Skip to main content

Uittreksel | As die sterre kon praat

Een

Amelia parkeer die viertrekvoertuig onder die afdak, kry haar rugsak en glip haar baadjie aan toe die koue laatmiddagwindjie deur die dun materiaal van haar bloes sny. Sy’s nie een vir die winter nie, maar gelukkig is die winters in Hoedspruit van korte duur. Winter vroeg in die oggend en winter in die laatmiddag, maar deur die dag heerlike, warm sonskyn.

Vandag is sy egter moeg. Dit was ’n besige dag en al wat sy nou wil gaan doen, is om te ontspan in ’n warm skuimbad. Dis nou as haar temperamentele geiser dit gaan toelaat. Sy gaan net haar sleutel ophang en na haar rondawel gaan. Vanaand eet sy kitssop in die privaatheid van haar kamer, gemaklik in haar pajamas.

“Lang dag?” vra Ivonne wat die toonbank beman. “Net ’n oomblik ... Enigma, goeiemiddag.”

Met openlike bewondering hou Amelia vir Ivonne dop terwyl sy vinnig en behendig deur die gasteboek blaai en die datums op die rekenaar koördineer. Sy wat Amelia is, sal erg deurmekaar raak. Gee haar eerder die veld en die diere.

“Jy laat dit só maklik lyk.”

Ivonne glimlag. “Ek’s al geoefen. Hoe was die nuwe groep?”

“Aanvanklik nuuskierig, maar toe raak hulle verveeld omdat die diere minder word en kla omdat daar dan uitdruklik in die brosjure staan dat hier volop wild is om te besigtig. Die een vrou wou selfs gehad het ek moet stilhou sodat sy op een van die olifante se rûe kon ry, want sy het iewers in ’n tydskrif gelees ’n mens kan dit doen. Sy het egter gou van plan verander toe sy die gebrul van ’n leeu gehoor het.”

“Ek wens ek kon dit gesien het. Julle hoor en sien ook al die snaakse dinge wat die toeriste aanvang,” sê Ivonne laggend.

“Ja, dit skep seker interessante stories om aan die ander gaste te vertel.”

“Ek is seker hulle geniet dit net so baie. Amelia, ek weet jy’s seker doodmoeg ná die besige dag, maar kan ek asseblief jou arm draai om vir die laaste halfuur die foon te beman? Die kinderoppasser wil loop en Ferdie is nog nie terug nie. Asseblief?”

Amelia kreun innerlik. Sy hou van die eenjarige Shani, sy is voorwaar ’n oulike dogtertjie.

“Nou goed,” stem sy gelate in, “maar as ek die datums verkeerd aanteken, is dit nie my skuld nie. Jy weet ek en admin is nie beste vriende nie.”

“Daar’s niks fout met jou administratiewe vermoëns nie, dis eerder Justin wat ek nie naby my kantoor vertrou nie.”

“Daar is ook niks fout met sy vermoë om papierwerk te doen nie. Hy doen alles egter met opset verkeerd omdat hy te lui is om dit te doen,” lig sy Ivonne in. Justin met sy grasgroen oë, aantreklike voorkoms en terglustige geaardheid kom hopeloos te maklik weg met alles.

“Dit verbaas my nie, maar ek soek hom steeds nie naby die kantoor nie. Hy het klaar sy slegte gewoonte om alles te misplaas vir Wian aangeleer. Maar wag, nou moet ek hardloop. Dankie, Amelia. Indien iemand bel, kan jy net die datums in die boek nagaan, ek sal dit later alles op die rekenaar oordra.”

“Dit sal ek seker kan doen.”

“Sien môre!”

Met ’n sug gaan sit Amelia op die sagte leerstoel en kyk op die horlosie teen die muur. Nog amper dertig minute oor. Sy leun gemaklik agteroor en wip byna soos sy skrik toe die telefoon se lui skril deur die vertrek weerklink.

“Enigma Wildreservaat, goeiemiddag ... Good afternoon,” groet sy en voel trots op haarself toe haar stem opgewek en vrolik klink. Sy kan ook vriendelik wees as sy moet. Sy luister na die navraag en antwoord: “Ek kyk gou vir Mevrou watter datums beskikbaar is ... Ek is jammer, Mevrou, daardie week is ons ongelukkig reeds vol bespreek. Die week daarna ...” begin sy, maar voor sy verder kan praat word die foon summier doodgedruk. Vies staar sy na die foon in haar hand.

“En as jy na die foon staar asof dit jou iets aangedoen het?” vra Wian en hang sy sleutel op.

Amelia sit die gehoorstuk neer. “Die ongeskikte vroumens het die foon in my oor neergesit. Asof dit nou mý skuld is dat hier nie vir haar plek is nie.”

Hy lag. “Jy moet hare op jou tande hê om met mense te werk, Amelia.”

“Dan is dit ook maar goed hierdie is nie my werk nie. Ek sal nie so vriendelik soos Ivonne kan bly nie.”

“Dit maak twee van ons. Sien jou môre, Amelia.”

“Sien môre.” Met ’n tikkie heimwee kyk sy hom vir ’n oomblik agterna.

“Hy’s getroud,” praat Justin skielik agter haar.

Vir die tweede keer die dag wip sy soos sy skrik. Waar kom hy so skielik vandaan? Dié man het die gewoonte om onverwags sy verskyning te maak. Sy wens sy het geweet hoe hy dit regkry om so sag te loop. Geen wonder hy betrap stropers so gereeld onkant nie.

Amelia draai stadig om en sien hom gemaklik teen die deurkosyn aangeleun staan. Vuil en stowwerig, maar nietemin baie aantreklik. Sy mag nou wel haar hart afgesluit het van die samelewing, maar dit beteken nie sy kan nie aantreklike mans raaksien nie.

“Ek is bewus daarvan.”

“Mianke is swanger met hul eersteling.”

“Ek is daarvan ook bewus.”

Hy druk homself weg van die muur. “Is jy seker? Ek het gesien hoe liefdevol jy hom agternakyk.”

“Ek het hom g’n liefdevol agterna gekyk nie!” ontken sy vererg.

“Dis nie hoe dit vir mý gelyk het nie. Almal weet jy is verlief op hom.”

“Was,” korrigeer sy hom. “Ek weet in elk geval nie hoekom almal so behep is daarmee nie, want dis nie asof ek die enigste vrou is wat al ooit verlief was op Wian nie. Elke vroulike personeellid maak ogies vir hom. Jy is self baie gewild onder die vrouens.”

“Jy ontken dus nie dat jy verlief was op hom nie?”

Sy vou haar arms voor haar bors en kyk hom reguit aan. “Nee. Wat maak dit in elk geval aan jou saak?”

Justin trek sy skouers op. “Dit maak nie aan my saak nie. Ek hou maar net daarvan om jou te verpes.”

Sy klik haar tong en staar mismoedig na die telefoon toe dit weer lui.

“Kom ek wys jou hoe dit gedoen word.” Hy rek oor haar en tel die foon op. “Enigma, goeiemiddag.”

Geïrriteerd luister sy hoe hy die vrou aan die ander kant van die foon met sy sjarme bekoor. Hoe kan selfs hý so gemaklik met mense gesels? Is dit net sy wat nie weet hoe om met mense te werk nie? Dalk het sy die een of ander tekortkoming in haar persoonlikheid.

“En dit, my liewe Mielies, is hoe dit gedoen word,” sê Justin selfvoldaan.

Sy trek vir hom skewebek. “Nou blaas jy net jou eie beuel. Jy het haar só oorrompel met jou sjarme, sy kon nie anders as om vriendelik te wees nie.”

Hy grinnik. “Dis een van my spesiale talente.”

“Duidelik.” Sy kom orent en tel haar rugsak op.

“Wel, aangesien jy ’n beter ontvangsdame is as ek, laat ek die ontvangstoonbank vir die laaste tien minute in jou baie bekwame hande. Daar wag ’n warm skuimbad op my.”

Sy oë vonkel skielik ondeund. “My baie bekwame hande kan ook goed rug was, hoor.”

“Net in jou drome, Justin Mills.”

Hy glimlag stout. “Aha, vanaand gaan ek lekker drome droom. Jy besef seker jy het my ’n kompliment gegee, nè?”

“Nee, ek het nie. Ek wil net nie langer op telefoondiens wees nie,” antwoord sy oor haar skouer, reeds op pad by die deur uit.

“Dit was ’n kompliment!” roep hy agterna.

Sy skud net haar kop en grinnik saggies toe ’n ou kinderrympie skielik in haar gedagtes opspring. Bragger, bragger, skiet ’n cracker, boem, sê die cracker en daar trek die bragger.


Met ’n genotvolle sug laat sak Amelia haar koue lyf onder die warm skuimkombers. Heerlik. Sy kon dans van blydskap toe sy voel hoe warm die water is. Sy sluit haar oë, en gee haar gedagtes vrye teuels. Die beeld van Justin tydens hul gesprek dring na vore. Sy is nie verlief op Wian nie. Sy begin wonder of sy ooit was. Sy het hom nou wel agternagekyk, maar net omdat sy ingedagte was en dalk vir ’n millisekonde gewonder het hoe dit sou wees om smiddae huis toe te kan gaan met die wete dat iemand daar op haar wag. Sulke drome is egter nie vir haar beskore nie. Sy het een keer vantevore haar hart vir iemand gegee, en dit het in ’n gebroke hart geëindig.

Háár gebroke hart. Nee wat, die liefde laat sy aan iemand anders oor. Meteens treiter ’n paar groen oë haar. Sy skrik regop en stort water oor die bad se rand. Nee! Sy het nie tyd vir mans óf die liefde nie. Sy het haar werk en dit was nog altyd goed genoeg. Hardhandig droog sy haarself af. Hou op drome droom, Amelia Henning. Dit gaan net in hartseer eindig.


Amelia grou in haar baadjiesakke en frons effens toe sy net haar een handskoen kry. Nou waar kan die ander een wees? Haar ma het dit spesiaal vir haar gebrei. Sy soek in die viertrek, maar dit is ook nie daar nie.

“Waarna soek jy, Amelia?” vra Wian en klim in sy eie voertuig.

“My handskoene,” antwoord sy en keer haar rugsak op die sitplek uit. “Dis ook nie hier nie.” Gefrustreerd gooi sy alles weer terug. Vandag gaan haar vingers weer verkluim.

“Ongelukkig het ek ook nie myne gebring nie, anders het ek dit vir jou geleen.”

Sy glimlag effens. “Dankie, Wian. As jy iewers ’n blou handskoen optel met ’n wit skoenlapper daarop – dit is myne.”

Hy lag en skakel die voertuig aan om warm te word. “Ek sal onthou. Is ou Saartjie warm?”

“Ja. Dit het ’n paar probeerslae gevat, maar nou is sy reg vir ’n dag se harde werk.” Haar getroue viertrek hou net so min van die koue as sy.

“Guten Morgen, Amelia,” groet die groot blonde Duitse toeris vrolik. Hy het duidelik nie ’n probleem met die koue nie.

“Môre, Hans. Ek sien jy’s vroeg op, soos altyd.”

Hy glimlag vir haar. “Ek is ’n oggendmens. Ek hou daarvan om saam met die son op te staan.”

Voor sy kan keer, vat hy haar hand. “Voel net hoe koud is jou hande.” Geskok bly sy staan toe hy albei haar hande in syne neem en dit warm begin vryf.

“So, ja. Voel dit nie stukke beter nie?”

“Dankie, Hans.” Vinnig druk sy haar hande in haar baadjiesakke voordat die man haar weer onkant betrap.

Hy grinnik net, en knip vir haar oog. “Dit was ’n groot plesier, Amelia.”

“Wat?” vra sy toe Wian geamuseerd na haar sit en kyk.

“Ek het nie ’n woord gesê nie. Ek vind dit net baie vreemd hoe jy ’n wildvreemde man toegelaat het om jou hand vas te hou.”

“Dit is nogal vreemd,” praat Justin agter haar, ’n donker frons tussen sy wenkbroue.

“As julle dan moet weet, hy’t my onkant betrap, maar ek moet sê, my hande is nou aansienlik warmer as wat dit was,” voeg sy by en sien hoe Justin se oë vernou. Wat is sy probleem? “Het jy met die verkeerde voet uit die bed uit opgestaan?”

“Nee,” antwoord hy bot en loop met lang treë weg terwyl sy hom kopskuddend agternakyk.

“My oupa het my altyd gemaan om nie my kop in ’n byenes te steek nie,” lewer Wian droogweg kommentaar.

Onbegrypend kyk sy na hom. “Wat bedoel jy?”

Hy glimlag. “Dis maar net ’n onskuldige opmerkinkie wat jy dalk ter harte moet neem.”

“Ek weet my brein werk vanoggend stadiger as gewoonlik, maar ek verstaan nie wat jy daarby bedoel nie. Praat ons nou van ’n letterlike of figuurlike byenes?”

“In dié geval, figuurlik.”

Radeloos gooi sy haar hande in die lug. “Ek verstaan nie. Jy laat my dom voel.”

Hy lag en klim uit die voertuig toe die groepe toeriste naderkom. “Jy sal nog, maar vir nou moet ons eers die gaste beïndruk met ons kennis van die veld en diere.”

“Dis darem iets wat ek verstaan,” brom sy en loop haar groep tegemoet. Tyd om te werk. Besluiteloos huiwer Amelia voor die kostafels. Dis altyd moeilik om te kies wat sy wil eet. Alles lyk altyd so lekker.

“Geen kaasworsies nie? Lena, die een oggend wat ek voor die spul honger toeriste hier kom, en nou het jy nie daarvan gemaak nie,” hoor sy Justin kla en lag sag vir sy misnoeë.

“Dis nie snaaks nie, Mielies. Ek mis altyd uit op die kaasworsies.”

Met opgetrekte wenkbroue kyk sy na hom. “Het jy ’n verslawing wat jy nie met die res van ons deel nie?”

“Nee. Dalk effentjies, maar dis Lena se skuld. Sy moes dit nooit gemaak het nie.”

“Ek’t nie gesê jy moet daarvan eet nie. Amelia, ek het wel lekker omelette gemaak.”

“Oe, dít klink lekker. Dankie, Lena.”

“Wat is in die omelette?”

“Spek, rissie, sampioene en kaas.”

“Dit klink omtrent lekker. Ek sal ook een kry, asseblief, Lena.”

“Amelia!”

Sy sug, dwing ’n glimlag na haar lippe en draai om.

“Wat soek die man nou al weer?” brom Justin. “Wil hy nou jou hand kom vashou terwyl jy eet?”

“Is jy seker jy’t nie met die verkeerde voet uit die bed opgestaan nie?”

“Doodseker.”

“Dit lyk nie vir my so nie. Kan ek jou help met iets, Hans?” vra sy beleefd.

“Dit is my laaste dag hier, maar ek wil baie graag eers ’n foto neem saam met die mooiste katvrou wat ek al ontmoet het. Justin, sal jy asseblief ’n foto neem?” vra die Duitser en hou die kamera uit na Justin.

“Sekerlik. Sê A-pie!”

“A-pie!”

“Dankie. Ek sal jou nie maklik kan vergeet nie, Amelia. Ek hoop ek sien jou eendag weer.”

Amelia voel hoe haar wange warm word toe hy onverwags afbuk en haar op die wang soen.

“Dit was ’n baie mooi gebaar. So romanties. Amelia, jy moes vir hom ogies gemaak het,” reken Lena.

Justin snork. “Wat was nou kastig romanties daaraan?”

“Wys net hoe min jy weet, Justin. Kom kry jou kos voor ek die ekstra stukkie spek in iemand anders se bord sit.”

“Darem een vrou wat dink ek’s spesiaal,” mor hy. Amelia rol haar oë en loop na die tafel. Sy is nou wel nie die tipe vrou wat floreer op komplimente nie, maar is nogtans vrou genoeg om Hans se gebaar te waardeer.

“Is jy spyt jou kêrel gaan huis toe?” vra Justin vies toe hy oorkant haar plaasneem.

“Watter een? Die Duitser, Hans, of George die Engelsman?” terg Mianke en lag toe Justin haar ’n vuil kyk gee. Sy trek haar skouers op. “Amelia is gewild onder die gaste, Justin. Veral die huidige groep. George wil met alle geweld met haar trou, want sy dogtertjie is mal oor haar.”

Sy het seker nog nooit so baie in haar lewe gebloos nie, dink Amelia. “Mianke, jy oordryf darem erg, hoor.”

“Dalk ’n bietjie, maar hy kan nie ophou om na jou te kyk nie,” skerts sy en beduie met haar kop in die rigting waar die man sit.

“Hy lyk soos ’n hoender en malkopsiekte,” mompel Justin en steek sy vurk met mening in die omelet.

“Wie’s ’n siek hoender?” vra Ivonne. “Nee, Shani. Haal jou hande uit my bord, liefiekind.”

“Die Engelsman wat sy oog op Amelia het,” lig Mianke haar in.

“Ek het nog nooit ’n hoender en malkopsiekte gesien nie, maar die man kom naby daaraan.”

“Glo my, hy is een.”

“Jy klink jaloers, Justin,” terg Mianke.

Amelia kyk na Justin, maar hy hou sy blik ferm op die bord voor hom. Is hy wraggies jaloers omdat ander mans aandag aan haar gee? Kan Mianke dalk reg wees? Het Justin Mills gevoelens vir haar? Haar hart begin skielik vinniger klop, al weet sy nie hoekom nie. Sy kyk vir Mianke wat glimlaggend na haar sit en kyk.

“Ek is nié jaloers nie, ek dra bloot al die vroulike personeel se belange op die hart,” maak Justin beswaar.

“Ek het so pas ’n idee gekry vir my volgende storie. Wian, waar’s jou notaboekie?”

“Ivonne, dit wil vir my voorkom ek benodig uniforms met baie sakke. Liefling, jou notaboek is in my regtersak,” antwoord Wian sy vrou.

“H’m, ek sal dit onder die bestuur se aandag moet bring,” byt Justin vas.

“Ek het net ’n foto saam met die man geneem, Justin. Jy staan gereeld vir foto's saam met gaste. Wian ook. Maar noudat hy getroud is, is hulle maar versigtig.” Hoekom voel sy dat sy haar optrede aan hom moet verduidelik? Dis tog nie asof dit ’n vreemde gebeurtenis is nie.

Mianke lag. “Jip, Wian se vrou is kwaai, maar Justin is beslis gewilder. Sommige vrouens hou van gevaarlike mans. Jy het sommer báie groupies, Justin.”

“Moenie laf wees nie.”

“Ami! Ami!” roep Shani opeens uit toe sy Amelia raaksien. Sy strek oor Ferdie en hou haar arms uit na Amelia. Glimlaggend vat sy die dogtertjie en geniet die sagte baba-armpies om haar nek.

“Goeiemôre, Shani. Ek dink jy’s die oulikste, vriendelikste dogtertjie wat ek nog ooit ontmoet het.” Sy betrap Justin se blik op haar. “Sê ’n woord, en ek steek jou met ’n vurk.”

“En daar is die Amelia wat ons almal ken,” merk hy droog op.

“Niks weerhou jou daarvan om by ’n ander tafel te gaan sit nie, Justin. ’n Paar minute gelede het ek nog alleen hier gesit, maar om die een of ander duistere rede het julle almal uit jul eie besluit om hier te kom sit.”

Justin grinnik. “Ons hou van jou sonnige geaardheid.”

“Soos ek jou al telkemale gewaarsku het, Justin: Moenie by mý kom kla as sy jou iets aandoen nie,” terg Ferdie.

“Dan is dit ook maar goed. Ek’s ’n wildbewaarder, jy weet, omdat ek soms van ’n bietjie gevaar hou.”

Met opgetrekte wenkbroue kyk Amelia na hom.

“Die werk wat jý doen, is nie eens net ’n bietjie gevaarlik nie.”

“Is jy bekommerd oor my veiligheid, Mielies?”

Sy glimlag en kom orent. “Glad nie. Maar Ferdie, as Justin se effens gevaarlike werk hom buite spel plaas, is sy rondawel myne.”

Justin druk sy hand teen sy bors. “Amelia, jy wond my diep!”

Ongeërgd trek sy haar skouers op. “Ek hou daarvan om in warm water te bad, figuurlik gesproke. Sal julle ons asseblief sal verskoon, ek en Shani gaan by Lena ’n koekie vra.”

“O, Amelia! Voor ek vergeet, jy en Justin deel vanoggend se groep. Daar is te veel toeriste vir net een gids en te min vir twee aparte groepe.”

Sy sug. “Ek hoor jou, Ferdie. En om te dink my dag het so lekker begin.”

Terwyl sy wegstap, hoor sy hulle lag en weet sommer Justin het weer die een of ander aanmerking gemaak. Eendag is eendag, dan gaan sy hom nog iets aandoen, neem sy haar voor.