Skrywersprofiel | Theresa van Baalen
Theresa van Baalen is gebore op Uitenhage en het gematrikuleer aan die Hoërskool Brandwag. Sy woon al vir bykans 30 jaar op Port Nolloth, maar het tydelik verhuis na Hermanus ter wille van haar jongste seun se hoërskoolloopbaan.
Theresa het op nege al besluit dat sy ’n skrywer gaan word. Dit het gebeur nadat sy Enid Blyton se The Secret Seven gelees het. Sy kon net nie anders nie. Sy het dadelik geweet dat skryf deel is van haar toekoms. Sy het van toe af stories op haar ma se tikmasjien getik en vandag is sy baie dankbaar dat rekenaars wel ontwikkel is.
Theresa het ná skool eers gedink sy wil graag ingenieurswese studeer, maar gou van plan verander. Sy het kortverhale begin skryf. Een hiervan is deur die tydskrif Sarie aanvaar en geplaas. Hierna het sy jaarliks deelgeneem aan die Baba & Kleuter-tydskrif se kinderstoriekompetisie. In 2004 word sy aangewys as een van die naaswenners.
In 2009 word drie van haar rympies in die Nuwe Kinderverseboek opgeneem en in September van dieselfde jaar verskyn haar eerste prenteboek Aspris-krokkedis wat nie net met ’n ATKV-kinderboektoekenning vereer word nie, maar ook in 2012 die Tienie Holloway-medalje ontvang. Haar tweede boek, Karla Krullebol, wat in 2010 verskyn, spog ook met die eer van ’n ATKV-kinderboektoekenning.
Sedertdien het Theresa se oeuvre gegroei met die Vakansiepret-reeks, die welbekende Sanri Steyn-reeks waarvan die 9de boek binnekort die lig sal sien en heelwat romanses wat sy onder ’n skuilnaam uitgegee het. Sy gee in 2019 haar eerste tienerroman, Z-A-K: Die blou planeet, uit wat in die wetenskapfiksiegenre val. Haar raad aan enige iemand wat graag suksesvol in die kinderboekmark wil wees is: “As jy dit nie geniet om kinderboeke te lees, rekenaarspeletjies te speel of animasierolprente te kyk nie, vra jouself af of jy REGTIG kinderboeke wil skryf.”
Wanneer Theresa nie skryf nie, hou sy daarvan om kreatief besig te bly met kuns en handewerk. Sy het altyd graag katte geverf, maar vandat sy die wonder en moontlikhede van digitale kuns ontdek het, spandeer sy meeste van haar vrye tyd, as sy nie lees nie, voor haar rekenaar. Sy het ook vir jare vrywillig by die Port Nolloth Museum gewerk. Sy geniet dit om foto’s te neem en spandeer graag tyd saam met haar seuns. Sy is ook ’n kranige rekenaarspeletjie-fundi en lees baie tiener- en kinderboeke, bloot omdat sy dit geniet. Dit help haar ook om die wending van die genres dop te hou.
“Gee vir my ’n boek wat ek nie kan neersit nie, en karakters waarna ek begin verlang as ek daardie laaste bladsy omgeblaai het!”