Skip to main content

Uittreksel | Bosnimf

Een

“Pippa, dit help nie jy sit hier en voer jou gesig bakke vol roomys en dit oor Johannis Brits nie. As jy so aangaan, vra jy volgende week vir my of jy vet lyk en dan sal ek ja moet sê. Die mansmens is nie jou trane werd nie. Hy het jou met jou eie oë gewys hy verkies ’n ander vroumens in sy kooi. Ruk jouself reg!”

Pippa Terblanché kyk na die man wat langs haar staan. Haar tweelingbroer het nou maar eens in sy lewe nie die vaardigheid van takt ontvang nie. Sy sien die kwaai frons tussen sy oë en hare skiet weer vol trane. Sy kyk af en druk nog ’n lepel sjokoladeroomys in haar mond in. Sy weet Bernardt is reg, maar dit maak so verdomp seer.

“Net omdat jy my boetie is, beteken dit nie jy kan my skop terwyl ek lê nie. Pleks jy my jammer kry, nou baklei jy met my, en …” Die woorde steek in haar keel vas. Haar skouers begin ruk en rou snikke ontsnap uit haar keel. Sy voel hoe hy langs haar op die bank kom sit en die roomys uit haar hande neem.

“Ai, my sussie. Ek is jammer ek het jou van voor af in trane. Kom sit hier, dan huil jy lank en lelik, maar dan huil jy vandag klaar.”

Sy druk haar kop teen sy breë skouer en die damwalle van vernedering breek weer oop. Die stadige beweging van sy groot hande oor haar swart krulhare en die ritmiese heen-en-weer-wieg laat haar nog ’n rukkie langer huil. Sy neem haar voor om in haar hele lewe nooit weer oor ’n mansmens te huil nie.

Dit is sterk skemer toe sy haar kop oplig en haar neus hard en onvroulik blaas. Sy sien die groot nat kol op sy hemp en is dankbaar vir hierdie man in haar lewe. Hy is miskien sewe minute jonger as sy, maar hy is altyd daar wanneer sy hom nodig het.

“Dankie, Boeta, jy is darem maar ’n yster. Ek gaan gou stort en van al die nonsens in my kop ontslae raak. Daarna gaan ons twee iets soek om te eet. Ek is nou dik vir soetgoed; ek is honger vir kos.”

Die klanke van die hek se interkom bereik haar ore toe sy by die badkamerdeur uitstap.

“Bernardt, krap jy in die vrieskas vir vleis, ek hoor gou wie by die hek is,” roep sy in die rigting van die kombuis voor sy die interkom se knoppie druk. “Goeienaand. Kan ek help?”

“Dis ons. Antoon en Yvette.”

“Wat? Dis wonderlik! Ek maak oop.”

Sy gryp opgewonde die veiligheidshek se sleutel en sluit dit haastig oop.

“Antoon! Wat maak julle hier?”

Haar geliefde swaer se wyd uitgestrekte arms nooi haar om daarin te loop en hy druk haar styf vas.

“Bernardt het vroeër vir ons ’n WhatsApp gestuur en gesê ons moet hier kom braai.”

Sy gee ’n tree agteruit sodat hy in die plantryke binnehof kan instap.

“Al is die blou ogies dik gehuil, lyk jy baie beter, Pippa,” sê Antoon wie se doktersoë niks mis nie.

“Wag vir my, julle twee!”

Pippa het lank laas so ’n mooi swanger vrou gesien. Al lyk sy soos ’n tandestokkie waarop ’n ertjie geplak is, is Yvette vir haar een van die mooiste vroue wat sy ken. En sy kan met trots sê sy is haar sussie.

“Toe ek lees Bernardt skryf jy het klaar gehuil, sê ek vir Antoon ons moet ry, daar is ’n fees om te vier.”

Sy druk die inkopiesakke in haar man se hande en omsingel Pippa.

“Ons was gou by Woolies in en het lekker sirloin steaks, wyn en slaai gekoop. Ons kan net nog feta bysit, dan het ons ’n koningsmaal.”

Pippa sien hoe Antoon se mondhoeke in ’n glimlag trek toe hy by haar en Yvette verbyloop. Vir ’n oomblik kyk hy liefderyk na sy vrou. Pippa se keel wil-wil weer toetrek by die gedagte dat sy blykbaar nooit goed genoeg gaan wees vir ’n man nie.

“Ek het jou gesê die man is ’n losbol en ek het óók gesê jy sal oor hom kom. Dit het wel langer gevat as wat ek gedink het.”

Pippa trek die babbelende Yvette aan haar arm die huis in en sluit weer die veiligheidshek.

“Wie huil in elk geval oor ’n simpel mansmens wat die kat in die donker knyp, en dit met jou beste vriendin? Duidelik is nie een van hulle twee jóú mens nie. Hy is nie eens jou ou vrot stapskoene werd nie. Ek dink, my liewe sussie, jy het so lank oor hom gehuil omdat jou ego eerder as jou hart ’n klap gekry het.”

Pippa snork onvroulik. “Wat is ’n ego? Ek dink nie ek het eens meer ’n selfbeeld oor nie. Lyk my ek is maar net nie goed genoeg nie. Mans leer my ken en dan word ek eenkant toe gegooi.”

Yvette plak haar handsak bo-op die marmerblad in die oopplankombuis neer. Pippa kan sien sy is skielik ernstig en nie meer die praatsieke paaier nie.

“Pippa, kyk ons albei weet jy kry elke keer seer, maar kom erken dit nou maar teenoor jouself – jy het ’n man nodig wat jou vrye teuels kan gee, maar ook weet wanneer om die leisels in te trek.”

Yvette moes seker die frons tussen haar oë gesien het, want sy wag nie vir ’n antwoord van Pippa af nie.

“Jy kies altyd ’n ou wat jy kan manipuleer. Johannis is ’n oulike man, maar vir ’n ander meisie. Vir jou was hy ’n complete pushover en jy het bo-oor die man gestoomroller.”

Pippa se mond hang oop. Wat sy nou hoor, is hoogverraad. Haar suster kies wraggies haar eks se kant.

“Jammer om dit te sê, maar in julle verhouding het jy die broek gedra en net gemaak wat jy wou.”

“So wat sê jy, Yvette? Moet ek iemand anders toelaat om aan my voor te skryf hoe om my lewe te leef? Not a chance, dit sal ek nie doen nie.”

Haar stem is net ’n bietjie té hard en Pippa weet sy moes liewer stilgebly het toe Bernardt die kombuis ingestap kom.

“Nee, Pippa, Yvette sê net jy moet die man in jou lewe ’n kans gee om jou te verras en nie altyd al die besluite in julle verhouding neem nie. Onthou, al is dit moderne tye waarin ons leef, wil ons mans steeds die jagwerk doen. En ons wil nie voorskryf nie, ons wil saam besluit.”

Pippa word onder Bernardt se blad ingetrek. Sy kry ’n bemoedigende druk van hom af, dieselfde druk wat sy altyd kry wanneer hy vir haar iets sê wat hy weet sy nie wil hoor nie.

“Kom ons wees eerlik met mekaar. Jy gaan beslis nie daarvan hou om via ’n stemnota te hoor jou verloofde klim nou op ’n vliegtuig Namibië toe om saam met die San-mense vir ’n onbepaalde tyd te gaan leef nie, of sal jy?”

In Yvette se oë lees Pippa skok, asof sy nie kan glo wat Bernardt sê nie. Pippa kyk vraend na Yvette en sy slaan haar oë vinnig neer. Dit is duidelik nie die eerste keer wat hulle hierdie saak bespreek nie. Hulle kan haar maar stilletjies beoordeel net soos hulle wil, maar Bernardt moenie vir haar die leviete voorlees nie.

“Dit was ’n geleentheid wat ek nie deur my vingers kon laat glip nie. Ek het saam met die Sanmense geleef. Ek kon hul kultuur en lewensverhale deur my kamera se lens vertel. Enige fotograaf wat sy sout werd is, sou die geleentheid aangryp.”

Sy draai om ek kyk na Bernardt.

“Die gesogste fotografiese toekenning ter wêreld het ek verower as gevolg van daardie einste foto’s. In elk geval weet ons albei hy wou nie hê ek moet gaan nie.”

“Net soos niemand in die familie wou hê jy moet gaan nie. In elk geval, as ék verloof was, sou ek beslis nie daarvan gehou het as my verloofde een duisend twee honderd kilometer in ’n onbekende land saam met twee onbekende mans gaan stap nie,” sê Bernardt.

“Ek het darem vir julle my reisplan ge-e-pos,” probeer sy haarself verontskuldig.

“Ja, jy het, maar dit was uiters onverantwoordelik en ook ’n teken van totale disrespek teenoor jou verloofde.”

Bernardt los haar en stap terug na Antoon in die braaikamer.

“Duisend vier honderd vyf en negentig kilometer,” brom sy soos ’n stout kind onderlangs.

“Ek het dit gehoor, Pippa!” roep Bernardt uit die braaikamer.

“Julle twee kyk altyd wie die laaste sê het. Pippa, kry jy eerder vir my ’n slaaibak sodat ek hier kan klaarmaak en langs my man kan gaan sit en ontspan.”


Heelwat later is die twee leë rooiwynbottels bewys van die chemiese hulp wat tot die vrolikheid gelei het. Pippa staan op en stap na die houtkassie wat reg langs die ingeboude gasbraaier hang.

“Wie is lus vir ’n potjie veerpyltjies?”

Dadelik het sy die twee mans se aandag. Sy maak die kassie oop wat die veerpyltjiebord huisves. “Hei, Sus, wat het jy gedink om te speel: 501, 301 of around the clock?”

Pippa draai van die veerpyltjiebord af om en kyk na haar broer.

“Ons gaan speel vind-’n-nuwe-tuiste-vir-Pippa.”

Bernardt trek sy asem skerp in en Antoon proes aan die bier wat hy drink. Yvette sit haar glas met ystee net ’n bietjie té hard neer.

“Vanaand gaan ons my toekoms bepaal. Ek dink dit is ’n briljante idee. Ons gaan besluit waarheen ek trek en waar ek ’n nuwe lewe gaan maak.”

Pippa lig haar glas. Die rooiwyn gee haar krag om verder te praat.

“Ek het darem die afgelope tyd nie net gesit en tjank nie, hoor. Ek het ook gedink ’n verandering van omgewing is al wat ek nodig het om my volle potensiaal as fotograaf te bereik.”

Steeds reageer nie een van haar familielede nie. Dit ontsenu haar so effe, want Bernardt se gesig steek nie eintlik sy gevoelens weg nie.

“Ek weet julle gaan nou vra maar hoekom? My antwoord is egter hoekom nie? Bly ek hier, gaan ek om elke hoek en draai aan Amanda en Johannis se ontrouheid herinner word. Dit gaan nie goed wees vir my gees nie en beslis nie vir my woordeskat nie – deesdae swets ek heeltemal te veel. Ek kan al deurgaan as ’n matroos.”

Die ander drie mense in die vertrek staar haar steeds oopmond aan en Pippa moet ’n senuagtige giggel onderdruk.

“Ag, komaan! Moenie so bekommerd lyk nie.”

“Kan jy nie dan maar eerder jou bos hare afskeer nie?”

Yvette het haar ingeslukte tong weer gevind. Bernardt sê niks nie, hy knik net sy kop op en af.

“Of gaan stap die Camino van Portugal na Spanje,” kom dit droog van Antoon af.

Pippa kyk van die een na die ander.

“Nee. Ek hou van my hare soos dit is en ek wil nie nou Portugal toe gaan nie, dankie. Ek gaan my meenthuis verkoop en trek. Finish en klaar.”

Met ’n huppel in haar stap verlaat sy die vertrek om sekondes later weer te voorskyn te kom met veerpyltjies, ’n potlood en ’n paar velletjies papier.

“Julle drie kan elkeen een dorp kies. Ek gaan drie dorpe kies. Die een dorp kies ek van die landkaart af. Die ander twee dorpe is waar ek die minste en die graagste wil woon. So altesaam sal daar ses dorpe wees om van te kies.”

Sy kyk met smeking na Bernardt.

“Kom, Boeta, gee jy die eerste dorp se naam.”

Bernardt staan op en stap na die landkaart teen die muur. Hy bestudeer dit.

“Goed, my dorp vir jou is my ou studentedorp, Stellenbosch. Jy sal beslis baie besig gehou word as die mense eers weet die bekende fotograaf, Pippa Terblanché, het nou haar tuiste daar gemaak. Daar is genoeg jongmense in hul laat twintigs en vroeë dertigs. Hopelik ontmoet jy ’n jong professor wat jou rustig kan kry, en dan het ek blyplek as ek Kaap toe gaan en ’n bietjie spearfishing wil doen.”

“Jippie! Die eerste dorp is gevind. Watter nommer wil jy vir Stellenbosch gee?”

“Maak dit nommer twintig. Jy is goed op nommer twintig.”

Haastig skryf sy die inligting op die papier terwyl Bernard ’n skoffeldansie van opgewondenheid doen.

“Reg, Antoon, kom ons hoor wat die dokter se voorskrif is.”

“Ek weet nie, Pippa. Kom ons hoop hierdie dorpsoekery is maar net ’n rooiwynspeletjie van jou wat môre met twee kopseerpille reggemaak kan word.”

“Komaan, Antoon, jy is nooit ’n sportskonfoester nie. Watter dorp kies jy?”

Hy sug voor hy stadig praat. “My stad vir jou is Umhlanga in KwaZulu-Natal. Die plek bars uit sy nate en daar woon beslis genoeg mense om van jou dienste gebruik te maak. Umhlanga is op jou volgende sterkste syfer, nommer vyftien.”

Antoon neem die papier by haar en skryf met groot vermaak en onder toejuiging die naam langs nommer vyftien neer. Hy lig sy glas in Pippa se rigting toe hy klaar geskryf het. Yvette stap tot voor die landkaart en vryf ingedagte oor haar magie.

“My dorp vir jou is Bloemfontein.”

Pippa frons terwyl ’n rilling deur haar lyf trek. Net by die blote gedagte aan Bloemfontein kry sy hoendervleis oor haar lyf. Sy vou haar arms styf om haar bolyf.

“Hoekom kies jy daardie plek vir my? Jy weet ek en koudkry is nie maatjies nie.” Pippa skud haar kop. “Is jy doodseker jy kies Bloemfontein?”

Hande op die heupe kyk Yvette na Pippa.

“Jip, dis Bloemfontein. Daar kan jy miskien fotografieklasse by die Sentrale Universiteit van Tegnologie aanbied. Ficksburg, Fouriesburg en Clarens is katspoegies van Bloem af, en ek kan net sien watter awesome foto’s uit jou lens gaan kom as jy die pad vat en ry. Dalk loop jy ’n skatryk mielieboer raak. Maak dit nommer twee asseblief, vir die twee coolste sussies.”

Pippa byt die pen tussen haar tande vas en dink ’n oomblik watter dorpe sy gaan neerskryf. Sy staan op en vee haar hare uit haar oë.

“My beste keuse van ’n blyplek is Pretoria. Ek ken die stad en het al by ’n paar galerye uitgestal. As ek iewers heen moet vlieg, is OR Tambo en Lanseria net ’n vinnige luiperdsprint daarvandaan en dit is ook nie so ver van julle af nie.”

Sy kyk haar familielede een vir een aan.

“Ek weet nou nie juis hoekom ek dit onthou nie, maar ek was in graad elf toe ek my eerste soen gekry het. Die seun se naam was Heinrich Müller.” ’n Giggel borrel in haar keel op. “Siestog, arme ou. As ek nie heeltyd bekommerd was oor die draadjies in my mond nie, weet ek hy sou my ’n tone-omkrulsoen gegee het.”

Die res van die familie skaterlag.

“Pretoria kry nommer elf.”

Bernardt sit sy netjies versorgde hande op haar skouers en stuur haar in die rigting van die groot landkaart wat teen die muur hang.

“Ek onthou daai perd. Hy was orraait. Ons het saam rugby gespeel.”

“Antoon, gee ’n bietjie jou das, dan blinddoek ek hierdie sussie sodat sy nie kan koekeloer nie.”

Nadat hy haar stewig geblinddoek het, sit Bernardt sy hande op haar skouers en begin haar draai. ’n Tweede en ’n derde keer word sy gedraai en dan tot stilstand gebring.

“Jy staan nou reg voor die landkaart. Druk.”

Sy is bly vir die hande wat haar vashou, want sy is effe onvas op haar voete.

“Jy weet hierdie getollery is oorbodig, nè? Die wyn is lankal kop toe.”

Sy lig haar hand, gee ’n tree vorentoe en druk.

“O genade, Sus! Dis iewers aan die Weskus.”

Bernardt tel sy hande van haar skouers af en tree nader om te kan sien op watter dorp haar wysvinger rus. “Velddrif.”

Pippa skuif vinnig die das van haar oë af om seker te maak sy het reg gehoor.

“Ag julle, moenie so bekommerd lyk nie. Velddrif is ’n mooi plekkie met heerlike bokkems. Oor die dorp waar ek die minste wil bly, hoef ek nie baie te dink nie. Dit is Ermelo. Ek was eenkeer in November vir ’n troue op Chrissiesmeer. Dis so twintig kilometer van Ermelo af. Tydens die kerkdiens het dit begin sous. Teen die tyd wat ek en my assistant met al die toerusting by my kar gekom het, was ons papsopnat en het ek gelyk en geruik soos ’n natgereënde hoender. Dit is seker die koudste plek in Suid-Afrika. Ek het daardie dag byna verkluim.”

Sy tel die papier op en skryf Velddrif langs nommer agt en dan in dik swart letters die woord ERMELO in die spasie langs die bull.

“Die eer val op die rooi oog. Die kans om dit raak te gooi, is minder as nul. Vanaand gooi ek tot ek een van daardie ses dorpe raakgooi – dis nou of nooit.”

Sy gaan staan by die merk op die grond vir dames. Sy trek die das wat steeds om haar nek hang, weer oor haar oë.

’n Gespanne stilte daal oor hulle neer. Pippa se hart snel in haar bors voort. Sy lig haar kop, stoot haar bolyf stadig vorentoe en balanseer op die linkervoet. Sy rol haar skouers agteroor en haar linkerhand kom stadig op.

In haar geestesoog sien sy nommer twintig op twaalfuur: Stellenbosch. Sy weet ook sy sal daar goed onder die berge en so naby die see aard. Sy stoot die veerpyltjie met ’n reguit gooibeweging vorentoe.

Wanneer sy die harde klapgeluid, gevolg deur die stilte in die kamer hoor, weet sy geluk is nie vanaand aan haar kant nie. Sy gaan nie Stellenbosch óf Pretoria toe nie – sy gaan verkluim in Ermelo.