Uittreksel | Boere-aspoester

Een
“Ek moet erken, ek het my bedenkinge gehad oor jou en tannie Hentie se idee van ’n maskerbal Oujaarsaand. Ek het nie gedink die mense van ons ou dorpie sal dit verkies in die plek van ons tradisionele boeredansparty nie, maar die kaartjies het soos soetkoek verkoop.” Alinda teug aan haar rooibostee met die skyf gedroogde suurlemoen in.
Die reuk van koffie, rooibos en sjokoladekoek hang in die lug. Die tafeltjies in die Lekkerbek-koffieplek is nogal taamlik leeg vir ’n Saterdagoggend aan die begin van Desember, maar perfek vir die eerste dag van haar verlof. Sy luister met ’n halwe oor na ’n liedjie van Jak de Priester wat sag oor die radio speel, en kyk hoe Monja smaaklik aan ’n stuk sjokoladekoek weglê.
“Dis lankal tyd dat ons iets anders probeer. Blykbaar voel van die ander dorpenaars ook so. Dokter Wannie het my nou die dag in Spar voorgekeer en vertel dis die beste idee in jare,” antwoord Monja in haar skik.
“Van dokter Wannie gepraat, hy is skoon ’n ander mens vandat dit ’n onomwonde feit is dat oom Herklaas se kleinseun eindelik by die praktyk gaan aansluit.”
“Dokter Wannie is nie meer jonk nie. Ek hoor by Nita hy wil afskaal sodra die nuwe dokter sy voete gevind het. Die laaste twee jaar wat hy meestal sonder ’n locum moes klaarkom, moes seker sy tol geëis het. Ek is nogal nuuskierig oor die nuwe dokter,” kom dit van Monja voor sy nog ’n stuk van die koek in haar mond druk.
“Harry Serfontein mag oom Herklaas se kleinseun wees, maar ek is glad nie beïndruk met hom nie. Ek dink hy is nogal selfgesentreerd. Ek meen, watter tipe man hou sy oupa vir jare aan ’n lyntjie? Oom Herklaas het al vyf of ses jaar gelede afgetree. En die dokter wat hy kon oorreed om in te staan totdat Harry eendag besluit om op te daag, het ook maar net ’n paar jaar gehou. Johannesburg se goudpotte was net te aanloklik.”
Alinda neem nog ’n sluk van haar tee. “Dit laat my twyfel of Harry Serfontein dieselfde werksetiek as sy oupa gaan hê.” Miskien moes sy ook maar ’n stuk koek bestel het. Sy kyk na die vrou agter die toonbank. “Martjie, kan ek ook ’n stuk sjokoladekoek kry, asseblief?”
“Ek bring vir jou, Alinda,” kom die vriendelike antwoord.
“Ek dink jy is nou ’n bietjie bevooroordeeld. Jy ken die man nie. Iets kon gebeur het wat hom verhoed het om vroeër te kom,” maan Monja.
“Nogtans. Ek verstaan ook nie waarom hy eers teen die einde van Desember beskikbaar is nie. Selfs dokters se spreekkamers sluit tussen Kersfees en Nuwejaar. Hy kon gerus sy agterent vroeër hier gekry en die Kersvakansie saam met sy oupa deurgebring het. In die twee jaar wat oom Herklaas langs ons bly, was sy kleinseun of selfs sy seun en skoondogter nie een maal by hom nie. Die arme oom moes elke keer agter hulle aan Gauteng toe gaan. Nee wat, ek het reeds ’n gly in die man. Ek voorspel ons gaan vir seker koppe stamp.”
Alinda kyk op en bedank Martjie toe sy ’n bordjie met ’n sny sjokoladekoek voor haar neersit.
“Ja, daai een verstaan ek ook nie. Dinge is skynbaar nie wat dit moet wees tussen oom Herklaas en sy mense nie,” stem Monja saam.
Alinda se mond water en sy breek ’n stukkie koek met die koekvurkie af. Haar selfoon pieng, maar sy druk eers die soet verleiding in haar mond en kou behaaglik.
Toe sy haar selfoon optel, sien sy dis Nita. Seker verveeld omdat die spreekkamers nogal stil is op Saterdagoggende. Alinda maak die WhatsApp oop. Dis ’n foto. Sy glo nie wat sy sien nie en lees toe maar eers die boodskap: Jammer om die draer van slegte nuus te wees, maar ek dag jy behoort te weet. Hulle sit oop en bloot en handjies vashou by Die Koffiehoekie.
Die koek word dik in Alinda se mond. Sy skreef haar oë, maar maak dan die foto groter oop. Louis en Marlene. Hul hande lê intiem gevleg op die tafeltjie tussen hulle.
“Jy is so wit soos ’n laken. Wat is dit?” Monja vat die foon uit Alinda se willose vingers. “Die rot, die flerrie,” skel sy toe sy ook die foto sien.
“’n Fyn lyn tussen alles of niks,” sing Jak de Priester voort.
Die lirieke ruk Alinda tot aksie. Sy neem die selfoon by Monja. Sy kan raai wat Louis hiermee probeer bereik, en sy is jammer om sy borrel te bars, maar dis die einde van die pad vir hulle twee saam. Sy tik net twee woorde vir hom: Dis verby.
Sy whatsapp dit saam met die foto vir Louis. Dan sit sy haar foon neer en smul verder aan haar koek.
Monja kyk haar verstom aan.
Alinda haal haar skouers op. “Wat kan ek aan die saak verander? As Louis Mouton dink hy gaan my tot ’n besluit dwing met hierdie gedrag, wel, dan het hy seker, nè. Maar ek is redelik seker dis nie die reaksie wat hy verwag het nie. Ek is in elk geval klaar met hom en sommer ook met al wat man is. Ek het regtig nie hierdie tipe drama in my lewe nodig nie. Ek het genoeg hooi op my vurk.” Sy eet haar koek, maar dit smaak nie meer heeltemal so lekker soos die eerste hap nie.
“Louis Mouton is die vangs van die Klein-Karoo. Aantreklik, skatryk en die enigste erfgenaam van ’n vooruitstrewende volstruisplaas. Baie meisies sou sy misstap oorgesien het,” merk Monja op en vat ’n sluk koffie.
“Ek is nie een van hulle nie. Ek kan ook nie net aan myself dink nie, daar is Linkie wat ek in ag moet neem. Buitendien, liefde en getrouheid is pasmaats,” sê Alinda beslis.
Sy het ’n belofte aan haar ma op haar sterfbed gemaak, en sy is nie ’n vrou wat haar beloftes ligtelik opneem nie.
“Dit lyk nie juis of jou hart gebreek is nie.” Elmboë op die tafel loer Monja oor haar koppie na Alinda.
“Die Steynberg-vroue is sterk vroue. My ouma het nie in sak en as gaan sit toe my oupa jare gelede dood is en haar met min agtergelaat het nie. Nee, sy het ’n plan van aksie gehad. Sy het haar ouma se koeksisterresep afgestof en ’n florerende besigheid daaruit opgebou. Voorwaar een van daardie kaalvoet-oor-die-Drakensberg-vroue: sterk, standvastig, onwankelbaar. En sy het my geleer om ook so ’n vrou te wees. Ek het nie ’n man nodig om gelukkig te wees nie, en definitief nie een soos Louis nie.”
Alinda kyk op haar horlosie. “O, genade. Ek moet nog by die supermark uitkom voordat die vakansiegangers ons dorp tref. My ouma wil een van die Kersfeeshampers hê en jy weet hoe vinnig dit uitverkoop.”
’n Rukkie later klim Alinda in haar rooi, sonverbleikte Uno, die een wat sy nog by haar ma geërf het. Ten spyte van sy ouderdom loop hy gelukkig nog klopdisselboom. Sy kyk ’n oomblik in die truspieëltjie. Haar wange is bleek en laat haar grys oë ekstra groot lyk. Seker te wyte aan Louis se dinge. Sy vee die swart hare wat uit haar poniestert losgekom het uit haar gesig.
Sy loop die reguit pad en Louis weet dit. Wat op aarde sou hom besiel om so iets aan te vang? Dalk het sy haar misgis en stel hy regtig in Marlene Mostert belang. Voor Monja het sy haar sterk gehou en gemaak of Louis se verraad haar nie pla nie, maar dit het haar tog gegooi.
Miskien was haar ouma wel reg in haar opsomming van Louis: Te lig in die broek vir ’n Steynberg-vrou. Volgens haar ouma het sy ’n man met murg in sy pype nodig, een wat ’n vuur in haar sal aansteek wat sy nie sal kan ignoreer nie. Sy dink egter nie so ’n man bestaan nie.
As Louis net geduldig gebly het. Sy kon haarself sien as sy vrou, eendag, wanneer Linkie op haar eie voete kan staan, en sy self ook die jaar lange kursus by die vyfstersjef Rufus Riddell voltooi het. Dis haar droom om haar eie restaurant oop te maak, en sy bewonder sjef Rufus. Sy volg hom getrou op YouTube.
Klaarblyklik het Louis nie die geduld van ’n Jakob wat sewe jaar vir Ragel kon wag nie. Want dis hoe lank dit gaan neem om haar belofte aan haar ma gestand te doen, asook die sjefskursus te voltooi.
Sy sit haar sonbril op en ry tot by die winkelsentrum. Die plek is klaar bedrywig, al is dit nog maar die begin van Desember. Sy gaan sukkel om parkering te kry.
Sy ry soek-soek totdat die motorwag vir haar beduie om te wag. Terwyl hy die wit Pajero uit die parkeerplek beduie, pieng haar foon. Louis, sien sy en sug. Sy is regtig nie eens lus om sy verskoning te lees nie. Die Pajero ry by haar verby en sy sit die selfoon neer. Sy los die rem en trap petrol, maar moet vinnig op die rem lê toe ’n silwerkleurige Audi A4 met die spoed van lig van die ander kant af by die parkeerruimte invlieg.
Wat de duiwel? Toe sy die Gautengse nommerplaat sien, maak dit vir haar sin. Mense op hierdie Karoo-dorpie is nie so stiksienig nie. Die Gautengers is op hulle soos die Filistyne op Simson.
Die man wat uit die Audi klim, het ’n sonbril op. Hy is lank en geklee in ’n wit T-hemp en swart denim. Met sy ontwerper-stoppelbaard en swart hare agteroor gekam, lyk hy vir haar na ’n tipiese Gautengse jappie.
Sy is onmiddellik smoorkwaad. Vandag is die dag dat sy ’n Gautenger se fortuin vir hom vertel. Haar hand is al op pad om die veiligheidsgordel los te knip toe iemand agter haar toet. Gefrustreer gooi sy haar hande in die lug en gluur die man aan. Skynbaar onbewus van haar hewige reaksie stryk hy aan na die winkels toe.
Alinda skud haar kop en ry verder. In die bestek van een oggend het twee lede van die mansgeslag dit reggekry om haar bloeddruk hemelhoog te druk. Sy beter kalmeer voordat sy ’n koronêr skiet. Sy sug en konsentreer liewer daarop om van nuuts af parkering te soek. Ná ’n goeie vyf minute draai sy by ’n parkeerplek redelik ver van die supermark af in.
In die winkel kry sy ’n waentjie met twee mandjies en haal haar ouma se lysie uit. Sy kry ’n boksie piesangs, ’n sakkie appels en ’n brood, en merk die items op die lysie af. Nou nog net die vleishamper en twee liter melk. Die hordes is vandag vir haar een te veel, en sy beweeg vinniger, skuur behoorlik verby drentelaars.
Sy gaan reguit na die deel van die yskaste waar die Kersfeeshampers gewoonlik gehou word. Sy sug van verligting toe sy deur die gedrang druk en sien daar is nog een oor. Op dieselfde oomblik wat sy haar hand daarop lê, land ’n groot manshand ook daarop.
Van die adamsgeslag het sy nou net mooi genoeg verduur vir een oggend. Vererg kyk sy op, vas in ’n paar grys oë met lang wimpers en digte wenkbroue. ’n Ontevrede frons vorm op sy hoë voorkop. Sy herken die lummel wat haar parkering gesteel het aan die ontwerpersonbril, ingehaak voor by sy wit T-hemp, en sy modieuse stoppelbaard. Hy gaan definitief nie haar ouma se hamper ook steel nie.
“Gaan jy nou sowaar ’n ou dame se Kersfeesvleis ook steel?” verwoord sy haar gedagtes driftig.
Sy frons verdwyn en hy lyk ’n oomblik uit die veld geslaan. “Ken ons mekaar?” vra hy dan.
Hy besef nie eens hy het haar parkering gesteel nie. Dit maak haar woedend. “Nee, maar dis Gautengse jappies soos jy wat Gautengers ’n slegte naam gee.”
“En hoe weet jy ek is van Gauteng af?” wil hy met ’n geligte wenkbrou weet.
Die feit dat hy aantreklik is, is lastig, maar dit vuur haar woede verder aan, want Louis is ook ’n baie aantreklike man. “Dis nie moeilik om jou tipe te herken nie. Julle kan gewoonlik deur ’n ring getrek word in die beste ontwerpersklere. Daar is natuurlik niks fout daarmee nie, maar julle arrogante, buffelagtige en selfgesentreerde optrede teenoor ander, dís wat my teen die bors stuit. Julle kom hou hier vakansie en het blykbaar nie ’n saak met hoe julle ander se rus verstoor nie. En ek is nou taamlik dik daarvoor.” Sy is seker haar gesig is bloedrooi, want dit voel of haar bloeddruk deur die plafon gaan skiet.
Hy het intussen sy hand van die vleis afgehaal en sy arms gevou. Nie ’n spier in sy gesig het tydens haar tirade vertrek nie. Sy maak van die geleentheid gebruik om die hamper in haar waentjie te laai.
Hy kyk haar ’n lang oomblik peinsend aan. “Jy is ongelooflik mooi as jy kwaad is. Dit laat my wonder hoe jy lyk wanneer jy in ’n beter bui is.” Hy sê dit half mymerend.
Dis die laaste reaksie wat sy verwag het en sy is ’n oomblik sprakeloos. Maar ’n man is ’n bok en almal weet wat is ’n bok, volgens tannie Hentie. En kyk nou maar vir Louis Mouton. “Dis die mees geykte pick-up line wat ek al ooit moes aanhoor. Kom ek gee jou goeie raad: Gaan terug Gauteng toe en moet nooit weer terugkom nie. Die platteland is nie vir mense soos jy nie,” sê sy met die nodige stembuigings. Sy tik hom teen die skouer. “Die raad is gratis en verniet, neem dit gerus ter harte.”
Sy lag agtervolg haar toe sy die waentjie verby hom stoot. Sy sien hoe die mense stilstaan om te kyk wat aangaan. Sy besluit om hom te ignoreer. Haar sê het sy buitendien gesê.
Ten minste hoef sy nie weer in sy aantreklike gevreet vas te kyk nie, en dit pas haar uitstekend. Sy gryp ’n tweeliter-melk en laai dit in die waentjie. Dit maak seker ook nie regtig saak nie. Op die oomblik is sy so antiman dat selfs nie die aantreklikste man op aarde haar hormone sal roer nie.
Sy betaal en laai die goed in haar Uno. Dan stap sy na die kinderhuis se kosstalletjie en koop ’n paar maalvleisvetkoeke. Haar ouma en Linkie sal flou van die honger wees. Wanneer sy self weer ’n aptyt gaan hê, is egter ’n ope vraag.
Ingedagte ry sy huis toe. Ongelukkige voorvalle kom gewoonlik in drieë voor, of so sê tannie Hentie gereeld. Indien haar ouma se niggie reg is, wonder sy wat die derde ding gaan wees. Ag nee wat, nou loop sy dinge vooruit.
Sy draai links in Riebeeckstraat en ry tot by die hoekhuis van kalksteen met die wye stoepe reg om die huis. Sy druk die afstandbeheerder en parkeer in die motorhuis langs haar ouma se rooi 1965-model Ford Fairlane. Dis een van die min waardevolle dinge wat oupa Johannes aan haar nagelaat het. Die tweedeurmotor is haar ouma se trots.
Sy het skaars uit die Uno geklim of Linkie en ’n blaffende Mimi storm op haar af. “Raai wat, Alinda?”
“Nee jong, jy weet mos ek is nie goed met raaispeletjies nie. Vat ’n bietjie hier, asseblief?” Alinda gee die vetkoeke aan vir haar donkerkopkleinsus met dieselfde grys oë as hare én ouma Lin s’n. Dan buk sy af. “Het jy my gemis, Mimi? Jou pragtige meisietjie,” troetelpraat sy met die worshond. Die hondjie wriemel en lek aan Alinda se hande wat oor haar kop streel.
“H’m, dit ruik lekker,” glimlag Linkie.
“Toe, wat is dit wat jy my wil vertel?” por Alinda haar kleinsus aan en kom regop. Sy haal die paar inkopiesakke uit die kattebak.
“Oom Herklaas se kleinseun het gekom.”
Net ’n verwysing na die man laat Alinda se kopvel kriewel. “Het jy hom al gesien?”
“Nee, nog nie. Oom Herklaas het net vanoggend vir Ouma gesê hy het gisteraand laat hier aangekom en dat ons hulle nie vandag vir ete moet verwag nie.”
Daarvoor is Alinda innig dankbaar. Sy is regtig nie vandag lus vir nog ’n Gautenger nie.
“Dit was die laaste hamper, Ouma. En byna het ’n arrogante Gautenger dit voor my weggesteel, nes hy my parkeerplek gegaps het. Ek hoop regtig nie ek loop hom weer raak tydens die feestyd nie.”
“Klink my jy het omtrént ’n slegte oggend agter die rug. Die kanse is skraal dat jy hom weer sal sien as jy die toeristeplekke vermy,” gee haar ouma raad.
“Ouma wil nie weet nie,” begin Alinda afpak toe haar selfoon lui. Sy sien dis Louis.
“Linkie, gaan maak solank iets om te drink, asseblief.” stuur sy haar kleinsus weg. Hierdie gesprek gaan nie een vir kleine muise se ore wees nie. Dan trek sy haar vinger oor die groen kol op die skerm en druk die foon teen haar oor. “Louis,” groet sy kortaf.
“Alinda, dis nie wat jy dink nie,” begin hy en Alinda rol haar oë.
“Nee, Louis, foto’s lieg nie. En as jy gedink het jy gaan my laat skrik, het ek nuus vir jou. Ek laat nie met my speel nie.” Sy merk hoe haar ouma se oë rek.
“Laat ek verduidelik, asseblief. Marlene het alles uitgehaal om my te verlei. As jy net my huweliksaanbod wou aanvaar, dan het dit nooit gebeur nie. Onthou, ek is net ’n man, Alinda.”
Dan is dit erger as wat sy vermoed het. Dit irriteer haar ook dat hy al die skuld op Marlene pak. “Het jy by haar geslaap, Louis?” vra sy onheilspellend sag. “En jy beter nie vir my lieg nie.”
“Nee, nee, ek het nie. Ek is jammer, Alinda. Marlene is mooi en sy is ’n gedetermineerde vrou. Dit was slegs ’n oomblik van swakheid. Vergewe my, asseblief.” pleit hy.
“Jy verwag te veel. Ek is ook jammer dit het gebeur, maar ek moes lankal reeds besef het dit gaan nie tussen ons werk nie. As jy nou nie ’n mooi vrou kan weerstaan nie, hoe gaan jy jouself in die toekoms in toom hou? Dis verby, Louis.” Sy sê die laaste woorde met nadruk en lui af.
“Wil jy daaroor praat?” vra haar ouma sag.
Sy kyk haar ouma vas in die oë. “In een opsig was Ouma reg, Louis is nie die regte man vir my nie. Ek dink nie die regte een bestaan nie. Op die oomblik verkies ek om manloos te bly. Om op die rak te bly sit, klink vir my glad nie na ’n slegte idee nie.”
“Ons praat weer wanneer die regte man voor jou te staan kom. Die een wat jou knieë lam maak en jou binnegoed bollemakiesie laat slaan,” kom dit kalm van haar ouma.
“Is dit hoe Ouma oor oupa Johannes gevoel het?”
“Jou oupa was ’n man van min woorde, maar in die klein dingetjies wat hy vir my gedoen het, het ek geweet hy het my lief. Tot aan die einde het ek nog ’n opgewondenheid ervaar wanneer ek hom onverwags sien.” Daar is ’n mymerende uitdrukking op haar ouma se gesig.
’n Gevoel van spyt bekruip Alinda, want sy is oortuig sy sal nooit daardie soort liefde ken nie. “Ek gaan swem,” sê sy vinnig.
Ná die dag wat sy beleef het, het sy ontlading nodig. Ook om hierdie simpel ontevredenheid te onderdruk. Sy weet mos dinge sal soveel makliker wees sonder ’n man met allerhande eise in haar lewe.