Skrywersprofiel | Fanie Viljoen
Fanie Viljoen is in Welkom gebore, waar hy ook skoolgegaan het. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Goudveld. Die skilder- en skryfgogga het Viljoen reeds op skool gebyt.
Van sy skilderye het ‘n tuiste gevind in Amerika, Australië, Kanada en Brittanje. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gewilde kinderboekskrywers.
Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Hy skryf veral kinder- en jeugboeke omdat daar nie grense is aan kinders se verbeelding nie. Fanie woon tans in Bloemfontein. Hy skryf voltyds.
Die skrywerslewe
Fanie meen die skryfgogga het hom op skool beetgekry en dat dit sy Afrikaans-onderwysers was wat ’n liefde vir stories by hom gekweek het. Later was dit veral sy ontmoeting met Jaco Jacobs wat Fanie die deurslag gegee het om sy eerste boek te skryf. Omdat die skryflewe egter bloedsweet en trane vereis, moes hy al vreemde werke doen. Een hiervan was om ’n kassier in ’n bank te wees. Ná ’n paar maande se werk by die bank het Fanie diensplig gedoen.
Benewens sy voltydse skryfwerk sal Fanie, wanneer hy ’n ruskans het, lees, musiek luister (veral musiek wat buite die populêre musiekgenre val), oefen in die gim en rondhang in koffiewinkels. In koffiewinkels tref inspirasie gereeld en dit is hier waar hy ook sit en skryf. Fanie het al talle titels geskryf – en hy gaan nie sommer vinnig ophou skryf nie. Alhoewel hy ‘n voorliefde vir kinder- en jeugboeke het, is daar ’n aantal volwasse titels wat Viljoen ook geskryf het. ‘n Volledige lys van al Fanie se titels is hier te kry: www.fanieviljoen.co.za
’n Hele rits toekennings is aan Fanie se kinder- en jeugboeke toegeken. Hy het al telkemale ’n Sanlam-prys ontvang. Die M.E.R-prys is ook al twee keer aan hom toegeken, onderskeidelik vir jeuglektuur en vir geïllustreerde kinderboeke.
Fanie ontvang ’n ATKV-kinderboektoekenning vir werke soos Slym en die gogga-sirkus, Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood, Nova: Die begin, Klou, Spring, Plons, Bravo, Lulu en Oepsie Daisy, Lulu. Twee van sy boeke, Poenk (uitgegee as Betower in 2012) en Afkop (2015), was naaswenners in LAPA se Jeugromankompetisie. Leeus met letsels en Uit het ook plekke op die IBBY-ererol ontvang.
Lof vir sommige van Fanie se werke
Oor die Nova-wetenskapfiksiereeks: “Hoewel die Nova-reeks gewilde leesstof is, sal dit ’n fout wees om dit te onderskat. Naas lekker inhoud bied Fanie Viljoen se werk emosionele diepte, taalkundige en tegniese vernuf en relevansie deur aan te sluit by diskoerse oor wetenskapfiksie, wetenskap van die buitenste ruim, asook ruimtewesens en verwante samesweringsteorieë.” (Mia Oosthuizen, Rapport, 19 Oktober 2014)
Oor Uit: “Met Uit bou Viljoen sy eie indrukwekkende publikasielys en die tienerfiksiegenre in Afrikaans positief uit met nóg ’n verhaal wat ver en wyd gelees moet word. Vele tieners gaan hulle eie stryd hierin weerspieël sien. Duisende meer gaan besef wat hul maats of familielede deurmaak. Families en onderwysers kan insig verkry in die optrede en denkprosesse van seuns en meisies met wie hulle te doen kry.” (Coenraad Walters, www.litnet.co.za)
Oor Pleisters vir die dooies: “Met Pleisters vir die dooies het Viljoen baanbrekerswerk gelewer en sodoende ’n grensverskuiwende oomblik in die Afrikaanse jeuglektuur teweeg gebring. Hierdie roman is Afrikaans se eie Catcher in the Rye wat die tienerpsige tot op die been ontgin ten spyte van die ‘donker’ onderwerpe wat aangeraak word.” (Dewald Koen, www.litnet.co.za)