Skip to main content

Uittreksel | Anoniem

Vooraf

Saterdag 17 Augustus
Heydendal
Lula

Sy is van haar verstand af. Dit weet Lula toe sy die afdraai neem na die gehuggie teen die hange van die Kleinrivier- en Steenboks­berge waarvan sy tot voor verlede Dinsdag nog nooit gehoor het nie.

Die pad Heydendal toe is geteer, maar in ’n slegte toestand. Die omgewing is egter ongelooflik mooi. Die kanolalande in volle blom steek goudgeel af teen die groen omgewing en die blou voue van die mistige berge. Langs die pad wieg proteas, speldekussings en kleurvolle fynboslelies in die effense bries asof hulle vir haar wink.

Hoe nader sy aan Heydendal kom, hoe meer dikwels kom sy diere op die pad teë. Beeste, boerbokke, honde.

By die eerste die beste winkeltjie hou sy stil om water te koop. Die gebou is so vervalle soos die res van die huisies wat sy kan sien. Dié is nog meer verwaarloos as wat dit op die internetfoto’s van Heydendal gelyk het – iets wat haar toe al laat besef het waarom die hoewe so billik geprys is.

En dis juis die prys wat haar aandag getrek het op ’n koop-en-verkoop-Facebook-blad – amper te billik vir ’n lappie grond met ’n paar verwaarloosde geboue op.

Die winkeltjie ruik na kruie en stof. Die vrou agter die toonbank is egter die vriendelikheid vanself.

“Dis so lieflik hier,” merk Lula op terwyl sy vir haar kleingeld wag.

“Onse Heydendal is baie spesiaal, ja.” Trots blink in die groen­bruin oë.

Van die straat se kant af klink die saamgeklonterde klanke op van beeste, hoenders, kinders, mans en vroue, jonk en oud wat almal deurmekaar ronddrentel.

“Apartheid het onse dorp mos oorgeslaan. Hier lewe ons almal in vrede saam. Hier is net een kalant wat ons partymaals moeilikheid gee. Maar ons sal hom in die tronk in gepetition kry.”

’n Seuntjie van so tien, twaalf met skeel oë en ’n hangmondjie kom ingeslenter. Hy begin sy duim suig terwyl hy stip na Lula kyk.

“Tonkie, jy weet jy mag nie toeriste pla nie, nè?”  

Tonkie knik.

“Kom kry vir jou swieties.” Die vrou draai die deksel van ’n groot glasbottel vol bont lekkergoed oop. “Net drie.”  

Tonkie gryp egter ’n hand vol en laat spaander.

“Arme kind. Breinskade met geboorte.”

’n Gryskopman kom ingeskuifel. Sy trui is verrek en vol gate, sy broek stowwerig en verslete. “Gee vir ons daar ’n êntjie aan, suster?”

Suster haal ’n enkele sigaret uit ’n Sharp-sigaretpakkie en tel die bruin munte wat die man oorskuif noukeurig voor sy die sigaret vir hom aangee. Lula groet terwyl die man ’n vuurhoutjie bedel.


By die eerste pad na regs van die hoofpad af, het die eienaar, Maria Fourie, se agterkleinkind haar per e-pos ingelig, moet sy regs draai. By De Post, die kontreirestaurantjie, moet sy duskant die drif oor die spruit weer regs draai. En dan moet sy ry tot waar daar drie bloekombome en vyf populiere oorkant die spruit staan. Duskant die spruit is daar ’n huisie en ’n paar ander geboue op die lappie grond. Glo stalle, ’n skuurtjie, nog ’n kleiner huisie en ’n melkkamer.

Omtrent driehonderd meter van die hoofpad af – as ’n mens dit ’n hoofpad kan noem – eien Lula die restaurant. Dis rustiek, maar lyk goed versorg en baie gesellig met sy groot stoep onder ’n prieel.

Die paadjie waar sy links draai, is nie geteer nie en ook nie in ’n goeie toestand nie. Sy ry stadig tot sy die bome anderkant die spruit sien en nog stadiger tot by die grootste van die huisies.

Haar moed sak in haar skoene toe sy uit die bakkie klim. ’n Huis is dit skaars. Eerder ’n bouval. ’n Langwerpige, verwaarloosde geboutjie wat lyk asof dit die skoorsteen abba. Die rietdak het plek-plek inmekaar gesak.

Maria se agterkleinkind het haar gewaarsku die geboue het ’n bietjie TLC nodig en die foto’s het dit beaam, maar só vervalle het sy nie verwag dit gaan wees nie.

Effens moedeloos begin sy van gebou tot gebou dwaal – die een bouvalliger as die ander. Maar die res van die omgewing begin haar hart al hoe meer steel. Die kabbelende spruit, die voëlgeluide, die vars berglug.

“Antie Maria sê vir my jy wil koop.”

Sy skrik haar boeglam. Die skrik word paniek toe sy omswaai. Die letsel, waarskynlik van ’n meswond, gee die man se gesig ’n wrede trek. Sy hare staan wild en stowwerig om sy kop en sy feitlik tandelose mond help nie sy voorkoms nie.

“Ek kan regmaak. Daardie een eerste.” Hy wys na die bouval wat die sogenaamde huis is. “Die ander het baie werk. Ek is Hendrix.”

Sy hoop nie sy wys haar vrees nie. Hier is nie ’n ander mens in sig nie. Sy begin retireer in die rigting van die bakkie. “Ek dink nie ek gaan koop nie.”

“Ek sien hoe jy na die plek kyk. Jy sal koop. Ek sal help regmaak.” Hy volg haar terwyl sy retireer. Sy kan nie uitmaak of sy houding dreigend of net vasberade is nie.

“Ek … ek … Ek sal eers moet dink. Maar dankie.”

“Die Fouries het hier gebly. Jarre en jarre. Toe dood antie Maria se man, en die seun trek hier in met sy vrou. En toe klim dié twee ’n paar jaar later, so ’n ruk uit mekaar, ook die bloutes. Antie Maria bly toe al op een van die wit plase. Sy en die skoondogter had nie ooghare vir mekaar nie. Haar se kleinkind, Rietjie, toe nog klein. Plaas te ver van onse skool. Rietjie word toe groot by Liefie – my se oorle ma se niggie. Ná skool getrou en als. Dis nou Rietjie. Wou weer eendag hier kom bly in die huisie, maar die plek teen daai tyd te kaduks en geld was daar nie.”

Sy wil hom onderbreek, maar hy gee haar nie kans nie.

“En dis mos nog eintlik antie Maria, Rietjie se ouma, se grond. En toe kom antie Maria te hore dat Rietjie se een klong so slim is. Wil universiteit toe. Kan so mooi teken. Anders as die ander een … Dié is ’n robbieskind. Maar dis hoeka die slim een wat die grondjie op die computer gesit het om te verkoop met sy se ouma se nommer daarby.”

“Ek dink nie …” probeer sy keer. Sy wil nie weet wat die ge­skiedenis van die plek is nie. Dit klink asof daar ’n herrie agter die verkoop van die grond is.

“Want, sien,” ignoreer hy haar, “Rietjie sou die grondjie by die ouma erf, maar die ouma het besluit haar se slim agterkleinkind se toekoms is belangriker as dat Rietjie weer hier kom bly. Die klong kan mos vir Rietjie sorg as hy eers geleerd gekom het. Dis hoekom antie Maria nou wil verkoop. Vir sy se geleerdheid.” Blykbaar het hy nou sy sê gesê, want sy kry ’n gaping.

“Ek sal Maria kontak. Dankie. Ek moet net eers mooi dink.” Beslis ’n herrie.

“Onthou net, Rietjie wil nie hê larnies moet hier kom koop en allerhande nuwerwetse goete bou nie. Kan reggemaak word. Die huis. Die stalle en ander bousels ook. Onse dorp moet onse dorp bly. Hier bly ons nie in plakkershutte nie, maar ook nie in bokse van skippe af nie.”

Sy gaan staan. “Bokse van skepe?”

Hy beduie na ’n dubbelverdiepinghuis, deftig saamgestel uit drie skeepsvraghouers, teen die bult ver anderkant die spruit. ’n Groot stoep voor. Dit lyk asof daar ’n plaspoel in die houtdek kan wees. Sonpanele bedek feitlik die hele dak.

“’n Goeie huis platgeslaan vir skipbokse. Dis nie Heydendal nie. En die skipboksmense kom al minder hierheen, en net vir naweke. Dis mors met blyplek. En hulle koop kosgoed en ander goed anner­plek. Heydendal wen niks aan hulle nie.”

Lula bereik die bakkie en maak die deur haastig oop. “Ek moet gaan.”

Hendrix knik. “Gaan vra by Sarina van De Post. Vra oor Hen­drix.” Hy swaai om en stap weg.

Lula kyk hom agterna terwyl ’n rilling teen haar ruggraat af­kriewel. Nie ’n rilling van vrees nie. ’n Rilling van opwinding by die gedagte daaraan dat Hendrix dalk tog sy woord gestand sal kan doen en die bouval in ’n bewoonbare kothuis kan omskep.

By De Post waar sy vir haar koffie bestel, verseker die eienaar haar Hendrix doen goeie werk teen billike pryse en is te vertroue.

“Hy lyk só nadat hy ’n onderonsie gehad het met ’n neef van hom wat een van die meisiekinders hier rond gepla het.” Sarina se vriendelike gesig is bloesend bo die bont voorskoot, haar ligblou oë helder en deernisvol.

Dit klink nie goed nie. “Wat het van die neef geword?”

“Aangegee by die polisie, en toe daar dadels van kom oor te min bewyse, uit die gemeenskap geskop en gewaarsku om nooit weer terug te kom nie. En glo my, hy sal nie. Hy weet goed wat hier op hom wag. Onse mense kyk agter mekaar se belange.

“Behalwe vir die meisiekind se familie wat in elk geval reg in eie hande sal neem, is Hendrix baie geliefd. Almal sal help om die vent wat hom so vermink het, hier weg te hou. Die mense van Heyden­dal duld nie molesteerders en geweldenaars nie. Ook nie diewe en skelms nie. Ons wil net almal in vrede saamlewe soos ons nou al vir honderd en negentig jaar doen. Dis nou vandat Tessa van Heyde, weduwee van die oorspronklike wit eienaar, die plaas Klaarwater aan haar slawe bemaak het.”

“’n Wit vrou het amper tweehonderd jaar gelede haar plaas aan haar slawe bemaak?” Dít klink na ’n storie en ’n half.

Sarina knik. “Klaarwater was een van vyf plase wat sy by haar man geërf het, moet ek bysê.”

Opwinding bruis deur haar toe Lula ná ’n tweede koppie moer­koffie die pad terug Kaap toe aandurf.

’n Plek vol stories. Sal enige skrywer nie sy eersgeboortereg ver­koop om in so ’n omgewing te kom woon en werk nie? Al skryf sy net vrystories. Al het sy nog net een boek en ’n klompie tydskrif­verhale gepubliseer. Al weet sy nie hoe sy op tantieme alleen gaan oorleef nie.

Die klank van die murmelende spruit en ’n gekwetter van voëls op daardie lappie grond volg haar al die pad terug Kaap toe, terug na die piepklein woonstel in ’n buurt waar ’n mens deure en vensters permanent toe hou en holrug stap as jy buitetoe móét gaan.

Die prentjie van die verwaarloosde Heydendal-huisies, sommi­ge skaars meer as ruïnes, sommige in skel kleure geverf, ander wit gekalk, bly voor haar geestesoog spook terwyl sy die trap na haar woonstel opstap en die reuk van kookkos en verbrande roosterbrood probeer ignoreer.

Om te dink sy kan hiervan ontsnap. Wegkom van alles wat agter haar lê. ’n Hele nuwe lewe op ’n skoon lei begin.

As sy bereid is om haar gewete te verkrag.


Hoofstuk 1

Vier jaar later
Vrydag 13 Mei
Heydendal
Lula

Lula lig die volgende manuskrip van die hoop af.

Een hoofstuk later weet sy wie die skrywer is.

Anonieme keuring geld net vir ongepubliseerde skrywers. Hier­die vrou se wollerige, herwaarts-en-derwaarts-skryfstyl sal sy tus­sen honderde uitken. En telkens moet sy maar weer in haar verslag vermaan dat ’n storie nie net uit die een stel gebeure ná die ander bestaan nie. Dat daar in fiksie, soos in die werklikheid, ’n kontinue lyn van oorsaak en gevolg van toepassing is. Dat nie meer as een karakter se perspektief in ’n toneel wenslik is nie omdat die leser wil identifiseer met die hoofkarakter. Etcetera, etcetera, et-donnerse-cetera.

En dis natuurlik ook waar anonieme keuring sy dinges sien. Want wie bied Bellettrie Uitgewers se slypskole aan? Doktor Lula Prins. Wat is die logiese afleiding? Dis sy wat ook verantwoordelik is vir manuskripontwikkeling. In haar verslae herhaal sy immers wat sy in slypskole predik.

Maar by Bellettrie is anonimiteit ononderhandelbaar, al is dit op praktiese vlak ’n bietjie van ’n klug. By ander uitgewerye werk dit dalk anders. Wie sal weet. Sy het nog nie vir ’n ander uitgewery gewerk nie. Net een vrystorie by ’n ander uitgewery gepubliseer voor Bellettrie haar vier jaar gelede by hulle afgerokkel het. Eers net om vir Bellettrie vrystories te skryf, later om vir hulle keuring ook te doen en uiteindelik om manuskripte te help ontwikkel asook slypskole aan te bied.

Sy moet haarself soms nog knyp om seker te maak sy is nie aan die droom nie, nie nog vasgekeer in daardie hel waar sy haar bevind het voor sy Heydendal toe gekom het nie. En dat sy boonop nou ’n relatief goeie inkomste het.

Alles is uiteraard nie maanskyn en rose in die uitgewersbedryf nie, maar sy geniet haar werk meesal. Daar is niks lekkerder as om ’n nuwe talent te ontdek en daarna te sien hoe ’n skrywer ontwikkel nie. Hoe ’n belowende manuskrip in ’n heerlike boek omskep word met behulp van skryftegniese, strukturele en ander raad.

Die heel slegste deel van haar werk is egter om ’n manuskrip waaraan ’n skrywer soms jare lank gewerk het te kritiseer en af te keur. Ongelukkig is dit wat te dikwels na haar smaak gebeur. En opbouende kritiek is nie altyd moontlik nie. Inteendeel.

Die uitgewer by Bellettrie aan wie Lula haar verslae stuur, moes juis onlangs weer vir ’n ywerige maar onervare skrywer vra om liefs nie meer manuskripte in te stuur voor sy haar skryfvaardighede onder die knie het nie.

Maar wat van die mens agter die manuskrip? Die mens wat ’n verslag ontvang, een wat drome vernietig?

Soms voel sy gelyktydig soos regter en laksman. Bevind skuldig, vonnis en voer die doodstraf uit. Jammer, jy mag dalk baie talente hê, maar skryf is nie een daarvan nie.

Ander kere is dit nog moeiliker. Soos die geval is met die skrywer wat Kaapstad so goed uitgebeeld het dat hy net ’n inwoner van die stad kan wees. En ja, anoniem ofte nie, sy kon uit die skryfstyl aflei dis ’n man.

Ongelukkig moes sy vroeër vanoggend sy derde poging weer­eens afkeur. Al het hy die talent om ’n uitstekende storielyn uit te dink en al is hy taalvaardig, beskik hy nog net nie oor die skryftegniese vaardigheid om van ’n goeie storie ’n goeie boek te maak nie.

Dis asof hy in kameraskote sien, terwyl ’n roman ’n heel ander inslag verg. En daarom is die tegniese aspekte by die skryf van ’n roman so belangrik. Vir sommige skrywers kom dit natuurlik – gewoonlik dié wat van jongs af leesvrate is soos sy. Ander sukkel aanvanklik, maar kry dit later reg. En so baie kan net eenvoudig nie die klou by die oor bring nie.

Die Kaapse skrywer is egter een van dié wat daar sal kan kom, dit sal net tyd, geduld en deursettingsvermoë van sy kant af verg. Maar ongelukkig kry manuskripte hoogstens drie kanse by Bellettrie en hy het al drie opgebruik.

Die uitgewer aan wie hy dit gestuur het, sal dus die arme man een of ander tyd vandag moet meedeel dat sy harde werk finaal afgekeur is en dat hy nie die manuskrip weer in enige vorm kan instuur nie.

As haar kontrak nie bepaal het sy mag nie in private hoedanigheid manuskripontwikkeling doen nie, het sy dalk nog probeer agterkom wie hy is en hom verder gehelp. Selfs sonder betaling. Maar sy kan nie. Die Afrikaanse lettere se visdam is piepklein en die riemtelegramme loop blitsig. As die manuskrip elders gepubliseer word, sal die Bellettrie-brigade uitvind. En dan is dit haar kop wat rol. Koebaai, kontrak.

En as sy nie afgedank wil word nie, moet sy nou hierdie manuskrip voor haar probeer red.


Dis net ná vyf toe Lula soos gewoonlik op Netwerk24 se webtuiste ingaan om te sien wat sedert vanoggend se inloer in die land ge­beur het.

Die hoofnuus is steeds iets wat een van die ministers aangevang het. Die foto ’n entjie ondertoe trek haar aandag. Die beeldskone Cindy Schmidt is maklik herkenbaar aan haar uitsonderlike oë.

Dit kan nou net weer ’n aandagsoekery wees soos die aktrise se irriterende gewoonte is. En die probleem is, mense lees dit. Laat kommentare. Selfs nare kommentare waarin lesers vra waarom enigeen dink haar doen en late is nuus, maar die feit dat dit aan­dag trek, sorg daarvoor dat haar griewe en vreugdes altyd maar in die koerant beland. Dit en seker die feit dat sy derduisende Instagram-aanhangers het wat aan haar lippe hang. Wat wil weet wat sy vir ontbyt geëet het, waar sy was vir ’n shoot, hoe haar verloofring lyk, waar sy en haar hunk van ’n verloofde oral heen gaan.

Net toe Lula ondertoe wil rol, dring die opskrif tot haar deur.

Cindy Schmidt se verloofde sterf

Liewe hemel. Sy het dalk nie ooghare vir die vrou nie, maar dis duidelik nie een van haar gewone truuks om in die kollig te wees nie. Dis regtig tragies. Die man is dan nog so jonk. Jonger as syself.

Lula sit terug in haar stoel en maak haar oë toe nadat sy die berig gelees het. Nee, dit kan nie wees nie. Maar … Sy sluk swaar, gaan in haar gedagtes weer deur die kruks van die berig se inhoud.

Cindy Schmidt se twee-en-dertigjarige verloofde, Dian Kruger, is in Bantrybaai oorlede nadat hy sewe verdiepings ver van ’n balkon afgeval het. Geen gemene spel word vermoed nie.

Volgens Cindy het hy kort voor sy dood ’n oproep beantwoord. Sy kon aflei dit was van ’n uitgewer wat haar verloofde meegedeel het dat die manuskrip waaraan hy reeds ’n paar jaar werk, finaal afgekeur is. Dian Kruger het direk ná die oproep buitetoe gestap en van die balkon afgespring. Daar is ’n geskiedenis van depressie.

’n Klomp woorde wat in een vasgevang kan word. Selfdood.

Die woord eggo deur haar geheue, klop saam met die moeisame slae van haar hart. Dis ineens moeilik om asem te haal. Sélf-dood, sélf-dood, sélf-dood …

Nie aan die verlede dink nie, dis anders. Skrikwekkend anders.

Want toeval kan dit nie wees nie. Hoeveel mans in Kaapstad wat al ’n paar jaar aan ’n manuskrip werk, sou juis vandag die nuus ontvang het dat hulle manuskrip finaal afgekeur is?

Nee, nee, nee. Dit kan nie haar Kaapse skrywer wees nie. Dit mag nie. Dit móét toeval wees.

“Asseblief, laat dit toeval wees,” prewel sy hardop.

Lula haal ’n paar keer diep asem. Probeer haar hartklop weer egalig kry.

Onwillekeurig diep sy weer dele uit die Kaapse skrywer se manuskrip uit haar geheue op. Die speurder word interessant uitgebeeld. Nie ’n rokjagter en alkoholis soos soveel ander in speurromans nie. ’n Man met diepte. ’n Man wat nie sy idealisme laat verguis het deur sy beroep nie. Een met deursettingsvermoë, met durf. Al affekteer die misdaad wat gepleeg is, hom op diep emosionele vlak. ’n Misdaad wat gepleeg is deur ’n man waarmee die leser en die speurder ook simpatie het. Maar misdaad bly misdaad.

Natuurlik is die karakters fiktief, maar ’n mens moet deurset­tingsvermoë en durf, ondanks emosionele pyn, ken om daaroor te kan skryf.

Probeer sy haarself verontskuldig? Is dit hoekom dit vir haar net nie moontlik klink dat die man met wie se manuskrip sy al drie keer die afgelope twee jaar gewerk het na sy gewisse dood sou spring bloot oor die afwysing van sy manuskrip nie?

Maar diep binne haar, daar waar ’n sesde sintuig immer aan die sluimer is, weet sy dit is hy. Dat Dian Kruger haar Kaapse skrywer was. Dat hy die uitkoms van haar derde keurverslag nie kon verwerk nie en toe ’n einde aan sy lewe gemaak het.

En dat sy nou die feit in die oë moet staar: Sy is aandadig aan nóg iemand se dood.