Uittreksel | Bonsaimeisies

Bonsaijoernaal
April 2025
Bonsaiboompies is nie mense nie. Dit is tog vanselfsprekend. Hulle kan nie emosie voel nie. Hulle ervaar nie pyn nie. Hulle gaan nie deur dieselfde ervarings, belewenisse en gevoelens as ons nie.
Bonsai bloei anders.
Ek raak nooit te geheg aan my bonsaiboompies nie. Ek is bereid om hulle te snoei. Ek sal die wortel van die kwaad uitroei en selfs van voor af begin.
Ek is die Tuinier.
Hoofstuk 1
Rosenhof is glad nie wat Ann verwag nie. Waar is die grasieuse gasteplaas wat Benedal se toerismeburo op hul glansbrosjure adverteer? Gehawende mure, die wit verf plek-plek afgedop, hou wag oor ’n swart stoep. Bome met gebuigde koppe prewel lang skadu’s van gebed oor die verdroogde grasperk. Die werf is doodstil. ’n Spreekwoordelike graf.
Ann skakel haar motor se enjin af. Langs haar word Maya stadig wakker. Sy strek haar bene uit so ver as wat sy kan en vryf haar rooi krulhare nog deurmekaarder. Dan sit sy haar voete, leerstewels en al, op die paneelbord. Sy kyk verdwaas rond na die verwaarloosde tuin, die beddings oorgeneem deur onkruid, die heuwel swart sakke langs die huis – vullis peulend uit geskeurde gate.
“Waar is ons? Moet asseblief nie vir my sê dis waar ons gaan bly nie.” Haar stem bewe effens. Deesdae raak die kind gou paniekbevange.
“Nee, darem nie. Ek moet net die sleutels vir die chalets hier kom afhaal.” Wat was die eienaar se naam nou weer? Ann kyk op haar selfoon. Paul Roos.
“Ek hoop die chalets lyk beter. Hierdie plek is scary.” Maya vou haar arms beskermend om haar tingerige lyf.
Ann hoop en bid hierdie maand lange vakansie werk uit. Haar stiefdogter is al klaar so broos. Sy het liefde en aandag nodig ná die hele ding met Mike.
“Check net daai roosbome! Dis totally spooky.”
Nou sien Ann dit ook raak. In skrille kontras met die verwaarloosde chaos rondom haar, staan daar rye roosbome in gelid langs die oprit – perfek gesnoei; die rose bloeiend in blom.
“Goed, bly jy in die kar. James, jy kom saam.”
Sy maak die agterste deur oop vir die hond en James val byna uit – steunend, maar darem ’n ekstra asem. Sy kyk weer op haar selfoon. Ja, dis die regte adres. Ja, sy moet die sleutels hier optel.
Sy klim skaars teen die trappe op, of iets skarrel oor haar voet.
Haar gil kraak deur die droë, stil lug. Kalmeer, Ann. Dis net ’n geitjie. Vuil gordyne hang halfmas voor stowwerige vensters. Toe sy aan die houtdeur klop, skuur ’n houtsplinter teen haar kneukels. Die kloppe eggo dof in ’n versteekte gang af.
Steeds die drukkende stilte, maar minder doods as wat sy aanvanklik gedink het. Eerder afwagtend.
“Wie is jy!”
Die kinderstem sny skerp deur haar rug. Ann vlieg om. Agter haar staan ’n meisie, seker so nege jaar oud. Haar kuif is skeef gesny, haar hare bruin en vuil – net soos haar kortbroek en T-hemp.
Ann blaas haar verskrikte asem stadig uit. “Ek is Ann. Ek is hier om die chalet se sleutels te kry.”
Die kind se oë is die ene skrefies, die lippies ’n norse streep getrek. “My pa is nie nou hier nie.”
“Het hy nie dalk die sleutels hier gelos nie?”
“Nee.” Sy vou haar arms. Die streep word fermer. Dan dartel haar oë na iets agter Ann. Vir ’n oomblik flikker daar belangstelling in haar blougroen oë. “Is dit jou hond?”
“Ja, dis James.” Ann hoop en bid dat James hom tog net gedra. Hy is nie te mal oor kinders nie, en sy is nie lus en ry onverrigtersake terug Kaap toe nie.
Die kind stoot verby Ann, reguit na James toe. Hy sit doodstil.
Kind en hond staar vir ’n paar senutergende sekondes na mekaar.
Dan slaan sy haar arms om die hond se nek.
Ann stuur dadelik skietgebedjies op. Sit tog net stil, James. Gedra jou.
’n Oorverdowende poep dawer oor die stoep. Die kind vlieg op, slaan haar hande bymekaar. “Oh my word! Ek like hom!”
Kan jy nou meer.
“Wat is jou naam?” vra Ann.
“Rosa.”
Rosa Roos. Genade. Ken die man dan geen ander blomname nie?
“Rosa, ek gaan gou jou pa bel en vir hom sê ek is hier.”
“My pa het sy selfoon hier gelos. Jy sal hom nie in die hande kry nie.”
Dit ook nog.
“Wie is daai in die kar?”
“Dis Maya, my stiefdogter.” Die oomblik dat die woord uit haar mond is, besef Ann sy het ’n fout gemaak.
“So, is jy ’n wrede stiefma?”
Die kind is beslis nie op haar bek geval nie. Ann glimlag maar – sy is beslis nie lus om sonder ’n sleutel hier weg te ry nie.
“Stiefma ja, wreed – nee.”
“Alle stiefma’s is wreed.”
“In die storieboeke, ja – maar sprokies is nie altyd soos die werklikheid nie.”
“Dis ook weer waar, want in sprokies is die mammas ook altyd nice.”
Wag. Waar is die kind se ma? Sy het die hele tyd die idee gekry dat sy net met die man moet werk, maar as hier ’n gesin is, moet hier tog ’n ander ouer ook wees.
“Is jou ma hier, Rosa? Dalk kan sy my help.”
“O, sy is nie hier nie, maar my broer sal weet waar my pa is. Hy is in die ander huis.”
Ann kyk verbaas na die gewelhuis. “Bly julle nie hier nie?”
“Nee. Ons bedien net die ontbyt hier vir die gaste wat in die cottages woon, maar sedert …”
“Sedert?”
“Newwermaaind. Kom, ek vat jou soontoe.”
Rosa maak die deur van die gewelhuis oop en Ann volg haar tot in ’n groot, langwerpige vertrek. Die houtvloere is bedek met ’n laag stof, taai met slegte herinneringe. Teen die muur staan rye tafels, elk met vier stoele. Dié tafels is wel afgevee en netjies gedek.
“Dis hier waar ons ontbyt bedien.” Rosa klink soos ’n bedrewe toergids.
Opgerolde Persiese tapyte wag vir beter dae. Iemand het dit seker opgerol om die vloere skoon te maak, maar het toe nooit daarby uitgekom nie. Geraamde foto’s van Benedal in vervloë dae hang teen die mure, die figure dof en vaag agter die stof.
Rosa stap deur na die volgende vertrek – die kombuis. Dit is redelik onlangs gemoderniseer en vol vlekvrye staal, wit teëls en silwer toebehore. Chaos het egter ook hier posgevat met vuil potte opgestapel op elke werkoppervlak, vier dromme tot oorlopens toe vol met vullis brommend-broeiend in elke hoek.
Plek-plek sit Ann se skoene vas aan die taai vloer soos wat hulle deur die kombuis uitstap na die agterplaas. Dit uitsig ruk haar tot stilstand. Dis ’n gans ander wêreld. Orals loer viooltjies en gesiggies tussen lang grasspriete deur terwyl groot akkerbome haar verwelkomend teen die hitte omarm. Tussen die gras kan sy trappies sien wat lei na ’n indrukwekkende huis – modern en ruim – ’n skepping van staal, hout en glas. Hulle stap nader.
“Dis waar ons gebly het.” Rosa stoot die voordeur oop.
Wag. Het die kind nie gesê hulle bly steeds hier nie?
Die oomblik toe sy binnestap, klap Rosa die deur agter haar toe.
Ann se asem slaan weg. Nie net van skok nie. Die stank laat haar oë traan. Vrot kos. Vrot … nee, om vadersnaam, net nie …
’n Taai, sweterige hand klem haar vingers vas. Buite, aan die ander kant van die deur, tjank James.
“Eina, Rosa! Jy maak my seer!”
James begin blaf.
Rosa verslap nie haar greep op Ann se hand nie. “Kom! Kom ek gaan wys jou waar my ma dood is.”