Skip to main content

Uittreksel | As jy naby is

Een

Elmien hou haar asem op toe die Land Rover op die pont ry wat hulle oor die Keirivier gaan neem. Uit die hoek van haar oog hou sy die man langs haar dop; waarskynlik het hy dié oortog al honderde kere in sy lewe gedoen. Hy kyk reguit voor hom na die oorkantse oewer waar ’n ry motors al staan en wag om die rivier na dié kant toe oor te steek.

Sy draai haar kop en kyk na die water. Vir die eerste keer in wat soos weke voel, daal daar ’n rustigheid oor haar neer. Sy is vanoggend vroeg uit Pretoria weg om die vliegtuig na Oos-Londen te haal. Daar het dié man haar ingewag. Langs die pad was sy vaagweg bewus van die groen, groen omgewing, die welige plantegroei en die kleurryke huise teen die uitgestrekte rante en dale.

Die man het nie veel met haar gepraat nie, maar hy straal vriendelikheid uit. Op die lughawe het sy hom dadelik herken, want haar pa se beskrywing was honderd persent in die kol: “’n Man in sy sestigs met langerige grys hare en ’n baard.” Elmien wonder hoe haar pa die beskrywing so akkuraat gekry het. Dit moes die bestuurder of ’n werknemer by die hotel gewees het wat die boodskap so goed aan hom oorgedra het.

Sy draai die motorvenster ’n klein entjie af, maar die motreëntjie is swaarder as wat sy gedink het en sy draai dit weer vinnig toe. As dit nie gereën het nie, sou sy graag op een van die pont se lang bankies wou sit om die vars seelug in te asem. Dis moeilik om te glo sy is net ’n paar uur gelede uit die stad weg. Hierdie is ’n ander wêreld. Toe hulle aan die ander kant van die rivier rukkerig van die pont af ry en die stukkie teerpad tref, praat Gert Grové, soos hy homself aan haar voorgestel het, langs haar. “Welkom in die Transkei. Jy’s nou amptelik in die gebied wat die Wildekus genoem word.”

Elmien glimlag ingenome soos wat honderde ander besoekers sekerlik al voor haar gedoen het.

“Dis pragtig.” En dit ís. Dieselfde welige plantegroei wat sy langs die pad gesien het. Ook die rondawels wat met helder kleure geverf is, maar nou elkeen hier op sy eie lappie grond. Netjies, en die omgewing is baie skoon. Dit voel voorwaar asof sy ’n ander wêreld betree het.

Toe haar gedagtes onwillekeurig teruggryp na die verwoesting wat sy in Pretoria agtergelaat het, voel sy baie dankbaar dat haar pa daarop aangedring het dat sy vir ’n paar weke by die afgeleë Seagulls Oord en Hotel moet kom uitspan. ’n Ander wêreld, ’n nuwe omgewing, is hopelik presies die regte medisyne vir haar seer hart en die ongenadige skuldgevoel wat sy met groot moeite net-net onder die oppervlak hou. ’n Glimlag vou om haar mond terwyl sy aan haar pa dink. Willem Erasmus was nie altyd die mees aanwesige pa nie, maar hy was nog altyd vir haar ’n vangnet wanneer sy hom die nodigste gehad het. Ook maar goed so, want met ’n ma soos Vanessa het sy by meer as een geleentheid ’n vangnet nodig gehad.

Die blote gedagte aan Vanessa laat Elmien frons. Vanessa haat dit wat Elmien gedoen het. Sy haat die feit dat haar dogter weggestap het uit ’n situasie wat haar nie gelukkig gemaak het nie en wat mettertyd net kon vererger. Vanessa is ’n praktiese mens wat materiële mikpunte najaag en verstaan nie hoe iemand emosionele besluite kan neem nie. En toe Vanessa hoor Willem het vir hul dogter ’n wegbreek na ’n ongespesifiseerde bestemming gereël, was die gort éérs gaar. Soveel weerstand teen ’n idee het Elmien lanklaas van haar ma ervaar. En hoe meer sy vir haar ma probeer sê het haar pa se bedoelings is goed en nie kwaadwillig nie, hoe meer het Vanessa teëgestribbel. Soveel só dat Elmien haar planne heeltemal wou afstel, maar Willem het sy voet neergesit. Elmien gaan vir ’n paar weke by ’n plek van sy keuse uitspan en basta. Hoekom haar pa vir Elmien gevra het om nie vir haar ma te sê waarheen sy op pad is nie, is onduidelik.

Elmien was bewus van die telefoongesprekke tussen haar ouers en het maar net weggestap wanneer Vanessa begin skreeu het. Dankie tog daardie twee mense is al geskei toe sy nog klein was. Natuurlik het dit haar kleindogtertjiehart gebreek toe haar pa uit die huis getrek het, maar vandag weet sy hy het die regte ding gedoen. Dié twee mense sou mekaar vernietig het en wie weet waar dit haar sou gelaat het?


Dit voel asof hulle net ’n paar minute gery het voor ’n klein dorpie, eerder ’n nedersetting, voor hulle opdoem. Gert verminder spoed en draai by ’n pad in waar die naambord besoekers by die Seagulls Hotel verwelkom. Elmien verkyk haar aan die witgekalkte huisies wat sy aan weerskante van die pad kan sien. Almal lyk dieselfde, elk met ’n gesellige stoepie aan die voorkant en kunstige meubels wat ’n mens uitnooi om daar te vertoef. Hier moet dit by tye sweerlik voel of die tyd tot stilstand gekom het.

Elmien se oë rek toe Gert by een van die huise se hek inry en die Land Rover langs die huis tot stilstand bring. Sy weet nie hoekom hy hier stilhou nie, want sy was onder die indruk dat sy in die hotel sou bly. Maar nee, hy klim uit en haal haar tas uit. Met ’n optrek van haar skouers vat sy haar handsak en stap agter die man die huis binne. Haar hart voel warm terwyl sy die stoep bekyk. Hopelik is daar nie ’n misverstand nie, en kan sy regtig hier bly. Op hierdie oomblik kan sy haar niks beters voorstel nie.

Toe sy na die oop voordeur kyk, is dit asof die huis haar innooi. Asof vanself kies haar voete ferm koers na die gesellige warmte wat sy sommer net weet daar binne op haar wag. In die deur huiwer sy terwyl ’n vreemde gevoel oor haar spoel. Dit neem haar ’n paar oomblikke om die gevoel te identifiseer. Dit is een van herkenning. Sy ken hierdie huis, sy was al hier.

Die witgekalkte meubels met die blou kussings, daardie antieke kassie met die bak vol skulpe, die pragtige houtvloere, selfs die los mat op die vloer is alles aan haar bekend. Nog voor sy dit gesien het, het sy presies geweet hoe dit gaan lyk. Huiwerig stap sy in die gang af na die kombuis toe. Daar is een deur aan die linkerkant en twee aan die ander kant, maar sy kyk nie by een van die vertrekke in nie. Haar fokus is op die kombuis waarop hierdie gang uitloop. Sy weet wat sy daar gaan sien.

’n Groot ou wit gasstoof, ’n outydse wasbak en ’n wit tafel en stoele met ’n blou tafeldoek onder die vrugtebak. Haar hart bons toe sy die prentjie in haar kop hier voor haar sien. Alles is net soos wat sy dit verwag het. Vir lank staan sy net daar om haar en staar. Sy voel heeltemal dronkgeslaan. Dit kan tog nie wees nie! Sy was nog nooit in haar lewe in hierdie huis of by hierdie plek nie. Sy sou dit onthou het.

Gert praat agter haar. “Ek het jou tas in die hoofslaapkamer gesit. Dit het sy eie badkamer. Aan die ander kant is nog ’n slaapkamer en ’n aparte badkamer. Daar is kos in die yskas en in die kas. Een van ons sal oor ’n week of so weer dorp toe gaan. Jy kan saamry, of jy kan ’n lysie saamstuur met wat jy nodig het.”

“E ... dankie. Baie dankie.”

Hy kyk vreemd na haar. “Is alles reg?”

“Ja, ja. Ek het net gewonder ... My pa het my laat verstaan ek gaan in die hotel bly?”

Gert skud sy kop. “Nee. Dis Willem se ... Willem het hier hierdie huis vir jou bespreek. Nie die hotel nie. Tensy jy natuurlik sou verkies om daar te bly, maar dit kan nogal duur raak en dié plek ...”

Elmien wonder of die man altyd so deurmekaar praat. Dié huis is ’n klein juweel en dit kan tog nie goedkoper wees om hier te bly as in die hotel nie? ’n Hele huis moet tog duurder wees as een kamer? Wat haar skielik laat wonder presies wat hierdie vakansie haar pa regtig kos. Toe sy hom gevra het, het hy dit weggepraat en sy het die indruk gekry dat hy die een of ander afslag beding het.

Sy skud haar kop. “Ek wil glad nie in die hotel bly nie. Dit sal wonderlik wees as ek hier kan bly, maar sal dit nie baie duurder uitwerk nie? Hier is alles wat ek nodig het en nog meer. Selfs kruideniersware.”

Gert kyk weg. “Ja, wel, ek weet nou nie daarvan nie. Jou pa het alles blykbaar met die bestuur gereël. Ek moes jou maar net oplaai want ek moes in elk geval Oos-Londen toe vir voorraad.”

“Ja. Wel, as hy dié plek bespreek het, is dit seker reg. Baie dankie vir jou moeite.” Skielik dink sy aan iets. “Jy praat van Willem? Ken jy dan my pa?”

“E ... nee, nee. Ek het gehoor Sammy praat van Willem.” Voor sy kan vra wie Sammy is, draai Gert weg en met ’n vinnige groet is hy uit by die deur. ’n Sekonde later hoor Elmien hoe die Land Rover met ’n gebrul by die hek uitry. Met ’n frons staar sy voor haar uit. Vreemd. Sy ken die man van geen kant af nie, maar om die een of ander onverklaarbare rede voel dit asof hy iets vir haar probeer wegsteek.

Elmien raak bewus van die stilte in die huis. Sy stap na die kombuisdeur en stoot dit oop. Dit is nie gesluit nie. Haar oë gly oor die agterstoepie en die tuin. Net soos in die voortuin is hier ’n menigte blomme en kleure. Dieselfde natuurskoon wat sy nog die hele dag sien; skynbaar kenmerkend aan die Oos-Kaap. Ook hier kom die gevoel in haar op dat sy meermale presies op hierdie plek gestaan het. Nou nog net die slaapkamers wat oorbly. Terwyl Elmien in die gang afstap, kan sy nie die beeld van die kamers oproep nie, maar om die een of ander rede verwag sy net om baie blou te sien. Sy vries toe sy die hoofslaapkamer sien. Ook in dié kamer stoot die gevoel van bekendheid in haar op. Alles ís blou. Van die los mat op die plankvloer, tot die gordyne en beddegoed.

Vinnig swaai sy om en stap na die spaarkamer aan die oorkant van die gang. Daar staan sy vir minute lank na die groen bedsprei en die wit spieëlkassie en kyk. Sy het al in hierdie kamer geslaap. Vele kere. Daar is geen twyfel by haar nie. Elmien stap op die voorstoep uit en sak op die stoeptrappie neer. Wat is hier aan die gang? Dit maak net nie sin nie. As sy voorheen hier was, sou sy dit onthou het. Hoekom gee hierdie huis haar hierdie vreemde gevoel? Hoe moet sy dit hanteer? Moet sy bang wees? Nee, sy weet net dis darem nie nodig om bang te wees nie. Die huisie is vriendelik, dit roep haar terug.

Hier gaan sy baie gelukkig wees. En sy het dit nodig, die hemel weet. Nee, dis maar net haar verbeelding wat hier aan die werk is. Dit moet die spanning van die afgelope tyd wees wat haar emosies deurmekaarkrap en veroorsaak dat sy goed sien wat nie bestaan nie. Dalk voldoen die plek vir haar net aan die een of ander vooropgestelde idee van hoe ’n huisie by die see veronderstel is om te lyk, meubels en al. Sy wil opstaan en teruggaan kombuis toe, maar iets anders eis haar aandag op. Die onmiskenbare klank van branders wat breek en daarmee saam die reuk van die see. Haar voete volg die paadjie outomaties, draai eers links en dan regs en toe kyk sy uit op die water. Vir wat soos ’n ewigheid voel, staar sy na die branders wat hulself met brute krag op die rotse breek. Ja, hiérdie is die Wildekus. ’n Gevoel van vrede stoot in haar op.


Toe die wind opkom en die hoendervleis oor haar lyf begin uitslaan, draai Elmien uiteindelik terug na wat sy reeds in haar gedagtes as “haar huisie” beskou. En dis nie verkeerd nie, is dit? Vir minstens vier weke sal dit haar huisie wees. Sy sal haar pa later vanaand bel en hom bedank. Om haar hierheen te stuur, is een van die beste goed wat hy nog ooit vir haar gedoen het. Hier kan sy dalk net weer soos ’n heel mens begin voel.

By die huis maak sy die voordeur agter haar toe en skud haar hare terug oor haar skouers. Die rekkie waarmee sy dit vanoggend vasgemaak het, het langs die see verlore geraak. Die lang, wilde bos krulle is waarskynlik nie ’n goeie haarstyl wanneer jy so naby aan die see bly nie en sy neem haar voor om dit môre in ’n vlegsel te bind.

Haar hart ruk toe sy in die kombuis kom en ’n figuur by die yskas sien staan. Hy swaai om na haar voor sy kan dink hoe om haarself teen die indringer te beskerm; alle gedagtes verlaat egter haar kop terwyl sy die prentjie voor haar inneem. Sy kan net na die vreemdeling staar. In haar lewe het sy nog nie so ’n mooi man gesien nie. Hy is lank en fris, maar sy gesig eis al haar aandag op. Ligbruin hare wat in aantreklike slierte tot laag in sy nek krul, ’n sterk, hoekige gesig en die blouste blou oë.

Die uitdrukking op sy gesig veroorsaak dat ’n horde vlinders in haar maag vrygelaat word. Hy staar net so intens na haar as wat sy sekerlik na hom staar en skielik wonder sy wat dit is wat hy in haar gesig sien wat hom skynbaar so fassineer. Is dit haar lang hare in verskillende skakerings van blond wat sy aandag trek, haar groen oë of haar “soet glimlag” soos wat mense haar mond al dikwels beskryf het? Sy weet sy’s nie skreeulelik nie, maar sy is nou ook nie juis beeldskoon nie. En langs dié beeld van ’n man voel sy bra vaal.

Hy praat eerste. “Middag, Elmien.”

“E ... middag.” Hoe ken hy haar naam? En hoekom klink dit so eksoties as hý dit sê?

“Ek is Sewes.”

“Sewes.” Wat ’n pragtige naam. En dit pas so goed by hom. Manlik, stewig maar op ’n manier tog elegant.

“Sewes Streicher.”

Elmien se wange voel rooi. “Aangename kennis.”

Hy huiwer ’n oomblik voor hy sy hand uitsteek en sy haar eie daarin plaas. ’n Elektriese skok dartel tot in haar arm en sy los sy hand vinnig, haar blik nog steeds vasgevang in syne. Skielik is dit asof daar ’n sluier oor sy oë trek en hy draai weg. “Laat weet as jy iets nodig het. Ek bly reg langs jou.”

“Dankie, Sewes.”

Sonder ’n verdere woord is hy uit by die agterdeur. Elmien kyk hom met ’n frons agterna; skielik voel die huis doodstil en leeg. Sy wens hy het ’n bietjie langer gebly sodat haar oë nog kon feesvier. In haar lewe het sy nog nie ’n man soos hy ontmoet nie en dit voel vir haar asof hy haar lewe op ’n manier aangeraak het. Eintlik is dié man se uitwerking op haar skokkend.

Sy skud haar kop. Nee, dit kan nie wees nie. Sy is nou sommer laf; ’n man soos hy sal nie eens twee keer na haar kyk nie. En syself, sy is in dié stadium van haar lewe ’n stukkende mens en nié op die uitkyk vir enige aantreklike mans nie; nie eens ’n man so mooi soos Sewes Streicher nie.

Hierdie vreemde aangetrokkenheid tot die man is maar net omdat sy op die oomblik so broos is. Enige vriendelike geselskap sal vir haar aanvaarbaar wees. Sy hunker na liefde en aanvaarding, na mense wat vir haar omgee en vir haar warmte en vriendskap gee.

Haar oë dreig om nat te raak. Nee, nou is nié die tyd vir selfbejammering nie. Vinnig loop sy yskas toe en maak die deur oop. Dit is vol gepak. Verbeel sy haar of was daar nie vroeër soveel slaai nie? Is dit wat Sewes hier kom doen het? Sy dink weer aan die manier waarop hy haar op die naam genoem het. Daar was iets ... so asof hy haar al voorheen ontmoet het. Maar nee, dis ’n belaglike idee. Natuurlik is daar net een logiese verklaring.

Vanselfsprekend het hy geweet ’n nuwe gas met die naam van Elmien trek vandag in die huis langs hom in. En as hy vir haar slaai gebring het, is hy maar net ’n besonder gawe buurman, dis al. Óf hy voer haar pa se opdragte uit; dit klink na die meer waarskynlike verklaring. Met ’n sug trek sy ’n stoel by die kombuistafel uit en gaan sit daarop. Die vreemde bekendheid van die plek slaan haar steeds dronk. Daar is geen verduideliking wat vir haar sin maak nie. Alles moet in haar kop wees. Hierdie is regtig ’n baie betowerende huisie en dit moet die rede wees vir die manier waarop sy dit beleef.

Sy staan op en sluit eers die voordeur en daarna die agterdeur. Dit lyk nie asof die mense hier in die gewoonte is om hul huise te sluit nie, maar sy gaan beslis nie in daardie diep pootjiesbad in die badkamer klim terwyl albei deure oopstaan nie. Toe sy later in die bed lê, staar sy lank na die plafon; onwillig om die bedliggie af te sit. Oomblikke soos dié maak haar bang. Wanneer sy heeltemal alleen is en wonder of sy die regte ding gedoen het; wanneer sy so geïsoleerd en ongeliefd voel en nie weet of sy moet teruggaan op haar spore en vrede moet maak met die bekende nie; wanneer sy wonder of sy nie te veel van die lewe verwag nie en vrede moet maak met die idee van ’n relatief gemiddelde bestaan.

Uiteindelik sit sy die lig af en vou die groen beddegoed styf om haar. Uit die bloute dink sy aan haar buurman. Die mooie man bly wraggies net hier langsaan. ’n Glimlag plooi onwillekeurig om haar mond en vir die eerste keer in weke voel sy daar mag dalk net ’n lig aan die einde van die tonnel wees.