Skip to main content

Uittreksel | Boomhuise en beloftes

Een

“Dit is verregaande, Pa! Ek kan nie glo dat Pa op der­tig my lewe steeds so probeer beheer nie. Het ek dan nou glad nie ’n sê nie?” Frustrasie bou in haar op. Dis dieselfde gesprekke oor en oor en oor. ’n Rondomtalie-déjà vu.

Adelie kry lag vir die woordkeuse wat deur haar gedagtes maal. Déjà vu is immers ’n Franse leen­woord vir die verskynsel waar dit voel asof die hui­dige situasie al voorheen beleef is. En was daar nie nou al vele hiervan nie?

“Wanneer gaan jy en jou suster eendag besef ek wil net die beste vir julle hê?” Dit lyk asof pa Dewald verby moedverloor se vlakte is.

Maar waaragtig, gaan dit dan nooit ophou nie? Sy het nie die krag vir hierdie gesprek nie. Dit was ’n blou Maandag op kantoor. Al wat sy vanaand wou doen, was om van Rageltjie se lekker kos te eet en in die warm spa-bad te week. Die huishulp staan juis nou by die deur en knik vir Dewald om een of ander boodskap te sein.

“Ek sal dit besef die dag as Pa my vertrou om my eie besluite te neem.” Sy kies om te glo dat sy haar­self alreeds bewys het deur die goeie besluite wat haar tot op hierdie punt in haar lewe gebring het.

“Vertroue is die laaste ding waarop ek kan fokus as jy so kinderagtig optree.”

Sy bal haar vuiste in ’n poging om kalm te bly, want raak sy nou opstandig, val sy direk in haar pa se vangnet.

Dit lyk wel asof hy sy woorde tel toe die horlosie in die vertrek ses slae slaan en hy fronsend na Chloe kyk wat op die duursame leerbank sit. Dié kyk net by die studeerkamer se venster uit, seker ook al verveeld met hierdie banale argument wat aanmekaar herhaal word.

“Verduidelik dan vir my hoekom ek jare lank in ’n eksklusiewe privaat skool moes leer hoe om Frans te praat, maar noudat ek moet help om Basson In­genieurs Beperk te laat groei, is my Franse onderrig nie goed genoeg nie.”

“Jy verstaan my nou aspris verkeerd.” Dewald staan op, stap om die tafel en kom staan reg voor haar. “Skool-Frans en besigheids-Frans is twee ver­skillende dinge. Al wat ek vra, is dat jy die tutor wat ek gereël het, moet aanvaar en moet saamwerk.”

Sy gooi haar hande in die lug, maar durf nie haar pa teengaan nie. Sy weet al: As hy in hierdie bui is, gaan niks hom stuit nie.

“Je me rends!” gee sy in en gluur na haar pa. Sy weet nou al van beter as om hom te probeer teen­staan, want ongelukkig sal hy seker vir nog baie lank die kitaar slaan. Hier by die huis en op kantoor.

Sy draai op haar hoë donkerblou spykerhakskoen om en marsjeer by die oop deur uit, verby die ingangsportaal. Sy steek in haar spore vas.

’n Vreemde jong man sit op die enkele bank en wag. Seker vir Dewald, maar sy sou beslis nie omge­gee het as hy vir haar gewag het nie, want sjoe, die mooie man het dadelik haar aandag. Ligbruin, kort geknipte hare wat aan die bokant kiertsregop staan. Skoon geskeerde ken, ruie wenkbroue en ’n punt­neus. En moet nie van die helderblou oë vergeet nie. Dis kykers wat leef! Wat kan saam lag en seker meestal vriendelik lyk.

Hy staan dadelik op toe hy haar sien. “Bonjour, Mademoiselle,” groet hy terwyl sy gesig strak maar tog vriendelik, voorkom.

Regtig? Kon haar pa haar nie gewaarsku het dat die eerste les sommer al vanaand is nie? Hy kon haar ten minste geken het oor hierdie klein tegniese puntjie, want sy het ook ’n lewe buite die werk. Wat as sy planne gehad het?

Sy hou haar hand uit in ’n groet. Dit help nie om nou soos ’n kind op te tree nie. Die man het tien teen een elke liewe woord vanuit die studeerkamer gehoor. Hy neem dadelik haar aangebode hand en vou dit warm in sy grote toe. Sy bid net dat hy nie sal afkyk na hul hande nie, want dan sal hy die per­tinente hoendervel oor haar arms sien. Wow, wat ’n greep.

“Bonjour, Monsieur, Adelie Basson,” forseer sy dit uit en trek haar hand uit syne. Die glimlag oor sy gesig bereik sy oë en haar hande vryf vanself senu­weeagtig oor haar donkerblou-en-wit rok met ’n marmermotief. Die man is ’n absolute fees vir die oog! Beeldskoon en asemrowend sexy. Kan ’n mens ’n man ooit so beskryf? wonder sy, want hy is pure man.

“Jy het iemand ouer verwag?” raai hy in die kol.

“Ek het eintlik niemand verwag nie, want ek is Frans magtig.” Die glimlag verdwyn stadig maar seker.

“Ek het so gehoor, ja. Maar ek twyfel of jy die magtige Dewald Basson wil opponeer.”

Sy loer deur skrefiesoë na hom, onseker waarop hy afstuur.

Hy staan nader en praat sagter. “Ons kan altyd net saam kuier.”

Adelie kyk hom agterdogtig aan, maar hy is so­waar ernstig.

“Jy wil hê my pa moet ten duurste vir lesse betaal terwyl ons voorgee dat jy my tutor?”

Hy trek sy skouers op. “Dis óf voorgee en tyd mors óf ek leer jou Frans soos ’n regte besigheids­vrou praat.”

“Ek kan die taal praat,” hou sy vol.

“Dan kan ons seker maar voorgee terwyl jy maak asof jy leer. Intussen kan jy my geselskap geniet,” sê hy en glimlag vol selfvertroue.

“Kom ons gaan sit buite,” antwoord sy in Frans toe sy haar pa in die studeerkamer se deur sien staan. Hy grinnik selfvoldaan met sy arms oor sy bors gevou. Chloe loer net grootoog agter sy groot lyf uit.

Woordeloos volg die man met die blou oë haar deur die huis, by die agterdeur uit en tot by die swaaibank in die welige agtertuin. Sy skop haar skoene uit, klim versigtig op die bank en vou haar een been oor haar ander knie. Die man val langs haar neer en sy gryp die handreling vas totdat die bank weer stabiel is.

“Ek het nie geweet wat my pa se planne is nie. Ek het nie eers van jou geweet tot vyf minute gelede nie.” Sy onderdruk met moeite haar irritasie, want sy sal maar moet vrede maak met die idee.

“Ek weet al van jou vanaf verlede week.”

“Hoe het my pa jou opgespoor? Ek kan nie dink Sandton het volop Franssprekende mense nie.”

“’n Kennis het my laat weet jou pa soek iemand.”

“Bied jy baie klasse aan?”

“Ek is besig genoeg,” antwoord hy vaag. “Maar dit klink asof ek in ’n tweede onderhoud met ’n Bas­son is.”

“My pa sou jou met baie meer as hierdie paar vra­gies gepeper het.”

“Glo my, hy het. Ek moes my beste en grootste besigheidswoorde voorgesit het.”

“Ek dink nie jy sal sommer iemand kry wat die taal beter as hy kan praat nie,” erken sy eerlik.

“Hoekom lê jou pa so klem daarop dat jy ook moet leer?”

“Familiedinge,” antwoord sy ontwykend.

“Vertel vir my julle storie in Frans, dan sal ek jou nie weer ná vanaand daaroor uitvra nie.”

Sy kyk hom direk in sy mooi blou oë wat donker vertoon in die skemer. Die hoek van sy mond krul na bo in ’n effense glimlag en sy sluk swaar. Kon dit nie maar ’n stokou vrou gewees het wat haar moes leer nie? sug sy innerlik.

“Vandat ek kan onthou, is my pa ’n suksesvolle sakeman in die motorbedryf. Hy het sy hele lewe gewy aan tegnologie, ontwikkeling en oplossings in die ingenieurskant van hierdie mark. Twintig jaar gelede het hy ’n Franse firma genader wat integrasie-oplossings bied vir die manier hoe byvoorbeeld kabels en toebehore aanmekaar geheg word. Die hegstukke word gebruik in motors en kommersiële voertuie. Hierdie tegnologie bevorder doeltreffend­heid in die monteringslyn en ons firma is die enigste invoerder van hierdie spesifieke maak,” verduidelik sy in haar beste Frans terwyl die man haar die heel­tyd grootoog dophou.

“Sjoe,” sê hy verwonderd. Hy maak sy keel skoon en probeer weer. “Jou Frans is foutloos, perfek.”

“Dis waarvan ek my pa al die hele middag probeer oortuig,” laat sy uit die hoogte hoor.

“Ek dink nie my lesse gaan enigsins iets vir jou beteken nie.”

“As my pa net een keer in sy lewe na my geluister het, sou hy dit geweet het.” Sy wil nie suur klink teenoor die vreemdeling nie en besluit om verder niks oor hul familie te sê nie.

“Maar ek dink nie ek wil jou pa teengaan nie. Be­halwe dat hy vooruitbetaal het, wil ek ook nie in sy slegte boekies kom nie.”

“Ek verstaan, hy is baie invloedryk,” gee sy toe. “Hoeveel lesse is in die pakket?”

“Een maand, elke Maandag en Woensdag vir twee uur lank.”

“Dis nogal lank om voor te gee.” Sy weet nie of sy vir ’n volle agt aande kan voorgee nie. Om haar pa te flous, moet sy erken, is nie die ergste ding wat sy al gedoen het nie, maar om vir ’n maand lank in hierdie man se geselskap te moet deurbring, gaan net moei­likheid oplewer.

“Wat stel jy voor?” vra hy effens bekommerd.

“Ek wil nie my pa bedrieg nie, maar jy het gehoor hoe dinge vanmiddag gegaan het. Dalk moet ons . . . Het julle ’n plek ook vasgemaak?”

“Nee.”

“Perfek. Dan maak ons net of dit by jou woonstel of in ’n koffiewinkel is. Jy hoef my nie eers te sien nie.”

“Dit gaan nie werk nie. Nee, ek moet ten minste by die reëling hou.”

“Ek weet jy is bang dit kan jou werk en verwysings vorentoe benadeel, maar niemand hoef te weet nie.”

“Ek sal weet. Nee, ons moet ontmoet,” hou hy vol. “En al praat ons net een sin Frans die hele aand, sal ek voel ek het my werk gedoen.”

“Hoekom?”

“Want ek is ’n eerbare persoon en hou nie daar­van om slinkse dinge te doen nie. Ek sal nie druk op jou plaas as jy nie wil praat nie, maar ons moet ontmoet.”

“Nou hoekom het jy my vroeër vanaand laat ver­staan dat ons kan voorgee en nou sing jy ’n ander deuntjie?” druk sy hom in ’n hoek.

“Jy het kwaai gelyk.”

“Jy kan onmoontlik bang wees vir my.”

“Net versigtig. Jy bly ’n Basson.” Sy kan nie bepaal of hy nou ernstig is of nie, maar wat hy sê, is feite. Haar naam loop haar ongelukkig vooruit.

Haar brein funksioneer oortyd. Het sy egter ’n keuse in hierdie hele ding? Nee, kom die antwoord sommer dadelik. Net soos vanmiddag in daardie studeerkamer en die vele, vele kere voor dit, moet sy maar saam met die stroom gaan.

Teen haar wil stem sy uiteindelik in. “Maar ek het ’n voorwaarde.”

“En dit is?” vra hy huiwerig.

“Ek wil graag weet wie my tutor is.”

Hy kyk na haar en wag totdat sy hom direk in die oë kyk. In die dowwe tuinlig kan sy skaars sy gelaat uitmaak, maar iets sê vir haar dat sy nou aandagtig bestudeer en geweeg word.

“Jammer, ek het duidelik nie reguit gedink nie. Ek is Sihan.”

“Professeur Sihan,” rol die Franse aksent oor haar lippe en sy loer onderlangs na hom, net om te sien dat hy steeds reguit na haar kyk. Sy spring van die swaaibank af en tel haar skoene op. “Ek dink dit is genoeg vir vanaand.”

Hy kyk na sy selfoon. “Maar die tyd is nog nie verby nie.”

“Los my pa vir my. Hy het my onkant gevang en ek het jou nie al vanaand verwag nie,” oorreed sy hom. “Kom, ek sal saam met jou tot by jou motor stap.”

Sihan wil weerstand bied, maar besef dadelik dat hy nie hierdie rondte gaan wen nie.

By die massiewe stoep gaan staan Adelie en groet hom in Frans, net vir ingeval Dewald dalk naby is. In die helder stoeplig hou sy elke beweging dop toe hy gemaklik in die rooi viertrekbakkie klim. Voor hy die deur toemaak, kyk hy weer in haar rigting en daar speel ’n frons oor sy voorkop. Vermoedelik omdat sy hul les kortgeknip het, daarom glimlag sy en waai in sy rigting. Hy trek weg en ry om die massiewe sirkel voor die stoep. Sy moet tog onthou om haar pa te laat weet dat een van die gloeilampe by die fontein geblaas het, die een by die tulpe, dink sy toe sy die voordeur agter haar toe maak.

Sy ervaar alreeds dat hierdie uurtjie saam met hom gaan sorg vir aangename wegholdrome. Dit weet sy sommer. Sy was vanaand nie voorbereid nie en het beslis die afstand nodig om haar deurmekaar gedagtes te orden. Hopelik sal sy al haar varkies op hok hê as hulle weer ontmoet.

Sy tap die spa-bad vol water en maak seker dat sy baie skuim ingooi. Die borrels maak wit wolkies tot teen die rand. Sy het net ingeklim toe daar ’n klop aan die deur is. Dit sal net haar jonger sussie, Chloe, wees, want badkamergeselsies is al hoe hulle privaat kan gesels in hierdie enorme spoghuis.

“Ek glo jy moet al baie honger wees.” Chloe sit die skinkbord met ’n bord kookkos op die breë badrand.

“Dankie. Ek was so kwaad vir Pa vanmiddag dat ek van kos vergeet het, maar nou water my mond omtrent vir Rageltjie se lasagne.” Sy neem sommer die eerste hap terwyl Chloe die toilet as stoel gebruik.

“Hoekom is Pa altyd so streng?”

“Jy moet dankbaar wees jy is die jongste, want ek sweer jy kom baie ligter daarvan af as ek.”

“Nooit. Pa het my net verlede week gedwing om dokter toe te gaan. En ek mag nie Vrydagaand klub toe gegaan het nie,” kla Chloe.

“Jy het vir ’n week lank migraines gehad. Ek het ook aan jou gekarring om uit die klubs te bly en dok­ter toe te gaan. Dis meer omgee as iets anders.”

“Ook waar. Maar ek is bly ek is nie jy nie. En ek is so dankbaar ek is die jongste. Met ’n hele tien jaar. Ek het nooit druk gekry om nuwe tale aan te leer of die familiebesigheid oor te vat nie, of Pa teen te staan wat vir my ’n trouman soek nie.”

“Vir laasgenoemde feit alleen moet jy die meeste dankbaar wees. Ek moes al die vreemdste karakters ontmoet net om Pa tevrede te stel. Onthou jy daar­die arme lummel wat op ons eerste afspraak goue oorbelle aangedra het? Siestog, baie ryk, maar zero persoonlikheid.”

“Ten minste soek Pa net dié uit wat ’n minimum van nege syfers in hul bankrekening het.”

“Gelukkig is Arend een van die beter opsies,” ge­sels Adelie tussen die etery deur. “Maar hy sal nou ook moet verstaan dat ek nie aldag tyd vir hom gaan hê nie. Maandae was letterlik die enigste aand in die week wat ek niks gehad het om te doen nie. Nou is dit ook vir my vol bespreek en Woensdae gaan ek my spinningklasse moet herskeduleer.”

“Waar gaan jy nog tyd kry vir Franse klasse ook in jou besige skedule? En intussen moet jy die mossie ook gelukkig hou.” Adelie lag opnuut vir haar suster se bynaam vir Arend. Al is die man nie so vaal soos ’n mossie nie en al het hy selfs ’n bietjie persoonlikheid, glo Adelie nie Arend sal eendag háár mossie kan wees nie. Goeie gesel­skap en afleiding is hy beslis, maar dis waar die verhouding stop. Aan die begin was hy so effe ro­manties en het selfs moeite gedoen, maar dit het ook nie lank gehou nie.

“Ek sal maar net moet,” sug Adelie en lag om die atmosfeer te lig. “Gelukkig is my tutor darem iets vir die oog.”

“Nè! Ek het hom so vlugtig gesien. Maar lyk hy nie vir jou ook bekend nie?”

“Glad nie. Ek ontmoet so baie mense, ek steur my nie veel aan gesigte nie. Name onthou ek wel en ek het nog nooit ’n Sihan ontmoet nie.”

“Dalk het ek hom eenkeer op kampus raakgeloop,” besluit Chloe. “Hy moes seker ook by die kom­munikasiefakulteit geswot het.”

“Hy lyk vir my ouer as jy. Dalk is hy ’n lektor by Tuks, maar ek sal hom vra as hy Woensdag weer ’n oorlas van homself kom maak.”

“Ag, maar jy kan aansit. Ek is seker dit was nie só erg nie.”

“Seker nie. Hy gesels maklik en laat ’n mens ook op jou gemak voel.”

“Nee, magtig. Óf jy is al te lank ’n geharde be­sigheidsvrou óf jy het nie oë in jou kop nie. Die man is so aantreklik, geen vrou kan anders as om op hom verlief te raak nie. En jy beskryf hom as ge­maklik!”

“Ek was vies vir Pa en het nie gefokus op aller­hande goed soos skoenlappertjies in die maag nie.” Sy hap die laaste vurk vol kos en sak terug in die water. “Maar ek sal vir jou jok as ek sê ek het nie teen die einde van die les alreeds geweet dat daardie man enige vrou gevaarlike dinge sal laat dink nie.”

“Halleluja. Daar is tog ’n bietjie emosie!” Chloe gooi haar arms dramaties in die lug en Adelie kan nie anders as om saam te lag nie.

“Dink jy dinge sou anders hier rond gewees het as Mamma nog met ons was?” vra Chloe skielik be­woë.

“Dit was beslis anders. Veral by die werk. Ek onthou die paar kere wat ek tydens my studies daar gaan inloer het, was die atmosfeer rustig en ontspanne. Nou voel dit asof Pa die wêreld se probleme op sy skouers ronddra.”

“Sus, dink jy nie ek moet ook maar ná my studies inskakel by die maatskappy nie? Dis nog net ’n paar maande en ek is seker ek kan iewers help.”

Adelie glimlag in haar sus se rigting. Soms ver­geet sy Chloe is nie meer die wildewragtig tiener van vroeër nie. Sy word ook nou vrou, volwasse, en die erns van grootword en verantwoordelik wees ske­mer kort-kort deur.

“Nie ek of Pa sal bly wees as jy jou droom om ’n joernalis te word, prysgee nie. Jy swot hard en doen baie goed, en volgende jaar wil jy nog honneurs ook doen. Jy gaan eendag jou passie uitleef.”

“Maar jy het nie ’n keuse gehad nie.”

“Jy is verkeerd, Sussie. Ek wou nog my hele lewe ’n bestuurder wees van iets. Dalk nie in die ingenieursbedryf nie, maar ek is nou waar ek moet wees. Hoekom pla hierdie dinge jou nou so?”

“Jy en Pa lyk deesdae so oorwerk en ongelukkig. Julle dink ek is nog te jonk om al hierdie dinge raak te sien, maar ek kan mos agterkom alles is nie pluis nie.”

“Daarmee stem ek saam: Pa is oorwerk. Maar ek is besig met ’n plan. Ek moet nou net eers hierdie vervlakste Franse klasse kafdraf. Dit is so ongeleë!”

“Kan ek help om die planne uit te voer?” vra Chloe opreg.

“Jy kan my net bystaan as ek dit uiteindelik deur­voer, want ek weet nie wat Pa se reaksie daarop sal wees nie. Jy weet mos hoe moeilik hy soms kan wees.”

“Hou my dan op hoogte en laat weet wat ek kan doen. Intussen wag ek vir jou in die cinema-kamer. Daar is ’n nuwe romantiese komedie wat ek vir ons gekry het.” Haar suster neem die leë bord toe sy uitloop en Adelie sak dieper af in die nou lou water en skakel die borrelbad aan.

Sy moet aan haarself erken dat, toe haar woedebui eers gekalmeer het, Sihan dadelik elke liewe vroulike hormoon in haar liggaam op dreef gehad het. Sy herroep sy vriendelike oë wat haar knieë behoorlik week gemaak het toe dit saam met sy hele gesig gelag het.

Hy is soveel anders as Arend. Nie dat sy die twee wil vergelyk nie. Arend is ’n geharde finansiële analis in sy familie se besigheid, maar sy pa weier om hom nou al die verantwoordelikhede van ’n juniorven­noot te gee. Hy en Adelie het deur hul ouers ontmoet wat saam ’n potjie gholf vir liefdadigheid gespeel het. Arend tiek al haar pa se boksies: Hy is slim, super aantreklik met ’n sespak wat skrik vir niks en het ’n bankrekening wat sweerlik tweehonderd fami­lies elke maand sal kan versorg. Hy is ook vriende­lik, maar arme Arend kon dit nog nooit regkry om háár te laat tiek nie. Hulle is al drie maande saam en sy soene is uit die boonste rakke, so asof hy lesse daarin gehad het, maar nog nie een keer het hy dit reggekry om haar só warm te soen dat sy beheer wil verloor nie.

’n Blitsgedagte flits deur haar: Sihan lyk soos ’n man wat kan soen – so warm, dat geen koue badwater haar sal kan afkoel nie! Sy skud haar kop beslis en glip met haar hele lyf onder die wa­ter in om die vurige gedagtes sommer net hier in hul spore te keer. Haar lewe het nie nou ruimte vir muisneste nie.