Skip to main content

Uittreksel | By jou is dit anders

Proloog

Twee jaar gelede

“Waar’s almal?” vra Lelanie en loer in die rigting van die kombuis. Sy kuier weer vir die Kersvakansie saam met die Steyns in hulle strandhuis op Buffels­baai. Dis Nuwejaar, haar vakansie is amper verby en dan moet sy weer teruggaan Johannesburg toe, teruggaan werk toe.

Sy sal altyd dankbaar wees dinge het so uitgewerk dat sy en Tessa Steyn ’n kamer in die koshuis op uni­versiteit gedeel het. Behalwe dat sy ’n goeie vriendin gekry het, het sy ook deel van die Steyns se besige, luide en liefdevolle gesin geword. Vanaf die eerste naweek wat sy saam met Tessa op die pragtige land­goed, Steynslanden, net buite Durbanville gaan kuier het, het sy tuis gevoel.

Op dié stadium het sy en Tessa lankal klaar geswot, beide van hulle werk reeds al ’n paar jaar, maar sy kuier nog steeds Desembers saam met die Steyns op Buffelsbaai. Sy is deel van die gesin, sê tannie Elize, Tessa se ma gereeld.

Die gesin hou omtrént Kersfees. Tannie Elize gaan totaal oorboord en die hele huis is omtower in ’n Kersfeeswonderland met ligte en kerse en versierings en engeltjies en figure op elke moontlike oppervlak. Die yslike Kersboom in die hoek van die woonvertrek is oortrek met die mooiste versierings waaraan ’n mens kan dink.

Haar lewe en werk is in Johannesburg, al sedert sy as leerlingklerk ná universiteit by ’n firma in Johannesburg begin werk het. Drie jaar gelede is sy uiteindelik permanent aangestel. As gevolg van die afstand, sien sy die Steyns baie minder as voor­heen, maar Desembers maak sy en Tessa op vir die hele jaar.

Die gewoonlik besige strandhuis is vreemd stil op die oomblik, net Werner, die tweede oudste seun van die Steyns, sit voor die televisie. Werner is die wynmaker op die plaas. Sy hou van sy skewe glim­lag en fyn sin vir humor. Van die eerste dag wat sy op Steynslanden gaan kuier het, het sy en Werner net gekliek.

“Die ander het met die honde gaan stap. Ek is op die punt om ’n fliek te kyk, wil jy saamkyk?”

“Hang af,” sê sy. “Chickfliek of bloed en derms?”

Hy lag en tik op die bank langs hom. “Dis iets tussenin, ek dink jy sal daarvan hou. ’n Bietjie liefde, ’n bietjie spanning, maar niks bloed nie, ek belowe. Ek weet hoe jy daaroor voel.”

Sy klim oor sy bene, druk op sy skouer om haar­self te stut.

Soos sy twee broers, Hardus en Erasmus, is Wer­ner ook lank en donker en belaglik aantreklik, maar die effense woeling in haar binneste wanneer hy in die rondte is, ignoreer sy van die begin af. Hulle is vriende, dis al. Enigiets meer kan in elk geval nooit deel van haar toekoms wees nie.

Met sy oë op die televisie, gooi Werner een van die vele komberse wat oor die banke hang oor hulle albei se bene. “Sit nader, man, dis koud.”

Sy skuif nader, hy lig sy arm en voor sy besef wat gebeur, sit sy styf teen hom. Sy bekende geur vou om haar. Wat ís dit wat sy ruik? Ietsie hout, ’n flentertjie leer en . . . mán. Goeiste, waarheen hardloop haar gedagtes nou? Rusteloos probeer sy wegskuif, maar Werner se hand sak af en vou oor haar arm.

’n Spul vlinders op die krop van haar maag kry meteens lewe. Ietwat bewerig haal sy diep asem. Werner en sy is pelle, sy is soos nog ’n suster vir hom, sy kan ontspan. Sy lyf is heerlik warm, dis ’n koel aand – dis die enigste rede hoekom sy so styf teen hom sit.

Sy hand sak af oor haar skouer, haar asem raak weg, maar hy lig die silwer seester-hangertjie wat sy altyd dra effens op. Sy vingers raak-raak aan haar nek. Sjoe, dis nou skielik baie warm.

“Ek hou hiervan. Jy dra dit altyd.”

Sy maak keelskoon voor sy antwoord. Haar mond is kurkdroog. Flippit! “Dis ’n seester. Ek hou van die simboliek. Kenmerkend van die seester is dat wan­neer een van die punte van die ster afbreek, daar ’n nuwe een in sy plek groei. Dit simboliseer herlewing, vernuwing. Die seester se spirit animal leer ’n mens om heel te word en enige seer mettertyd met iets beters te vervang.”

Hy antwoord nie, druk net haar arm en sy weet: Hy verstaan haar seer oor haar ouers se dood.

Fokus op die fliek, dis hoekom sy hier sit. Met moeite konsentreer sy, en binne minute word sy meegevoer deur die storie. Werner was reg. Daar is komedie, liefde en niks bloed nie.

’n Skreeusnaakse toneel laat haar en Werner saam uitbars van die lag. Sy lag tot die trane loop en leun hygend agteroor om na hom te kyk.

Hulle oë ontmoet. Werner se lag verdwyn, sy hand glip teen haar rug af. Die lug om hulle raak swaar, asemhaling moeilik.

“Bliksem, Lanie . . .” Sy hand, warm en dringend, beweeg stadig af teen haar arm. “Jy’s so, so beauti­ful.” Sy kop sak. “Ek wil jou soen. Al só lankal.” Warm asem spoel oor haar gesig.

Begeerte, intens en skerp, jaag deur haar soos lig.

Sy mond gly rakelings oor hare. Nee, dêmmit, sy wil baie meer hê. Haar tong glip uit, lek haar onder­lip sodat sy weer kan proe.

Met ’n kreun trek hy haar nader. Hy huiwer nog ’n oomblik voor sy mond dringend oor hare vou. Haar hande kartel om sy nek, passie ontmoet passie. Niémand het haar al ooit só gesoen nie, asof hy nie genoeg van haar kan kry nie, asof hy nooit wil ophou nie. Sy kan sweer haar tone krul om en haar stomme hart is heeltemal uit ritme.

’n Witkopseuntjie, ’n krulkopdogtertjie met haar pa se bruin oë en . . .

Warm hande gly teen haar sye af, glip rakelings verby haar borste wat swaar en gretig op sy aanraking wag. Haar lyf buig soekend teen hom vas, sme­kend vir meer. Daar is geen huiwering nie, hitte bou op, passie stapel op passie. Sy vingers verstrengel in haar hare, sy mond gly soekend teen haar nek af, haar kop val agteroor.

“Hallo! Is hier mense?” roep Tessa van die stoep af.

Werner se kop ruk op, sy oë soos donker poele groen lawa. “Ons is hier!” roep hy voor hy sy hand om Lelanie se gesig vou. “Kom saam met my, toe? Ek het nog lank nie genoeg van jou gehad nie.”

Sy woorde ruk haar uiteindelik uit die bedwelming waarin sy minute lank rondgedobber het. Vin­nig spring sy op en kam haar hare met rukkerige vingers reg. “Dis . . . dit was ’n fout. Vergeet van wat gebeur het. Verhoudings, ringe, troues, babas – dis soos glad nie deel van my toekoms nie. Ek wil nooit kinders hê nie.”

Hy lig ’n wenkbrou. “Ek het jou nie gevra om te trou nie, Lanie. Wanneer ek dít doen, sal jy weet. Maar ek wil jou baie graag soen.”

“Dis die probleem, sien? Dit gaan nie net by soen bly nie.”

Groen oë vonkel. “Presies wat ek ook in gedagte het . . .”

“Jy hoor nie wat ek sê nie!” roep sy saggies uit terwyl voetstappe naderkom. “Dit . . . ek kán nie.”

“Dêmmit, Lanie . . .” Hy is die enigste mens op aarde wat haar so noem.

Vir ’n oomblik wil sy weer terugval in sy arms, maar sy weet mos dis net hartseer soek. Sy sien ver­domp kinders in sy oë – nie iets wat ooit kan gebeur nie. Dis ’n besluit wat sy lank terug geneem het net ná haar pa en ma binne weke van mekaar dood is.

Met ’n gat in haar binneste waar haar hart moet wees, draai sy weg en draf vinnig kamer toe. Geluk­kig is haar vlug terug Johannesburg toe reeds vroeg môreoggend.

Wat so pas gebeur het, mag nooit weer plaasvind nie. Dit was sommer net ’n oomblik van lawwigheid. Sodra sy terug is in Johannesburg, sal sy vergeet van Werner, sy warm lyf en dringende mond. Sy druk die kamerdeur agter haar toe.

Nè? vra die ou stemmetjie wat haar alewig tart. Verdomp, die ou stemmetjie is reg. Sy het dit nog nooit voorheen besef nie, maar dis nou vir haar duidelik: Werner is die rede hoekom sy die leerling­klerkskap by ’n firma so ver van die Kaap af aan­vaar het. Haar hart het geweet lank voor haar ver­stand dit begryp het – wat sy vir Werner voel, is baie meer as blote vriendskap.

Daar was lankal rooi ligte; hoekom het sy dit nie raakgesien nie? Die manier waarop haar hart vrolik aan die bons gaan wanneer sy hom sien, die verspotte skoenlappers wat begin fladder wan­neer sy net sy stem hoor, die diep vrede wat sy er­vaar wanneer sy by hom is – dis alles tekens wat sy geïgnoreer het.

Wel, sy moet net eenvoudig die hele episode uit haar geheue vee. Delete. En nooit weer daaraan dink nie. Uit die oog, uit die hart – is daar nie so ’n spreekwoord nie? Sy gaan terug Johannesburg toe. Oor ’n paar weke van nou af is Werner Steyn en sy soen iets van die verlede.

Sy sal in die toekoms maar verskonings uitdink hoekom sy nie meer so baie by die Steyns kan kuier nie. Iets sê vir haar as sy by haar voorneme wil hou om nooit verlief te raak of te trou nie, dit absoluut noodsaaklik is om nie gou weer vir Werner te sien nie.


Een

Verstom kyk Lelanie af na die drie maande oue baba in haar arms. Dit maak nie sin nie. Dis ’n ander werklikheid waarin sy nou gedompel is. Annerie is dood en sy wat Lelanie is, is ’n voog vir haar vrien­din se dogtertjie. Dit kán tog nie wees nie!

Vir ’n oomblik kantel die hele vertrek gevaarlik om haar, maar sy haal diep asem en knip haar oë. Dalk is sy net moeg. Sy het die laaste ruk nie baie geslaap nie. Dis seker moontlik om helder oordag te hallusineer. Maar toe sy haar oë oopmaak, het sy nog steeds ’n baba in haar arms.

Dis die eerste week in Maart op ’n doodgewone Maandag. Vandat Andries, een van die senior ven­note van Broodryk, Gouws en Le Roux, die proku­reurspraktyk waar sy een van die senior prokureurs is, haar egter in haar kantoor kom haal het, is niks meer doodgewoon nie.

Sal sy klein Emma se peetma wees, het Annerie maande gelede gevra nog voor haar baba gebore is. Natuurlik het sy ja gesê. Sy en Annerie is die­selfde ouderdom en het saam ses jaar gelede vaste aanstellings by dieselfde prokureursfirma in Johan­nesburg ná hulle leerlingklerkskap gekry. In dié tyd het hulle goeie vriende geword en dit was nie moei­lik om in te stem om ’n peetma vir Emma te wees nie. ’n Peetma se werk is maklik. Al wat sy hoef te doen is om presente aan te dra, en dis iets wat sy graag doen.

Nie vir ’n oomblik het sy eers aan die moont­likheid gedink Annerie kan iets oorkom nie. Mense gaan mos nie op nege en twintig dood nie. Sy het al ’n paar keer na Emma gekyk terwyl Annerie haar hare laat stileer het of by die dokter was, maar die idee dat Emma permanent in haar sorg kan beland, was nie iets wat ooit by haar opgekom het nie.

Die onmoontlike het egter gebeur. Vroegoggend het ’n dronk bestuurder haar vriendin se lewe kort­geknip. Dis so moeilik om te glo. Net gister nog het sy en Annerie en Emma saamgekuier en vandag is Emma sonder ’n ma.

Andries maak sy keel skoon. “Soos jy weet, is die baba se pa nie in die prentjie nie. Annerie was ’n weeskind, daar is nie familie wat kan help nie. An­nerie het jou as wettige voog vir haar baba in haar testament benoem. Daar is ook ’n groot lewens­polis, en dié fondse sal meer as genoeg wees om lewenslank vir Emma te sorg. Jy is natuurlik onder geen verpligting nie. As jy natuurlik nie kans sien om na die kleinding te kyk nie, is daar ander . . .”

Terwyl Andries voortborduur op haar opsies, klim yskoue paniektentakels teen Lelanie se keel op wat dreig om die suurstof na haar longe af te sny. Êrens is daar ook ’n vermakerige ou stemmetjie: Sien? Karma.

Dis juis omdat sy nooit ’n baba wil hê nie dat sy nie meer so baie by die Steyns in die Kaap gaan kui­er het nie. Sy kon egter nie weier om Tessa en haar Sias se troue by te woon nie. Tessa is haar beste vriendin en sy is gevra om een van haar strooimei­sies te wees.

Toe Hardus, die oudste Steyn-broer, en sy Sabel­la trou, is sy weer genooi, maar soos met die eerste troue, het sy net een nag oorgeslaap en haar weer vinnig uit die voete gemaak. Vir Jess en Erasmus se troue in Desember het sy egter net eenvoudig nie kans gesien nie en het haar werk as verskoning ge­bruik om eerder nie te gaan nie.

Die hoofrede? “Die oomblik” tussen haar en Wer­ner Steyn op die bank in sy ouers se strandhuis op Buffelsbaai twee jaar gelede. Wat daar plaasgevind het, is nie iets wat weer mag gebeur nie. Die twee keer wat sy met hom in aanraking was, het haar besluit om hom liewer nie weer te sien nie opnuut bevestig.
’n Oomblik? treiter die ou flippen stemmetjie haar. Oukei, oukei, dit was baie meer as ’n oomblik. Dit was magic. Hy’t haar gesoen. So ’n tone-omkrul-hart-uit-haar-lyf-ruk-soen. Een waarvan sy ná twee jaar nog elke liewe nag droom.
In daardie oomblik met sy warm mond dringend op hare, het sy – so belaglik soos dit mag klink – selfs hulle toekomstige kinders gesien. Ná daardie soen het sy oor álles gedroom wat sy weet sy nooit kan hê nie: die troue, die ring die gelukkig-vir-altyd­toekoms met twee punt vyf kinders. Hoe werk twee punt vyf kinders in elk geval? ’n Histeriese giggel dreig om te ontsnap.

En nou het sy ’n baba pasella. Verbete sluk sy teen die paniek. Die laaste keer wat sy so oorweldig gevoel het, was toe sy op agtien binne dae eers van haar pa en toe van haar ma moes afskeid neem. Kolonkanker het haar pa weggeneem, en haar ma het weke daarna net inmekaargesak en is ook weg. Heel waarskynlik aan ’n gebroke hart. Die kanker is oorerflik, het die onkoloog beduie, maar sy het nie verder geluister nie. Sy het reeds tóé al besluit haar toekoms sou anders lyk as wat sy aanvanklik gedink het.

Hulle vroeë dood is die rede hoekom sy haar hart en siel aan haar beroep toewy – dís haar enigste fokus.

Trou en kinders kry is nie vir iemand wat enige tyd kan siek word en doodgaan nie. Sy is vasbeslote om nooit ’n kind of geliefde aan die hartseer en ontreddering bloot te stel wat sy beleef het nie. Dit is egter nie iets wat sy al ooit hardop teenoor enigiemand erken het nie, nie eens teenoor Tessa, die mens wat die naaste aan haar is nie.

Aanvanklik was die idee van ’n toekoms sonder ’n man en kinders glad nie ’n probleem nie; sy het nooit eens daaraan gedink nie. Tot die aand van die soen het sy gereken haar beroep is al wat vir haar belangrik is, maar een waansinnige, onvergeetlike oomblik het alles verander. Afstand is gelukkig ’n wonderlike geneesmiddel. Sy is oor hom.

O, nè? Die ou stemmetjie is nog lank nie klaar met haar nie. Droom jy nie steeds oor hom nie?

Werner sal haar situasie seker komies vind. Sy wat nie by hom wil wees nie omdat sy nie wil kinders hê nie, kry toe sommer ’n baba present.

“Wil jy daaroor dink?” onderbreek Andries haar chaotiese gedagtes.

Sy skud haar kop. Praat is nie op die oomblik moontlik nie. Haar hart is só seer oor haar mooi, lewenslustige vriendin wat heeltemal te vroeg weggeneem is. Annerie moes soveel hartseer in haar kort bestaan op aarde te bowe kom.

Op daardie oomblik gaan klein Emma se oë oop. Vir ’n paar oomblikke staar die dogtertjie stip na Le­lanie voor ’n groot glimlag haar klein gesiggie ver­helder.

Lelanie se hart dobber nog ’n oomblik paniekerig rond voor dit lêplek kry. Sy glimlag deur die trane.

Natuurlik sal sy na Emma kyk totdat . . . Met ’n snuif vee sy sag met haar vinger oor Emma se appelwangetjie. Totdat sy nie meer kan nie. Vir solank sy asem het, sal sy haar bes doen om ’n ma vir Emma te wees.

’n Ma. Sy het haarself doelbewus nooit toegelaat om oor rooiwangdogtertjies en krombeenseuntjies te droom nie. Sy kon nie vir Werner sê hoekom sy so besluit het nie; daarom het sy al sy boodskappe en oproepe ná sy soen geïgnoreer. Haar keuses het niks met enigiemand anders te doen nie.

Die warboel emosies wat Werner se blote na­byheid ontlok, is die rede hoekom sy deesdae alle uitnodigings om by die Steyns te kuier van die hand wys.

En nou hét sy ’n baba. Sonder die ring en die troue en die man. Hoe absoluut ironies en absurd.

Versigtig sit sy vir Emma in haar waentjie en steek haar hand uit om die babasak by Andries te neem.

Ietwat huiwerig oorhandig hy dit. “Is jy seker? Jy is so beroepsgerig, ’n baba verander álles, glo my,” voeg die pa van vier met ’n skewe glimlag by.

“Dis Annerie se baba. Ek sal nooit weet hoekom sy gedink het ek kan vir Emma grootmaak nie, maar omdat dit sy is, moet ek ten minste probeer.”

“Wel, neem ’n paar dae en kyk of jy regkom en hoe jy dinge kan reël. Ons het jou nodig. Um . . . jy sal seker iemand moet kry om bedags na Emma te kyk, of hoe?”

“Dit behoort seker nie so moeilik te wees nie. Annerie het iemand gehad, ek sal by haar begin.”

“En onthou,” voeg Andries by toe sy al op pad is. “Dis nie ’n skande om te erken jy kan nie na An­nerie se baba kyk nie. Daar ís ander moontlikhede.”

Andries groet en Lelanie stap uit sy kantoor op haar fyn skoene met die hemelhoë hakke. Skoene was nog altyd haar swak plek en vandat sy dit kan bekostig, koop sy graag die fynste, hoogste en mees besondere skoene. Daar was tye wat nuwe klere of skoene nie vir haar beskore was nie en sy slegs leepoog deur winkelvensters na die wonder van mooi, nuwe goed en veral skoene kon staar.

“Ek gaan seker baie droogmaak, liewe Emma, maar van een ding kan jy seker wees, jy gaan mooi skoene dra.”

Emma lag, haar handjies in die lug.

“Ek sal seker ’n paar tekkies of plat sandale moet aanskaf; ek het sowaar nie een paar nie. Iets sê vir my babas en hoëhakskoene gaan nie lekker werk nie,” gesels sy verder met die baba.

Met ’n diep asemteug druk sy die hysbak se knop­pie. Een tree op ’n slag. Dis hoe sy haar ouers se dood verwerk het, dis hoe sy van Werner vergeet het.

Nè? Die ou flippen stemmetjie is weer ooraktief vandag.

Twee weke later laat sak Lelanie haar kop in haar hande en laat die trane wat sy nou al dae lank probeer inhou, toe om oor haar wange te loop. Sy is radeloos, moedeloos en moeg verby. Bad? Wat is dit nou weer? Haar maag grom, sy kan nie eens onthou wanneer laas sy geëet het nie. ’n Berg was­goed waarby sy net nie uitkom nie, lê en wag in die badkamer, en kyk hoe lyk die woonvertrek! Kom­pleet asof ’n bom om haar ontplof het.

Emma huil al van gisteraand af. Lelanie het álles probeer wat sy kon google. Sy’t met Emma gestap, haar selfs later in die motorstoeltjie gesit en ’n ent gaan ry totdat ander bestuurders haar vreemd be­gin aankyk het omdat die baba so skree. Sy. Kan. Nie. Meer. Nie.

Dis nou baie duidelik sy het geen idee wat sy doen nie. Wat sy wel weet, is dat sy dringend hulp nodig het. Tannie Elize sal weet. Tannie Elize kan help. Dis al waaraan sy nou kan dink.

Tessa se ma het ook haar ma geword in die ruk­kie wat sy gereeld by die Steyns gekuier het. Toe sy weg is Johannesburg toe, het tannie Elize haar laat belowe sy sal bel as sy hulp nodig het. Wel, die oomblik wat hulp dringend nodig is, het aange­breek.

Terwyl sy heen en weer met Emma in haar arms stap, bel sy. Dis vyfuur in die oggend sien sy toe die foon lui en dis baie jammer, maar sy moet nou met iemand praat. Tessa se ma sal weet wat om te doen, want sy het nie meer antwoorde nie.

Die babaoppasser wat Annerie gehad het, het soos ’n groot speld verdwyn, sy kon haar nie op­spoor nie en nie een van die ander moontlike kin­deroppassers wat ’n agentskap gestuur het, het vir haar reg gevoel nie.

Al uitweg was om vir Andries te laat weet sy neem verlof totdat sy iemand kry wat bedags na Emma kan kyk. Ook maar goed, want hoe op aarde ma’s dit regkry om soggens aangetrek en met grimering betyds by die werk op te daag, is vir haar duister. Hoe dóén hulle dit? Sy weet nie eens meer waar haar gri­meersakkie is nie.

Sy het weer haar jeans ontdek en iewers terwyl sy doeke en melk vir Emma aanlyn bestel het, het sy ook tekkies, gemaklike sweetpakbroeke en T-hemde bestel. Dis baie duidelik haar netjiese, sty­we werksklere en hoë hakke gaan nie saam met ’n baba werk nie.

“Lelanie! Jy’s vroeg op. Dis so lekker om van jou te hoor,” groet tannie Elize vrolik. “Hoe gaan dit? Wat hoor ek? Is dit ’n baba wat so huil?”

Lelanie bars in trane uit.

“My liewe kind . . .” Tannie Elize se stem slaan ook sommer deur. “Hoe help ek?”

Dit neem ’n rukkie voor Lelanie haarself onder beheer kan kry om vir tannie Elize van haar situasie te vertel. Sy praat so onsamehangend, die arme vrou weet seker glad nie wat sy sê nie.

“Lelanie,” onderbreek tannie Elize haar uitein­delik.

Lelanie snuif en blaas haar neus. “Ek weet nie meer wat om te doen nie!”

“Ek sê jou wat. Pak jy ’n tas vir jou en die babatjie, ek bespreek dadelik vir jou ’n vliegtuigkaartjie. Daar behoort iewers in die oggend of vroegmiddag ’n vlug Kaap toe te wees. Ek het jou adres, ek reël ook sommer ’n Uber om julle te kom haal en lughawe toe te neem. Ek sal die detail vir jou aanstuur. Ons kan nie wag om jou te sien nie.”

’n Yslike las val van Lelanie skouers af. Verlig druk sy die foon dood. Emma het genadiglik ophou huil en is vas aan die slaap op haar skouer. Versigtig lê sy die baba terug in haar bedjie.

Vir ’n oomblik kyk sy dronkgeslaan na die chaos om haar. Hoe het dit gebeur? Sy hou van orde om haar. Haar woonstel is gewoonlik pynlik skoon en netjies. In haar hele lewe was haar plek nog nooit so deurmekaar nie. Lyk ander mense met kinders se huise ook so? Of is dit net omdat sy regtig ’n hope­lose plaasvervanger vir Annerie is?

Gelukkig het sy onthou daar is mense wat haar kan help. Sy en Emma gaan oukei wees. Sy haal ’n tas uit die kas en begin klere inpak. Sy moes seker daarop aangedring het om self haar vliegtuigkaartjie te koop en die Uber te bespreek. Sedert haar ouers se dood het sy nog nooit iemand anders se hulp gevra nie. Sy sal self regkom, was nog altyd haar motto.

Maar vandag is sy innig dankbaar daar is ie­mand wat haar kan help, sy hang net-net aan haar naels oor ’n baie diep afgrond.


Dis Vrydag in die middel van Maart en Werner ge­niet die mooi dag terwyl hy vroegmiddag terugry plaas toe. Hy was by die Vinpro-konferensie op Stel­lenbosch en sy kop is vol planne. Gisteraand het hy in ’n gastehuis op die mooie dorp oorgeslaap sodat hy nie vanoggend met die verkeer hoef te stoei nie, maar nou wil hy terug plaas toe. Hy kan nie wag om weer in die kelder te wees nie. Dis nog baie be­sig dié tyd van die jaar en hy het nou ’n hele spul planne.

Dit was heerlik om weer met die bekendes in die bedryf te gesels en hy is opgewonde oor al die nuwe idees. Hy moet sommer vanaand met Hardus praat oor die aanplant van nog merlot en pinotage op die nuwe stuk grond wat hulle onlangs bygekoop het.

Veral ná van die gesprekke wat hy oor die naweek gehad het, besef hy weer hoe gelukkig hy en sy twee broers is. Hulle kom baie goed oor die weg, nie iets wat oral op familieplase die geval is nie. Elkeen het sy eie plek op Steynslanden, die plaas wat hulle pa opgebou het tot die spogplek wat dit vandag is.

Hardus is die boer en wingerdkenner, hy wat Werner is, maak wyn, en Erasmus, hulle klein­boet, is die sjef en bedryf ’n restaurant langs die kelder. Alhoewel hulle pa nie meer so betrokke is by die dag-vir-dag-bedrywighede op die plaas nie, is hulle al drie steeds dankbaar vir sy insette. Die ondervinding wat sy pa het, leer ’n mens nie in ’n boek nie.

In die afgelope jaar het hy twee skoonsusters bygekry en ook ’n swaer. Tot sy ma se groot vreugde bly hulle almal op die plaas en dit gaan goed, gegewe dat hy en sy broers almal koppig en eiewys is.

Daar is deesdae ook ’n huis vir sy suster Tessa en haar man, Sias. Sias is ’n veearts in Johannes­burg, maar hy kon sy dinge so reël dat hy by tye in die Kaap werk sodat hy en Tessa dan ook op die plaas kan wees.

Sy foon lui. Dis sy ma.

“Mamma?” groet hy. “Alles oukei?”

Die ontvangs is nie baie goed nie en hy hoor net hier en daar ’n woord. Sy hart skop teen sy ribbes. Lelanie? Het hy reg gehoor? Praat sy ma van Lela­nie?

“Mamma,” keer hy haar stortvloed woorde. “Ek hoor nie alles wat jy sê nie. Wat van Lelanie?”

Sy ma begin praat, maar hy hoor weer net ’n paar woorde. “Lelanie . . . lughawe . . .” is al wat hy kan uit­maak.

“Is Lelanie op die lughawe? Moet ek haar gaan haal?”

“Ja, asseblief,” kom sy ma se stem vir die eerste keer helder en duidelik deur. “Ek hardloop gou win­kels toe om die nodige . . .” Weg is sy ma se stem weer.

Hy is net mooi by die afrit wat hy lughawe toe moet neem en met ’n vinnige loer in die truspieëltjie sit hy die motor se flikkerligte aan.

Vir die eerste paar kilometer is dit asof sy brein ophou werk het, niks maak sin nie. Lelanie Walters. Klein, fyn, blond, helder blou oë. Vandat sy sus Tes­sa dié mooi girl ná haar eerste week op universiteit huis toe gebring het, het Lelanie deel van hulle ge­sin geword. Hulle ma het haar oor die meisiekind sonder familie ontferm en hulle het gewoond geraak aan haar teenwoordigheid tydens naweke en vakansies. Sy het ook gereeld saam met hulle oor Desembers in Buffelsbaai gaan kuier.

Van die eerste oomblik wat hy haar gesien het, het iets in sy binneste gebeur, maar aanvanklik het hy dit doelbewus geïgnoreer. Sy is sy suster se pel, dinge kan gekompliseerd raak en hy bly ver weg van enigiets wat gekompliseerd is.

En toe, twee jaar gelede met Kersfees . . . Die een oomblik het hy en sy nog gelag oor ’n fliek waarna hulle op die televisie kyk, sy het opgekyk na hom, hulle oë het ontmoet en hy moes haar net soen. Hy kon nie anders nie, hy wou dit al so lankal doen.

Sy het hom baie entoesiasties teruggesoen, ver­domp, maar toe hulle onderbreek word, het sy op­gespring en vinnig vir hom vertel sy is nie van plan om ooit te trou of kinders te hê nie. Hy verstaan nou nog nie haar reaksie nie.

Dis nie asof hy haar gevra het om te trou nie, maar as hy baie eerlik is, het hy gedink hulle kan dalk date, sien hoe dinge uitwerk en wie weet, miskien iewers vorentoe begin dink aan ringe en babas. Haar woorde het dié idee net daar gesmoor – daar was geen onduidelikheid dat dit nié dinge is wat sy wil hê nie.

Hy was teleurgesteld, ’n vreemde reaksie by hom. Gewoonlik is dit hy wat aan ’n vroumens verduide­lik hy is nog glad nie reg vir trou nie. Nadat Lelanie terug is Johannesburg toe, het hy moeite gedoen om weer te date, maar geen ander girl is sy nie. Dit besef hy keer op keer.

Met Tessa en Sias se troue en ook in Junie op Hardus en Sabella se troue, was sy daar, maar sy het wye draaie om hom geloop. Met sy jongste broer, Erasmus, en sy Jess se troue in Desember, het sy glad nie opgedaag nie.

En nou is sy hier. Op die lughawe. In Maart. Vreemd. Sy is so ’n career girl. Al wat sy doen, is werk. Dis heel waarskynlik hoekom sy hier is – vir haar werk.

Moerig probeer hy op die pad fokus. Hoekom sy flippen hart so vrolik te kere gaan, sal hy graag wil weet. Lelanie se toekomsplanne sluit hom nie in nie, hy het geen rede om opgewonde te wees omdat hy haar binne die volgende halfuur gaan sien nie.