek.
“Keith, kry jou wetsuit aan en ontmoet my by die rubberduck. Daar is twee oumense vasgekeer in een van die karavaanpark se chalets en die NSRI is elders besig.” Sy Engels is so aksentloos soos sy Afrikaans.
Hy frons. “O, dis jy. Pamela, ons het ’n krisis. Kan ek met Keith praat?”
Liam skop sy skoene eenkant toe.
“Magtag, Pamela! Ek weet ons is al heeldag besig om hulp te verleen, maar ons kan nie nou aan onsself dink nie. Menselewens is op die spel. En soos jy weet, help die Sheldons in krisisse. Het nog altyd en sal altyd.”
Hy trek sy sokkies een vir een uit.
“Ek weet, maar Keith is een. Kry hom uit die bed en …”
“Fok. Hoe ver is hy heen?”
“Fok, fok, fók! Sal kyk of ek ander hulp kan kry. Bye.” Hy smyt die foon op die leunstoel neer.
Zabeth kom regop. “As jy vir my ’n wetsuit het, kan ek help.”
“Wát? Jy?”
“Ek het ’n skipperslisensie. En ek is ’n sterk swemmer. Skubaduik ook redelik gereeld.”
“Kan jy iemand in ’n reddingsbaadjie help terwyl jy in die water is? Iemand in ’n rubberduck kry in ’n sterk stroom?”
“Ek het al. Beide.”
“Weet jy wat ’n torp is?” toets hy haar kennis verder.
“’n Torpedo-reddingsboei. Die NSRI verskaf pienkes aan strande en ander plekke waar daar geswem word.”
Hy maak wat sy aangeneem het ’n kombuisdeur is oop. Dié lei egter na ’n stoorkamer waar hy twee duikpakke van hangers afhaal en die kleinste na haar toe uithou. “Hierdie een behoort jou te pas. Kies vir jou ’n paar booties en ’n life jacket.” Hy beduie na ’n rak en skakel ’n lig aan by ’n trap wat binnenshuis vanuit die stoorkamer ondertoe lei van waar sy die geklots van water kan hoor.
“As jy klaar is, kry my onder. Ek het twee pare vinne op die boot. Maskers en snorkels ook. Ingeval jy dit nodig kry, maar jou hooftaak sal wees om die duck te stuur terwyl ek die mense uit die chalet kry.” Hy pluk sy hemp en trui saam-saam oor sy kop.
Toe sy terugdraai nadat sy ’n paar rubberskoene en ’n reddingsbaadjie gekies het, is hy uit sy jeans uit en het net ’n speedo aan.
“Move, meisiekind,” gee hy opdrag terwyl hy die duikpak begin aantrek.
Daardie indrukwekkende sonbruin lyf kan net aan ’n sterk swemmer behoort, vliet dit deur haar gedagtes voor sy na haar kamer toe hardloop. Ryk Neethling se moses.
Daar is nie tyd om iets geskiks te soek vir onder die duikpak nie. Swemklere het sy nie saamgebring nie. Sy hou net haar onderklere aan terwyl sy haar in die duikpak in wriemel. Die rits sukkel oor haar bra. Die duikpak is vir ’n bleddie man gemaak. Of ’n platborstige vrou.
Sy wriemel weer uit die boonste gedeelte en pluk die bra uit. Beter. Die rubberskoene pas en die reddingsbaadjie is gelukkig ’n maak wat sy ken.
Toe sy aan die onderpunt van die stoorkamer se trap kom, hoef sy net op ’n drywende kaai uit te stap en in die rubberboot in te spring.
“Hou vas!” roep Liam onnodig voor hy wegtrek.
Hulle is binne ’n ommesientjie papnat. Die reën slaan amper pynlik teen haar gesig vas. Die kollig wat op die boot gemonteer is, skyn ’n spokerige baan op die onstuimige water om hulle.
“Die mond is oop! As jy inval, sorg jy dat jy so gou as moontlik die oewer bereik! Jy wil nie die see ingesuig word nie!” skree hy bo die lawaai van wind, water en enjins uit.