Skip to main content

Uittreksel | As die liefde kom

Een

Mianke glimlag vriendelik vir die tienermeisie toe sy haar boeke op die toonbank neersit.

“Baie goeie keuses,” gesels sy terwyl sy die Harry Potter-boeke oplui. Sy persoonlik is nie mal oor fantasieboeke nie, maar dit is gewild onder tieners. Ook sommige volwassenes.

“Dit is my gunstelingboeke. Ek het al die Harry Potter-flieks oor en oor gekyk. Ek kan skaars wag vir die naweek om te kan begin lees.”

“Lees is ook een van mý gunstelingtydverdrywe. Goeie rillers kan ek net nie neersit nie.” Mianke hou die sak na haar toe uit. “Ek weet sommer jy gaan die boeke baie geniet.”

“Dankie, Tannie.”

Mianke kyk die meisie met ’n frons agterna. Tannie. Daardie woordjie laat haar skielik baie oud voel. Toegegee, middeldertigs maak seker van jou ’n tannie vir jonger mense. Op vyftien is ’n vrou van byna ses-en-dertig oud. Gelukkig is ouderdom net ’n getal.

“Het Tannie hulp nodig?” roep sy na agter waar tannie Elsie tussen die rakke rondbeweeg. Dié tante is een van haar getrouste kliënte. Mianke het ’n vermoede die ouer vrou sit op een van die stoele en lees pleks van die boek te koop, maar sy laat haar maar begaan. Dis seker hoekom haar besigheid nie so goed doen nie, dink sy sinies.

“Waar is jou nuutste boeke, Mianke? Dié wat die groter skrif het. My oë kan nie meer die klein lettertjies so lekker lees nie.”

Glimlaggend loop Mianke na die agterste rak. Sy weet presies waarna Elsie verwys. Haar gunsteling-Mills & Boon-verhale. Sy haal ’n hoop boeke van die rak af. “Hierdie klompie het ek net vanoggend uitgepak.”

“Ek soek dié met die donkerblou agtergrond.”

“Tannie Elsie!” sê sy kamma geskok en bars amper uit van die lag toe sy die rooi blos op die ouer vrou se wange sien.

“Ag, my hartjie, gun ’n ou vrou haar plesiertjies. Wanneer ek die stories lees, voel ek weer jonk en vol lewe. Selfs ons oues van dae het soms so ’n skoppie in die hart en ’n opbruising in die bloed nodig.”

Mianke lag. “Ek terg sommer net. Tannie is een van my beste en gunstelingkliënte. Is dit al vir Tannie?”

“Ja, dankie. Ek gaan eers ’n koppie tee en ’n stukkie koek hier langsaan eet voordat ek huiswaarts keer. Dit was ’n goeie idee om die koffiewinkel sommer hier reg langs jou boekwinkel oop te maak.”

“Ek was eers skepties daaroor,” sê sy terwyl sy die boeke oplui, “maar nou ná ses maande moet ek erken dit was ’n goeie besluit. Die boekwinkel trek ’n bietjie swaar; deesdae lees mense nie meer nie. E-boeke is nou die in-ding.” Die feit dat sy moontlik die besigheid sal moet sluit, hou sy eerder vir haarself. Tannie Elsie gaan baie omgekrap wees oor dié nuus en dit wil sy nie nou aan haar doen voor sy self nie seker is wat sy gaan doen nie.

“Mense weet nie wat hulle mis nie.”

“Dankie vir Tannie se getroue ondersteuning.”

“Altyd. Wanneer kan ons weer een van jóú boeke op die winkelrakke sien?”

“H’m, oor sowat drie maande.”

“Ek kan nie wag nie. Ons gesels weer. Daar’s ’n stukkie koek hier langsaan met my naam op.”


Met ’n sug sluit Mianke die rekenaarprogram af. Die boekwinkel se syfers lyk glad nie goed nie. Was dit nie vir die koffiewinkel nie, sou sy die deure moes toemaak. Wat het geword van die goeie ou dae toe boeklees nog iets lekkers was om te doen? Nou lê kinders voor die televisie en weet hulle nog voor hulle kan loop hoe om ’n selfoon of tabletfoon te gebruik. Moderne tegnologie maak almal lui. Haar blik val op die horlosie.

“O, vrek!” Sy spring op, gryp haar handsak en sleutels, en storm by die deur uit. Sy is laat vir aandete en haar ma duld nie laatkommers nie. Vanaand gaan sy weer deurloop onder Michelle Grové se argwaan.


“Jy’s laat, Mianke,” sê Michelle die oomblik toe Mianke by die deur inloop. Sy voel lus om haar oë te rol maar weet Michelle hou glad nie daarvan wanneer sy of haar tweelingsuster, Janelle, dit doen nie. Sy glimlag maar eerder en druk ’n soen op haar ma se wang. “Ek is jammer. Hallo, Ma. Waarmee kan ek help?”

“Jy kan asseblief help om die kos tafel toe te dra.” Met opgetrekte wenkbroue kyk sy na Marno, haar suster se verloofde wat met sy been in gips op ’n stoel langs haar pa by die tafel sit. “Wat het jóú oorgekom?”

Hy grinnik. “Ek’s beenaf oor jou suster.”

“Dis duidelik, ja. Hallo, Pa.”

“Mianke! Het jou ma jou uitgetrap omdat jy laat is?”

“Amper laat,” korrigeer sy. “En ja, sy het. Hoeveel keer ’n week kry Pa raas?”

Hy lag. “Té veel kere om op te noem. Hoe was jou dag by die boekwinkel?”

“Bedrywiger as gewoonlik, maar nog nie besig genoeg nie.” Sy sug en gaan sit. “Ek sal aan ’n ander plan moet dink, Pa. So nie sal ek die boekwinkel moet sluit. Ek kan nou eenmaal nie kompeteer met die groter boekwinkels nie.” Om dít te erken is ’n bitter pil vir Mianke om te sluk.

“Jy het gelukkig nog die koffiewinkel, en ek verstaan dié doen goed?”

Sy glimlag effens. “Ja, maar dis nie waar my passie lê nie. Gelukkig weet die vrou wat die plek bestuur presies wat sy doen.”

“As jy hulp nodig het met iets, Mianke, moet jy nie huiwer om te kom vra nie, hoor.”

“Dankie, Pa.” Fronsend kyk sy na Janelle wat met vonkelwyn en glase op ’n skinkbord inkom.

“En dit? Wat vier ons?” Het sy iemand se verjaardag vergeet? Nee, Marco verjaar eers in Desember en dis ook nie een van haar ouers se verjaardae nie.

“Het een van julle bevordering gekry?”

Janelle glimlag en wikkel die vingers van haar linkerhand voor Mianke se neus. “Ek gaan trou!”

’n Glimlag verhelder haar gelaat. “Baie, baie geluk, maar hoekom wil julle trou?”

“Huh? Is jy nou ernstig? Of is dit weer een van jou skewe grappe?” vra Janelle afgehaal.

Ongeërg trek Mianke haar skouers op. “Ek kan maar net nie verstaan hoekom julle wil trou nie? Julle bly dan al drie jaar saam? Julle moet eintlik net gekerk word. Paartjies wat saambly, het vandag dieselfde regte as getroudes.”

“Mianke,” maan Michelle kwaai. “Kan jy nie net bly wees vir jou suster nie?”

“Natuurlik is ek bly vir haar.” Sy kyk verskonend na Janelle en Marno wat duidelik baie ongelukkig lyk oor haar aanmerking. “Ek’s regtig baie bly vir julle. Julle is mekaar se jin en jang. Maar teen dié tyd weet julle tog ek glo nie aan die ewigdurende liefde waarvan ’n mens in liefdesverhale lees nie. Dis niks persoonlik nie. Ek hoop julle twee sal baie gelukkig saam wees.”

“Dankie,” antwoord Janelle droog. “Dis nou nie eintlik hoe ek dié vreugdevolle oomblik in my kop gesien afgespeel het nie. Gaan jy darem my strooimeisie wees, of is dit nog iets waarin jy nie glo nie?”

Verras kyk sy na haar suster. “Natuurlik sal ek! Net omdat ek nie in die liefde glo, of dalk nie mooi verstaan nie – ek is nie aldag seker watter een van die twee dit is nie – beteken dit nié ek is nie bly vir julle nie.” Sy lig haar glas. “Op Marno en Janelle! Mag julle nog jare se geluk ervaar.”

“Daarop sal ek beslis drink,” beaam Mianke se pa.

“Janelle, ons sal moet begin planne maak. Ek wil nie op die nippertjie sit met al die reëlings nie,” sê Michelle, en Mianke wys vir Janelle groot oë. As hulle ma eers iets oorgeneem het, moet jy net sê: Ja, Ma.

“Wat het regtig met jou been gebeur, Marno?” vis Mianke nuuskierig uit.

Hy skuif ongemaklik rond. “Geval,” brom hy dan.

“Geval?”

“Van die leer af,” vertel Janelle laggend.

“Dis nie snaaks nie, liefie.”

“Dit was nie toe dit gebeur het nie, maar nou is dit. Ek het my byna doodgeskrik; veral toe ek gesien het hoe skeef sy been is. Gelukkig sal die gips af wees voor ons troue.”

“Eina. So, wanneer is julle groot dag?”

“Ons wil oor agt weke trou,” antwoord sy vinnig, en Mianke moet dadelik haar hand voor haar mond sit om haar glimlag te verberg toe hulle ma haar mes en vurk kletterend op die bord laat val.

“Stadig, my lief, jy sal die bord breek,” brom hulle pa.

“Het jy gehoor wat jou dogter sê, Janko? Sy wil oor agt weke trou. Verskoon my as ek geskok is.”

“Ma, ons wil nie ’n groot troue hê nie. Net iets kleins met die naaste familie en vriende. Marno se vriende het ’n wildreservaat en ons sal baie graag daar wil trou. Hy het reeds ingestem. Ons moet net betyds met hom reëlings tref oor die aantal gaste wat gaan oorbly. Die kok daar maak die lekkerste kos, en dis ook klaar met haar gereël.”

“O,” sê Michelle afgehaal. “Dit lyk dan nie asof julle my hulp nodig gaan hê nie.”

“Natuurlik het ons Ma se hulp nodig. Wie kan nou beter blomme rangskik en kleurskemas uitkies as my eie ma?”

“Jy beter dalk ook begin kruip,” fluister Mianke tergend vir Marno.

“Ek stem saam. Tannie se blommerangskikkings is die mooiste wat ek nóg gesien het.”

“Julle probeer my nou net vlei, en dit werk. Mag ek ten minste ’n paar voorstelle maak wat die kos aanbetref?”

“Enige tyd.”

“En die kleurskema, dink ek …”

“Groen!” val albei susters haar laggend in die rede. Janelle vou haar arm om Mianke se skouer. “My jin se ander jang.”

“Soms vergeet ek julle is ’n tweeling. Lyk byna dieselfde, maar steeds verskil julle soos dag en nag.”

“Ek is die vriendeliker sussie,” skerts Janelle, en Mianke trek vir haar gesig.

“So graag as wat ek wil, kan ek dit ongelukkig nie ontken nie.”

“Donkerbruin hare en groen oë, nes julle ma. My drie pragtige vroumense.” Janko sug kamma beswaard. “En die een so moeilik soos die ander.”

“Net vir daardie aanmerking kry jy nie nagereg nie, Janko Grové.”

“Ek sal wel kry,” sê hy selfversekerd. “Wie gaan alles opeet? Die meisiekinders peusel net; jý is nie baie lief vir soetgoed nie, en Marno sal ook nie alles kan opeet nie. Hy sal vet word en nie in sy troupak pas nie. Jy sal dus ongelukkig vir my ook moet gee, my vrou.”

Hulle lag. “Jy hou jouself verniet so slim, my man.”

Marno leun vorentoe. “Dit wat jy daar tussen jou ouers sien, Mianke, is liefde.”

Mianke kyk na haar ouers en glimlag. “Sommige mense is seker net gelukkig. Ek het nog nooit daardie intense gevoelens ervaar nie. Dalk is die liefde nie vir almal van ons beskore nie.”

“Of dalk het jou pasmaat nog net nie oor jou pad gekom nie.”

“Wat skinder julle twee?”

Marno sit terug in sy stoel. “Oor die liefde. Ek probeer Mianke oortuig dat liefde wel bestaan.”

“Het jy dit reggekry?”

“Nee, nog nie. Was dit nie dat julle byna dieselfde lyk nie, sou ek nooit gedink het julle is susters nie.”

“Nie?” vra Janko geamuseerd. “Kyk mooi. Hulle dra hulle hare in dieselfde styl en hulle het altyd dieselfde kleur klere aan. Dit het ek al ’n paar keer vantevore opgemerk, maar my nie veel daaraan gesteur nie.”

Mianke kyk af na haar pienkerige rok met wit blomme en dan na Janelle met haar vuilpienkknielengterok en glimlag. “Lyk my ons het nog nie ons tweelingtowerkrag verloor nie, of hoe?”

“Ek het dit wraggies nog nooit agtergekom nie,” sê Marno verdwaas.

“Jy sal nog leer,” troos Michelle en stoot haar stoel agteruit. “Mianke, Janelle, kom help my asseblief met die nagereg.”

Janko vee sy mond af. “Dankie, my vrou. Dit was heerlik.”

“Tannie, ek sekondeer dit,” beaam Marno en voeg dan by: “Liefie, ons moet beslis jou ma se raad inwin oor die nagereg.”

“Beslis. Ons wil ons gaste ’n dag gee om te onthou; selfs al was dit net omdat hulle lekker geëet het.”

Marno maak sy keel skoon. “Gepraat van gaste. Mianke, daar is iets wat ek jou wil vra.”

“Ek luister.”

“Jy onthou seker nog vir Ferdie?” sê-vra hy en sy knik. “Wel, hy kry oor ’n week belangrike gaste van Frankryk af. Hulle gaan vir drie weke in Suid-Afrika wees. Dis iemand wat wil belê in die reservaat; hy wil sy besigheidsbelange in Suid-Afrika uitbrei en die gedagte om deel van ’n privaat reservaat te besit, vind hy blykbaar baie aanloklik. Nou is Ferdie op soek na ’n tolk, want die vrou wat dit sou doen, het siek geword; dis nie dat die Franse nie Engels kan praat of verstaan nie, maar Ferdie wil graag wys hy kan vir internasionale gaste ook voorsiening maak. Om iemand in sy diens te hê wat hul taal kan praat, gaan beslis in sy guns tel. Dis toe dat ek aan jou gedink het.”

Verras kyk sy na hom. “Ek?”

“Dis ’n uitstekende idee. Mianke se Frans is baie goed,” stem Janelle saam.

“Ek’s ’n stadsmeisie. Wat gaan ek in die boendoes doen waar daar muskiete en leeus is wat ’n mens kan opvreet? Van die slange praat ek nie eens nie. Julle weet mos, ek en slange is nie beste maatjies nie.”

“Mianke, dis darem nie so erg nie. Jy sal daarvan hou. Al daardie stilte en vreedsaamheid is die ideale plek om te skryf. En dit vir drie weke! Dink daaraan as ’n betaalde vakansie.”

“Miskien,” moet sy toegee. Sy sukkel hoeka om op ’n storie te kom, en die vreedsaamheid van die natuur is dalk wat haar deurmekaar gedagtes nodig het. “Wat van my boekwinkel? Ek kan nie bekostig om dit vir daardie tyd toe te maak nie. Besigheid is sleg genoeg soos wat dit nou is.”

“Ek sal daar gaan werk,” bied Marno aan.

Ongelowig kyk sy na hom. “Jy?”

Geaffronteerd reageer hy: “Dink jy ek weet nie hoe om boeke te verkoop nie?”

“Jy hou nie eens daarvan om te lees nie.”

“Dis waar, maar ek sal dit net vir jou doen. Jy help my, dan help ek jou. Een hand was die ander.”

Met vernoude oë kyk sy na hom. “Wat kry jy daaruit as ek sou instem?”

Hy grinnik. “Afslag.”

Mianke lag. “Ten minste is jy eerlik. Wat van jou werk?”

“My been is tot bokant my knie in gips, en dit beteken ek sal vir eers nie op boupersele kan rondloop nie. Ek wil nie in gips trou nie. Die koffiewinkel is net so ’n goeie plek om my kliënte te sien as my kantoor.”

“Jou mooi gesiggie sal seker klante lok en ou tannies sal jou jammer kry met jou gipsbeen.”

“Dankie,” sê hy droog. “Ek het reeds al die inligting vir jou ge-e-pos.”

“Jy was baie optimisties …”

“Eerder hoopvol. Asseblief, Mianke?”

“Ek sal daaroor dink.”

“Oukei, maar ek moet teen Dinsdag ’n antwoord hê.”

“Jy gee my ook nie veel tyd om te dink nie, nè? Ek sal jou so gou as wat ek besluit het, laat weet.”

“Dankie, Mianke. Ek sal dit regtig waardeer.”

Met ’n kopknik draai Mianke na haar ma: “Kan ek Ma gou help opruim? Ek het ’n mengelmoes karakters op die oomblik in my kop, en hulle smeek om vrygelaat te word, alhoewel ek nog nie seker is waar hulle almal gaan inpas nie.”

“Nee, dankie. Jy kan maar huis toe gaan voordat dit te donker word.”

“Dankie, Ma. Ek sal môre ’n draai kom maak.”

“Mianke!” roep Janko haar terug.

Sy loer om die deur. “Ja, Pa?”

“So elke nou en dan moet mens ’n bietjie wegkom om te gaan ontspan, hoor.”

Sy glimlag. “Ek sal dit in gedagte hou, Pa. Lekker slaap, julle.”


Ná ’n warm bad gaan sit Mianke op haar bed en trek haar skootrekenaar nader. Sy maak die e-pos oop wat Marno vir haar gestuur het en lees aandagtig deur al die inligting. Die foto’s wat hy daarby aangeheg het, laat die voorstel baie aanloklik lyk.

Alles lyk ongelooflik mooi daar; die ideale plek om aan haar boek te werk. Die oomblik toe Marno gepraat het van die Bosveld, het daar reeds ’n paar idees in haar kop begin vorm aanneem. Boonop was sy jare laas met vakansie. Drie jaar om presies te wees. Sjoe. Kan dit al só lank wees? Geen wonder haar pa reken ’n mens moet soms ook ontspan nie.

Sy tik met haar vingers op haar been. Tolkwerk wat gratis verblyf insluit. Dis nie aldag wat só ’n aanbod oor haar pad kom nie. Marno mag nou wel nie lief wees vir lees nie, maar hy sal sy woord gestand doen. Haar winkel sal in goeie hande wees. So, wat keer haar nou eintlik? Sy dink vir ’n oomblik en glimlag dan.

Absoluut niks.

Sy reik na haar selfoon en druk op Marno se naam. Marno, ek aanvaar die aanbod, tik sy die boodskap, stuur, en doof dan die foon om weer na die rekenaarskerm met die foto van die Bosveld te kyk. Bosveld, hier kom ek, dink sy ingenome.