Skip to main content

Uittreksel | Alan

Een

Vandag is ’n dag vir lelies. En Jack Johnson. Corinne skuif haar rits dun, goue armbande op teen haar arm en druk die Convallaria majalis se stingel spierwit klokkies tussen die loof wat sy reeds in die groot glaspot gerangskik het. Die terugkeer van geluk – dis wat die lelie van die dale sê.

“Môre, môre!” Ella, Corinne se winkelassistent, kom in een van die gangetjies tussen die hoë rakke vol potte en blomme afgestap. “Ons sal ’n klokkie vir die deur moet kry. Jy is so ingedagte dat iemand op jou kan afsluip as daar nie ’n geklingel of iets is nie.”

Corinne glimlag. “Haai, ja, nie ’n slegte idee nie. Ek het jou nie eens hoor inkom nie.”

Ella kantel haar kop en beduie na die ruiker. “Dis mooi. Is dit vir Rita?”

Corinne glimlag. Ella weet al dat Rita elke Vrydag vir haarself ’n bos blomme by Corinne se winkel kom koop. Blomme wat Corinne moet uitkies volgens haar bui van die dag. Maar daar moet altyd ’n takkie roosmaryn ook wees – vir die onthou. “Ja, maar vandag wil ek dit vir haar as ’n geskenk gee om dankie te sê vir al haar ondersteuning oor die jare.”

Ella knik. “Foeitog, ja. Sy word mos sestig en sy is so alleen.”

“Haar man se dood vroeër vanjaar was vir haar bitterlik onverwags. Met hulle kinders almal oor die water, moet dit maar sleg wees, alhoewel sy altyd glimlag. Sy verdien vanoggend ’n bos lelies.”

Ella raak liggies aan die bos blomme. “Waarom lelies – vir geluk?”

“Sy verdien al die geluk wat sy kan kry.” Corinne bekyk die pot vir ’n ruk terwyl Jack agter haar van die liefde sing. Ella stap weg om haar handsak te bêre.

Nog ’n rooi inkalelie is nodig. Die Alstroemeria-blom is simbolies van rykdom, vooruitgang en voorspoed – alles wat sy Rita toewens.

Ella kom teruggestap. “So, ek hoor dis ’n Jack Johnson-dag.”

“Dis ’n pragtige dag. Het jy gesien die jakarandas begin blom?” vra Corinne. “Ek is mal oor dié tyd van die jaar in Stellenbosch.” Sy druk ’n paar stele bloedrooi rose in haar rangskikking.

“Natuurlik rooi rose vir liefde,” lag Ella.

“Rita verdien baie liefde.”

“Ek gaan koffie maak.” Ella stap weg in die rigting van die stoorkamer wat ook dien as ’n klein kombuisie. “M’m, die dag is mooi, ja, die jakarandas ook, maar as Jack sing, beteken dit net een ding. Jy vergeet ek is al langer as ’n jaar jou assistent,” roep sy oor haar skouer.

Corinne staan terug en bekyk die rangskikking voor haar. Sy moet nog die takkie roosmaryn byvoeg, maar daar skort steeds iets. Sy kyk rond en haar oog val op die emmer vol primulas. Opgewonde druk sy ’n takkie in die bos. Dit sal Rita herinner hoe belangrik sy in hulle lewens is. Tevrede draai sy die pot in die rondte. Die blomme daarin dra álles oor wat sy graag vir Rita toewens.

Ella kom terug. “Ek het die ketel aangeskakel, ek sien jy het nog nie eens vir jou koffie gemaak nie.” Sy trek aan Corinne se arm en kyk in haar oë. “Toe, uit daarmee. Die stomme Tobie het toe ook nie uitgewerk nie, of hoe?”

Corinne gooi haar hand in die lug. “Toe nou nie. Hy’s regtig gaaf, oulik, ordentlik …”

“En vervelig, heeltemal te vervelig vir jou,” val Ella haar in die rede.

“Ek wou sê hy’s te ernstig vir my, maar hy is regtig so gaaf, die fout lê seker maar by my. Dalk is die standaarde wat ek stel net te hoog of iets.”

“Nooit! Nee, o aarde, die lewe is heeltemal te kort vir net gaaf. ’n Mens het ’n man nodig wat jou sal laat dink aan swart satynlakens en soel nagte, een wat jou laat swymel. Lank, sexy, gespierd – dís die soort man wat jy in jou lewe nodig het.”

Corinne lag terwyl sy na die klein kombuisie toe stap. “En dan? Wat gebeur dan?” Sy maak vinnig vir haar en Ella koffie.

“Dan wag jy vir die sparks om hulle werk te doen. En wie weet, as die vonke reg is, sal jy dalk van plan verander en dit selfs tog oorweeg om dalk te trou,” roep Ella agter haar aan.

“Wel, ek is amper dertig en kan in alle eerlikheid sê geen man – en onthou, ek gaan baie uit – maar géén man het nog my hart laat rondbons, skoenlappers op my maag losgelaat, my hande klam gemaak, my mond laat uitdroog, sterre laat verskiet óf enigiets bowêrelds laat gebeur nie.”

“Um, Corinne …”

Maar sy gaan nie toelaat dat Ella haar nou onderbreek nie. Sy het ’n punt om te bewys. “Liefdesverhale en flieks wil ons laat glo daar is iewers ’n sielsgenoot vir ons elkeen, maar my stomme ma het pas van haar sesde kamstige sielsgenoot ontslae geraak. Ek kon dit natuurlik vir haar lank voor die tyd gesê en haar baie hartseer gespaar het.”

Sy tel die bekers op en stap uit die klein kombuisie terug na die toonbank. Haar oë is op die koffiebekers, sy wil seker maak sy mors nie. “Trou is nie vir ’n vrye gees soos ek nie. En die man wat my liggies aanskakel, moet nog …”

“Ja? Dit wil ek baie graag hoor,” sê ’n diep manstem van iewers voor haar net toe sy by die toonbank aankom.

Vinnig kyk sy op, die koffie mors oor haar vingers. Met ’n gedempte uitroep sit sy die bekers vinnig op die toonbank neer en vou haar hande oormekaar. Haar vingers brand soos vuur van die warm koffie. Sy knip haar oë, maar daar staan hulle nog: vyf mans. Vyf dodelik aantreklike mans. Vyf baie lang, gespierde, sexy, knieknakkend aantreklike mans. In haar blommewinkel. Reg voor haar oë. Almal het ligte rooi hare met blou oë, wat ’n mens herinner aan lande en nogmaals lande laventel. Breë skouers, gebeitelde kakebene, kuiltjies in die wange – seriously – smal heupe, killer smiles.

Seker broers, of ten minste neefs. Die testosteroonvlakke in die winkel het die hoogte ingeskiet, al die haartjies op haar arms rys, en vir ’n paar sekondes kantel die aarde gevaarlik om haar.

Vier van hulle glimlag, vier pare kuiltjies verskyn en verdwyn. Sy sien dit en glimlag, maar dís nie wat haar hart vir die eerste keer in haar ganse lewe laat bokspring nie. Nee, die man wat haar binnegoed omkeer, is die een wat so ’n ent agter die ander staan – wie se blou oë ’n diep, amper pers skakering van blou is.

Sy hande is in sy broeksakke, en alhoewel hy ook na haar kyk, is daar nie ’n teken van ’n glimlag op sy gesig nie. Iets begin fladder in haar maag. Sy glo dit nie, maar as sy dit nie mis het nie, het sy wraggies skoenlappers op die maag – vir die eerste keer in haar hele lewe.

Vinnig kyk sy na Ella. Haar assistent staar grootoog terug na haar. Goeiste, kon sy nie ’n beter poging aangewend het om Corinne te laat weet daar is iemand – výf sexy iemande – in die winkel nie? Maar siestog, Ella lyk soos sy voel – kompleet asof sy met ’n voorhamer teen die kop geslaan is.

Bewerig trek sy haar asem in. Flippit, sy kan nie soos ’n blosende skooldogter hier staan en hiperventileer nie. Dis haar winkel, hierdie mans is moontlike kliënte, maak nie saak hoe groot en sexy hulle is nie, sy moet iets sê. En ten minste probeer om professioneel te klink.

“Menere,” kry sy uiteindelik gesê. “Goeiemôre en welkom. Kan ek help?” Ai tog, is dit nou nodig om so sonder asem te klink?

Langs haar kry Ella ook uiteindelik lewe en beweeg nader. Sy gooi haar lang blonde hare oor haar skouer. “Ons het die mooiste blomme in die hele Stellenbosch, julle is op die regte plek,” koer sy en fladder haar wimpers.

Vier paar blou oë verskuif na Ella, maar die een paar bly op Corinne. O liewe aarde. Haar knieë wil-wil knak, haar hart slaan bollemakiesie, haar handpalms word klam, haar asem jaag asof sy kilometers ver gedraf het. En die skoenlappers? Heeltemal berserk. Heeltemal. Hier moet sy vinnig wegkom voor sy iets totaal onbesonne aanvang.

“Ek … my hande … gebrand,” beduie sy en draai in haar spore om, terug na die klein kombuisie.

Sy moet net eers haar deurmekaargeskommelde breinselle regkry voor sy besigheid met enigiemand kan doen, wat nog te sê die vyf sexy mans wat haar winkel toestaan.

Sy draai die kraan oop en druk haar brandende vingers onder die koue, lopende water in. Dalk help dit die res van haar lyf om ook af te koel. Wat op aarde gaan met haar aan? Dis nie asof sy nog nooit ’n aantreklike man gesien het nie. En daar is nie net een man in haar winkel nie, maar vyf. Almal is ewe aantreklik, hulle lyk na mekaar, hoekom sal net een van hulle …?

“Laat ek sien,” sê iemand langs haar. Sy kyk oor haar skouer. Vas in ’n paar blou oë. Dis hy. Die een sonder ’n glimlag. Die een wat haar soos ’n outydse heldin voor ’n ridder wil laat swymel. Die woord wat Ella gebruik het. Nie dat sy weet presies hoe ’n mens swymel nie, dis nie iets wat sy al ooit oorgekom het nie, maar sy dink sy begin ’n idee kry. Vlinders op die maag, knakkende knieë, droë mond – om net ’n paar dinge te noem. Swart satynlakens en soel nagte – Ella se woorde van vroeër flits deur haar kop. En in dié oomblik is dit heeltemal te maklik om hierdie man tussen die swart lakens te sien – sonder enigiets aan. Help!

Haar asem ruk in en saam daarmee asem sy hom in – ’n mengsel van hout en kruisement en man. Haar knieë dreig weer om te knak en sy kyk vinnig af na haar hande.

“Ek is oukei,” sê sy. Hoekom op aarde klink sy so hees?

“Laat ek sien,” sê hy weer en vat haar hande onder die lopende water uit. Stomgeslaan kyk sy af na sy bruingebrande hande wat haar nat vingers een vir een optel en deurkyk.

“Ek …” begin sy praat en maak die fout om weer na hom toe op te kyk.

Hy is sentimeters weg van haar. Sy oë gly oor haar gesig, kyk verby die uiterlike tot in haar siel asof hy in daardie een oomblik álles van haar raaksien. Sy moet iets sê, iets doen, maar nie een van haar brein se boodskappe kry dit reg om by die res van haar lyf uit te kom nie. Haar sintuie het oorgeneem en … wat op aarde gebeur dan nou hier? Haar asem steek diep agter in haar keel vas. O aarde, as sy dit nie mis het nie, reageer haar liggaam op sy groot gespierde lyf reg voor haar, op sy geur, op sy aanraking, op sy asemhaling, sy alles.

Haar borste … verbeel sy haar of is hulle vreemd swaar? Verbouereerd trek sy haar hande uit syne. So nonchalant moontlik vou sy haar arms. Hy kan hopelik nie sien wat gebeur nie. Maar so asof hy presies weet wat in haar kop aangaan, sak sy oë af, ’n spiertjie spring in sy wang, en toe hy weer na haar kyk, is sy blou oë amper swart van … begeerte?

Maar dis tog belaglik.

Dié keer is sy nie in staat om haar knieë se knak te keer nie en sy moet teen die toonbank agter haar leun om regop te bly.


Om een of ander waansinnige rede het Alan gedink dis ’n goeie idee om agter hierdie vroumens aan te stap, om aan haar hand te vat. Hy sou nie eens hier gewees het nie, hy wou nie saamkom nie. Dis Doug wat gaan trou, dis Doug se verloofde wat histeries is oor ’n bloemiste wat nie op oproepe reageer nie, wat huil oor die Skotse heide wat skynbaar moeilik is om in die hande te kry. Maar dis Doug se probleem.

Tog was hy wat Alan is, nog nooit teen sy ma se pleidooie bestand nie, en hy moes maar ingee en saamry. Die opdrag is hulle moet gaan soek na ’n bloemiste op wie Doug se bruid kan staatmaak, daar is drie weke oor voor die troue. Die blomme is die bruidegom se verantwoordelikheid, het sy ma vingerswaaiend beduie en ’n foto en ’n lys van blomme in Doug se hande gedruk.

Hy was so de duiwel in. Doug was die afgelope ruk min by die werk, en hy en sy drie ander broers moes behalwe hulle eie take, Doug se werk ook nog doen. ’n Sagtevrugte-uitvoerbesigheid kan nie vanself funksioneer nie. Hulle het eindelose probleme met sommige van hulle produsente, die stakings deur die werkers in die Ceres-area maak dinge nie makliker nie, en die laaste ding waarvoor hy vandag tyd het of lus is, is om agter frieken blomme aan te ry. En toe, by die tweede blommewinkel waarin hulle stap, kom hierdie vroumens met haar koringblonde hare en blouselblou oë in die gang aangestap, ’n rits armbande vrolik aan die klingel aan haar arm. Hy’t haar gehoor nog voor hy haar gesien het. Nietemin was die vuishou van begeerte totaal onverwags, die onmiddellik intense behoefte om aan haar te raak vir seker ’n eerste.

Toe sy in die gang afstap, het sy voete eenvoudig begin beweeg. Hy moes net seker maak sy is oukei. En hier is hy nou, by haar. Of dit die blomme is waarmee sy werk en of dit haar parfuum is, weet hy nie, maar die sagte, sexy blommereuk wat om haar hang, sypel deur sy vel tot diep in sy wese en krap sy gewone logiese denke totaal deurmekaar. En dit maak hom heeltemal mal. Wat hom volkome uitboul, is dat hy kan sien haar lyf reageer op hom net soos wat syne op haar reageer. Al waaraan hy kan dink, is om haar oor sy skouer te gooi en iewers heen te neem waar hulle alleen kan wees. Die behoefte om haar vas te hou en te soen totdat hulle al twee vergeet waar en wie hulle is, is só oorweldigend dat ál die ander frustrasies en probleme in sy lewe verdwyn.

Dalk is sy vanaand beskikbaar en kan hulle uitgaan, en miskien is sy ander aande ook beskikbaar … Hy knip sy oë. Wat de hel? Hy staan en maak planne om ’n girl wat hy van geen kant af ken nie, uit te neem – nes ’n verliefde skoolseun. Wat die hele bisarre ding nóg vreemder maak, is dat sy glad nie die tipe vrou is na wie hy normaalweg eens kyk nie. Al wat hy regtig van haar weet, is dat sy in hierdie winkel werk en … Hoe het sy nou weer gesê? Sy is te veel van ’n vrye gees om te trou, en die man wat haar liggies aanskakel … Sy het nie haar sin klaargemaak nie, maar hy kon aflei dis nie iets wat reeds gebeur het nie.

Tot nou toe. Obviously. Vandat hy by haar staan, het dinge verander. Het álles verander. Haar gevoude arms is seker veronderstel om te keer dat hy sien hoe sy op hom reageer. Maar wat sy nie weet nie, is dat die beweging presies die teenoorgestelde uitwerking op hom het. Die glimp wat hy kry van die sagte kurwes van haar borste laat die bloed net verder suid van sy middel sak.

Bliksem. Hy besef twee dinge tegelyk – hy moet vinnig van haar af wegkom, en hy sal eers sy liggaam onder beheer moet kry voordat sy broers hom sien. En asof sy presies weet wat in sy gedagtes aangaan, sak haar oë af. Die sagte kreun oor haar lippe por sy lyf verder aan. Toe sy weer opkyk, is daar ’n blos op haar wange, verwondering in haar oë en wragtig ’n geamuseerde glimlag om haar mond. Sy maak haar keel skoon en gooi ’n stringetjie van haar lang hare oor haar skouer. Haar armbande terg hom klingend. “Ek … ek dink jy moet eers ’n rukkie hier wag voor jy by die ander aansluit,” sê sy, maar dis duidelik sy sukkel om haar lag te hou.

“O, jy dink dis snaaks?” brom hy vies. “Jy moet dalk ook ’n paar oomblikke wag voordat jý voor mense verskyn,” sê hy en beduie na die twee puntjies wat styf teen haar toppie beur.

Sy kyk vinnig af en trek haar asem skerp in.

“Dis … dis koud,” stamel sy en kies koers deur se kant toe. Teen een van die mure hang ’n dunnerige los trui wat sy gryp en aantrek net voor sy, armbande klingend, om die hoek verdwyn. Ha, dit is toe nie so snaaks as dit met haar ook gebeur nie.

Hy leun teen die wasbak en tel tot tien, toe twintig. Sy liggaam kom uiteindelik tot bedaring. Haar lag en die geluid van haar armbande kom oor die luggolwe in die gang af en bereik hom op dieselfde oomblik. En dadelik is die effek van sy tellery tot niet.

Swetsend draai hy die kraan oop en druk sy hande onder die koue, lopende water in. Hy spoel dit oor sy gesig en gryp ’n papierhanddoek wat daar naby lê om sy gesig mee af te vee. Met lang treë stap hy terug na waar sy broers laggend oor die toonbank hulle flikkers vir die twee vroumense gooi.

“Corinne, dit is Doug Sutherland,” stel die donkerkopvrou wat ook in die winkel werk sy ouboet aan die meisiekind met die armbande voor. Doug steek sy hand na haar toe uit. “En hierdie spulletjie is sy jonger broers … um … wat het julle nou weer gesê is julle name?”

Die donkerkop giggel. Doug beduie na hulle drie broers wat agter hom staan. “Edward, Finlay en Quinn en daar agter jou staan Alan.”

Die vrou met die armbande glimlag. “Aangenaam. Ek is Corinne en dit lyk my julle het reeds deeglik met Ella kennis gemaak.”

Sy broers grinnik. Hulle het natuurlik skaamteloos met Ella geflankeer terwyl hy saam met Corinne in die kombuis was. Hel, en wat het hý nogal gedoen?

“Sutherland? Dit klink Skots?” vra die blondekop. Corinne. Die naam pas by haar. So effens anders as die gewone.

“Ja, en dis hoekom ons hier is, om blomme vir my Skotse troue te reël,” sê Doug. “Ek trou oor drie weke. Is jy beskikbaar om te help? Die bloemiste wat Annabel … dis my verloofde … gekry het, het in die niet verdwyn en reageer nie op oproepe nie. Ons sukkel nou al dae lank om ’n ander bloemiste te kry. Ons wil albei graag ’n tipies Skotse troue hê, en Annabel se ruiker en dié van haar strooimeisies moet daarby pas.”

Terwyl hy praat, blaai sy in ’n groot dagboek wat op die toonbank lê. “Jy praat van die eerste naweek in Desember?” Sy tik met haar pen in die dagboek.

“O, aarde, ons is ongelukkig reeds vol. Ons moet blomme verskaf aan ’n funksie die vorige aand, ek dink nie …”

Doug gee haar nie kans om haar sin klaar te maak nie. “Ons sal almal help – aandra, optel, wat ook al, maar asseblief, ek smeek jou, kan jy nie ’n plan maak nie?”

Die ander vroumens staan nader. “Wat as ons vir tannie Lisa vra om die Vrydagaand se blomme te doen?” vra sy versigtig.

Corinne kou haar onderlip en Alan sluk ’n kreun in. Wat de hel? Sy lyf reageer op alles wat die vroumens doen.

“Wat het julle in gedagte?” vra Corinne toe sy uiteindelik opkyk.

Doug haal die papier wat hulle ma in sy hand gestop het uit en oorhandig dit aan haar.

“En o ja, hier is ook ’n foto van ’n tipiese Skotse ruiker,” sê Doug. “Dis presies so een wat Annabel wil hê.”

“Dankie,” sê sy en gaan sit op ’n hoë stoeltjie terwyl sy deur die lysie kyk. “Ek het al iets soortgelyks gedoen. Skotse troues is baie gewild.”

“Waar was jy netnou?” vra Edward vir Alan.

“Ek … het my hande gewas,” sê hy kortaf en ignoreer sy broers se opgetrekte wenkbroue. Sy oë dwaal terug na die vroumens op die stoel. Terwyl sy deur die lysie lees, skop sy haar bene heen en weer, en vir ’n oomblik flits iets aan die onderkant van haar lang romp in sy oë. Met die volgende skop sien hy dit raak – ’n ragfyn goue kettinkie om haar enkel. Haar dun, sexy enkel. Met nog ’n onderdrukte kreun draai hy sy rug op almal en loop ’n ent weg. Bliksem. As hy soos ’n agtiende-eeuse ridder begin dink ’n vrou se enkels is sexy, is sy broers seker reg – dis tyd dat hy weer ’n slag uitkom, ’n vrou uitneem, seks het. Dis belaglik om so te reageer op ’n wildvreemde vrou met lang, los hare en vreemde klere net omdat haar armbande klingel.

Agter hom gesels die armbande weer en Corinne praat. “Goed, as julle almal sal help aandra, kan dit werk. Die kleure is nie ’n probleem nie, maar ek sal moet uitvind of ons Skotse heide kan kry …”

“Ons kan die heide invoer,” sê Doug. “Alan, wat dink jy? Ons het mos kontakte in Skotland?”

Alan draai vinnig terug en stap tot by die toonbank.

“Is jy nou heeltemal bedo…” begin hy, maar Corinne spring op en sit haar hand op sy arm, en sy woorde droog summier op. Haar aanraking steel sy asem, sy gedagtevloei, die werking van sy brein.

“Ek het ’n voorstel,” sê sy sag maar ferm. “Hier om die hoek is ’n heerlike koffieplek. Gaan bestel vir julle koffie, eet ontbyt, ontspan. Blomme is my besigheid. Ek en Ella gaan gou kyk wat ons by ons verskaffers kan kry. Sodra ek ’n plan het, kom gesels ek met julle. Gee ons so ’n halfuur.”

Doug se glimlag is breed. “Dankie, Corinne,” sê hy, buig oor die toonbank, trek haar kop nader en soen haar op haar wang.

Laggend druk sy hom weg. “Ja, toe nou. Uit is julle, ek kan nie dink met so baie mense in my winkel nie.”

Met ’n vinnige knik in die algemene rigting van die vroumense, is Alan uit by die deur terwyl sy broers nog groet. Sy vuiste is gebal en met ’n swetswoord druk hy sy hande in sy broeksakke. Doug het net ’n grap gemaak toe hy vir Corinne soen, hy weet dit. Maar hy is gereed om sy vuis in sy broer se gesig te druk. Hard. Wat de hel het dit met hóm te doen? Sy kan soen wie sy wil – hy ken die vroumens van geen kant af nie.