Skrywersfokus: Kristel Loots

Skrywersfokus: Kristel Loots
Kristel Loots woon in die Kaap. Sy luister na die stories om haar en skryf graag oor die vroue wat sy oral raakloop: “Gewone” voorstedelike vroue, soms met voorskote om geronde heupe, ander tye weer oor modieuse stadsbewoners in stylvolle stiletto’s wat skrik vir niks nie, en soms oor “anderste” vroue, verskillende groepe vroue en vroue met issues, soos sy dit stel. Menswees, veral vrouwees en die vele fasette daarvan, fassineer haar. Kristel het ’n humoristiese skryfstyl wat soms aan die tragikomedie en dieper aspekte van die lewe raak.
Ons het vir Kristel ’n paar vrae gevra oor haar boeke: Vroue met vlerke en Woestynblom:
1. Wat was die inspirasie agter Vroue met vlerke en Woestynblom?
Die storie-gedeelte van Vroue met vlerke is gebore uit ’n beriggie wat ek in ’n oorsese tydskrif gelees het van twee susters wat langs die pad gestaan het en toe deur ’n verbygaande bus getref is. Die een het ontkom en die ander het ’n been verloor.
Die ‘gelukkige’ suster het haar lewe lank aan sogenaamde ‘survivor’s guilt’ gely. Asof sy skuld daaraan gedra het dat haar jonger suster ’n afvlerk-lewe sou leef. Sy wou daarvoor vergoed, wat geen mens natuurlik kan doen nie. Terselfdertyd het sy heimlik ook gewens haar suster moet uit haar kokon van selfbejammering klim en uit haar rolstoel opstaan sodat al twee van hulle kon vlerke groei en die lewe leef wat wel nog vir hulle beskikbaar was.
Die gedagte aan wat alles van die vrou van vandag verwag word, het my opnuut getref. Dat vroue verplig voel om bo uiters moeilike omstandighede uit te styg en te sweef soos ’n arend. Iets wat nie altyd maklik of selfs moontlik is nie.
Die vrou het dikwels self ’n loopbaan om na om te sien. Dit maak van haar ’n meer komplekse karakter op wie se skouers daar heelwat meer gelaai word. Sonder om te veralgemeen, is dit dikwels steeds die vrou wat verantwoordelik is vir die emosionele en selfs geestelike heil van die gesin. Die sogenaamde gom wat alles en almal bymekaarhou. Sy is nie meer net kaalvoet en swanger in die kombuis nie, sy klim nou met rooisoolskoene aan die voete die loopbaanleer, soms twee sporte op ’n keer. Maar dit is nog steeds vroue wat wel noodgedwonge ’n paar maande lank hul kantoorklere moet ophang, en wel kaalvoet en swanger in die kombuis moet wees. Vroue het inderdaad vlerke nodig om te oorleef.
Woestynblom dra swaar aan nostalgie oor ’n tyd toe ek nog jonk en die wêreld anders was. En ’n motorfiets vir my ’n besonder bekoring ingehou het. Ek wou ook skryf oor daardie begeerte wat by ’n jongmens ontstaan om uit ’n ouerhuis, en die vier mure wat jou daar inperk, te ontsnap. En dan te ontdek dat vryheid teen ’n prys kom en dat jy tot jou ergernis soms terugverlang na jou ouers wat as tronkbewaarders jou lewe so beduiwel het.
Vergifnis speel in beide hierdie boeke ’n rol, ook teenoor jouself vir die foute wat jý gemaak het.
2. Hoeveel van jou persoonlike ervarings en emosies het jy in jou karakters en storielyn ingewerk?
Wel, ek wás ietwat van ’n biker’s girl op my dag. Of so wou ek graag glo. Oukei die ‘leerbaadjie’ aan my lyf was van waterdigte plastiek, en ek het nie ’n helmet gedra nie, want … my hare! Maar met my arms styf om die lyf van die man van die moment, het ons die teer gevreet in Oos-Londen se stadstrate of die rooigrond van Kimberley se stofpaaie. En dit wás ’n Harley, of dis hoe ek dit onthou. ’n Gehawende Harley, maar die naam van faam was daar vir almal om te sien.
Ja, ek was seker meer verlief op die bike as die boy, maar ek het nog nie weer presies so meewarig gevoel as daardie tye wanneer ons met brullende enjin mindere motors by ’n verkeerslig gedice en vinniger weggetrek het nie. Die wêreld was aan my voete in die goedkoop Ackermans-plastieksloffies.
Ek weet dus presies hoe die hoofkarakter in Woestynblom agter op Jan-Hendrik se motorfiets gevoel het.
Skemer daar nie maar altyd iets van ’n skrywer se eie mitologie deur in jou skryfwerk nie? Wát ’n lekkerte om alles wat jy graag wil sê, maar nie mag nie, in jou karakters se monde te lê. ‘Preach, sister, preach’.
Net om dan te hoor jy moenie so pedanties wees in jou skryfwerk nie!
3. As jy jou boeke se tema of boodskap in een sin moes opsom, wat sou dit wees?
Die ewige soeke na jou tribe sodat jy uiteindelik sal tuis voel tussen ander wat ook ‘the road less travelled’ gevolg het.
4. Wat is die mees verrassende ding wat jy geleer het tydens die navorsing vir jou boek?
Eerder ’n teleurstelling as ’n verrassing. Dat die spoorweg en stasies en treine inderdaad nie meer opereer soos ’n aantal dekades gelede nie. Wát ’n jammerte!
5. Wat is die vreemdste of snaaksste ding wat jy ooit gegoogle het vir navorsing vir ’n boek?
Wel, in my onskuldige soeke na atmosferiese webtuistes vir ’n ‘mood board’ oor ‘die liefde’ waar ek blommetjies en bytjies, hartjies en skoenlappertjies, gediggies en soet woordjies verwag het, is ek daarna vir maande lank toegegooi onder pornografie wat beslis nie ‘die liefde’ uitgespel het nie. Dit was voor Kunsmatige Intelligensie se tyd, dit was dus alles Oom Google se misverstand. (Of moedswilligheid!)
6. Kan jy ’n geval beskryf waar 'n karakter of storielyn jou verras en ’n onverwagte wending geneem het?
In Vroue met vlerke het al twee die mans in Emma se lewe my ’n bietjie gegooi. Die een kon nie net goed en die ander sleg wees nie. Dis wat die lewe so ingewikkeld maak. Daardie diep menslikheid wat kop uitsteek, soms tot jou voordeel wanneer die goed in jou die kwaad oorwin. En helaas ook soms tot jou nadeel wanneer jou rou menslikheid jou laat struikel en val.
7. As jou boeke ’n roomysgeur was, wat sou die geur wees en waarom?
Vanilla, maar darem met ’n sappige rooi kersie op die boonste spits. Of miskien … ietsie van daardie 0% suiker bygevoeg, donker sjokolade-met ’n tikkie seesout-geur, vir die pikante, ietwat eksotiese smaak wat deesdae so gewild is. Mmm … miskien tog nie so suiwer vanilla nie.
8. Het jy enige rituele of gewoontes wat jy volg voordat jy begin skryf?
O ja, natuurlik. Eers Whatsapp, altyd eerste Whatsapp. Wie sê wat? Vriende, familie, groepe, vyande. Antwoord, lag, stuur emoji’s, dan e-pos, lees, antwoord, klik op skakels, tyd vir Facebook, ag, die liewe Facebook, soveel vermaak op ’n mens se nugter maag, hoe wonderlik, kyk gou wat die gewone trolle ook skryf, rol die oë. Gou-gou bietjie Instagram, admin, enige admin wat gedoen moet word, rekeninge betaal, 60Sixty bestel, Clicks, wat van Takealot, gou ’n grappie of ’n liedjie op YouTube of TikTok. Oeps, dis ’n uur later, wag, dalk het daar intussen iets nuuts op Whatsapp geland … Dis belaglik, ek weet.
9. Hoe hanteer jy skrywersblok, en het jy enige spesifieke tegnieke wat jy gebruik om dit te oorkom?
Dus jammer dat daar iets soos skrywersblok is m.a.w. dat ’n skrywer jou enigsins daaraan moet steur as dit jou toeval. Nou is die tyd om te skep, om te leef en waar te neem, om beelde in jou onderbewuste vas te lê sodat jy dit later daar kan opdiep en op papier kan weergee. Daarom dat ’n sperdatum met ’n uitgewer (liewe, goeie, gawe mense wat hulle is) wat in jou nek blaas, ’n onding kan wees.
10. Wat is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het?
Dit gebeur gereeld dat ’n alte lekker toneeltjie my te binne skiet hier by middernag wanneer ’n mens veronderstel is om te slaap. Dan tas ek rond op die bedkassie vir iets om sleutelwoorde mee neer te skryf. ’n Oogpotlood werk ook goed en enige oppervlak beskikbaar kan doen. ’n Pildosie, ’n tydskrif, ingeprop op die boonste en onderste oop deeltjies op ’n bladsy. Gewoonlik sonder ’n bril en selfs voel-voel in die donker. En dan breek die oggend aan en die son skyn helder deur die venster … en dan moet daardie hiërogliewe ontsyfer word.
11. As jou skrywerslewe ’n realiteitsprogram was, wat sou die naam daarvan wees?
"Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep"
Want ek skryf stukke en brokke tonele soos dit in my kop opduik. Wat ek dan aanmekaar las, amper soos los gehekelde blokke wat aanmekaar gevoeg moet word om ’n veelkleurige kombers te vorm wat soms/dikwels/altyd ’n verrassing is om te sien. Daarom lees ’n skrywer soms jou eie werk en weet nie waar dit vandaan kom nie.
12. Wat is die snaaksste of mees bisarre terugvoer wat jy ooit van ’n leser ontvang het?
‘Troukoek maak nie vet nie’, vertel die verhaal van Dixie wat deur ’n mansmens ontgogel is en ’n nuwe lewe moes begin in ’n besondere bruidswinkel, Bliss and Beautiful in Langstraat, Kaapstad.
’n Leser was só beïndruk met die plek en diens wat daar gelewer word dat sy daarna gaan soek het tydens ’n besoek aan die Kaap. Want sy wou haar trourok daar laat maak … Sy het geweet sy moes uitkyk vir ’n dubbelverdieping pienkgeverfte gebou. ’n Mens kon dit eenvoudig nie mis nie! Wát ’n teleurstelling om te besef dat hierdie wonderlike bruidswinkel wat soveel belofte inhou, net in die verbeelding bestaan.
Dis meelewing soos hierdie wat ’n groot deel van die magic van skryf uitmaak.
13. Enige raad vir voornemende skrywers?
Ek kan amper nie dink daar is ’n enkele mens op aarde wat nie graag wil skryf nie. Dis heerlik. Skryf! Al is dit vir jouself, jou kinders, jou ma en natuurlik vir die wêreld daar buite wat jou nog nie ontdek het nie en dus nie weet van die verrassing wat op hulle wag nie.
Maar moenie toelaat dat jou drome groei soos Jan se boontjierank en jou heeltemal verstrik nie.
Daardie hoendervleismooie sinne wat jy neergepen het, doen dalk niks vir jou uitgewer nie. En jy kry die opdrag ‘to kill your darlings’. Dis verskriklik. En weet maar net jy gaan altyd, áltyd dink daar is fout met jou tantieme, want so min kan dit onmoontlik nie wees nie.
Tog … niks, maar niks kan vergelyk word met die euforie daarvan om met ’n boek met jou naam op in jou hande te staan nie. Dit maak alles die moeite werd.