Skip to main content

Uittreksel | Blou moord

Een

Vir party mense is dit die beste van tye, vir party die slegste. Daar is iemand wat dit baie duidelik maak sy glo ek en my ma val in die eerste kategorie, en sy in die tweede.

Dis Woensdagoggend. Ek sit op die rand van die bed en maak my skoenveters vas, en wag dat sy my kom ontbied.

Felicity is al ’n hele ruk in ’n goor luim – nee, bui – en jy moet dit weet ook. Sedert die begin van die week rev sy dit harder. Vader alleen weet hoe dit nog kan opbou, want ons vertrek eers in die middel van die maand.

Dis die rede, al sal sy dit nooit sê nie. Ons gaan mos iewers heen terwyl sy hier by 14de Laan 5 sal moet bly. Maak nie saak dat dit my ma se eerste vakansie in jare is nie. Maak nie saak dat dit haar ver­jaardaggeskenk van oom Dippie is nie.

My kamerdeur vlieg oop sonder dat daar geklop word.

“Kos is reg.”

Terug is Felicity in die gang af.

Só is dit elke oggend. Ek weet al om teen halfnege klaar in die bad­kamer en aangetrek te wees. G’n niks van ’n laatlêery meer nie.

Ek loop kombuis toe in die hoop dat sy al uit is. Agtertoe. Dat sy klaar op die trappies voor haar kamer sit en rook, die grys wolkies bo haar kop ’n eggo van haar misnoeë met my en my ma se oortreding.

Maar nee, hier is sy by die stoof. Ek moet langs haar inval om die deur oop te trek.

Die bord kos binne-in lyk net so min lus vir my as ek vir hom. Nou nie dat ek self veel meer in die kombuis kan uitrig as worsies braai nie, maar ontbyt moet die maaltyd wees wat die moeilikste is om op te neuk.

Wel, Felicity kan. Sy kan en sy hét. Die roereier en spek is koud – dit het ek reeds geweet toe ek met die oopmaak min hitte teen my wange voel. Daarom ook die gestolde poeletjies vet al om die kos. Daarmee saam twee snye swart toast.

“Dankie,” sê ek maar terwyl ek afsit na die ketel toe. Dit het darem onlangs gekook, voel ek. Ek kry ’n koppie reg en gooi ’n teelepel Raad­saal en melk en twee suikers in.

“Is my ma al uit?”

“Jy weet mos.”

My ma is nog nie besig om die wêreld te red nie. Vir eers net die Kaapprovinsie, want jy moet klein begin. Soveel mae om te voed, soveel koppe om te ontluis.

“Hoe lyk jou dag?” wil Felicity weet, en dis ’n lokval.

“Nie te besig nie.”

“Hmm.”

Ek sal nie die aas vat nie, al kan ek vir haar sê ek het net die ander dag ’n raaisel opgelos – ’n saak opgelos. Iets wat ek nie sou kon gedoen het as ek soos ander vier en twintigjariges ’n vaste werk gehad het nie.

Met die kos en koffie op ’n skinkbord, verlaat ek die kombuis. Ek sak op my gewone stoel in die sitkamer neer en begin eet dat dit kan opraak. By gebrek aan iets soets. Het gisteraand die laaste Nutties geëet terwyl ek A Tale of Two Cities ’n tweede kans gegee het.

Wat soos volg begin:

It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of light, it was the season of darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair.

Ek het dit nooit ’n behoorlike eerste kans gegee nie. In my tweede jaar op Stellenbosch – 1976, die jaar wat ek darem nog voltooi het – was dit een van die vyf Engelse boeke wat ons tydens die Junie-vakansie moes lees. Mal soos ek is oor lees, raak dit ’n ander saak as jy móét. Toe vra ek maar voor die eerste English Literature-periode van die derde kwartaal vir ’n ou wat in al die moet-lees-boeke gebeur.

Daardie Charles Dickens-roman, het ek darem geweet, is oor die Franse revolusie. Ek het ook geweet Dickens kan lekker stroperig raak. En ek kon nog groot stukke van die plot onthou uit die Classics Illustrated-weergawe.

Al was ek meer positief ingestel, sou die dosent nog steeds die boek vir my bederf het met haar verbete poging om daardie eerste paragraaf met ons Suid-Afrikaanse omstandighede in verband te bring. Hoe meer sy probeer het om die age of foolishness met die NP se bewind gelyk te stel, en die struggle-beweging met ’n epoch of belief, hoe meer kon ek Dickens in sy graf hoor omdraai. Hoe meer sy ons land se groot wit stede met die townships gekontrasteer het, hoe meer het ek gewonder of sy dan nie onthou die boek gaan oor Londen en Parys nie.

Maar hoe ook al, ek het nie gisteraand ver met A Tale of Two Cities gevorder nie. Dit herinner my te veel aan daardie tyd in my lewe. Onderbroke kursus. Onvoltooide graad.

Die lys is lank. Dwarsdeur my skool- en universiteitsloopbaan (moenie die aanhalingstekens vergeet nie!) het dit gevoel of ek nooit iets kan klaarmaak nie. Dalk het ek net geen deursettingsvermoë nie, het ek begin dink. Dit moes mos wees. Ek wou myself seker net verontskuldig deur te dink dis omdat die onderwerpe my nie genoeg interesseer nie.

Dalk plein dom?

Met die army het ek wel klaargemaak. Geen keuse dáár nie. Maar die sekonde toe ek uit is, was ek terug op my ou weë.

En nou, die nuwe ek?

Ek ontdek nog hoe hy presies werk.

“Halloouuuu!” roep my ma. Te oordeel na die akoestiek is sy nog nie mooi by die voordeur in nie. Doef! gaan dit agter haar toe en die vol­gende oomblik, asof uit ’n kanon gevuur, is sy by die sitkamerdeur. “Jy’s mooi vroeg op.”

“Ek’s elke oggend dié tyd al –”

Sy’s by my en gee my ’n soen op die wang. Vat die servet en vee langs my mond skoon.

“Ludo, jy moet onthou om Sylvasun-tablette te kry.”

“Ek het nog, Ma. En ek brand mos nie gou nie.”

“Eerder bang Jan as dooie Jan. Oom Dippie sê tannie Una sê die nat seisoen is nou amper verby daar en wanneer dit nie reën nie, is die son gevaarlik.”

Partykeer behandel sy my soos iemand tien jaar jonger. ’n Dikbek, veertienjarige kind wat nie weet hy het pille teen sonbrand nodig as hy lank by die see gaan wees nie. En dis nog meer as ’n week voor ek eens stadigaan sal begin dink aan inpak!

Ek sweer, hoe nader ons aan hierdie wegbreek kom, hoe meer won­der ek . . .

Maar ek lieg. Wie sal nee sê om na ’n eiland te gaan?

Dis nie die oorspronklike plan nie. Oom Dippie sou my ma op ’n seereis neem vir haar verjaardag, en ek was ingesluit by die groot be­derf. Toe hoor ’n vrou genaamd Una Steenkamp by hom daarvan, en dring aan dat ons saam met haar op “haar eiland” gaan uitspan.

“Maar Dippie,” het ek my ma oor die foon hoor sê, “ons kan mos nie dat sy vir ’n hotel betaal én dan vir ons verblyf gee nie!” Sy het stil geraak, toe uitgebars van die lag.

“Wat was so snaaks?” het ek gevra toe sy aflui.

“Ag . . . Oom Dippie was net stuitig.”

“Ja?”

“Dis net iets wat hy gesê het.”

“Wat?”

“Jy moet dit net nie herhaal nie, hoor.” My ma het liggies gebloos, wat opnuut geïllustreer het dat haar haarkleur nie by haar ligte vel pas nie. Sy raak steeds al hoe blonder met die ouderdom.

“Vir wie sal ek nou oorvertel?”

“Hy’t gesê ek moet my nie bekommer oor hoeveel geld tannie Una uitgee nie . . .” Sy het weer aan die lag geraak. “Want Una is mos ryker as liewe Jesus!”

Nou vra ek: “Hoeveel mense het intussen bygekom?”

Want hulle was aan die vermeerder.

“So ’n klompie.” Sy bestudeer my gesig. “Toe maar, dis darem nie net ons oueres nie. Daar gaan van hulle kinders ook saam.”

Net wat ek nodig het.

Toe, oom Ludo – speel met my!

Terwyl oom Ludo nie eens met kinders gespeel het toe hy self ’n kind was nie.

“O!” My ma kyk op haar horlosie. “Kyk waar staan die tyd al! Dippie kom my nou-nou oplaai.”

Uit is sy. Haar liefdestake is soos een groot skip wat voortbeur oor ’n woeste see – en met getroue bemanning en al is sy die enigste met ’n sin vir rigting. Kaptein Therese moet die Helpende Hand tot in stiller waters navigeer voordat sy die stuur ’n ruk lank oorgee.

Ek het dié wegkomkans nodiger as sy. Weg van die huis skuins oorkant ons, 14de Laan 8, waar ’n sekere Yolanda Brandt woon. Swanger met Hentie se kind. ’n Feit wat my elke dag herinner dat my twee beste vriende bymekaar is en dat dit so bedóél is. Hulle sal voortaan al hoe meer opgaan in dinge wat slegs bedoel is vir twee mense saam.

Die swangerskap.

Die geboorte.

Die doop.

Die kind, die kind, die kind.

Maar juis deur weg te gaan laat ek die beste manier om dit te verwerk agter. Hiér het ek dan my basis. Vanuit hierdie huis moet ek nuwe sake vind en oplos: een ’n maand, soos ek besluit het. En terwyl dit wel ’n tydelike ontsnapping sal wees, wonder ek al hoe meer:

Ek op ’n eiland – goeie idee, of ramp?