Skip to main content

Uittreksel | Daar is net een jy

Een

Diana kyk uit oor die verwaarloosde, beboste stuk land. Dit is genadiglik meer gelyk as die res van die erwe in Sedgefield en het direkte strandtoegang. Die seegolwe breek raserig in die agtergrond en die water glinster op hierdie koel, wolklose Donderdag. Al is dit reeds ná vyf, skyn die winterson fel oor die water. Toe tannie Marna haar gister gebel het om haar te laat weet dat die eienaar uiteindelik die grond wil verkoop, was sy só opgewonde, sy kon skaars die res van die dag op haar werk fokus. Dit sal haar grootste droom verwesenlik as sy hierdie stuk eiendom kan bekom. Dit is ideaal vir haar lewenslange droom, aangesien dit grens aan haar ouers, Derrick en Ronel, se permanente woning en strandhuis. Met twee erwe langs mekaar sal sy beslis genoeg spasie hê vir ’n mediumgrootte selfsorgboetiekhotel.

“Soos ek genoem het,” gaan tannie Marna, die agent, voort, “is die verkoper oop vir onderhandeling. Hy het die erf sowat sewe jaar gelede gekoop, bloot vir beleggingsdoeleindes, maar met die ekonomie wat deesdae so sleg is, wil hy eerder die geld gebruik om ander skuld af te los.”

“Ja, dit gaan maar broekskeur oral, Tannie. Ek sien ook ’n afname in my besigheid. Die mense maak nie meer so baie gebruik van binnehuisontwerpers nie. Maar ek is vol vertroue dat dit binnekort gaan draai; die ekonomie se laagtepunt is reeds bereik.”

“Ek stem. En dit is waarom jy hierdie kopie nie deur jou vingers kan laat glip nie, Dianatjie. Ek dink daar sal binnekort baie belangstelling wees, veral omdat hierdie erwe so enorm is; hier kan maklik vier massiewe huise op een erf inpas. Ek wou jou net eerste opsie gee, want ek weet mos hoe graag jy hierdie stuk grond wil bekom,” praat tannie Marna soos ’n egte bemarker.

“Die groter strand tel ook in ons guns hier. Baie meer spasie. Ek was as tiener baie omgekrap toe my ouers vanaf Pretoria hierheen wou trek, maar toe ons eers hier was, was ek so dankbaar. Ek geniet die pragtige strand. Dis waarom ek iets spesiaals hier wil doen. Iets wat ander mense die skoonheid hier sal laat raaksien.”

“Ek onthou hoe steeks jy was toe ek Derrick en Ronel destyds gehelp het om hul praghuis te koop. Ek is bly ek kan julle nou dalk weer help. Dit is ’n mooi stuk grond, nie so steil soos die huise hoër op nie.”

“Dit is baie jammer ek kan nie die laaste oop erf langs hierdie een ook koop nie,” sug Diana.

“Gepraat van . . . Omdat jy so ’n bietjie laat was vir ons afspraak, sien ek oor ’n paar minute iemand wat belangstel in daardie stuk.” Die tannie beduie na die aangrensende beboste grond. “As hy ook koop en laat bou, is al die erwe in die straat verkoop.”

“Weet Tannie dalk wat die persoon beplan?”

“Hy gaan beslis vinnig begin bou, ek vermoed hy’s ’n bouer.” Die tannie druk aan haar grys kapsel.

Tannie Marna kyk op haar horlosie toe ’n massiewe swart 4x4-voertuig langs haar motor stop.

“Oe, hy is te vroeg! Jammer hieroor. Ek het gedink ek het die twee afsprake ver genoeg uitmekaar geskuif.”

Diana sien hoe die man met gemak uit die hoë voertuig klim en in hulle rigting aangestap kom. Hy het ’n beige langbroek, bruin vellies en ’n blou knopieshemp aan. Sy blonde hare is effens gekrul en deurmekaar, maar dit pas by hom. Dit is hare wat deurmekaar wíl wees. Hare wat aan gevat wil word.

“Dis alles in orde, Tannie. Ons is so te sê klaar hier. Tannie kan asseblief met die verkoper onderhandel en my laat weet. Ek wil hierdie stuk grond hê.”

“Goeiemiddag, Marna.” Die mooie man steek sy hand uit en groet haar. “Jammer ek is te vroeg vir ons afspraak, maar ek het vroeër by die werk klaargemaak en wou gou weer na die grond kom kyk voordat ek jou hier kry.”

“Middag, meneer Els.”

“Asseblief . . . Gerhard,” onderbreek hy Marna.

“Geen probleem nie. Ons is so te sê klaar hier. Laat ek jou voorstel aan Diana Vermeulen.”

“Aangenaam.” Die hand vou warm om hare en sy trek haar hand vinnig uit sy greep; al is dit die laaste ding wat sy wou doen, want dit voel asof haar hand perfek in syne pas. Sy druk die lang donkerbruin sliert agter haar oor in toe die donkerblou oë te lank, opsommend, oor haar gesig dwaal.

Hy wikkel sy das los en sy sien die ligte borshare daar uitsteek. Sy blaas haar ingehoue asem saggies en stadig uit. Sy het sweerlik nog nooit so ’n aantreklike man, en wat so ’n onmiddellike effek op haar het, ontmoet nie.

“Stel jy ook belang in hierdie erf?” Hy wys na die regterkantste stuk grond.

“Nee, eintlik die ander een.”

“Is dié erf ook in die mark?” Hy draai na Marna.

“Het die eienaar intussen besluit om te verkoop?”

“Ja. Gistermiddag. Diana stel baie belang,” antwoord die agent.

“Ons firma sal beslis ook belangstel. Noem net die prys,” sê die man ietwat uitdagend.

Diana skreef haar ligblou oë en besef dadelik dat haar droom ’n vae idee word wat nooit gaan realiseer nie. Dit voel kompleet asof hierdie man haar drome met ’n stootskraper gaan laat verdwyn. Sy sal dit nie toelaat nie! Hierdie stuk grond sal hare wees!

“Ek en tannie Marna het klaar ’n mondelinge ooreenkoms.”

“Wat ongeldig sal wees as die verkoper ’n beter prys kry,” reageer hy gemaklik.

Diana voel hoe haar gesig warm word.

“Jy kan nie net hier kom en die grond onder my neus probeer wegsteel nie!” Haar nougetrekte oë brand van trane en sy stap nader aan Gerhard.

“Jy sal nie so laag daal nie.” Sy kan self nie besluit of dit ’n vraag of ’n stelling is nie.

“Ongelukkig is besigheid besigheid,” antwoord hy ongeërg met ’n frons oor sy voorkop.

“Hierdie stuk grond is nie besigheid nie. Dis my droom en ek . . .” Sy besef haar stem word al hoe harder.

“Wag nou, Dianatjie,” probeer tannie Marna intree. “Ek gaan jou aanbod môreoggend eerste insit.”

Gerhard haal sy foon uit, tik iets daarop en hou dit teen sy oor.

“Middag, Kevin. Dis Gerhard Els wat praat. Ek staan hier voor die leë erwe in Strandstraat en sien jou bordjie hier.”

Tannie Marna en Diana kyk gelyktydig na die agentbord voor elke erf.

“Kevin werk vir dieselfde agentskap as ek, maar hy is maar baie agterbaks,” fluister die tannie.

“As jy die stuk grond só graag wil verkoop, kom sien my nou. Ek wag reeds hier.” Gerhard druk die foon dood.

“Hoe kan jy so boos wees?” vra Diana. Sy is na aan trane, want sy sien hierdie geleentheid om haar droom te verwesenlik wegglip.

“Marna, jammer, maar ek vermoed dat jou hegte bande met mejuffrou Vermeulen my dalk hierdie geleentheid sal ontneem.” Ongeërg lig hy sy skouers terwyl hy die woorde uiter.

Tannie Marna se mond val oop en sy klem weer haar kake opmekaar.

Gerhard draai na Diana toe. “Dit is niks persoonlik nie, dis besigheid.”

“Dis waar jy dit verkeerd het, Menéér. Hierdie is vir my persoonlik en jy is besig om dit vir my te ruïneer! Ek kan nie glo jy is so ’n gemene vark nie! Dis onge-flippen-looflik dat ’n mens sulke geldwolwe soos jy kan kry!” Die plan om koel en kalm te probeer bly, is daarmee heen. “Tannie Marna, as Tannie asseblief môreoggend die aanbod sal insit, sal ek dit waardeer. Ek vertrou Tannie se oordeel. Wat moet gebeur, sal gebeur.”

Sy gee die tannie ’n drukkie en kyk weer boos in Gerhard se rigting.

“Ek hoop ek sien jou nooit weer in my lewe nie.”
Hy antwoord nie, maar daar is weer ’n duidelike frons tussen sy oë.

Sy draai om en begin fluks huis toe stap.

“Nou ja. Dan is daar ook seker niks wat ek hier kan doen nie,” hoor sy tannie Marna sê. Kort daarna hoor sy die ouer vrou se motor rukkerig wegtrek, maar sy weier om om te draai en die man weer te sien. Sy bereik net betyds hulle huis se hek toe die damwal breek en die trane oor haar wange biggel.

Wie dink hierdie man is hy om net so oor haar te probeer stoomroller? Die besef dat hy die erf eerder as sy sal kry, is ’n realiteit. Dit lyk asof hy meer geld het om aan te bied as sy. Tannie Marna sou nog die verkoper se prys kon afstry, maar die man sal tien teen een die koopbedrag plus ekstra kan aanbied. Sy is nie gewoonlik so pessimisties nie, maar sy het genoeg breinselle om te weet sy staan nie ’n kans in hierdie onderhandeling nie. Sy vee hardhandig die trane af. Flip!

Haar selfoon vibreer in haar broeksak

“Hoe het sake met tannie Marna toe verloop?” vra haar ma nadat hulle oor en weer gegroet het.

“Aanvanklik goed, maar die man vir wie sy die tweede erf moes wys, het vroeg opgedaag. Ma kon dink wat toe gebeur het. Toe hy hoor my erf is ook beskikbaar, het hy dadelik besluit hy wil albei koop. Nou is alles net mooi by die drein af.”

“Wat het tannie Marna toe gedoen?”

“Sy het probeer red wat te redde was, maar die man het gou besef dat sy my eerder sal help. Toe bel hy daar en dan ’n ander agent om die koop te behartig. Ek is so vies vir die vent. Ek staan nou nie meer ’n kans nie.” Diana sluk aan die knop wat weer in haar keel dreig.

“Hoekom sê jy so, my skat?”

“Wel, hy kom daar met sy fancy 4x4 en hy is aangetrek asof hy gereed is vir besigheid. Sy hele houding skree sukses. Arrogante man! Dit klink asof hy dit deur ’n besigheid gaan koop. En Ma weet hy sal dan baie makliker ’n lening by die bank kry as ek wat die laaste paar maande net-net die besigheid gered kon kry.”

“Wat van die nuwe gastehuis in Knysna se projek?”

“Ek behoort môre daarmee klaar te wees en die geld sal baie help, maar ek sal dit eers moet gebruik om weer vooruit te kom. Ag, ek was sommer lus en klap die vent; ongeskikter het ek lanklaas gesien.”

“Ag, jammer, hartjie.”

“Kom ons kyk maar wat gebeur,” sê Diana, skielik nie meer lus om oor vandag se gebeure te praat nie. “Wat was op die beplanning vir vandag?”

Sy glimlag effens en luister hoe haar ma gesels oor die kampavonture.

“Kom Louise nog die naweek na jou toe?” sluit ma Ronel af.

“Ja. Sy kom môre ná skool sommer vir die naweek hier slaap. Dis mos nou skoolvakansie. Ons sal maar sien wat haar planne is. Ek het vir haar gesê sy kan so lank bly soos wat sy wil. Die alleenheid hier raak soms erg.”

“Ai, my hartjie. Dan het ek nog meer slegte nuus vir jou. Jou pa geniet dit so hierso dat hy vir nog ’n maand langer bespreek het. Ons kom nou eers middel Augustus terug.”

“Die plek moet regtig fenomenaal wees as Pa bereid is om vir drie maande lank daar te bly.”

“Ja, ons geniet dit regtig baie. Maar ek verlang net nou jou, my kind.”

“Alles gaan goed hierso, Ma. Julle hoef jul nie te bekommer nie. Maar ek verlang ook baie na julle.”

“Goed, ek moet nou aflui. Ek sien jou pa beduie hier dat hy honger is. Lief vir jou, my kind.”

“Dankie vir die inloer. Groete vir Pa ook. Lief julle.”

Sy druk die foon dood en dink daaraan dat sy ook seker iets moet regkry om te eet. Sy pluk die yskas oop, maar sy het waaragtig al weer vergeet om vars kos te gaan koop. Wat gaan sy nou eet? Sy ontdek darem gevriesde wors, asook eiers in die yskas toe sy verder grawe. Ontbyt vir aandete moet dan goed genoeg wees. Sy sal beslis môre tyd moet maak om kos te koop voordat Louise kom.

Haar foon gee ’n boodskaptoon en sy is opgewonde toe sy Louise se naam sien.

Ek kom gou oor. Kry kos reg.
Jy kan kom, maar ons eet omelet, antwoord Diana.
Perfek!

Sy bak gou die wors en kry alles reg. Sy is net klaar toe Louise die toeter druk.

“Ek verander ons vakansieplanne,” kondig Louise aan sonder om te groet. Diana lag. Dit is presies hoe sy haar vriendin ken – onvoorspelbaar.

“Het ons dan vakansieplanne gehad?” lag sy.

“Man, ons het so semi gehad. Maar nou is dit beter. Werner wat saam met my werk, het ons genooi om saam met hulle vriendegroep Bosveld toe te gaan. Maar hulle vertrek al Saterdagoggend.”

“Dit klink eerder asof hulle ander vriende gekanselleer het en ons net saamgaan om die getalle vol te maak,” lewer Diana kommentaar daarop en neem ’n hap kos.

“Nee, blykbaar het sy swaer gevra om saam te gaan. En hy het ’n groot voertuig, wat beteken daar’s nog plek vir ander. Ek dink hy is ’n argitek. En Werner se ander vriend gaan ook saam. Onthou jy ek het jou al vertel van Frans? Ag, asseblief, sê jy sal kom? Jy weet ek het die hots vir Frans. En hierdie is die perfekte geleentheid vir ons tweetjies.”

“Jy besef almal is nie vir die volgende drie weke met winterskoolvakansie nie, nè?”

“O, gaats. Nee. Maar jy weet jy was self baie lanklaas met vakansie,” probeer Louise ’n ander taktiek.

“Ek is nou tussen projekte. Dalk kan ek Sandra, my regterhand, vra om beheer oor te neem. Maar ek sal niks langer as ’n week kan gaan nie. Jy weet maandeinde is gewoonlik rof.”

“Perfek! Hulle gaan in elk geval net vir die week. Saam met ons gaan Frans en Werner en sy vrou, Brenda. En die ou met die groot motor. Ek ken hom nie. Dus is ons ses mense.” Diana het darem per geleentheid vir Werner en Brenda ontmoet. Hulle is gawe mense, dus sal haar broer seker ook nie te erg wees om mee saam te kuier nie. Sy sal darem nie net vir Louise ken nie.

“Waar gaan ons almal slaap? En spesifiseer Bosveld. Dis ’n groot plek.”

“Ag, jy kan soms so ’n perfeksionis wees!” Louise gooi haar hande in die lug. “Nelspruit, of Mbombela, soos dit nou bekend staan.”

“Dis ’n volle vyftien uur se ry hiervandaan,” kla Diana.

“Dis perfek.”

“En waar slaap ons?”

“Een of ander lodge, soos ek verstaan.” Dit lyk nie vir Diana of Louise regtig verstaan nie, maar dit lyk ook nie of sy juis omgee nie, want sy swaai haar rooi hare ongeërg oor haar skouer.

“Ek sê jou net – ek slaap nie op die grond tussen slange en goed nie.”

“Nee, man. Dit gaan ’n belewenis wees. En pak stapskoene of tekkies in. Ons gaan een dag in die Bosveld stap.”

“Hierdie klink al hoe meer nie soos my tipe vakansie nie.”

“Wanneer laas was jy in die bos?” vra Louise.

“Ek dink nie ek was al ooit daar nie.”

“Dan is dit beslis tyd vir ’n eerste keer.”

“Oukei, maar jy los my nie die hele tyd dat ek met hierdie argitek opgeskeep moet sit nie. Anders vergeef ek jou nooit.”

“Jy is omtrent in ’n bui.”

“Ja, dis nog steeds daardie imbesiel se skuld.” Sy klik haar tong en vertel vir haar beste vriendin van die nare ondervinding met die Els-vent.

“Sorry. Ek weet jy het jou hart al ’n geruime tyd op die stuk grond hier langsaan gesit. En ek kan nie glo dat dié Els so ’n snob kan wees nie. Ek hoop hy was darem sexy? Só ’n vurige persoonlikheid gaan nie gewoonlik gepaard met ’n oorgewig, kaalkop-omie nie.”

“Hy was nogal iets vir die oog. Jonk, aantreklik, blond, fris. Maar daardie houding van hom het my sommer afgesit.”

“Ek dink nogal ’n dominerende persoonlikheid kan baie pret wees,” lag Louise stout.

“Vertel my eerder van Frans?”

“Oeg, waar sal ek begin . . . Hy is absoluut stunning.” Diana laat Louise begaan. Sy het al talle kere van hierdie wonderlike man gehoor. Sy hoop nie hy stel haar beste vriendin teleur nie.

“Goed, ek gaan nou ry,” kondig Louise heelwat later aan. “Jy moet nog môre werk en pak. Onthou die sonroom en jou hoed en swemklere en ook ’n rugsak. O ja, én muskietspuitgoed. Én stapskoene. Hulle verskaf verder alles. Ons ry Saterdagoggend drieuur.”

Louise gee haar ’n drukkie voordat hulle mekaar afsien by die hek. Diana loer weer na die erf langsaan en word sommer weer van voor af vies. Sy klik haar tong kwaad en druk die afstandbeheerknoppie sodat die hek weer toeskuif. Sy ruim gou die kombuis op voordat die geskeduleerde loadshedding om agtuur begin. Haar pa het seker gemaak al die gastoebehore is reg en die gasbottels is vol, maar daarvoor sien sy nie kans nie. Sy het nou maar eenmaal ’n onverklaarbare fobie oor gastoestelle. Gelukkig het die solarliggie deur die dag gelaai sodat sy haar vanaand kan verdiep in die nuwe roman wat sy gister gekoop het.


Die volgende oggend is Diana douvoordag by die kantoor wat sy in George huur. Dis ’n kleinerige plekkie met slegs ’n ingangsportaal, piepklein kombuisie, ’n kantoor en badkamergeriewe. Die enigste kantoor, hare, kan slegs bereik word deur die ingangsportaal waar Sandra se kantoor ingerig is. Al is die kantoor skaars ’n vuurhoutjieboksiegrootte, is dit al wat sy kon bekostig. Kantoorspasie in George is onbekostigbaar duur en sy het nie ’n ander keuse as om in die publieke oog te wees nie; hulle kry wel instapkliënte en haar droom sou natuurlik wees om ’n groot uitstalvertrek te hê waar kliënte kan sien hoe mooi sy ’n huis kan laat lyk, maar vir eers moet sy tevrede wees met ’n klein, goed ingerigte perseel waar baie voete is.

Sy maak vir haar filterkoffie, haar enigste sondetjie en oorlewingsmeganisme, en begin solank met die agterstallige administrasie van haar besigheid. Sy begin met Chic Interior se bankstate aangesien dit haar kan kelder om die erf te koop. Dit behoort seker in haar guns te tel as dit ’n positiewe balans is. Sy stuur ook vir Castle Cove, ’n potensiële nuwe kliënt, ’n opvolg-e-pos rakende die kwotasie wat sy verlede week aan hulle gestuur het.

Dis al byna negeuur toe Sandra uiteindelik besluit om op te daag.

“Jammer, ek is al weer laat,” kom die verskoning. Sandra se oë is rooi gehuil en haar grimering is gesmeer.

“Dit raak al amper ’n gewoonte,” antwoord Diana eerlik en reguit.

“Jammer.” Sandra verdwyn na haar kantoor en kom binne minute terug met ’n vars koppie koffie en beskuit – ’n duidelike versoeningsgebaar. Haar grimering is opgeknap.

“Dankie, Sandra. Jy weet ek loer nie oor jou skouer elke keer as jy laat is nie, maar ek ken jou ook al goed genoeg om te weet dat wanneer jy laat is, beteken dit daar is groot fout. Ons werk al drie jaar lank saam en jy weet jy kan met my gesels oor jou probleme.”

“Jy weet mos dis net daardie simpel man wat my so kwaad kan maak.”

“Ai . . .” Wat meer kan Diana sê? Sandra het al etlike maande lank dieselfde moeilikheid met dieselfde jong man. “Wil jy daaroor gesels?”

“Nee, jy is nou besig.” Sandra beduie na die papiere wat oor haar tafel gesprei lê. “Wag, ek dink ek hoor ’n kliënt.”

Sy verdwyn weer en Diana fokus op die papierwerk om haar. Hierna maak sy ’n lys van alles wat sy moet doen voordat sy kan weggaan, onder andere om vir tannie Marna ’n spaarsleutel van die huis te gee. Sy maak ook ’n inkopielys sodat sy nie vergeet om sonroom en muskietspuitgoed te koop nie. Sy neem haarself voor dat sy nie volgende week gaan verbrand of jeuk nie, want aan die bos is sy beslis nie gewoond nie.

“Ek gaan net gou iets kry vir middagete,” onderbreek Sandra haar gedagtegang.

“Sjoe, is dit al só laat?”

“Ja. Ek gaan na die kafee onder in die straat. Kan ek vir jou iets saambring?”

“Nee, dankie. Ek sal ná jy terug is gou iets in die mall kry.” Sy sal Sandra vra om vanmiddag te sluit, want sy moet vanmiddag alles vir die week gaan koop, al sien sy op daarteen om die winkels op ’n Vrydagmiddag aan te durf. Dit herinner haar aan nog ’n inkopie en sy skryf “swembroek” op die lys. Sy kan doen met ietsie nuuts.

Haar foon maak ’n geluid en sy lees tannie Marna se boodskap. Sy laat weet net dat sy die aanbod by die verkoper ingesit het en dat sy Diana op hoogte sal hou van verwikkelinge. Ai, watter kans het sy regtig om hierdie erf te kry?

Die man van gister, wat ook al sy naam nou weer was, sal seker die grond kry. Nie dat sy ’n pessimis is nie, maar hy was vasbeslote en selfversekerd en dit het beslis geklink asof hy oor die nodige finansies beskik vir die grond. Sy dink opeens aan die man se blonde bos krulhare. Onder enige ander omstandighede sou dit presies die tipe man wees wat sy vir haarself sou wou toe-eien. Hy is aantreklik, fier en trots. Hy het presies geweet wat hy wil hê, en hoe hy dit gaan kry. Het sy al aantreklik genoem? Sjoe, hy was verby aantreklik. Hoekige ken, ’n ferm handdruk, goed gebou en super sexy. Sy betrap haarself waar sy besig is om te glimlag. Nee! Hy is presies die tipe man waarvan sy moet wegbly. Met sy sogenaamde vasberadenheid stoomroller hy alles plat, tot ’n jong vrou se drome. Sonder ’n greintjie genade vir ander. En dis iets wat sy beslis nié in ’n man soek nie. Sy het meer as genoeg ondervinding met hartelose, selfsugtige, selfbehepte mans. As sy daardie man ooit weer moet sien, sal sy reg wees vir hom en vir hom presies vertel wat sy van hom dink.