Skip to main content

Skrywersfokus: Riaan Grobler

Skrywersfokus: Riaan Grobler

Riaan is ’n bekende omroeper, sanger, akteur en TV-aanbieder. Hy is gebore en getoë in Pietersburg en woon deesdae in Pretoria. 

Ons het met Riaan Grobler gesels oor sy boeke, Geheime op Philadelphia en Hospitaal Weltevreden:

1. Wat was die inspirasie vir Geheime op Philadelphia en Hospitaal Weltevreden?

Geheime op Philadelphia: Ek is self ’n sanger in die Afrikaanse musiekbedryf en wou nog altyd ’n storie vertel van ’n sanger wat sy gehoor verloor en die gevolge daarvan. Verder is Philadelphia my gunsteling dorpie in die Weskaap en het ek gedink dit sal die perfekte plek wees vir my storie om in af te speel.

Hospitaal Weltevreden: Ek wou nog altyd ’n hospitaal-storie skryf. Toe ek jonk was het my ma Ena Murray se boeke gelees en dit was die boeke wat ek ook toe begin lees het en Ena Murray het baie oor hospitale geskryf. Ek het baie navorsing gedoen om die storie so eg as moontlik te laat oorkom.

2. Hoeveel van jou persoonlike ervarings en emosies het jy in jou karakters en storielyn ingewerk?

Daar is maar ietsie van myself in al my hoofkarakters. In Geheime op Philadelphia is die een hoofkarakter ’n sanger - ek is self ’n aktiewe sanger in die musiekbedryf so ek ken daardie veld baie goed.

In Hospitaal Weltevreden het ek byvoorbeeld ’n sterk storielyn oor depressie omdat ek self daarmee gediagnoseer is.

3. As jy jou boeke se tema of boodskap in een sin moes opsom, wat sou dit wees?

Geheime op Philadelphia: Ek raak die temas van verwerping, gehoorverlies, musiek en liefde aan. 

Hospitaal Weltevreden: Ek raak verhoudings aan, gemoedsversteuring, geweld teen vroue, kanker en liefde aan.

4. Wat is die mees verrassende ding wat jy geleer het tydens die navorsing vir jou boek?

In Geheime op Philadelphia het ek opnuut geleer hoe belangrik gehoor vir ’n sanger is. Ook dat mens met vandag se tegnologie nog steeds kan sing as jy gedeeltelik doof is.

In Hospitaal Weltevreden het ek als van borskanker geleer. Ek het ’n vrou, wat ek anoniem bedank in my boek, ontmoet wat haar reis met borskanker met my gedeel het. Sy is oorlede ’n maand voordat Hospitaal Weltevreden uitgekom het.

5. Wat is die vreemdste of snaaksste ding wat jy ooit gegoogle het vir navorsing vir ’n boek?

Impotensie by ’n 83-jarige man. Ek kon dit nie glo dat mense nog op daardie ouderdom seksueel aktief is nie.

6. Kan jy ’n geval beskryf waar 'n karakter of storielyn jou verras en ’n onverwagte wending geneem het?

In Geheime op Philadelphia was dit wat met Dieter se ouers gebeur het. Toe ek dit skryf moes ek eers asem skep en winkels toe gaan om doodseker te maak dit is wat ek wil hê moet met hulle gebeur.

In Hospitaal Weltevreden was dit Rentia, die hospitaal sielkundige, se man. Alhoewel hy ’n narsis is, het ek nooit gedink sy lewe sou só ’n wending neem nie.

7. As jou boeke 'n roomysgeur was, wat sou die geur wees en waarom?

Geheime op Philadelphia: Sjokolade (my gunsteling)

Hospitaal Weltevreden: Vanilla

8. Het jy enige rituele of gewoontes wat jy volg voordat jy begin skryf?

Ek kan glad nie in stilte skryf nie. Ek moet omring wees deur mense en geluide.

9. Hoe hanteer jy skrywersblok, en het jy enige spesifieke tegnieke wat jy gebruik om dit te oorkom?

“Touch wood,” dit het nog nie met my gebeur nie. Die stories vloei mooi.

10. Wat is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het?

Ek verwys na vraag 8. Ek kan nie in stilte skryf nie. Ek het ’n gunstelingkoffiewinkel in Brooklyn Mall waar ek beide Geheime op Philadelphia en Hospitaal Weltevreden geskryf het. Ek kry ook net kans om op Sondae ná kerk te skryf. Dan skryf ek so 6 ure per dag. Hospitaal Weltevreden het ek begin skryf in Turkye toe ek daar met vakansie was.

11. As jou skrywerslewe 'n realiteitsprogram was, wat sou die naam daarvan wees?

Gedagtegange met Riaan Grobler

12. Enige raad vir voornemende skrywers?

As jy wil skryf, gaan skrýf! Ek het altyd net daarvan gedroom, maar toe vat ek die eerste stap om my manuskrip in te gee by ’n uitgewer en kyk waar sit ek nou - met twee topverkoper boeke. Jou skryfdroom kán waar word - glo net in jouself.