Skip to main content

Uittreksel | As die lentebloeisels bot

Een

Sy sit doodstil op die baie ongemaklike, harde stoel. Binne haar borskas voel dit vir haar asof haar hart enige oomblik gaan uitspring en by die deur uithardloop. Sy kruis haar bene vir wat seker al die twintig­ste keer is en trek ’n denkbeeldige stoffie van haar swart langbroek af. Hoekom lyk dit altyd asof daar iets op jou donker klere is as daar nooit regtig is nie, wonder sy onsamehangend. Sy skud haar kop. Die dinge waaraan jy net nie sal sit en dink wanneer jy op jou senuwees is nie.

Sy kyk rond in die groot, ruim kantoor van die grootbaas se sekretaresse, Selma Kemp, wat seker twee keer haar klein kantoortjie se grootte is. Dis ’n vrolike kantoor. Die mooi skilderye van blomme teen die muur en die geurige pienk blomme op die hoek­tafeltjie, tesame met foto’s van Selma se kinders en kleinkinders, skep ’n rustige atmosfeer. Sy hou nogal daarvan. Alles hier is so netjies, selfs op die oorvol lessenaar is alles op sy plek, terwyl hare wanneer sy besig is om te werk altyd lyk asof ’n tornado dit getref het. Hoe hou Selma haar lessenaar so netjies deur al die werk? As iemand haar moet vertel Selma het ’n towerstaffie in een van haar lessenaar se laaie, sal dit haar nie verbaas nie.

Sy spring byna op toe Selma weer haar opwagting maak. Soos gewoonlik het sy een van haar pastelkleurige broekpakke aan, haar hare eksie-per­feksie, elke haar op sy plek in die stylvolle chignon. Dit laat haar heimlik wonder of haar hare, ook in ’n chignon, nog netjies is. Dis nou ’n bietjie te laat daar­voor.

“Juffrou Cloete, meneer Harris sal jou nou sien.”

Sy glimlag effens. “Dankie.” Geruisloos volg sy vir Selma met die lang gang af, hulle voetstappe gedemp op die sagte mat. Vandag is die dag waarvoor sy al die afgelope twee jaar gewag het. Vandag word aangekondig wie van hulle die bevordering gaan kry. Sy weet haar werk is van die beste, haar kliënte is al­mal baie gelukkig met die diens wat sy aan hulle ver­skaf, en het sy selfs ’n paar nuwe kliënte bekom, nie net vir haarself nie, maar vir die maatskappy in ge­heel. Dit is dus met groot verwagting wat sy vandag werk toe gekom het. Sy is vol vertroue dat sy ’n kans staan om die een te wees wat bevorder gaan word.

Met ’n professionele glimlag om haar mond gaan sy die kantoor binne. Haar glimlag vervaag effens toe sy vir Byron Erlank, haar mededinger en seker haar grootste vyand, reeds in meneer Harris se kan­toor aantref. Hy is haar grootste kompetisie vir die bevordering, ’n bedorwe brokkie wat verwag almal moet altyd na sy pype dans. Die werk wat hy doen, dra slegs sy naam, dis dié wat onder hom werk wat die prys moet kry, maar hy weet hoe om ander te mislei, behalwe vir haar. Sy laat haar nie intimideer nie. Sy weet egter haar werk is baie beter as syne.

“Kom nader, juffrou Cloete,” nooi Jim Harris, kom orent en wys haar om te sit.

“Dankie.”

Sy neem op die punt van die stoel plaas en vou haar hande styf op haar skoot saam.

“Vandag is ’n groot dag. Julle albei se werk is uit­stekend, en dis juis waarom julle twee ons topkandi­date vir die bevordering is,” sê hy.

Sy stem nie noodwendig met hom saam nie, maar almal in die kantoor is blind wanneer dit kom by Byron en sy skelmstreke.

“Dus, ná deeglike oorweging, en glo my, dit was nie ’n maklike besluit nie, het ons besluit om vir me­neer Erlank die bevordering te gee.”

Geskok kyk Zelri na hom en dan na Byron wat breed sit en glimlag en sy hand na meneer Harris uithou. Wat gebeur nou hier? Haar werk is tog baie beter Byron s’n!

“Julle albei is baie goed, maar die deurbraak was die Verster-kontrak. Daarvolgens het ons tot die besluit gekom. Nog nie een van ons kon dit regkry om hulle te oorreed om oor te kom na ons toe nie. Ek weet nie hoe jy dit gedoen het nie, maar jy is ’n yster, Byron. Jy verdien die bevordering deur en deur.”

Steeds geskok kan Zelri net na die twee mans staar. Die Verster-kontrak was háár werk. Hoe het Byron dit reggekry om te maak asof dit syne is?

“Baie dankie, meneer Harris. Julle sal nie spyt wees nie.”

“Jy is ’n baie getroue werknemer, juffrou Cloete. Ons hoor net goeie dinge van jou. Al jou kliënte is baie tevrede en dis wat ons wil hoor. Hou aan om sulke uitmuntende werk te lewer.”

Sy glimlag effens en loop met ’n stywe rug by die deur uit. Sy is nou meer kwaad as teleurgesteld. Die Verster-kontrak was háár werk. Sy is die een wat dag en nag daarmee geswoeg het. Sy het alles in haar vermoë gedoen om hulle besigheid te bekom, en nou is daardie lamsak die een wat die krediet daarvoor kry! Hoe het hy hulle oortuig dat dit sy werk is?

Sy frons effens toe dit haar byval dat hulle sekre­taresse aangebied het om die lêers te gaan bêre. Sy versnel haar pas. Nou moet sy eers gaan uitvind wat gaan vir wat.

Nolene glimlag vriendelik toe Zelri haar kantoor binnekom.

“Hallo, Zelri. Hoe het dit toe gegaan? Wie het die bevordering gekry?”

“Byron,” antwoord sy bot. “Nolene, kan jy asse­blief vir my die Verster-kontrak kry?”

“Natuurlik. Maar ek is jammer jy het nie die pos gekry nie. Ek was so seker dat dit jy sou wees.”

“Toe nou nie,” sê sy en tik ongeduldig met haar vingers op die lessenaar. “Dankie.” Sy laat gly haar blik vinnig oor die kontrak. Sy voel hoe die woede in haar opkook, ’n borrelende, onstabiele vulkaan wat enige oomblik kan uitbars. Hy het wraggies sy beson­derhede daarop aangebring! En die vroumens voor haar het hom natuurlik daarmee gehelp. “Nolene, hoekom is Byron se besonderhede en handtekening op een van my kontrakte?”

“Waarvan praat jy?” veins sy, haar oë groot en onskuldig onder die dik laag grimering. Zelri kners op haar tande en stoot die dokumente oor die tafel­blad na haar toe.

“Daarvan. Dié kontrak is myne,” sis sy deur geklemde kake. “Die werk hierin behoort ook alles aan my, so waarom staan sy naam oor alles geskryf?”

Nolene lag senuweeagtig, ’n kinderlike, irriterende laggie wat mans om een of ander rede as oulik beskryf. Of dalk sien hulle net haar mooi gesiggie raak. Dis beslis wat Byron doen, dink Zelri en weet sy is nou kinderagtig, maar gee nie om nie. Sy is woedend.

“Daar moet iewers ’n klein misverstandjie wees.”

Sy skud haar kop. “Wat het hy jou belowe? Geld? ’n Luukse vakansie? Waar is jou selfrespek, Nolene?”

“Zelri, my skapie,” groet Byron en kom vining nader. “Jy wil nie hier op kantoor so tekere gaan nie,” waarsku hy.

“En hoekom nogal nie? Is jy bang die verkeerde persoon hoor iets wat hulle nie moet nie? Dink jy regtig vir een oomblik ek skrik vir jou?”

Hy tree nader en vou sy hand in ’n pynlike greep om haar boarm. “Jy mors met die verkeerde man, skatlam. Hou op om ’n slegte verloorder te wees en aanvaar nou maar net dat dié ’n manswêreld is.”

Sy ruk vererg haar arm los. “Ék is die een wat hierdie kliënte gewerf het, nie jy nie. Jy het nooit op­gedaag vir enige van die vergaderings nie, en nou wen jy die prys vir al my harde werk.”

“En daar is absoluut niks wat jy daaraan kan doen nie,” lag hy selfversekerd. “Ek het die bevordering gekry en nie jy nie. Ek het ’n lewe buite die kan­toor; dis nie my probleem as jy jou nagte om wou werk nie.”

“En tog is dit my nagte wat ek deurgewerk het wat vir jou die bevordering gegee het,” sê sy bitter en gee ook nie meer om of hy dit weet of nie.

Hy trek sy skouers ongeërg op en glimlag breed. “Die een se dood is die ander se brood. En daarmee bedoel ek jou gebrek aan ’n sosiale lewe.”

“Ek weet presies wat jy daarby bedoel.” Sy glimlag skielik toe sy iets onthou. “Weet jy wat, ek dink nou is die ideale tyd vir my om met vakansie te gaan.”

“Jy het baie verlof tot jou beskikking,” beaam Nolene vrolik en trek haar lessenaar se laai oop. “Moet ek vir jou die vorms invul?”

“Dit sal nie nodig wees nie, dankie. Van nou af doen ek alles self. Ons kan nie dat daar weer ’n ou misverstandjie inglip nie,” voeg sy met ’n sarkastiese glimlag by, en sien met genoegdoening hoe die vrou skuldig wegkyk. Sy is kwaad genoeg om te wens Nolene se skuldige gewete gee haar eindelose sla­pelose nagte.

Met ’n vrolike stappie loop sy by die deur uit, reguit na Selma se kantoor toe. Minute later keer sy terug met die ingevulde vorms en sit dit op Nolene se tafel neer.

“Daarsy, alles in orde. Mevrou Kemp het dit som­mer klaar geteken. Ek is amptelik op verlof ná my laaste afspraak met ’n kliënt. Sien julle weer. O, en Byron, aangesien die Verster-kontrak kastig mos jou harde werk is, sal ek jou een ou gunsie doen en jou meedeel dat jy volgende week ’n afspraak met hulle het. Sien weer!”

“Jy sal terug wees voor dan,” lag Byron selfversekerd.

Zelri glimlag bloot. Sy is baie bly hy dink so. Mense het vir te lank te veel kere op haar getrap. Voor­spelbare Zelri het haar breekpunt bereik. Van vandag af trap niemand meer op haar nie.

Lusteloos swaai sy in die stoel. Al haar werk is op datum gebring voordat sy met haar baie impulsiewe verlof gaan; waarheen is sy nog nie seker nie. Ná die nuus dat Byron die bevordering gekry het, voel sy vir die eerste keer in haar lewe nie lus vir syfers nie. Sy is seker een van die min mense op die aardbol wat van syfers en somme hou, maar vandag is dit nie meer die geval nie. Jaar ná jaar werk sy hard om bo uit te kom en dan . . . niks. Is dit ooit nog die moeite werd om so hard te probeer veg vir iets wat haar net mooi nêrens bring nie? Het sy in ’n doodloopstraat beland? Is dit ’n teken dat dit tyd is vir iets nuuts? Sy skud haar kop.

“Jy glo nie aan sulke bog nie, Zelri,” praat sy sag met haarself. Haar blik val op die skildery teen die muur. ’n Verjaardaggeskenk van haar ouboet Ferdie, en een van die enkele persoonlike besittings in haar klein kantoortjie van die afgelope agt jaar. Agt jaar, besef sy dan eers. Agt jaar van hard werk, en sy is steeds waar sy begin het, steeds in dieselfde kantoor, steeds dieselfde ongemaklike stoel, dieselfde ver­beeldinglose grys mat en seker nog dieselfde kram­drukker ook. Al wat oor die jare vervang is, is haar rekenaar.

Die natuurtoneel op die skildery trek aan haar hartsnare – die akasiabome met hul unieke, sambreelagtige vorm afgeëts teen die skakerings van die geel-pienk-rooi-oranje gloed van die sonsondergang, die diere sigbaar by die watergat. Dis seker een van die mooiste sonsondergange so reg uit die lieflikste plek op aarde. In haar verbeelding sien sy die sebras en verskeie bokspesies saamgedrom om ’n watergat, die bobbejane wat in die worsbome met hul donker rooipers blomme en worsagtige vrugte baljaar, die olifante wat kuier-kuier van die een maroelaboom na die ander beweeg om die ryp maroelas te geniet, ’n luiperd in ’n jakkalsbessieboom uitgestrek op een van die takke, lui en rustig, min gepla oor wat om hom aangaan, en dan is daar die visarend met sy kenmerkende roep. Vir haar seker een van die mooiste voëls. Sy sug en vryf met haar plat hand oor haar bors, daar waar verlange skielik fel en vinnig gekom het. Asof sy nie depressief genoeg was nie, verlang sy nou nog terug huis toe ook.

Sy kyk op toe Byron ongenooid haar kantoor bin­nekom. Sy het wel nie veel verhoudings met mans gehad nie, maar sy het geweet die aantreklike man met sy gladde tong is ’n slang die dag toe sy hom ontmoet het. Net jammer sy was nie meer op haar hoede nie. Wanneer hy vrouens wil beïndruk, vertel hy hulle gereeld dat sy ma hom na die bekende Britse digter, Lord Byron, vernoem het. Zelri wonder of hy besef dat die digter nie net bekend was vir sy gedigte nie, maar ook vir sy vele liefdesverhoudings.

“Het jy verdwaal?” vra sy en swaai weer agter haar lessenaar in. Nog iets wat nie verander het nie, dink sy toe die stoel skril en protesterend tol.

“Ek benodig al die inligting van jou vergaderings met meneer Verster.”

“Vra vir Nolene, ek is seker sy sal glad nie omgee om die dokumentasie vir jou te gee nie.” Sy wens sy kon die bitterheid uit haar stem hou, hom nie die genoegdoening gee om te weet hoe ongelukkig sy voel nie, maar dêmmit, hoe is ’n mens veronderstel om te voel nadat alles waarvoor jy so hard gewerk het, verniet was?

“Sy het dit reeds vir my gegee, maar daar is geen inligting daarop wat my vertel waaroor julle alles gepraat het nie. As jy dus jou notas vir my kan gee.”

Sy sit laggend terug in haar stoel “Watse notas Byron? Ek neem nie notas van my gesprekke met kliënte nie.”

Hy frons effens en sy wonder of hy weet dat dit sy voorkoms ontsier. Hy sal beslis hier uithardloop en die naaste kliniek besoek vir ’n paar inspuitings om sy vel weer glad en plooiloos te maak.

“Hoe moet ek dan weet wat om met hulle te on­derhandel?”

Sy trek haar skouers op. “Dis nie my probleem nie. Jy is mos kwansuis die een wat die kontrak gekry het. Ek is seker jy sal aan ’n plan dink.”

“Suur druiwe pas nie by ’n mooi vrou soos jy nie, Zelri.”

“Regtig? Dis jammer, want selfgesentreerdheid pas perfek by aantreklike mans.”

Hy lag. “Ek hou van ’n vrou met ’n bitsige tong. Jy sal my dan maar net eenvoudig Maandag na die vergadering moet vergesel. Jy kan . . .”

Die vermetelheid van sommige mense het ook geen perke nie.

“Nee,” val sy hom beslis in die rede. “Ek is jam­mer, maar soos ek reeds gesê het, ek is van môre af met verlof. Jy is op jou eie.”

“Jy kan jou dinge so reël dat jy eers ná die verga­dering vertrek,” gaan hy ongestoord voort.

Genade, luister die man dan nie na ’n woord wat sy sê nie? Het hy so gewoond geraak daaraan dat alle vrouens spring as hy hulle so beveel? Sy kry skaam namens elke vrou wat haar so laat manipuleer.

“Nee,” sê sy weer. “Ek staan onder geen verpligting om jou te help met enige iets nie. Jy kan my nie manipuleer nie. So, tensy die grootbase my verplig om jou te help met jou werk, wat ons albei weet nie sal gebeur nie, want dan moet jy erken dat jy vir hulle gelieg het, skuld ek jou niks. Nou moet jy my asseblief verskoon, sommige van ons moet ons eie werk doen,” sê sy toe haar foon lui, dankbaar vir die onderbreking.


Met ’n sug skop Zelri haar skoene uit, gooi die sleu­tels in die bakkie op die kas en sit haar handsak en skootrekenaar sommer net daar op die vloer neer. Sy skakel die ketel aan, en terwyl sy wag dat dit moet kook, soek sy vir iets te ete in die yskas. Sy trek ’n gesig en maak die yskas weer toe.

“Ek gaan baie beslis nie iets kook nie. Dankie tog vir iemand soos Lena,” praat sy met haarself en sit die bakkie hoendervleis wat Lena gemaak het in die oond. Terwyl sy wag, haal sy haar selfoon uit haar handsak. Met die beker koffie in die hand, loop sy na die rusbank toe. Vandag het sy die behoefte om met iemand te praat. En wie beter is daar as jou ou­boet met wie jy jou frustrasies kan deel?

’n Glimlag verhelder haar gelaat toe Shani, haar broer se dogtertjie, se skatlike gesiggie op die skerm verskyn. ’n Groot luiperdteddie word onder haar armpie vasgedruk. Zelri dink amper daardie teddie is groter as die tweejarige meisietjie.

“Hallo, Shani.” Sy het nog nie veel met die kindjie te doen gehad nie en weet nie regtig hoe om teenoor haar op te tree nie.

“Hallo,” groet Shani skaam terug en druk haar kop teen Ivonne se skouer.

“Hallo, Zelri. Hoe gaan dit met my gunstelingskoonsuster?”

“So-so. Ek sien Shani het ’n boesemteddie.”

“Sy besit deesdae ’n verskeidenheid wildediere. Die mees onlangse is ’n olifant wat Justin vir haar ge­gee het. Die luiperd bly egter haar gunsteling. Ferdie is nie baie beïndruk daarmee dat sy meer belangstel­ling toon in die katspesie as in plante nie.”

Zelri lag. “Ek kan dit dink. Sy kan haar eie wild­tuin begin met al daardie wildediere van haar.”

“Sy kom nog ’n paar bokke en voëls kort, dan kan ons begin bemark,” skerts Ivonne.

“Sy sal baie suksesvol wees. Is my dierbare ou­boet dalk daar naby jou?”

“Hy is,” praat Ferdie en dan verskyn sy gesig langs Ivonne s’n op die skerm. “Zelri, as jy my gebel het oor een of ander vorm of ding, klim ek deur die foon en draai jou nekkie om.”

Sy rol haar oë. “Ontspan. Al jou goed is in orde. Buitendien sal jy nooit in daardie klein skermpie pas nie.”

“Hy sal wel probeer,” lag Ivonne. “Nee, Shani, klim van die tafel af. Skuus, Zelri. Ferdie, praat jy verder, dan red ek ons dogter voordat sy seerkry.”

“Ek hoor Shani het ’n voorliefde vir die katspesie.”

“Dis als Amelia se skuld met die enorme luiperd wat sy vir haar gegee het. Wat is fout, Zelri?”

“Moet daar iets fout wees as ek met my ouboet wil praat?” antwoord sy met ’n teenvraag.

“Nee, maar ek ken jou en ek kan hoor daar is fout. En dan is jy besig om sinlose praatjies te maak. So uit daarmee. Wat pla jou?”

Sy sug. “Werk is maar net nie meer wat dit was nie. Ek geniet my werk, jy weet somme en syfers is my lewe, maar tog . . .” sy trek haar skouers op. “Ek weet nie. Dalk is ek maar net moeg.”

“Wanneer laas was jy met vakansie, Zel?” vra Ferdie reguit.

Sy dink vir ’n oomblik. “Seker vyf, ses jaar gelede. Dit klink nogal erg noudat ek dit hardop gesê het.”

“Dink jy dan nie dis hoog tyd vir jou om ’n breek te vat nie? Kom kuier by ons. Die vars lug en oop vlaktes is dalk net wat jy nodig het om te ontspan en jou kop skoon te maak. Ma sal baie bly wees om jou weer by die huis te hê.”

Sy glimlag en dink aan haar baie impulsiewe besluit van vroeër vandag. Sy het reeds haar verlof in­gesit, so, wat keer haar eintlik? Dit sal lekker wees om hulle almal vir langer as ’n paar uur te sien.

“Ek weet werk is belangrik, Zel, maar jy moet so nou en dan ’n bietjie rus ook. Pak jou sakrekenaar weg en vergeet vir ’n paar dae van somme en syfers.”

“Ek hoor wat jy sê en ek sal harder probeer om gereelder te ontspan.”

“Jy weet jy is altyd welkom op Enigma, nè?”

Sy glimlag. “Ek weet.”

“Is jy seker daar is niks anders wat jou pla nie?”

Sy oorweeg dit om hom te sê van die bevordering wat toe nie haar bevordering was nie, maar besluit dan daarteen. Dalk sal sy hom later vertel wanneer sy nie meer so kwaad en teleurgesteld daaroor is nie.

“Nee, ek wou maar net ’n vriendelike gesig sien. Ek gaan my nou ooreet aan Lena se heerlike hoenderpastei, en jy wil seker vir Ivonne gaan help met Shani.”

“Kom kuier, Zel. Pas jouself mooi op. Lekker slaap.”

“Lekker slaap.” Met ’n sagte sug sit sy die foon op die tafeltjie neer. Moet sy gaan? Bly sy hier, gaan die werk haar bly bel. Byron gaan haar definitief kom pla as hy besef sy was ernstig dat sy met verlof gaan wees. Permanente verlof, dink sy, en voel steeds nie spyt sy het haar bedankingsbrief net voor sy geloop het, ingehandig nie. Tyd sal leer of dit ’n baie slegte besluit was. Of ’n baie goeie een.