Skip to main content

Uittreksel | Boeretroos vir die hart

Een

30 April 1820

Emma Williams trek die vogtige seelug van Algoa­baai diep deur haar neus in en verlustig haar in die sproei wat teen haar wange aanwaai. Die briesie is koel, maar die oggendson brand koesterend op haar rug.

“. . . a dreary, barren waste.”

“It’s a desert!”

Emma se kop draai in die rigting waaruit die ontstelde stemme op die Northampton se dek op­klink. Haar medereisigers se gesigte is vol ongeloof op die land voor hulle gerig. Moedeloos hang hul skouers en trane van ontnugtering blink in hul oë.

Sy kyk terug na die hoë sandduine, toe nog verder na die uitgestrekte, plat landskap met sy vaal bossies wat skoon windskeef staan tot by die vae berge in die verte. Dit is nogal ’n heel ander gesig as dié wat hulle in Tafelbaai begroet het. Die wit huisies aan die voet van Tafelberg het so vredig en verwelkomend gelyk. Nie soos hierdie bar stuk niks nie.

Die beweging van haar moeder se hand vang haar oog toe sy ’n sakdoekie teen haar mond druk. “Moeder, moet jou nie ontstel nie. Ek is seker dit lyk anders waarheen ons gaan. Onthou, hulle het gesê dit is ’n paar dae se reis ver.”

Vader David slaan sy arm om moeder Mary Ann se skouers. “Emma is reg, Darling. Ons moet vol moed oor die toekoms bly.”

“Vader, kyk. Ons kan aan land gaan!” Thomas, haar veertienjarige broer, wys na een van die plat­boomskuite wat teen die skip staan.

Vader David knik. “Laat die ander mense maar eers gaan.”

Emma kyk na die geroesemoes waar almal wag om met die touleer af te klim. ’n Matroos het sy hande vol om almal te organiseer, maar ná vier maande ter see is dit te verstane. Hulle is al die 18de Desember weg uit Londen en het eers die 26ste Maart in Tafelbaai aangekom waar party passa­siers afgeklim het. Daarna was dit nog ’n maand tot hier. Natuurlik sal almal begerig wees om weer land onder hul voete te voel.

Die wind dra Catherine se klokhelder lag tot by haar. Catherine is op die eerste skuit wat met toue land toe gekatrol word en dit is vir ’n soldaat wat sy so lekker lag. Emma se kop gaan heen en weer. Het jong meisies niks beters om te doen as om op die uitkyk te wees vir ’n man nie? Net om dan te trou en kinders te kry. Dit is só ’n vervelige kringloop.


Rasmus Erasmus kyk strak voor hom uit waar hy op ’n hoë duin sit, sy oë onbelangstellend gerig op die passasiers van die Northampton – sy nuwe landgenote en medekoloniste onder die vervloekte Britse vlag. Daar wag ’n ontnugtering op hulle in die Zuurveld. Dit is veewêreld en nie geskik vir in­tensiewe boerdery nie, veral nie op die vyftig morg wat Brittanje so goedgunstiglik vir hulle bewillig nie, peins hy sarkasties. Maar hul getalle is welkom in die Albanie-distrik. Veral as daar weer ’n grensoorlog uitbreek. Dan sal hulle sien hoe watwonders hul koloniale regering werklik is.

Daarbenewens wag hy nog steeds vir Elandskloof se kaart en transport. Die eerste landmeter het drooggemaak. Toe moet hy weer die klomp geld vir die opmeting van sy plaas betaal. En dan is daar nog die jaarlikse paggeld. Hy gee nie om om belasting te betaal nie, maar dan moet dit darem voel of die regering ’n daadwerklike poging aanwend om hulle te beskerm en iets aan die toestande op die Oosgrens te doen.

Bitterheid brand in hom toe sy blik na die skuit verskuif wat die soldate van die kant af inkatrol. Die mans spring in die vlak water af terwyl die soldate die vroue en kinders kant toe dra.

Hy klop sy langsteelpyp uit en kom orent. So­dra die passasiers aan wal is, kom hul bagasie en persoonlike besittings. Dit is die grensboere se plig om dit op hul waens te laai en die immigrante na hul onderskeie plase te neem. Die koloniale regering het twee honderd waens vir dié doel benodig en die vergoeding wat hy kry, is welkom ná laas jaar se verliese.

Hy hoop net hulle kan binne ’n dag of wat met hierdie klomp vertrek. Onrustigheid is sy konstante metgesel, hier soveel meer as op Elandskloof. Soos die spreekwoord lui: Ver van jou goed, naby jou skade.

En dit geld nie net vir materiële dinge nie, soos hy laas jaar uitgevind het.


Emma bedank die hulp wat die soldaat met die rooi hare en sproetgesig haar aanbied. Sy het sy oë kort-kort op haar betrap en is glad nie begerig dat hy of een van die ander soldate haar land toe dra nie. Hoekom kan ’n vrou nie soos ’n man in die vlak wa­ter spring en self uitstap nie? Sy pluk haar skoene uit en bondel haar romp voor saam.

“Wag, laat ek jou ’n hand gee,” bied die rooikop weer aan.

“Ek is reg, dankie,” antwoord sy ontmoedigend en glip oor die skuit se rand. Die seewater spat teen haar bene op en haar voete brand van die skielike koue water. Onverwags tref ’n golf haar ook van ag­ter af. Sy behou net-net haar balans en pluk haar romp hoër op.

Die soldaat kyk vrypostig af na haar ontblote kuite. Sy is lus om hom te klap toe sy die wellus in sy oë sien en hy betekenisvol vir haar glimlag, maar sy bedink haar en maak dat sy uit die see kom.

Sy laat haar romp grond toe sak toe sy die koel, vaste sand onder haar voete voel. Nog voor sy haar kop draai, weet sy iemand kyk vir haar. Dit moet ie­mand anders as die soldaat wees.

’n Paar koel grysblou oë vang hare vas. Sy staan versteen. Haar hart wil nie klop nie. Die lug bly vas­gekeer in haar longe. Sy kry nie gedink nie. Tog registreer sy die harde lyne om sy mond, sy kort bruin baard en sy hoekige kakebeen wat hom nog meer onverbiddelik laat lyk.

Sy ruk toe hy sy sweep klap en wegkyk. Die osse agter hom beur moeisaam deur die sand. Hul horings punt wyd en gevaarlik. Die waens kom seker om hul bagasie en besittings op te laai.

Moeder Mary Ann verskyn langs haar en kyk af na Emma se romp wat nat geword het. “Emma, hoekom het jy nie maar dat hulle jou dra nie?”

Haar moeder se woorde neem ’n oomblik om te registreer. “Ek hou nie daarvan as mans aan my raak nie.”

Die vreemde man met die koel oë se kop draai skuins asof hy haar opmerking gehoor het. Wel, dit geld vir hom ook! En dit is totaal onnodig dat haar hart nou so vinnig klop.


Emma se wenkbroue lig afkeurend toe sy Catherine ingehaak by ’n soldaat sien strand toe stap. Die liefde blom klaarblyklik net so vinnig op land as ter see, volmaan of te nie, maar almal moet seker gou speel voordat hulle na hul onderskeie plase moet vertrek.

Sy draai om en loop in die teenoorgestelde rigting. Daar het vandag nog ’n skip aangekom en die joligheid by die kampvure staan haar nie aan nie. Sy sal eerder alleen op ’n duin gaan sit.

Die tyd op die skip het haar onfiks gemaak. Sy is skoon uitasem toe sy bo kom en na die see draai. As gevolg van die sekelmaan kan sy net-net die wa­tervlak sien blink.

Die seebries wikkel ’n krul uit haar hare los. Dit kielie haar wang en sy sluit haar oë. Kan daar nou ’n groter saligheid op hierdie aarde wees?

Die reuk van tabakrook stu in haar neus op. Haar oë vlieg oop en haar kop ruk om. Die rooi kooltjie brand ’n entjie weg van haar. “Wie’s daar?”

“Ek hoop jy dra ’n wapen aan jou.”

Haar hart begin in haar keel klop. Dit is ’n man­stem en die Engels rol nie suiwer oor sy tong nie. “Ek het nie ’n wapen nodig om my teen ’n man te beskerm nie.” Sy hoop haar stem kom sterk genoeg oor.

“En as dit ’n wilde dier is?”

“Wat bedoel jy?”

“’n Mens weet nooit waar jy ’n leeu of ’n tier in hierdie land teëkom nie en hulle jag saans.”

Haar oë gaan bevrees om hulle. Dit voel of iets enige oomblik agter ’n bos kan uitspring en haar verskeur.

“Sit en ontspan. Ek het ’n geweer by my. Maar ek wil eers my pyp klaar rook voordat ek saam met jou terugstap kamp toe.”

Sy is te bang om te sit. Dit sal van haar ’n te mak­like prooi maak. Ook gaan hierdie man haar beslis nie terugbegelei kamp toe nie. Sy weet nie wie hy is nie. Hy wou ook nie netnou gesê het nie. As sy net kan uitmaak hoe hy lyk. Nie dat een van die Boere met hul kort blou baadjies, broeke van sagte leer, breërand­hoede en velskoene haar vandag beïndruk het nie.

Wat van die een op die strand? Sy het vandag ’n paar keer gekyk of sy hom nie weer kon sien nie. Daardie grysblou oë het iets aan haar gedoen. Omgekrap, dit is wat dit aan haar gedoen het! “Rook jou pyp maar rustig klaar. Ek sal op my eie regkom, dankie.”

“As jy dit só verkies . . .”

Sy stem lag haar nie uit of probeer haar bangpraat soos sy verwag nie. Dit bly onverskillig en koud. Sy tree vorentoe met nie naastenby soveel selfvertroue as wat sy aan hom probeer bewys nie.

Onverwags vlieg iets agter hulle met ’n groot geraas op. Sy gil en vlieg om om by hom uit te kom.

Hy spring op. Sy hardloop hom amper onderste­bo, maar hy stuit haar vaart en vang haar in sy arms vas.

“Sjt,” fluister hy naby haar oor. “Dit was net ’n tarentaal, maar ek sal graag wil weet wat hom op­gejaag het.”

Sy sukkel om haar asem onder beheer te kry en probeer die donker om hulle fynkam.

Hy laat haar gaan en buk stadig af om sy geweer op te tel. “Staan agter my en moenie roer nie.”

Emma se hart dawer verwoed. Sy was in haar lewe nog nooit só bang nie. En haar lewe is nou in hierdie onbekende man se hande. Wat besiel haar om hom te vertrou?

Sy waaksame houding verslap en hy laat sak sy geweer. “Dit was net ’n jakkals.”

“Nét ’n jakkals?!”

Die ligte histerie in haar stem moet hom laat omdraai. Haar asem ruk in haar keel. Dit is die man met die koel grysblou oë. Sy sterk, diep stem pas by hom. Hoe kon sy dit nie raai nie?

“’n Jakkals sal niks aan jou doen nie.”

Skrik ruk deur haar lyf toe die jakkals skree. Die volgende oomblik is sy een arm om haar. Sy het geen idee of sy weer teen hom vasgespring het en of dit van sy kant af kom nie, maar sy vermoed dit was eersgenoemde. Hy ruik vreemd, na tabak en nog iets waaraan sy nie ’n naam kan gee nie. Sy bolyf is hard en gespierd en sy warm asem is in haar nek. ’n Rilling gaan deur haar, maar nie omdat sy vir sy nabyheid gril nie. Die teendeel geld eerder.

Hy laat haar meteens gaan. “Jy kry koud. Kom ek gaan maak vir jou ’n beker soet boeretroos.”

Boeretroos? ’n Hollandse woord. “Wat is dit?”

“Jy sal sien,” antwoord hy oor sy skouer.

“Maar . . . ons kan nie soontoe loop nie.” Die jak­kals is dan daar rond.

Hy gaan staan en draai halfpad terug na haar. “My wa staan net hier anderkant.”

Hy probeer haar nie oortuig om te kom nie. Sy kry eerder die gevoel dit is vir hom om’t ewe of sy self terugloop kamp toe of saam met hom kom. Daar is vir haar net een opsie. Sy loop vinnig tot langs hom en wens hy wil sy arm vir haar aanbied. As sy nie van beter geweet het nie, het sy gedink sy raak nou net so verspot soos die ander meisies.

Net ’n paar kooltjies glim nog by sy kampvuur. Hy bring vir haar ’n kampstoeltjie en begin dan hout fyner kap om op die vuur te gooi. Kort voor lank lek lang vlamme gulsig boontoe en kan hy die vuur met groter stukke stook. “Die water sal nou-nou kook.”

Sy knik en moet ’n daadwerklike poging aan­wend om nie heeltyd vir hom te kyk nie. Daarom kyk sy eerder op na die sterre.

Die see ruis in die agtergrond en die vuur knetter gesellig. Tog wil haar hart nie tot bedaring kom nie en sy weet dit is nie nou van vrees nie.

“Boeretroos vir jou. Ongelukkig het ek nie melk nie.”

“Dankie.” Sy vat die beker by hom en asem die reuk in. “O, dis koffie.”

Hy knik en gaan sit aan die ander kant van die vuur op die grond. “Pasop net. Dis nog warm.”

Sy blaas oor die warm vloeistof. “Jy’t my nog nie gesê wie jy is nie.”

“Rasmus Erasmus,” antwoord hy asof dit onbe­langrik is.

Sy herhaal dit in haar kop, maar twyfel of sy die “r’e” ook só uitgespreek sal kry. Syne is ’n helder, trillende klank. “Ek is Emma Williams.”

Hy knik asof dit ewe onbelangrik is en kyk af na die vlamme.

Sy proe versigtig aan die boeretroos. Die koffie is baie soet, maar dit help vir haar senuwees. As sy net nie so oorbewus was van die man anderkant die vuur nie. En of sy nou daarvan hou of nie, hy sal saam met haar moet terugstap kamp toe. Sy is doodeenvoudig te bang om op haar eie te gaan.

Haar beker is later leeg. Hy sit syne ook langs hom neer. Dit is vreeslik om so in die stilte te sit. Wat gaan deur sy kop?

Hy kan nou maar aanbied om haar terug te neem. Haar ouers sal bekommerd raak as hulle haar nie by een van die kampvure kan kry nie. “Ek moet seker teruggaan.”

Hy knik net sonder om vir haar te kyk. Is hy nou moedswillig of wat? “Sal jy saam met my terugstap, asseblief?”

Hy kyk op, maar daar is geen teken van spot in sy oë nie.

Haar hart begin al hoe vinniger klop en sy kan geen verklaring daarvoor gee nie. Eintlik kan sy net wegkyk, maar dit is asof sy blik haar boei en ont­wapen. Dit is ’n rare ervaring. Gewoonlik laat mans haar koud.

Hy verbreek eerste oogkontak en tel sy geweer op.

Sy val stil langs hom in. Hul voetstappe klink dof in die sand. Dit kos inspanning om voor haar te bly kyk. Haar oë wil kort-kort na sy sterk profiel langs haar dwaal. Sy skat hom so vyf jaar ouer as sy.

Toe hulle die rye wit tente bereik, verbreek sy die stilte. “Dit is nie nodig om verder saam met my te stap nie. Ek sal nou reg wees, dankie.”

“Laat ek maar tot by die kampvure saam met jou gaan. Dan weet ek jy is veilig. Daardie soldaat het jou vandag behoorlik met sy oë uitgetrek.”

Sy trek haar asem geskok in. “Hoe durf jy so iets sê?”

“Dis net ’n observasie,” antwoord hy onpersoon­lik en wys sy moet voor stap.

Sy gee hom ’n verontwaardigde kyk en loop met ’n stywe rug voor hom uit tot by die naaste kampvuur. “Dankie vir jou moeite,” sê sy saaklik.

Hy lig sy hoed en antwoord sag: “Nag, Emma.” Toe draai hy om en loop weg.

Die beklemtoonde “a” aan die einde van haar naam val vreemd op haar oor. Dit roer iets in haar en sy vergeet skoon om hom ook nag te sê. Sy kyk hom net agterna; verwonder haar aan sy self­versekerde manier van stap. Hy’s die langste man wat sy nóg gesien het en met sulke breë skouers!

Onverwags kyk hy terug. Sy draai haar kop haas­tig weg. Is sy besig om simpel te word?