Skip to main content

Uittreksel | Aurora

Maandagmiddag
12 Mei 2014

Hy hoor die telefoon se skril geluid toe hy die pastorie se hekkie oop­stoot. Dit lui nog terwyl hy die voordeur oopsluit en vinnig in die lang gang afloop. Maar net toe hy die telefoon se gehoorstuk wil optel, hou die gelui op.

“As dit regtig so belangrik is, sal jy binne tien sekondes weer skakel,” sê Dawid en draai om om solank sy kruideniersware in die kombuis te gaan neersit. Hy skrik nogtans toe die telefoon weer begin lui.

“Dawid Uys wat praat,” antwoord hy versigtig.

“Goeiemiddag. Ek is jammer om u te pla,” sê ’n oorvriendelike vrouestem met ’n sterk Engelse aksent. “Is u dominee Dawid Johannes Uys?”

“Dis reg.” Dit is nie een van sy gemeentelede nie en sy klink nie soos ’n telefoonsmous nie.

“Dominee, kan u asseblief aanhou vir meneer Dave Russel van Goldstein en Russel?”

“Sekerlik.” Dawid gaan vinnig sit. Goldstein en Russel. Die prokureurs van Grahamstad. Wat sou hulle van hom wil hê? ’n Rekening wat nie be­taal is nie? Dalk kerksake? Gelukkig hoef hy nie te lank te wag nie.

“Dominee Uys, jammer om u gedurende u middagete lastig te val, maar ek moes seker maak dat ek u vandag nog in die hande kry, en ek het nie u selfoonnommer nie. Ek is Dave Russel van Goldstein en Rus­sel.” Sy Afrikaans is foutloos.

“Meneer Russel, ek kan nie besluit of ek nuuskierig of bang moet wees nie.”

“Hopelik nie een van die twee nie,” lag die man vriendelik. “Ek moet u eers ’n paar vrae vra. U is Dawid Johannes Uys, gebore op 23 Januarie 1988?”

“Dis reg.”

“U moeder se volle name is Suzette Laura Uys, gebore Van Heerden, gebore op 14 Augustus 1961 en sy was onderwyseres op Grahamstad van 1984 tot 1987?”

“Dit is reg. Ek is nie seker van die jare toe sy op Grahamstad was nie, maar dit kan reg wees.” Dawid sit nou regop. “Meneer Russel, ek weet nie waarheen u op pad is nie.”

“Leef u moeder nog?”

“Nee. Sy is onlangs in ’n motorongeluk oorlede.” Dawid wei nie verder uit nie. Dit maak nog seer om daaroor te praat.

“Ek is jammer om dit te hoor.” Dawid is nie seker of die man simpa­tiek of teleurgesteld klink nie. “Dominee Uys, dit is kort kennisgewing, maar sal dit moontlik wees om môre twaalfuur teenwoordig te wees by die lees van oorlede meneer Johannes Brandt se testament?”

Johannes Brandt. Oom Boela se testament? Twee weke gelede moes hy sy roudiens waarneem. Behalwe dat dit die eerste begrafnis was wat hy moes lei, was dit soveel moeiliker omdat hy oom Boela net een keer vlugtig ontmoet het. Die diens op die plaas is deur skaars ’n halfdosyn bure, ’n paar verdwaasde plaaswerkers, die begrafnisondernemer en ’n middeljarige vreemdeling in ’n donker pak bygewoon.

“Was u die man by die roudiens?”

“Ja, dit was ek. Kan ek die tyd maar aanteken?”

“Ek sal daar wees,” antwoord Dawid sonder om eers in sy dagboek te kyk. Hy sal daar wees. Hy is te nuuskierig om nie daar te wees nie.

“Dankie, Dominee. Tot môre dan. Geniet die res van die dag.”

“Dankie.”


Dawid se dag is nou op sy kop gekeer. Wat kan dit beteken? In sy twee jaar as predikant op Paterson was oom Boela se voete nooit oor die kerk se drumpel nie. ’n Suksesvolle beesboer, maar ’n eenkantmens met meer vyande as vriende. Maar sy maandelikse bydrae van vierduisend vyfhonderd rand en sy ses slagossies by die jaarlikse basaar het die gemeente menige maand laat oorleef. So ver sy kennis strek, het oom Boela nie enige familie nie. Dalk het hy ’n deel van sy boedel aan die kerk bemaak. Maar hoekom het meneer Russel hom so oor Mams uitgevra?
“Mams, dalk sou jy geweet het waaroor dit gaan,” praat hy hardop. “Maar nou is jy nie meer hier nie. Het jy en oom Boela mekaar geken toe jy op Grahamstad was, en wat het dit met sy testament te doen?”

 

Maandagaand
12 Mei

Dit is wyksbiduur op Buffelskraal, maar Dawid se gedagtes bly dwaal. Dit is die derde wyk waar hy dieselfde boodskap bring, maar vanaand klink dit vir hom ook nuut. Terwyl tannie Elsa Erwee later bid, is sy gedagtes weer by vanmiddag se oproep. Wanneer tannie Elsa bid, luister almal – die Here ook – maar vanaand voel dit asof sy nooit gaan ophou nie. Toe sy wel ophou, is daar ’n ongemaklike stilte terwyl almal met geboë hoofde vir hom wag. Hy skrik en sê ’n vinnige “amen”.


Oom Boela was ook in hierdie wyk, maar het nooit die bidure of wyksbyeenkomste bygewoon nie.
“Hoe gaan dit nou op Aurora?” vra Dawid later versigtig.
Die boere is duidelik ongemaklik en hou hulle met hulle teekoppies en tertjies besig. Dit is tannie Elsa wat eerste antwoord. “Seker so goed as verwag kan word, Dominee. Ek en oom Danie het gister daar gaan inloer. Die werkers doen hulle bes, maar dit kan nie veel langer só aangaan nie. Niemand weet wat van die plaas gaan word nie.”
“Ek verstaan hy het nie enige familie nie?”
“Niemand nie, Dominee. Hy was die enigste kind en het nooit getrou nie. Daar mag dalk kleinneefs of agterkleinneefs of so iets wees, maar ons glo nie so nie. Hoekom vra jy, Dominee?”
“Ek vra maar net, Tannie.”


Terug by die pastorie skakel hy tannie Willa, sy ma se oudste suster, in Kempton Park. Sy is verbaas om van hom te hoor en hulle gesels eers familiesake. Later kan hy dit nie meer uithou nie.

“Tannie Willa, het Mams ’n Boela Brandt geken toe sy op Grahamstad skoolgehou het?”

“Boela Brandt?” vra sy so stadig dat hy die gevoel kry dat sy vir tyd speel.

“Sy regte naam was Johannes. Johannes Brandt.”

“Was?”

Klink sy nou verlig?

“Hy was ’n boer hier in Paterson se distrik. Hy is onlangs aan ’n hartaanval dood.”

“Johannes Brandt. Ek dink daar was iemand met wie sy destyds bevriend was. Dit kon hierdie Johannes Brandt gewees het. Hoekom vra jy?”

“Hulle name het saam in ’n gesprek opgeduik, Tannie.” Dié keer is dit hy wat ontwykend antwoord.

“O.” Sy stuur die gesprek in ’n veiliger rigting. “Dawie, is daar darem al iemand spesiaals in jou lewe? Elke pastorie het ’n pastoriemoeder no­dig, jong.”


Sy linkerhand bly nog lank op die gehoorstuk nadat hulle totsiens gesê het. Mamma en tannie Willa was altyd na aan mekaar en sy tannie se kop is nog so helder soos fonteinwater. Hoekom dan so vaag? Hy kon aanvoel dat sy nie eerlik was nie. Daar was iets tussen Mamma en oom Boela, maar hoe ernstig was dit? En wat het dit met oom Boela se testament te make?

Paterson se mense was traag om oor Boela Brandt te praat. Oom Danie Erwee was sy naaste buurman en ook die laaste paar jaar die wyksouderling, maar toe Dawid hom kort ná sy aankoms op Paterson na oom Boela begin uitvra, wou hy nie veel sê nie. Net dat Boela Brandt maar ’n moeilike man was.

“Ek sien op van die foto’s in die konsistorie dat oom Boela vroeër leierdiaken en later ouderling was,” het hy een aand ná biduur opge­merk.

“Boela het ’n uitval met die kerkraad gehad. Met dominee Malan ook,” het oom Danie kortweg geantwoord.

“Waaroor dan, Oom?”

“Oor vroue op die kerkraad. Boela het bly sê die kerkraad is nie ’n vrou se plek nie. Daar was nog ander dinge ook, Dominee.”

“Ek sal graag by hom wou gaan huisbesoek doen,” het Dawid aange­hou. “Ek sien hy gee nog gereeld ’n goeie bydrae vir die gemeente.”

“Ja, Dominee, maar dan moet jy maar alleen gaan.”

Ná die sesde keer se gesukkel om ’n afspraak te probeer reël, het Dawid moed opgegee. “Dominee, as ek hulp van jou of die kerk of die kerkraad nodig het, sal ek jou skakel. Maar ek is nog reg, dankie. Ek het werk om te doen. Totsiens,” was die standaardantwoord.

Die enigste keer wat hulle ontmoet het, was ’n jaar gelede in die bank. ’n Lang, regop man met ernstige donkerblou oë het hom lank en stip aangekyk. Maar voor Dawid homself kon voorstel, het oom Boela omge­draai en hom met een van die bank se biljette besig gehou.