Skrywersfokus: Marilé Cloete

Skrywersfokus: Marilé Cloete
Marilé Cloete woon in die Paarl en het betreklik laat in haar lewe begin skryf. Nou maak sy die leë nes met haar stories vol. Dit gee vir haar nuwe energie, ’n heerlike uitdaging en baie vervulling.
Ons het ’n paar vrae gehad vir Marilé ... en sy het geantwoord! Kom lees oor haar nuutste boeke en nog baie meer:
1. Wat was die inspirasie vir Volbloedvrou en die Vir die hart-reeks?
Daar is by my maar min sprake van inspirasie – meer van perspirasie!
Die Vir die hart-reeks het ontstaan by my behoefte om die belangrike kwessie van geestesgesondheid ook by ligte leesstof soos romanses aan te raak. Die kuns is om dit lig te hou, maar nie ligsinnig daaroor te wees nie.
Die heldin Elsbet in Tuiskoms van die hart het ontstaan ná ek gelees het van ’n SA netbalspeler se depressie wat vererger is deur die invloed van die pandemie op haar loopbaan. Elsbet kom met erge depressie terug SA toe en laat haarself in ’n kliniek opneem. Sy steek dit aanvanklik weg, maar groei geleidelik tot meer aanvaarding en openlikheid.
Die ander boeke in die reeks handel onder andere oor die arbeidsterapeute wat Elsbet in die kliniek leer ken en die mede-pasiënte wat haar ondersteuningstelsel geword het.
Dit was heerlik om in die vyf boeke van die reeks vir elkeen ’n goeie maatjie te vind!
Die Volbloed-reeks (Volbloedman en Volbloedliefde verskyn DV later vanjaar) het begin by die gedagte om ’n held en heldin te skep wat in baie opsigte dieselfde is. Gewoonlik werk mens in romanses met teenoorgesteldes wat mekaar aantrek, want dit lei tot konflik en skep spanning. Dit werk byvoorbeeld goed om ’n ekstrovert en ’n introvert by mekaar uit te bring. Karakters wat al vorige pynlike ervaring met die liefde opgedoen het, leen hulle ook tot interessante storielyne. Beroepe wat in kompetisie teenoor mekaar staan, verskaf ook lekker storielyne.
Alex en Lexi is jonger as my gewone hoofkarakters en het nog geen bagasie wat hul verhoed om voluit lief te hê nie. Hulle name klink nie net dieselfde nie, maar hulle is ook albei rooikoppe. Daarby is hulle albei ekstroverte wat die lewe op volspoed aanpak en albei is besig om ’n besigheid op die been te bring.
Ek moes dus ander maniere vind om spanning te skep. Die lesers moet maar besluit of ek dit reggekry het!
2. Hoeveel van jou persoonlike ervarings en emosies het jy in jou karakters en storielyn ingewerk?
Die Vir die hart-reeks spruit uit my eie ervaring van depressie en angs en die wonderlike arbeidsterapeute en mede-pasiënte wat ek in ’n kliniek leer ken het.
Die Volbloed-reeks spruit uit spesifieke ervarings en belangstellings van my:
- Alex se beroep as ’n fisioterapeut vir diere spruit uit ons ondervinding met die lieflike jong man wat ons bejaarde Duitse herdershond tuis kom behandel het. Hy is, soos Alex, ’n kragman wat ook graag koek bak.
- Lexi se beroep as joga- en meditasie-instruktrise spruit uit my eie ervaring met dié dissiplines en die inspirasie van SA se blydskapsnavorser, Johannes de Villiers. (Volg hom gerus op Facebook.)
- Hilde, die Duitse herdershond wat Alex kom behandel, is geskoei op ons eie Hilde wat al die reënboogbruggie oorgesteek het. Dis vir my hartseer dat ons destyds nog nie geweet het fisioterapie is vir diere ook so geredelik beskikbaar nie.
3. As jy jou boeke se tema of boodskap in een sin moes opsom, wat sou dit wees?
Die liefde kom dikwels wanneer jy dit die heel minste verwag en dit verg moed om dit dan te herken en aan te gryp.
4. Wat is die mees verrassende ding wat jy geleer het tydens die navorsing vir jou boek?
Ek het in albei reekse gewerk met konsepte wat vir my baie bekend is en daar was dus nie groot verrassings nie. Navorsing is belangrik, want die feite in die boek moet altyd absoluut korrek wees. By romanses is die emosionele egtheid van die storie egter die belangrikste en die feite (hoewel belangrik) ondergeskik aan die emosionele belewing van die karakters en daarom ook dié van die leser.
5. Wat is die vreemdste of snaaksste ding wat jy ooit gegoogle het vir navorsing vir ’n boek?
Romanseskrywers hoef gelukkig nie dinge te google soos moordmetodes of maniere om van ’n liggaam ontslae te raak nie. Ons is voortdurend op soek na interessante helde en heldinne en mag dus soekterme soos “attractive blonde men with short hair” of iets soortgelyks gebruik!
’n Genotvolle onlangse soektog was die navorsing van die aantreklike Johannes Klaebo wat vir Noorweë (waar my kinders woon) skoonskip gemaak het in die Alpine World Ski Championships wat in hulle dorp gehou is. Mens kyk natuurlik nie net na die uiterlike nie, maar veral ook na karaktereienskappe en ervaring wat van ’n persoon ’n held of heldin kan maak. Die hoofkarakters van romanses moet natuurlik aantreklik wees, maar hulle moet ook mense met integriteit wees.
6. Kan jy ’n geval beskryf waar 'n karakter of storielyn jou verras en ’n onverwagte wending geneem het?
My grootste verrassing was toe ’n held eenkeer sy hemp uittrek - ’n gewilde oomblik in romanses, want dan sien die heldin natuurlik sy spiere. Maar toe ontdek ek hy het ’n litteken op sy bors. Dit het ’n nuwe dimensie aan my storie gegee wat ek nie verwag het nie, want ek moes uitdink waar daardie litteken vandaan gekom het.
7. As jou boeke 'n roomysgeur was, wat sou die geur wees en waarom?
Tjoklit! Trooskos teen die wêreld se ellendes. En boeke maak nie vet soos regte sjokolade nie – ’n baie veiliger verslawing.
8. Het jy enige rituele of gewoontes wat jy volg voordat jy begin skryf?
My gewoontes het deur die jare al telkens verander. Ná ons tweede seun ook oorsee is, het ek besef ek moet uit die huis kom en het ek in koffiewinkels begin skryf. Tevore het ek ’n skryfhoekie in my slaapkamer gehad. Die pandemie het dinge natuurlik weer verander.
Daar is twee dinge wat ek so vroeg as moontlik in die dag moet afhandel: my daaglikse stukkie skryfwerk en my daaglikse stapoefening. Laat ek een van die twee oorstaan tot later in die dag, is dit veels te maklik om nooit daarby uit te kom nie.
Ons stap dus soggens om 05:30 en direk daarna kom maak ek my spesiale koffie (’n soort tuisgemaakte cappuccino) en begin skryf. Ná my skryfsessie doen ek per WhatsApp vinnig verslag oor my vordering aan my skryfvriendin Estelle Ryan in Pole en sy doen dieselfde. Ons is dus vir mekaar “accountability buddies” wat ons skryfwerk betref en dit help ons albei om motivering te behou.
9. Hoe hanteer jy skrywersblok, en het jy enige spesifieke tegnieke wat jy gebruik om dit te oorkom?
Ek ervaar elke dag van my lewe skrywersblok, want elke dag is dit die heel moeilikste om net te BEGIN skryf. Die enigste manier is om eenvoudig daardeur te gaan. Die beste raad vir die sogenaamde skrywersblok is dus om te skryf. Dit maak nie saak wat jy skryf en of dit enigsins goed is nie – jy moet net skryf.
10. Wat is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het?
In die bad tydens die pandemie (ten volle geklee!).
11. As jou skrywerslewe 'n realiteitsprogram was, wat sou die naam daarvan wees?
Aanhouer wen!
12. Wat is die snaaksste of mees bisarre terugvoer wat jy ooit van 'n leser ontvang het?
Die terugvoer wat al seergemaak het, het ongelukkig van familielede gekom wat nie regtig lesers is nie. Onder andere was daar ’n boer (wat wel ’n liefdesverhaalleser was) wat gekla het daar is te veel diere in my stories. Iemand anders het gevra hoekom is al die mans in my stories dan so mooi!
13. Enige raad vir voornemende skrywers?
BEGIN! Nie eendag nie – vandag nog. Kristel Loots het nie verniet al ’n boek geskryf met die titel “Eendag is nou” nie. As mens vir “eendag” wag, is die kans goed dat dit nooit sal aanbreek nie.