Skip to main content

Uittreksel | Bakens van geloof

1
God wil jou seën

Voordat ons by die getuienisse kom, moet jy eers besef dat God jou wíl seën. Hy wil jou met alle mag bevoordeel en jou bederf met wonderlike goeie goed. Dit is wie Hy is! As jy dit nie geweet het nie of dit nog nooit besef het nie, dan moet ek jou eers gou hierdie Skrifgedeeltes wys. God het dit in sy Woord geskryf, sodat jy dit vir seker kan weet. God wil jou seën!

God het jou eerste gekies
Nog voor God die aarde en alles daarop geskep het, het Hy ons almal vir Hom uitgekies om sy kinders te wees. Efesiërs 1:4: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.” Hy het ons almal eerste gekies. Daarna kry elkeen van ons die geleentheid om Hom te kies. Sommiges verkondig ’n uitverkiesingsleer wat nie ooreenstem met God se Woord nie. God kies nie net sekere mense en laat die ander doelbewus uit nie. Hy kies almal van ons om Syne te wees. God gee egter aan ons ’n keusevryheid om Hom te kies. Hy forseer Hom nie op ons af nie en Hy manipuleer ons ook nie. Al ons keuses het gevolge.

God wil jou seën
God het reg aan die begin van die Skepping reeds die diere en die plante geseën om te vermeerder en die aarde te vul. In Genesis 1:28 seën God die mens om vrugbaar te wees, te vermeerder, om die aarde te bewoon en te bewerk en om te heers oor die Skepping.
Deur die mond van Jeremia praat God met sy volk wat in ballingskap sit. Hulle is moedeloos en sien geen uitkoms nie, maar God praat hulle moed in met hierdie woorde in Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”
God bemoedig ons vandag nog met dieselfde woorde. Dit is steeds sy begeerte vir elke mens op aarde. God skep elke mens met ’n baie spesifieke lewensdoel. Hy begeer dat niemand verlore sal gaan nie. God het nie verander nie. Hy is steeds die God wat wil seën.
Hy spreek juis hierdie bemoedigende woorde terwyl die Israeliete in ballingskap weggevoer is. God beplan nie teenspoed nie. Hy beplan net voorspoed vir jou.

God maak nie onderskeid nie
Hy maak nie onderskeid tussen mense nie. Petrus sê in Handelinge 10:34-35: “… Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.”
God neem elkeen aan wat Hom as Vader kies. Hy maak geen onderskeid nie. God wil vandag nog elke mens op aarde seën. Net soos ’n goeie pa goed vir sy kinders wil sorg, wil God ook vir sy kinders goed sorg.
Matt. 7:9-11: “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of ’n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
God begeer goeie dinge vir elkeen van ons.

God wil jou bevoordeel
Wanneer Hy ons seën, bevoordeel Hy ons. God trek nie een kind voor nie. Hy wil graag hê dat al sy kinders die goeie dinge moet ontvang wat Hy vir almal van ons in gedagte het.
Daar is egter ’n baie spesifieke rigting waaruit die seëninge van God kom en ons moet in daardie rigting kyk. Deuteronomium 11:27: “... die seën sal kom as julle die gebooie van die Here julle God gehoorsaam ...” Ons gehoorsaamheid roer God se hart so dat dit sy seëninge ontsluit.

’n Belofte van seën is soos ’n reddingsboei
Die seën sal kom ... Hierdie woorde gee hoop wanneer ek hoop verloor het en geen uitkoms sien nie. Hierdie belofte van God is soos ’n reddingsboei waaraan ek kan vashou. Soms moet ek vasbyt, moed hou, uithou voordat ek die seëninge van die Here God sien kom, maar sy beloftes staan vir altyd vas. Hou moed. Staan op hierdie belofte. Dien die Here met jou hele hart. Moenie vaskyk in jou onmiddellike omstandighede nie. Oefen jou geloofsoë om die onsigbare te kan sien. Kies elke dag van voor af om God te eer. Moenie moed verloor nie. Hou vas aan hierdie belofte soos aan ’n reddingsboei.

God se guns kan jou van agter af inhaal
Deuteronomium 28:2: “En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God.” (1933/53-vertaling) Sjoe! Dit klink nog beter. God se guns kan jou van agter af inhaal. Selfs al kom jy eers laat in jou lewe agter dat daar seëninge is waarvan jy nie geweet het nie, dan kan daardie seëninge jou van agter af inhaal.
God se guns is nie lukraak of onvoorspelbaar nie. Hy het lankal reeds ’n besluit geneem dat Hy ons as sy kinders wil seën. Ek kan kies om my te posisioneer in ooreenstemming met die guns van God. Regdeur die Bybel moes mense besluite neem wat ’n impak gehad het op die aardse seëninge wat hulle ontvang het en die ewige lewe. In Deuteronomium 30:15-20 gee God aan die Israeliete ’n keuse. Elkeen van ons het vandag nog hierdie selfde keuse.
Deuteronomium 30:15-20: “Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ’n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”
Ons kies elke dag tussen lewe en dood, voorspoed en teenspoed. God wil hê ons moet die lewe kies.

Jy kan kies
Sien, dis nou die ding van keusevryheid. God het ons geskape om self te kan kies. Ons is nie sy pionne nie. Ons kan kies om God lief te hê of Hom te verwerp. Ons kan kies om in ’n verhouding met Hom te staan of om geen verhouding met Hom te hê nie. Ons kan ook kies om Hom net op ’n afstand te bewonder. Ons het altyd ’n keuse en elke keuse het ’n gevolg. Soos ’n goeie vader sê God al vooruit vir ons as ons die lewe kies, sal dit met ons goed gaan. Hy sê eintlik in vers 19: “Kies die lewe …” Hy maak ’n baie sterk aanbeveling, want dit is wat Hy vir ons begeer. God wil ons seën. God wil hê dat ons voorspoedig sal wees. Soos enige goeie ouer wil God ook hê dat sy kinders voorspoedig sal wees. Dit is nie God se wil dat jy sal krepeer van ellende nie. Ja, almal van ons gaan soms deur moeilike tye, maar God het nie vir Jesus aarde toe gestuur om die Satan en die dood te oorwin sodat jy ’n gevangene moet wees van jou vrese of moeilike omstandighede nie. Hy het juis gewen sodat jy kan wen.

Voorspoed is vir almal
Anders as wat jy dalk mag dink, is lewe en voorspoed nie iets wat net toevallig met sommige mense gebeur nie. Lewe en voorspoed is vir almal van ons beskore. Lewe en voorspoed is ’n keuse. Lees weer Deuteronomium 30:15-20.
Ons keuses word egter beïnvloed deur ons hartsgesindheid. As ek onvergenoegd, jaloers, afgunstig, afbrekend, katterig, kwaad vir almal of hoogmoedig is, sal dit my keuses negatief beïnvloed. ’n Negatiewe gesindheid sal veroorsaak dat ek keuses maak wat beperkend is, wat my bo ander bevoordeel. Hierdie keuses word dikwels beïnvloed deur wat mense van my dink en nie wat God van my weet nie.
As ek egter vol vergifnis en genade vir mense is, ander aanspoor en ondersteun, goedhartig, gasvry, vergenoegd, opbouend, vriendelik en nederig is, sal dit my keuses positief beïnvloed. ’n Positiewe gesindheid veroorsaak dat my keuses bevrydend is en God se mening vir my belangriker as die mening van mense is.

God dra jou belange op die hart
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet ...” – Romeine 8:28 Selfs al gebeur daar daagliks uitdagende goed rondom jou, sal God alles ten goede laat meewerk vir jou wat Hom liefhet, wat Hom in alles eerste stel. Wanneer ons kies om God ’n prioriteit in ons lewe te maak kies God om dit wat vir jou belangrik is sy prioriteit te maak. Hy dra jou belange op die hart. Selfs die skrikwekkendste gebeure kan God omkeer sodat dit jou uiteindelik onverwags kan bevoordeel.
Hebreërs 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
Byt vas, hou moed, beoefen geloof in God wat reeds die uitkoms ken, want die seën sal kom … Ek baklei nie in die vlees nie, maar in die gees. Ek onderwerp my aan God en laat toe dat Hy God kan wees in my moeilike omstandighede. Ek hoef nie my humeur te verloor of vir iemand ’n stink e-pos te stuur om hom sleg te sê of te manipuleer nie. Ek kan God innooi in daardie uiters uitdagende situasies en Hom vra om alles ten goede te laat meewerk vir my wat Hom liefhet. Terwyl ek geloof beoefen, kan Hy vir my alles ten goede laat meewerk. Ek herinner myself baie graag aan hierdie Skrif wanneer die lewenstorms dreig om my te oorweldig. Ek hou hieraan vas wanneer daar niks meer oor is om aan vas te hou nie.

Seën volg op ons gehoorsaamheid
Deuteronomium 11:26 sê dat ek ’n keuse het: “Let op, ek hou julle vandag die seën en die straf voor: die seën sal kom as julle die gebooie van die Here julle God gehoorsaam, wat ek julle vandag gee ... God se seën volg ons gehoorsaamheid. Dis eers die gehoorsaamheid, daarna die seën.
Johannes 14:21: “Wie My opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet.” My gehoorsaamheid aan God wys vir Hom hoe lief ek Hom het. My liefde vir God veroorsaak dat ek met groot vrymoedigheid en oorgawe aan Hom gehoorsaam wil wees. Wanneer God my gehoorsaamheid sien, seën Hy my asook die uitkoms van alle uitdagende omstandighede waarin ek my mag bevind. God se seën beteken altyd dat ek bevoordeel word. Sy seën kan deur niemand anders as ek gestuit word nie.
The Passion Translation sê so mooi in Johannes 14:15: “Loving me empowers you to obey my commands.” My liefde vir Christus stel my in staat om Hom onvoorwaardelik te vertrou en so aan Hom gehoorsaam te wees. My liefde vir Christus veroorsaak dat ek vrywillig kies om sy wil uit te voer. My liefde vir God is die sleutel tot alle seëninge. My liefde vir Hom verander my hart sodat dit gelaai word met ’n positiewe gesindheid, wat op sy beurt weer my keuses beïnvloed.

Hoe lief het jy Hom?
Om gehoorsaam aan God te wees kom nie vir ons natuurlik nie. Dit ontstaan slegs uit ’n noue verhouding met Hom, want dit is Hy wat ons die gewilligheid gee en wat ons ook daartoe in staat stel om enduit gehoorsaam te kan wees. Filippense 2:12-13: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
Hierdie verhouding vra jou hele hart van jou. Wanneer ons God net met ons kop gehoorsaam, is dit wetties. God begeer eintlik jou hart. Hoe lief het jy Hom? Hoe dikwels en hoe diep vertrou jy Hom in jou moeilike omstandighede?
The Passion Translation, Johannes 14:21: “Those who truly love me are those who obey my commands. Whoever passionately loves me will be passionately loved by my Father. And I will passionately love him in return and will reveal myself to him.”
Wanneer ons God met oorgawe liefhet, beantwoord Hy ons liefde met dieselfde passievolle oorgawe. Om die waarheid te sê, Hy openbaar Hom aan ons. Hierdie openbaring sien ons dikwels raak in die wonderwerke wat rondom ons gebeur. Wat beweeg God om te reageer? Ons liefde vir Hom en geloof in Hom is daardie een ding wat sy hartsnare so roer dat Hy Hom aan ons openbaar.

Jy hoef niks te doen om te kwalifiseer vir God se liefde nie
As ’n ouer kan ek soms net na my kinders kyk daar waar hulle speel, werk of slaap. Hulle hoef niks merkwaardigs te doen nie en my hart is sommer spontaan vol liefde en ontferming vir hulle. Net so kyk God na ons en sy hart is vol liefde vir ons sonder dat ons enige iets gedoen het. Ons hoef niks te doen om te kwalifiseer vir God se liefde nie. Sy liefde vir ons is ewigdurend. Daar is geen einde aan sy liefde vir jou nie (Psalm 136).
Soos ons kinders groter geword het, kon hulle eers net klein takies uitvoer en soms het hulle my verbaas. Daar was kere wat ’n klein Anika uit haar eie die tafel gedek of vir die gesin kos gemaak het of haar vriendin moed ingepraat het op ’n tyd wat ek dit nie van haar verwag het nie. Daar was kere wat Franco sommer klein-klein vir my ’n drukkie kom gee het waar ek werk of uit sy eie die gras gesny of die vullisdrom uitgesit het of my by die motor kom haal het om die inkopiesakke te dra. Dis daardie oomblikke van spontane liefde en omgee, dankbaarheid en diensbaarheid wat my hart warm laat klop. Kan jy dink hoe God se vaderhart moet klop elke keer wat ons sy teenwoordigheid opsoek of wanneer ons, uit ons spontane liefde vir Hom, goeie dinge doen? Kan jy net dink hoe geweldig trots Hy op jou is wanneer jy teen jou menslike natuur in kies om Hom in alles eerste te stel?

Aanbid Hom in gees en waarheid
Wanneer ons tyd saam met God deurbring, veral in gebed, vind daar ’n tweerigtingkommunikasie plaas. Hoe meer tyd ek in ’n intieme gebedsgespek met God spandeer, hoe meer word my hart en gedagtes verander en vernuwe. Romeine 12:2 “... laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Het jy geweet? Tydens hierdie hartroerende gesprekke met God vind daar selfs ’n fisieke verandering in jou brein plaas. Daar word chemiese stowwe in jou brein afgeskei wat genesend en vernuwend op jou liggaam inwerk. Hoe onbeskryflik goed is die Here. Hy seën ons ongesiens wanneer ons Hom in gees en in waarheid aanbid.
Johannes 4:23: “Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.”
God wil jou altyd en in alle opsigte seën. Kom passievol en in alle eerlikheid na Hom toe. Laat sak jou skanse. Ontbloot jou gees voor God. Moet niks wegsteek soos jy dit vir mense wegsteek nie. Jy hoef nie goed te lyk voor God nie. Wees ten volle geïnvesteer en ten volle betrokke. God tel die gesindheid van jou hart op. Moenie hoogdrawende taal gebruik nie. Wees net jouself. Gaan sit by Hom, begin net praat, huil voor Hom, redeneer met Hom, vra vir Hom al die goed waarvoor jy nie antwoorde het nie, bly soms stil en jy sal hoor God is nie ongemaklik met stiltes nie.
Wanneer ek God met hierdie openheid en deursigtigheid nader, is ek ontvanklik vir die salwing wat God wil gee. Hebreërs 11:6: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Kom met verwagting in jou hart, want God wil jou seën. Hy wil jou bevoordeel, toerus, voorberei en omhels.