Skip to main content

Uittreksel | Belle, met die hart vol blomme

Een

“Jy kan. Jy sal. Jy wil. Jy moet. Jy flippen beter! Doen. Dit. Net.” Al sê Belle die rympie hoeveel keer hardop vir haarself, kry sy nie haar ledemate sover om in die Uber te klim wat vyf minute gelede al hier langs haar gestop het nie.

Op en af loop sy met die sypaadjie; vermy die bestuurder se vraende blik. Die arme man sit en wonder seker of hy die besete vrou moet oplaai of net suutjies moet verdwyn. Hy beter wag. Sy het reeds betaal vir die rit van haar huis in Baillie Park na een van Potchefstroom se luukse trouvenues.

“Ekskuus tog. Is jy Belle Blomerus wat die Uber bestel het?” Dis die bestuurder wat uitgeklim het en oor die silwer Corolla Cross se dak vir haar kyk. Sy stem is rustig, hees. Iemand met al die tyd in die wêreld.

Nou skiet haar voete vervaard wortel. Diep. Angstig. Tot in die diepste krake van die aarde. Sy vou haar arms voor haar, kyk hom paniekerig aan.

“Ja. Nee. Ek is Belle Ferreira. Ek bedoel. Blomerus. Ek het. Dis ek.” Vir ’n sekonde huiwer haar oë in syne. Kakiekleurig? Of is dit geel met ’n titsel groen in? Aards. Standvastig soos die grond onder haar voete.

Klim net in.

Hy stap om die motor, maak die passasiersdeur aan haar kant oop. Hoop seker sy wil nou rigting kry en inklim sodat hy sy volgende passasier kan gaan oplaai. Dis Saterdag en reeds skemer. Die nagwolwe kom mos nou uit om partytjie te gaan hou. Die mense met ’n lewe.

Sy kyk orals behalwe na hom. Tog kan sy nie sy leeukleurige oë vermy nie. Sy ligte hare is kort geskeer, veral rondom sy agterkop. Voor is dit effe voller gelaat. Haar eks, Rupert, s’n is donkerder, langer en altyd netjies agteroor gekam.

Sy kyk vinnig weg toe die bestuurder se oë in hare bly boor. Hy probeer weer in haar gesigveld kom.

“Hierdie rooi rok lyk absoluut pragtig aan jou. Wat jy ook al vrees, jy hoef nie. Jy gaan harte breek.” Hy beduie vir haar om in te klim; dalk so effe geïrriteerd? Ja, hy kyk op sy horlosie.

Harte breek. Sy? Háár hart is gebreek. ’n Histerie wil haar oorval, ’n angsaanval uit die aarde se onderwêreld. Daar waar die genadelose Hades die gevallenes straf sonder om na hul smeekbede te luister. Dalk is dit veiliger daar as waarheen sý op pad is.

Kan sy nie net vanaand wegbly nie? Moes sy nié die rooi rok aangetrek het nie? Lyk sy te desperaat? Rupert se geliefkoosde kleur. Sy het die rok met oorleg gekies. Dis ’n dramatiese, nommerpas aandrok. Soos ’n filmster s’n uit die sestigs wat die manlike held se knieë lam sou gemaak het. Dit sit styf om haar middel en teen haar bene af tot by haar knieë en boonop dra sy rooi kanthandskoene daarby. Haar lippe is dieselfde rooi.

Sy weet sy lyk mooi. Wou sy dalk vir oulaas kyk of sy vir Rupert kan terugwen? Die bestuurder leun agteroor teen sy motor. Geensins haastig nie; glimlag skeef, praat rustig, sy stem strelend, gemaklik.

“My naam is Killian Potgieter. As dit sal help om jou gerus te laat voel, ek het Sielkunde 101 op universiteit gehad. Lank gelede. Seker al vyftien jaar terug. Dalk kan ek help of ten minste ongevraagde raad gee? Wat pla jou?”

Hy lyk diep in sy dertigs. Soos Rupert.

“Dankie.” Vir die kompliment. “Hoe weet jy ek’s nie dalk op pad na ’n begrafnis nie?” vra sy om nog ’n bietjie tyd te wen. Hoe kan sy aan ’n wildvreemde man verduidelik dat sy na ’n klein onbewoonde Europese eiland wil vlug, in ’n grot in, ver weg van hierdie dag en hierdie mense. Weg van hierdie plek waar haar lewe ineengeplof het. Weg van die funksie waar almal haar gaan bejammer en agter hul hande beskinder.

“Wel, as jy by my begrafnis opdaag en jy lyk só, kry ek nuwe lewe en klim waaragtig uit daardie kis.” Hy grinnik. “Kom ek raai. Jy is op pad na ’n funksie en jy is alleen. Geen ring aan jou vinger nie, maar daar is tog ’n aanduiding dat daar nie te lank gelede nie ’n ring aan was.”

Sy vou haar regterhand oor die ringlose linker een. Kan almal sien sy’s ’n geskeide vrou?

“Jy lyk nie opgewonde of lus vir die besigheid nie. Dalk iets met jou eks te doen?” vra hy met ’n opgetrekte wenkbrou.

’n Blos brand oor haar wange. Sy trek haar asem diep deur haar neus in. Nog dieper. Blaas dit dan stadig deur ’n gleuf tussen haar lippe uit. Nog ’n keer. Nóg ’n keer. Die tuine om haar ruik na lentebloeisels. Net sy is nog yskoud en dood van binne, vol vrot, ou winterknoetse wat weier om ’n groen botseltjie uit te stoot.

“My ma, Jill, hou Urbanol-kalmeerpille in haar handsak vir tye soos hierdie. Sy’s ’n ghoeroe. ’n Lewensafrigter en raak steeds paniekerig wanneer sy groot gehore moet toespreek.”

“Potgieter? Jill? Ek ken haar! Of wel, ek het al na haar praatjies geluister. Op YouTube.” Belle kyk hom vol in die oë; wonder of sy hom kan vertrou. Ja. Die storie borrel sommer uit.

“My eksman raak verloof aan my beste vriendin. Dis waarheen ek moet gaan.” Haar stembande trek dun. Sy byt haar lippe styf teen mekaar vas. Die egskeiding is al ses maande gelede afgehandel. Hoe kan sy nog wil grens oor ’n man wat haar nie wil hê nie? Boonop het sy en Letitia dinge mos uitgepraat? Haar en Rupert se verhouding het eers ná die egskeiding vlamgevat. Sy glo haar mos? Absoluut.

“Shit.” Killian fluit ’n kommerdeuntjie. “Sherwood. Dis mos waarheen ek jou moet vat? Fancy venue. Het hý die geld, of sy?”

“Letitia het. Of eintlik haar ouers. Sy’s met die silwerlepel gebore. Of is dit goud? Ek ken haar al van laerskool af.”

Kon sy nie maar haar eie man gaan soek het nie? Hoekom nou vir Rupert vat? Ja, Rupert sou seker eendag weer trou, maar haar beste vriendin?! Toegegee, hulle werk wel saam by sy prokureurspraktyk en is gemaklik met mekaar. Ken mekaar so lank as wat sy hom self ken.

“Klim in.” Killian neem haar aan die elmboog en stoot haar liggies in die rigting van die oop deur.

“Nee, maar ...” Sy retireer.

“Jy lyk stunning. Niemand gaan jóú bejammer nie. Hulle gaan hóm jammer kry.”

Sy klim in die motor en hy maak die deur agter haar toe. Dan skuif hy agter die stuurwiel in en maak sy veiligheidsgordel vas. Die motor is skielik gevul met die geur van sy naskeermiddel. Iets wat haar aan ’n groen dennewoud laat dink. Dis kalmerend.

“Belle Blomerus. Jou koets is reg. Hier gaan ons.”

Hy trek weg. Iemand wat weet dat die motor wat hy bestuur genoeg perde onder die enjin het om ’n lawaai te maak as dit nodig is. Die afstand tot by die Sherwood Forest Lodge is heeltemal te kort. Eintlik is alles in Potchefstroom redelik naby aan mekaar. Die luukse plek is op ’n plaas net buite die dorp waarop ’n bloekomwoud is; nie regtig ’n Engelse woud soos die naam Sherwood impliseer nie, maar steeds baie bome en ’n koel atmosfeer. Sy wens Robin Hood en sy vrolike manne kan haar ontvoer voordat sy dié woud betree.

Killian bestuur die voertuig ewe behendig en kyk so nou en dan vir haar in die truspieëltjie. Sy oë werk gerusstellend op haar gemoed in. Sy voel sowaar kalmer. As ’n aantreklike ou soos hy – selfs sý kan dit sien, haar gebroke hart ten spyt – dink sy lyk stunning, dan is dit so. Dit sal so wees. Haal asem. Haal asem.

“Mag ek vra hoekom julle geskei is?” vra hy net voordat hulle uit die grootpad by die Sherwoodbordjie indraai.

’n Goeie vraag. Sy wonder nou nog. Was sy net nie goed genoeg vir hom nie? Het sy liefde te gou uitgebrand? Het hulle beide te hard gewerk aan hul beroepe? Sy moes immers alles insit om haar blomwinkel ’n sukses te maak. Oortyd werk. Hy ook. ’n Prokureur kan deesdae nie slap lê nie. Dis ’n veeleisende werk. Maar sy is dan nog steeds lief vir hom. Kon hy nie maar net gebly het en weer probeer het soos sy hom gesmeek het om te doen nie?

“Jammer, ek is nou te persoonlik.” Hy parkeer die motor voor die imposante hoofgebou se oopgesperde houtdeure wat onder gewone omstandighede ’n mens vrolik sou binnenooi. Omring deur bome is dit eintlik ’n lieflike prentjie met ’n spuitfontein waar ’n staalbeeld van Robin Hood op die klippe staan en met sy pyl en boog die lug in skiet. Sy wil hom antwoord, maar sy weet nie wat om te sê nie.

“Is Blomerus jou getroude van?” vra hy toe hy die deur vir haar oophou asof sy ’n prinses is wat nou die bose prins se bal gaan bywoon.

“Nee, my nooiensvan. Ek is ... wás mevrou Rupert Ferreira.” Sy klim uit, staan ’n rukkie stil om seker te maak dat haar bene nie onder haar meegee nie.

“Dankie, Killian. Seun van Jill Potgieter. Jy’s ’n ware ridder.” Dit klink seker laf, maar die onthou van dié feite maak dat sy rustiger voel.

Sy kyk vir oulaas in sy kakiebruin oë, na sy wit hemp, rooi das en swart langbroek; tel dan die reuseblompotte wat tot by die ingang van die gebou lei, luister na die gekabbel van die water, die gekwetter van tarentale in die verte wat op pad is na hul lêplekke en stap doelgerig, tree vir tree, na die gapende bek van die houtdeure. Dit lyk monsteragtig. Asof dit haar gaan insluk; al sweef strelende, klassieke musiek haar deur die gaping tegemoet. Sy tel die treë tot by die ingang; tel dit verder tot by die eerste kelner wat met ’n skinkbord sjampanjekelkies gereed staan. Sy sluk een glas weg, sit dit terug en neem nog een vir wat volg.

Reeds is daar sowat ’n honderd mense teenwoordig. Almal gesels en glimlag dat die tande glinster; sjampanje in die hand, gesonde bankbalans in die agterkop, en met geen van die gewone mense se gebruiklike aardse probleme in gedagte nie. Elkeen uitgevat in die heel beste boetiekklere. Die vroue was seker almal die middag by die haarkapper. Altans, so lyk dit. Belle ken darem ’n paar van Rupert se werksmense; diegene wat haar met ’n geforseerde, bejammerenswaardige glimlag groet, kopknik, en dan half ongemaklik wegdraai. Seker om háár te bespreek.

Sy stop, wil omdraai, sluk bewerig van die sjampanje. Letitia storm op haar af; uitgevat in ’n fantastiese goue skepping wat by die goue pand om haar ringvinger pas. Beslis is haar vriendin vanaand in die sewende hemel. Alles aan haar skitter; haar groen oë, haar ring, haar tande én haar rooiblonde hare. Is daar glitter in? Belle se eie blonde hare voel nou pap en ellendig op haar kop al het sy die hele middag tyd daaraan spandeer.

“Belle! Ek is só bly jy kon kom.” Sy staan nader, fluister naby aan haar oor. “Ek weet dit is awkward vir jou, maar ek weet ook dat my geluk vir jou baie beteken.” Letitia soen die lug aan beide kante van Belle se gesig soos die Franse dit doen.

“Hallo, Letitia. Jy lyk asemrowend.” Die sjampanje in haar bloedstroom help haar om ’n glimlag op te tower. Sy hoort nie hier nie.

“Jy lyk nét so pragtig.” Letitia lag, vra dan weer saggies-skelm. “Jy wil nie dalk jou eks kom terugvat nie, nè?” Sy giggel stout, seker van haar saak en van haar toekomstige man. “Waar ís hy? Dié Rupert kan so maklik verdwyn. Jy moes hom seker altyd aan ’n stywe leiband gehou het, nè?”

Dalk moes sy. Dan sou hy nie soos ’n blerrie sleg hond kon wegloop nie. Belle bly glimlag.

“Rupert!” roep Letitia luidrugtig. “Daar’s hy.” Sy waai vir hom. “Kom hier, Belle het opgedaag. Ek het jou gesê sy sal kom.”

Móét sy so hard praat dat almal haar tot in Kuala Lumpur kan hoor, wonder Belle geïrriteerd. Rupert se glimlag is plastiek. Hy gooi sy bruin kuif agtertoe, kyk diep in Belle se oë en knik goedkeurend.

“Jy lyk mooi, Belle. Dankie dat jy gekom het. Letitia wou niks daarvan weet dat jy wegbly nie. Julle is immers besties.” Hy druk haar liggies met een arm om die skouer, asof sy ’n aansteeklike siekte het. Dan draai hy na Letitia, soen haar teen die slaap en vou sy arm besitlik om haar slanke middel.

Dit lyk meteens vir Belle of Letitia ’n bietjie om die middel uitgesit het. Sy het dan altyd ’n perfekte uurglasfiguur gehad?

Belle skud die suur gedagtes van haar af. Altans, sy probeer ten minste. Sy glimlag breed, sluk nog sjampanje, wil skielik die inhoud van die glas oor beide die mense voor haar uitskiet en weghardloop. Dis nie reg nie! Níks hiervan is reg nie. Vyf jaar gelede het sy so langs Rupert gestaan, dolgelukkig met drome in haar oë. Toe het Letitia aan hierdie kant gestaan waar sý nou is, uitgesluit van die liefdesaura wat haar en Rupert omring het.

“Het jy alleen gekom?” Letitia slaan haar hand kamma geskok oor haar mond. “Ek is jammer; ek besef dat dit moeilik vir jou moet wees. Om so vinnig weer ’n liefdesmaat te kon kry. Ek en Rupert was seker maar net gelukkig ...” Sy glimlag op in sy oë.

“Skat, jy weet mos Belle moet eers oor mý en ons mislukte huwelik kom. Sy’s nie die impulsiewe aanbeweegtipe nie.” Rupert glimlag terug in sy verloofde se oë; asof Belle se verwerking van hul mislukte huwelik niks met hom te doen het nie. Duidelik gee hy nie om of sy oorkom of omkom of nie.

’n Vlammende besef vonk deur haar brein, skiet af deur haar lyf, af, diép af ondertoe, regdeur haar ruggraat en brand deur haar voetsole; smelt in die vloer vas en borrel soos lawa in haar hakskoene. Dalk het sy tot dusver nog gehoop dat Rupert terug gaan kom. Dalk het sy in ontkenning geleef. Ses maande is immers nog nie lank om aan die gedagte van alleenwees gewoond te raak nie. Die vonk wat nou as ’n woedende krieweling terugskroei deur haar ruggraat en op pad is na haar mond, is beslis die tweede fase van haar rouproses. Woede oor die dood van haar huwelik wat skaars vyf jaar oud was, skroei deur haar gemoed. Haar mond gaan oop. Sy gaan ’n vreeslike spul woorde oor dié twee verraaiers uitspoeg. Dit gaan lelik wees. Sy wil dit keer, maar dit kom soos gif uit haar mishandelde hart, vloei soos ’n rivier van verwoesting oor haar tong. Maar voordat sy ’n enkele klank kan uitspoeg, vou ’n warm arm om haar middel en nog warmer lippe soen haar teen haar slaap. ’n Aura van sagte groen denneblare omvou haar.

“Kalm bly, Belle ...”

Dis die Uber-bestuurder se sagte fluistering wat haar eensklaps duiselig laat. Sy was so reg vir die toorn om sy loop te neem. Nou is sy half onvas op haar voete weens die vernietigende golf wat teruggetrek het. Net ’n sidderende bewerigheid bly agter in haar are.

Killian hou haar regop. “Jammer ek het so lank geneem, Belle, maar ek kon omtrent net die verste parkering kry.” Hy hou sy hand na ’n duidelik verbaasde Rupert uit. “Hallo, ek neem aan jy’s Rupert? En Letitia? Ek is Killian Potgieter, Belle se ander helfte.”