Skip to main content

Skrywersfokus: Judy Troskie

Skrywersfokus: Judy Troskie

Judy Troskie woon in die Bosveld waar menige liefdesverhaal gestalte kry in die romantiese atmosfeer om ’n kuiervuur.

Het jy al gewonder wat agter Judy se boeke skuil? Ons het met haar gesels oor haar nuutste Romanzas. Kom lees saam:

1. Wat was die inspirasie vir jou nuutste Romanzas?

Rendesvouz in Santa Cruz: Ek wou ’n vreemde plek ontdek, al was dit net in my kop. Verder het mense se innerlike geveg met depressie my aan die hart gegryp en hoe om daarmee saam te leef en dit nie as jou persoonlike vyand te beskou nie. My karakter moes weer beheer oor haar lewe neem.

Hart onder arres: Ek raak baie vinnig verveeld met "same old, same old" en wou iets nuuts in Romanza probeer. Al het ek besef dit is ’n waagstuk, het ek my eerste speurverhaal met die liefde geweef en dit was wonderlik lekker. As skrywer het ek totaal ’n onbekende omgewing betree, maar wat ’n ondervinding!

Spoke van gister: Nou hier het die pawpaw amper die fan geslaan. Ek het gewonder wat volgende. Hoekom nie ’n spokerige agtergrond nie? So besoek ek bekende "spookdorpe" op die internet en raak vasgevang in die verhaal van Leysdorp, min wetend dit is amper op my voorstoep.
So kies ek in my verbeelding my rolspelers, naam, van en rede hoekom hulle in die storie is. Net om ’n week later op besonderhede van die begraafplaas af te kom en met skok te lees dat my karakter se van dieselfde is as die hoteleienaar in die 1800's terwyl my storielyn juis gaan oor oorgeërfde aandele in die einste hotel.
Ek was nie meer seker of ek wou voortgaan nie en het twee maande later ernstig oorweeg om die manuskrip te stop toe ek op ’n onderhoud met die huidige hoteleienaar afkom op internet en moet hoor dat die vroulike gees in my boek met naam en al, ’n "spook" kamer in die hotel het. Was dit nie vir die mooi praat van my gesin nie, het die storie nooit die lig gesien nie, maar na ’n derde insident het ek my karakters gevat en die storie in Hoedspruit laat uitspeel.

2. Hoeveel van jou persoonlike ervarings en emosies het jy in jou karakters en storielyn ingewerk?

Ek begin by ’n plek en dan besluit ek wie ek daarheen wil neem en hoekom. Dan kry hulle name en van daar af doen hulle, hul eie ding. My emosies of ervarings speel geen rol. Ek gooi net jakkalse in die hoenderhok en kyk wat maak hulle daarmee. 

3. As jy jou boeke se tema of boodskap in een sin moes opsom, wat sou dit wees?

Liefde oorwin letterlik enigiets in die lewe.

4. Wat is die mees verrassende ding wat jy geleer het tydens die navorsing vir jou boek?

Jy kan nie een tree vooruit beplan nie en terwyl jy een ding navors spring die volgende storie op die bandwagon.

5. Wat is die vreemdste of snaaksste ding wat jy ooit gegoogle het vir navorsing vir ’n boek?

Die begraafplaas vir Spoke van gister en die stories rondom die inwoners.

6. Kan jy ’n geval beskryf waar 'n karakter of storielyn jou verras en ’n onverwagte wending geneem het?

Hier staan Spoke van gister heel bo. Die feit dat my verbeeldingsvlugte gestalte gevind het in feite wat ek veel later raakgelees het.

7. As jou boeke 'n roomysgeur was, wat sou die geur wees en waarom?

Rendesvouz in Santa Cruz: Beslis peperment - sagte groen van die woud kan jou flous vir die onderliggende spanning.
Hart onder arres: Rooi soos die rooikopmeisie - roomys sal smelt.
Spoke van gister: Vanielje spookasem pienk - soet maar oomblikke van hare wat orent vlieg. 

8. Het jy enige rituele of gewoontes wat jy volg voordat jy begin skryf?

Nee, o genade - die stories kom vanself. Gewoonlik laat ’n plek my verbeelding oortyd werk.

9. Hoe hanteer jy skrywersblok, en het jy enige spesifieke tegnieke wat jy gebruik om dit te oorkom?

Ek hoor net altyd van ’n skrywersblok. Moontlik gebeur dit nie met my nie omdat ek my karakters toelaat om hulle eie ding te doen, al hou ek nie altyd daarvan nie. Ek sit terug en pen net hulle doen en late neer.

10. Wat is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het?

Wens ek kon diep in die bos sit en skryf maar nee, my rekenaar is my voorland. Partykeer kom kuier die karakters wel by my op kantoor.

11. As jou skrywerslewe 'n realiteitsprogram was, wat sou die naam daarvan wees?

Hallo is iemand tuis? (My man kla altyd dat ek wegraak as ek skryf).

12. Wat is die snaaksste of mees bisarre terugvoer wat jy ooit van 'n leser ontvang het?

Toe iemand my vertel hoe hy deur die strate van Phalaborwa ry en wonder of my karakters daar was.

13. Enige raad vir voornemende skrywers?

Gee uiting aan jou skeppingsdrang, maar moet nooit jou karakters se stories vir hulle leef nie. Die belangrikste - aanhouer wen. Om ’n manuskrip terug te kry vir aanpassing is nie ’n doodloopstraat nie. Beskou dit as ’n uitdaging.