Skip to main content

Uittreksel | Daka

Die eerste ondiere

“Aaa, Adam! Waar kry jy haar?” Sindy steek haar hand versigtig uit.

“By die leë huis.”

Die leë huis is ’n verbode plek. So lank as wat hulle kan onthou, staan die toegegroeide ou bouval met die hoë betonmure skuins agter Sindy hulle se erf leeg. Glo suinige ou Corrie Korb s’n, volgens die grootmense. En nou die dag hoor Adam die oom oorkant sê die plek ontsier die straat; hy wens die munisipaliteit wil dit stroop.

Maar wat die grootmense nie geweet het nie, is dat die leë huis eintlik ’n wonderlike plek vol geheime is. Adam se gunstelingdroomplek. Dis die vreemdste gevoel om so weg te raak. Te wees waar g’n mens op aarde weet jy is nie. “Dalk is dit hoe doodwees voel,” het hy eenkeer vir Sindy gesê en vir ’n oomblik gewens hy is dood. Net sy het geweet van die gat agter die krismisrose waar ’n mens kan deurkruip.

Veral in die somer as die kakiebos en gras amper so hoog soos hy is, verbeel Adam hom hy is in ’n oerwoud op sy eie afgeleë eiland. Een van die eiland se grootste geheime is ’n woeste boom met takke wat soos tentakels afbuig en amper die grond raak. Toe hy die boom die eerste keer vir Sindy wys, het sy gesê sy lyk soos ’n seekat. “Die seekatboom,” het hy haar net daar gedoop. En Sindy het gepinkiesweer dat sy niemand ooit sal vertel nie.

Die boom is eintlik net soos hy, sou Adam soms dink. Sy staan ook so eenkant weg van die kaktusse, katbosse, kannas en al die onkruid wat die huis so toegroei. Selfs al kom hier mense in, sal hulle haar nie sommer opmerk nie. Sy is heel agter in die agtertuin, anderkant die oop stuk hoë gras en naby die hoek in die betonmuur wat toegegroei is met ivy en jasmyn.

In die buitekamer is ’n boks met ou geel lakens wat na motbolle en jik ruik. Nou die dag het hy een gevat, die twee punte geknoop en elkeen met ’n tou aan die lae takke van die seekatboom gaan vasmaak. Nou het hy ’n hangmat.

Dis hier waar hy die eerste keer begin vriende maak het met voëls. Geelvinke, duiwe, spreeus, muisvoëls met lang sterte en vaal mossies. Soms bring hy koekiekrummels of toebroodjies en strooi dit onder die boom. Dan gaan lê hy in sy hangmat en wag. Partykeer is hy gelukkig en sien ’n dikmondhoutkapper of ’n hoep-hoep met ’n wilde kuif. Hy ken al ’n hele paar voël- en plantname danksy die boeke langs die TV op die rak.

En dis hier waar Adam nou die dag die eerste keer die eienaardige stemme gehoor het. Dit was of die vroegoggendmis die plek toor. Aanvanklik was hy nie seker of dit ’n spook of dalk die gras of die wind self was nie – hy was al oud genoeg om te weet plante en die wind kan ook praat. Of dalk was dit ou Corrie Korb se gees?

Maar daardie aand in sy bed, na hy lank gelê en dink het aan die wese se woorde, het hy besluit dit was definitief ’n spook – ’n spook in die wind en die gras. En nou het vanmiddag se ontdekking dit bevestig.

“Jô!” sê Sindy en maak haar lippe tuit. Sy leun vooroor soos iemand wat nie mooi weet wat om te doen nie.

Dis goed om vir ’n verandering iets anders as skaamwees, bangwees of hartseer op haar gesig te sien. Vandag maak Adam haar dag. As sy ma geweet het, sou sy gesê het hy is ’n genuine hero. Maar hierdie is sy en Sindy se geheim.

“Agter in die jaart,” sê hy. “In daai gangetjie langs die garage waar die ou tyres lê.”

Sy lig haar wenkbroue. Dis dapper om alleen soontoe te gaan.

“Wat het gebeur?” Sy vat-vat aan haar skewe ponytail, skuif haar brilletjie reg en kyk vir die soveelste keer om.

“Is jou pa by die huis?”

“Hy’s g’n my pa nie!” Sy sê dit soos iemand wat sag raas as daar ’n baba in die huis slaap.

Hy kan sien sy dink sy het te vinnig gepraat en nou is sy spyt.

Hy wil vra wat gisteraand gebeur het maar bedink hom.

“Die lot langsaan suip weer,” het sy pa gesê.

En later het sy ma gesê: “Ag nee, my magtig, Piet! Jy gaan moet loop kyk. Hulle breek weer die plek af.”

Toe sy pa uitstap, het sy ma vir hom wat Adam is, geroep dat hy saam met haar TV kyk. “Die nuus is al verby,” het sy gesê en al hou sy nie van harde klanke nie die volume op dertig gestel.

“Maaa!” het hy gekla.

“Ek’s mos doof in een oor,” het sy verduidelik. Maar hy het geweet sy jok.

Dit was wat die grootmense ’n witleuen noem. ’n Goeie jok. ’n Jok wat jy net mag jok om iemand te beskerm. Ook net as dit die enigste uitweg is. En as jy ’n kind is, moet jy selfs dan vir ’n grootmens ná die tyd daarvan vertel. Dis die reël. Dit was die tweede keer dat hy sy ma ’n witleuen hoor vertel het om hom te beskerm. Die eerste keer was op pad terug van die hospitaal af. Sy het gesê sy hou nie eintlik meer van lang hare nie en beplan om haar kop kaal te skeer, want sy wil bietjie voel hoe dit voel. Hy het gesê dan wil hy ook en gewonder hoe ander kleure leuens werk. Kanker is vir sy ouers soos sy bababoetie se dood destyds. ’n Mens kan daaroor huil, maar dit is te pynlik om oor te praat.

“Hy is weg,” sê Sindy. “Die ou vieslike vettie. Ek hoop hy vlieg in sy maai in!”

“In iemand se vuil, agterboud-mallemaan-maaiertjiemaai in,” probeer Adam ’n grappie maak. Daar is niks so mooi soos Sindy wat lag nie. Hy wil hê sy moet weet hy hou ook nie van die grillerige oom met sy rooi oë en vet pens nie.

Sy glimlag net effens en kyk eers weer om. Toe sy terugkyk na hom, lyk dit of sy iets van haar afskud – soos iemand maak wat ’n gril of ’n rilling probeer verloor. Dan trek sy haar asem vir ’n oomblik diep in en sug dit swaar uit.

Hy wil iets sê maar weet nie wat nie.

“Wat het met die arme ding gebeur?” Sy fokus weer op die duif.

“Kyk hier,” sê hy en lig sy hande hoër. “Kyk hoe vol olie is sy vlerke. Dalk van daai vuil blikke agter die garage of iets. Ek dink dit maak dat hy nie kan vlieg nie. Toe fladder hy homself kapoet.”

“Ek dink hy is ’n sy.”

Adam wil die duif omdraai om te kyk maar besluit daarteen. Hy sal haar woord vat.

“Kan ek maar aan haar raak?”

“Sy is joune.” Hy hou sy hande uit. “Tot sy gesond is dan laat ons haar vry.”

Sy sluk en knik gelyk. Voor sy die duif vat, haal sy haar brilletjie af en maak dit skoon met die hoek van haar skoolhemp.

Hy dink nie hy het haar al ooit tegelyk ernstig én opgewonde gesien nie. Dis asof sy bietjie vergeet en nou vorentoe kan kyk sonder om heeltyd om te kyk.

Haar ma sal nooit dat sy ’n dier huis toe bring nie; die vet oom met die rooi oë nog minder. Hy stel dus voor dat hulle die duif in die buitekamer toemaak in ’n skoenboks agter die tuinstoele. Dan kan sy môreoggend voor skool saam met hom vir haar kom kuier en koekiekrummels vir ontbyt bring.

“En ’n bietjie melk,” sê sy.

Hy hou hom in. Besef hy gaan geduldig moet wees. Eerste dinge eerste. Nou moet hulle eers planne maak vir vanaand. As sy ma hom vra, gaan hy ’n witleuen vertel, besluit hy. Want daar is nie nou tyd nie en sê nou sy weier? Dit sal Sindy laat vou. Hy kan mos die kinder-witjokreël volg en môreaand vir sy ma sê?

Sindy gaan haal ’n ou skoenboks onder die bed in haar kamer.

Hy kry mercurochrome, watte en ’n pleister in sy ma-hulle se badkamerkassie. Daar is bietjie bloed op die duif se een vlerk en krapmerke op haar bene. Hy verbeel hom hy is ’n ambulansman.

Nog twee ritte tussen die huis en die buitekamer bly oor.

Een vir tissues, want Sindy sê goeie mense kan nie ’n beseerde duif heelnag sommer net so in ’n lelike kaal boks laat sit nie, en hulle moet gate in die boks se dak steek dat sy kan sien en asemhaal. Môre moet hulle blommetjies kry om die boks binne mooi te maak soos wanneer iemand in die hospitaal is.

Die tweede rit is vir Tupperware-bakkies, een vir water en die ander vir broodkrummels. ’n Duif in dié toestand kan mos nie honger gaan slaap nie. En sê nou sy word dors van al die spanning van die dag? Dankie tog Sindy het vergeet van die melk. Hy sal haar moet leer van duiwe.

Die duif bewe minder en haal rustiger asem in die boks, so asof sy besef die twee kinders het goeie bedoelings. Maar sy is steeds swak en kan nie eens opstaan nie.

“Ons gaan haar nou moet los dat sy slaap,” sê Adam.

“Nag, duif,” sê Sindy en blaas ’n soen. “Ek bring môre ontbyt en blommetjies. Lekker slapies.”

Toe sy wegstap, lyk sy vir die eerste keer soos ’n regte graad een en nie soos ’n graad-R in graad een nie. Adam weet hy lyk soos ’n graad vyf, al is hy nou eers in graad twee. Hy weet dit want sy ma se broer, oom Addie, het dit nou die dag gesê toe hy hom help groceries uitlaai.

Nadat hy die duif gegroet het, maak hy die boks versigtig toe en skuif dit agter die ou kis in tot teen die muur in die hoek van die buitekamer. Toe klim hy terug oor die stapel tuinstoele en glip by die deur uit. Hy gaan sit buite teen die muur met sy knieë opgetrek en kyk hoe die lug se kleur verander en luister hoe die klanke van die dag in die klanke van die nag verander.

Kort ná donker daardie tragiese aand roep sy ma en sê hy moet kom eet. Hy staan traag op en stof homself af. Alles is stil by Sindy-hulle. Haar ma voel nie lekker nie en slaap ’n bietjie, het sy verduidelik toe hulle groet en hy vra waarom die ligte nog nie aan is nie.


Adam kan nie slaap nie. Meer as een keer staan hy op en stap na die kamervenster. Die silhoeët van die buitekamer is grys en spookagtig in die lig van die maan. Verbeel hy hom of is daar ’n geluid? Hy hou asem op en luister weer. Was dit uit die buitekamer? Of by die leë huis? Nou is dit weer stil.

“Die monster is nie onder die bed nie, dis in jou kop, dommie,” onthou hy wat sy tannie Lina, oom Addie se vrou, gesê het toe hy klein was.

“Die monster is nie in die buitekamer nie, dis in jou kop, dommie,” fluister hy en gaan lê weer.

Maar ’n paar minute later staan hy weer op en doen ’n vreemde ding. Iets wat hy nog min gedoen het. Hy gaan af op sy knieë. Kniel met sy voete teen die mat en sy kop en hande op die bed wat ruik na Sta-soft. En toe bid hy: “Liewe, liewe Here. Hemelse Vader. O grote God. Help asseblief tog vir Sindy, en asseblief, asseblief die arme duif. En my ma. Halleluja. Amen.”

Toe hy uiteindelik aan die slaap raak, droom hy die eerste keer in sy lewe van ’n doegong. En dit was ’n belangrike droom. ’n Droom wat hy nooit ooit sou vergeet nie. Soveel so dat dit jare later sy lewe in ’n eienaardige rigting sou stuur – die rigting waarheen die waterwese hom geroep het.


Adam se ma-hulle slaap nog toe hy skemervroeg opstaan en die agterdeur versigtig oopsluit. Hy kan aanvoel iets is fout. Later toe hy grootmenswoorde verstaan, sou hy weet ’n mens noem dit ’n voorbode – en teen daardie tyd sou hy al geleer het om meer op sy hoede te wees as hy die stemme in die gras en die wind hoor.

Al geluide wat daar nou was, is die geroep van ’n kiewiet iewers in die rigting van die leë huis en die krakerige ys op die gras onder sy voete. En al is die son nog nie uit nie, is daar al genoeg lig om sonder ’n flits te sien.

Die buitekamer se staaldeur kraak toe hy daaraan trek. Hy kyk om, bang sy ouers het gehoor. Iewers anderkant die dorp grom ’n trok. ’n Hoenderhaan kraai vanuit die rigting van die skool. Dis asof klanke verder uitmekaar is voor die son uitkom, so asof die goed wat raas beurte maak uit respek vir die baie wesens wat nog slaap.

Dit voel of die handvatsel gaan vasvries aan sy hand. Entjie vir entjie trek hy die deur verder oop. Uiteindelik kan hy deurglip na binne. Hy is nie eintlik moeg nie, maar sy asem raas in die klein vertrek en maak miswolkies voor sy mond.

Daar is ’n vreemde reuk. Hy verstar. Terwyl sy oë in die donker soek, voel-voel sy linkerhand na die skakelaar teen die muur. Toe die lig aanklik, is dit skielik onnatuurlik wit in die deurmekaar, vuil plek. Versigtig klim hy oor die tuinstoele. Hy skuif die kis kant toe en loer oor. Die skoenboks staan skeef in die hoek. Die deksel hang skuins.

“Die monster is nie in die boks nie, dis in jou kop, dommie,” dink hy toe hy vooroor leun en die deksel aflig.

Maar hy was verkeerd.


“Waasie duif?” vra Sindy. In haar hand is ’n Jiffy-sakkie met koekiekrummels en ’n bossie fyn wit blommetjies. Sy hou dit trots omhoog sodat Adam kan sien. “Ontbyt,” glimlag sy, skud die sakkie en skuif haar brilletjie reg.

Die son is nou op in al sy verblindende glorie, en daar is heelwat meer geraas. Karre onder in die straat, goed wat skuifel, mensestemme wat planne maak vir die dag – en die gefluister in die oggendwind wat net Adam kan hoor.

Sindy het haar skoolklere aan en haar ponytail hang vanoggend ekstra skeef. Seker vroeg opgestaan en haastig reggemaak. Dalk kon sy ook nie slaap nie? Al wat Adam vanoggend effens beter laat voel, is dat hy nóg vroeër opgestaan het. Voor die freakin’ helder son. Voor Sindy.

Hy maak keelskoon en vat aan sy nek. “Ek het slegte nuus, Sindy … wel, soort van.”

Sy byt op haar onderlip. Dis of sy na iets in sy oë soek.

“Wat?”

“Die duif het … sy het uitgevlieg toe ek vanoggend die deur oopmaak.”

Vir ’n oomblik is daar stilte.

Sy stem was nie heeltemal so oortuigend as wat hy gehoop het nie. Maar hopelik opgewonde genoeg vir ’n witleuen. Al wat hy nou kan doen, is hoop en bid.

Toe sy vlugtig omkyk en haar brilletjie afhaal, bewe haar hand effens. Sy vee ’n enkele traan met haar mou af en forseer ’n glimlag. “Ek’s bly sy’s vry,” sê sy hees en kug kamstig.

Langs haar voete lê die sakkie koekiekrummels en die blommetjies nou in die nat gras. Die duif was haar alles, weet hy.

“Ek wil jou ná skool vertel van ’n ander wese wat ek ontmoet het – ’n waterwese,” sê hy, en dié keer praat hy die waarheid. “Maar dis ’n groot geheim, want hy kan mens wegvat na ’n freakin’ regte eiland. Hy kan actually mense vrylaat, Sindy … soos ek en jy die duif vrygelaat het. Kan jy dink hoe bly is sy nou?”

Een ding lei na ’n ander. Nadat hulle gegroet het, onthou Adam iets belangriks. Sy hoërskoolnefies het gesê ’n mens kan ’n eetlepel sjampoe drink as jy die dag rêrig nodig het om skool te mis. En hy het vandag rêrig nodig om skool te mis. Hy het in elk geval rêrig siek gevoel – lam-in-die-maag-monster-in-die-kop-siek. Watter verskil sal nóg ’n witleuen in elk geval maak op ’n dag soos dié?

Net een teelepel Palmolive Classic Anti-Dandruff, want ek is nog op laerskool, besluit hy en trek die badkamerdeur agter hom toe.

Gelukkig gooi hy dadelik op.

Selfs sy pa stem saam dat hy eerder by die huis moet bly. Kyk hoe lyk hy! Sy ma moet in elk geval later vandag dokter toe en kry vroeg af by die werk.

Teen die tyd dat Adam se ouers uiteindelik werk toe ry, voel hy al heelwat beter. Hy lê en luister tot hy nie meer die enjin van die Avanza onder in die straat kan hoor nie. Dan spring hy op, stort en trek aan.

Twee belangrike take lê voor: ’n begrafnis en ’n moord.


Dit was ’n hartseer begrafnis. Wat oor was van die duif het hy in toiletpapier toegerol. Daarna het hy ’n gat agter in die erf tussen die kannas onder die ou stinkhoutboom gegrou sodat niemand later die kruisie sou opmerk nie.

Hy het sy bes probeer om saggies “Ek sien ’n nuwe hemel kom” te sing. Maar hy kon net die eerste twee verse en “die see en al wat skei, verdwyn” onthou. Toe sê hy Johannes drie vers 16 op – hulle moes dit op die Sondagskoolkamp memoriseer vir suigstokkies.

En toe bid hy: “Ag, Here, help tog hierdie dooie duif in die hiernamels. En vergewe asseblief my witleuen wat ek vir g’n grootmens, of vir Sindy, kan vertel nie. En straf asseblief tog daai fokken rot. U naamswil. Amen.”

Daarna skop hy die gat toe, trap die grond vas en steek die kruis – twee roomysstokkies met groen wol aan mekaar gebind – daarin.

Toe spring hy op sy fiets. Die Indiër-winkel op die hoek verkoop groot muisvalle met ystertande, groot genoeg vir ’n rot.

Met sy laaste sakgeld gaan hy twee koop, besluit hy, want die dominee het eenkeer gesê die Here gebruik mense, jy kan nie net wil terugsit en bid nie.


Net soos daai duif het sy ma gely, want net soos daai rotte het die kanker haar lewend opgevreet. Die wind was koud en die son bleek. En hy moes geweet het, sou Adam later dink, want die tekens was in die lug.

Hy was vyftien toe sy pa een middag van die hospitaal af by die huis kom en sê hy moet saamry, die dokter sê dis tyd om Ma te groet. En hulle moet gou maak, want mens weet nooit nie. Hy onthou hoe sy pa letterlik op sy tande geklem het om nie te wys hy huil nie en dat hy in ’n ander stem gepraat het.

Adam was eers verlig na sy ma se dood. Veral vir haar part. Ten minste gaan dit nou veel beter met haar as met ons, het hy gedink. En ten minste is die kanker nou ook saam met haar dood. Sy sou nie wou hê hy moes té hartseer wees nie, en so aan en so aan.

Maar met die tyd, veral laat in die nag wanneer hy moeg was om oor en oor dieselfde goedkoop dinge vir homself te sê, was sy binnekant fisies seer. Sy was ’n goeie ma en verlange het soos ’n lam ding aan hom begin hang. En die begrafnis, veral die deel by die graf, het ’n merk gelos.

Soos dit maar dikwels met dié dinge gaan, was kwaadwees gou die veiligste manier om dit uit te kry. En Adam wás kwaad. Kwaad vir die wêreld wat aangaan asof niks gebeur het nie, kwaad vir kanker, en natuurlik kwaad vir God.

En hy wou weg wees: dood of in ’n ander wêreld in ’n ander tyd. Sonder kanker, mense wat karring, rotte wat verslind en gode wat ’n veer voel.