Skip to main content

Skrywersfokus: Ilse Roux

Skrywersfokus: Ilse Roux

Ilse Roux is die stigter en senior ontwerper van Ilse Roux Bridal. Sy het op Malmesbury grootgeword en aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Ná elf jaar in die onderwys het sy haar eie besigheid begin en is tans al twee dekades in die trou- en ontwerpersbedryf met vele toekennings agter haar naam. Ilse woon in Bellville saam met haar man en twee kinders. Haar eerste boek, Bakens van geloof, is in 2023 vrygestel.

Ons het vir Ilse ’n paar vrae gevra oor haar boeke: Bakens van geloof en Die Bybelse vas:

1. Wat was die oorspronklike vonk wat jou geïnspireer het om hierdie spesifieke onderwerp te ondersoek?

Bakens van geloof het ontstaan uit ’n begeerte om ons gesin se getuienisse neer te skryf en eendag agter te laat vir die volgende generasie. Ons God is die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is ’n God van generasies. Met die neerpen van ons getuienisse hoop ek dat my geestelike plafon eendag die vloer kan wees waarop die volgende generasie kan voortbou. Ons het bv. die beginsels van tiendes en die Bybelse vas ontdek, wat ek nie in my ouerhuis geleer het nie. Ek reken dat ’n mens nie met elke generasie die spreekwoordelike geestelike wiel van voor af hoef te ontdek nie. Ek wil graag vir hulle die geloofstokkie in die afloswedloop aangee. Die plan was aanvanklik glad nie om die getuienisse te publiseer nie.

Die titel, Bakens van geloof, kom van die idee dat elke getuienis soos ’n baken op ons geloofspad is. Dis ’n baken wat ons inspireer wanneer ons terugkyk op ons geloofspad, om vas te hou aan die beloftes in God se Woord. Dit is ook ’n baken wat ander inspireer om ook dieselfde geloofspronge te neem.

Terwyl ek besig was met die skryf van Bakens van geloof, het ek reeds geweet dat daar ’n opvolg van die hoofstuk oor vas sou wees, in die vorm van ’n boek. Daar was net nie genoeg plek in Bakens van geloof om iemand genoeg te leer oor die Bybelse vas nie. Ek is seker dat daar baie ander mense is, net soos ek, wat glad nie geweet het dat daar ’n vas is wat God wil hê nie (Jesaja 58:6-12). Ek het 17 jaar gelede die Bybelse vas ontdek en het baie getuienisse en inligting om met ander te deel.

2. Watter deel van die navorsingsproses het jy die uitdagendste gevind, en hoe het jy daardie uitdagings oorkom?

My eerste boek was meer ’n neerpen van getuienisse. Daar was baie minder navorsing as in Die Bybelse vas. Albei boeke, Die Bybelse vas en Bakens van geloof is gebore uit my stiltetydjoernale. In my eie tyd met God praat Sy Woord en Sy Gees met my. Ek is leergierig van geaardheid en raak opgewonde wanneer ek iets nuuts kan leer. Oor baie jare het ek al baie ander skrywers se boeke oor vas gelees. Die internet en Youtube video’s maak dit deesdae baie maklik om inligting in te win.

My agtergrond as Biologie-onderwyser (11 Jaar in die onderwys en 20 jaar in die troubedryf) het handig te pas gekom by die skryf van die hoofstuk oor die fisiese voordele van vas (Die Bybelse vas).

Dis vir my belangrik dat alle inligting Skrifgetrou sal wees. Gehoorsaamheid aan God is iets wat my na aan die hart lê.

Die moeilikste deel van die navorsing was om die inligting uit verskeie bronne versigtig en moeiteloos met mekaar te verweef, sodat dit maklik sal lees, tog struktuur sal hê en dat mense daarby sou aanklank vind. Ek het begin met ’n basiese inhoudsopgawe en het dit nou en dan gewysig. Wanneer ek self soms verstrengel geraak het in die inligting, het ek die manuskrip eers vir ’n week eenkant gesit, om later weer met ’n vars oog daarna te kyk. Dit het ook gehelp om die hoofstukke een vir een te hersien, om seker te maak dat ek myself nie te veel herhaal nie. Dit was nogal ’n uitdaging om te onthou om die heeltyd die bronnelys op datum te hou. Gelukkig het die teksverwerker my mooi herinner wanneer daar nog ’n bron uitstaande was.

Die navorsingsproses was vir my verskriklik lekker. Ek is gaande daaroor om nuwe goed te leer en nuwe verbande raak te sien.

3. Wat is die mees verrassende ontdekking wat jy tydens jou navorsing gemaak het?

Terwyl ek besig was met die skryf van Die Bybelse vas het die Here my een oggend wakker gemaak met ’n beeld van vetkoeke wat in ’n pan braai. Heilige Gees het my dadelik herinner aan die suurdeeg van die Fariseërs waarteen Jesus gewaarsku het. Vandaar het die hoofstuk oor hoogmoed ontstaan. Dit was glad nie deel van my aanvanklike beplanning nie. God het my verras met iets wat Hy in die boek wou insluit.

Die verband tussen die Bybelse vas en die sabbat was ook nie ’n hoofstuk wat ek vooraf beplan het nie. Daardie verband het ek eers raakgesien in my stiltetyd, tydens die skryf van die boek.

Die grootste verrassing was egter die feit dat die Bybelse vas, die sabbat en die digitale vas al drie maniere is waarop ons grense kan instel vir die vyand, presies net soos wat Dr. Henry Cloud en Dr. John Townsend se boek, Boundaries, ons leer dat ons grense kan stel vir moeilike mense in ons lewens. Satan probeer alle grense oorsteek om ons lewens in te dring, ons te bind, te verblind, ons doof te maak vir God se stem en ons so besig te maak, dat ons ons dieper verbintenis met God verloor. Wanneer ons geestelike grense instel vir die vyand, is dit vir hom aansienlik moeiliker om ons om die bos te lei. Ek sluit die boek af met die ontdekking van hierdie verband / openbaring.

Terwyl ek besig was met Bakens van geloof het ek ontdek dat dit nie net ek was wat iets wou neerskryf om dit te onthou, soos Dawid in Psalm 103: 2 sê: “ Ek wil die Here loof en nie een van Sy weldade vergeet nie.” God het ook ’n “Book of Remembrance” in die hemel. Elke keer wanneer godvresende mense met mekaar praat oor Hom, hoor God dit en gee Sy engele opdrag om dit neer te skryf. Malachi 3:16 NKJV “When those who feared the Lord spoke to one another, and the Lord listened and heard them; so a book of remembrance was written before Him for those who fear the Lord and who meditate on His name.”

4. Wat hoop jy dat lesers sal wegneem nadat hulle jou boek gelees het?

Bakens van geloof het ontstaan uit ’n hart vol gehoorsaamheid aan God en ek hoop om met hierdie boek weer die vlam van geloof by mense aan te steek, veral by mense wat in die verlede teleurgesteld was in God of deur kerkmense of moed verloor het in hul eie geloofslewe. Ek hoop dat hulle dit sal waag om God weer ’n kans te gee, want Hy smag daarna om in ’n lewende verhouding met elkeen van ons te staan. Met Bakens van geloof neem ek die leser saam met my op my eie geloofsreis. Wanneer daar ’n getuienis is wil mense dikwels weet: Aan watter Skrifgedeelte het jy vasgehou? Hoe lank het dit geneem? Was jy nie bang nie? Wat as…? Hoe het jy geweet…? Ek neem die leser saam met my op ’n diep reis deur al die moontlike vrae.

Mens hoor deesdae so baie van ‘intermitted fasting’ (’n dieet), maar min mense weet van die Bybelse vas wat God begeer. Met my tweede boek, Die Bybelse vas, hoop ek om mense kragtig te bemagtig met baie inligting, getuienisse en om hulle ’n kykie te gee wat agter die skerms in die geestesdimensie gebeur, wanneer ons kies om onsself aan God te onderwerp deur vas en gebed. Met Die Bybelse vas hoop ek om te hoor hoe die jukke van mense afgeval het, hoe hulle vry geraak het van die swaar laste wat die vyand al vir geslagte op hulle gedruk het. Ek skryf juis ’n Afrikaanse vasboek, sodat die Afrikanernasie kan intree vir hierdie mooi land van ons en al sy mense wat so baie potensiaal het, maar wat vasgevang is in verslawings, geweld, voorvadergeeste en heidense rituele. Lank, lank gelede het mense regoor Europa reeds gevlug vir hulle geloof en aan die Suidpunt van Afrika geland, omdat God begeer dat elke nasie Hom sal ken en eer en aanbid. Elke gelowige het ’n mandaat om te bid en te vas dat die jukke sal breek oor ons land en sy kosbare mense. 

5. Hoe het jy besluit watter Bybelse temas of beginsels om in jou boek te beklemtoon?

Bakens van geloof het ontstaan uit verskillende vorms van gehoorsaamheid aan God se Woord. Ek het die beginsels in die boek ingesluit wat ons gesin se lewens die heel meeste beïnvloed het. Dit is ook geskryf in die volgorde waarin ons dit beleef het. Elkeen van die getuienisse het ons meer van God en Sy bonatuurlike koninkryk geleer. Op ’n stadium het die uitgewers gesê dat die manuskrip nog 30 000 woorde benodig. Ek moes nog skryf. Hoe op dees aarde doen ek dit? Waar kry ek nog getuienisse vandaan? Ek kan dit tog nie uit my duim uit suig nie. Moet ek getuienisse van ander mense ook insluit? Nadat ek dit by die Here gelaat het, was ek oortuig daarvan dat ek die laaste 3 hoofstukke ook in die boek moes insluit. Dit was nie deel van die oorspronklike manuskrip nie. Die hoofstukke: 'Onreg teen jou', 'Trauma' en 'Die ark' het ek toe neergeskryf en by die oorspronklike manuskrip ingesluit. Al drie hierdie hoofstukke is diep gewortel in ons gesin se eie lewenservaringe. Die laaste hoofstuk in Bakens van geloof handel oor die ark en is vir my onbeskryflik mooi. Die dieper betekenis van Noag se ark en hoe dit ooreenstem met die verbondsark wys net weer hoe verskriklik mooi God alles vooruit beplan het, selfs voor die grondlegging van die aarde. Hy is waarlik in al die detail en Hy is steeds in beheer van ons wêreld wat dikwels lyk asof dit buite beheer raak.

Ek het Die Bybelse vas geskryf in die volgorde wat ek dit aan iemand sou verduidelik wat nog nooit van vas gehoor het nie. Dit begin by die eenvoudigste definisie van vas, die tipes en tydperke van vas, wat om voor, tydens en na vas te doen, getuienisse oor vas, wat agter die skerms in die geestesruimte gebeur en bou op tot die hoofstukke oor hoogmoed, vas en die sabbat, die fisiese voordele van vas en die digitale vas.

Ek het in 2008 die Bybelse vas ontdek en beoefen reeds vir 17 jaar hierdie vorm van geestelike onderwerping aan God. Ek het hierdie boek geskryf vanuit my eie ervarings, opgeteken in my eie stiltetydjoernale. Ek het oor die jare ook baie navorsing oor die onderwerp gedoen en dit in die boek bygewerk. Elke keer wat ek self besig is om te vas, lees ek graag ’n boek oor vas of kyk na video’s en preke oor die Bybelse vas om my te inspireer en in die regte verwysingsraamwerk te hou. Die Bybelse vas is ’n lewensveranderende dissipline wat ongekende deure kan oopsluit, selfs tot in die volgende generasies.

6. Hoe hanteer jy kritiek of terugvoer oor jou werk, veral wanneer dit oor jou geloof gaan?

Nie alle kritiek of terugvoer is altyd negatief nie. Ek is ’n ewige student en hou daarvan om by ander te leer en te verbeter.

Wanneer die kritiek egter afbrekend is of nie gegrond is nie, sal ek graag soos Dawid maak en na die Here toe hardloop (away from an unkind world) en by Hom gaan skuil.

Toe Daniël in die leeukuil was, het God die monde van die leeus gesluit, sodat hulle hom geen skade kon aanrig nie. Net so bid ek dat God die monde van die kritici sal toesluit (wat rondloop soos brullende leeus), sodat die wat ongegronde aantygings wil maak of negatiewe kritiek wil lewer, my geen skade sal kan aanrig nie.

Psalm 31:19-20 NIV “How abundant are the good things that You have stored up for those who fear you, that You bestow in the sight of all, on those who take refuge in You. In the shelter of Your presence You hide them from all human intrigues; You keep them safe in your dwelling from accusing tongues.”

Soms praat mense uit onkunde of uit hoogmoed, want die vyand wil NET kom steel, vernietig en doodmaak. Baie keer besef mense nie eers dat die vyand hulle mond gebruik om jou aan te val nie. Vergewe hulle en beweeg aan.

7. Het jy enige rituele of gewoontes wat jy volg voordat jy begin skryf?

Ek is voltyds ’n modeontwerper en bestuur my eie besigheid. Skryfwerk is vir my ’n heerlike stokperdjie. Ek sal beslis nie in die middel van ’n besige dag kan skryf nie. Ek maak seker dat ek vir ’n hele dag of twee glad nie gesteur gaan word nie. Dis baie makliker om te skryf indien daar geen onderbrekings is nie. Naweke werk baie lekker vir my. Dan het ek lekker baie tyd om te kan skryf en reflekteer.

Ek het geen spesifieke rituele nie. Ek staan soms op om te gaan koffie / tee maak, maar kan maklik sonder kos gaan wanneer ek eers begin skryf. Ek raak glad nie honger wanneer ek skryf nie. Hoe vreemd is dit? … dis seker omdat ek besig is met geestelike voedsel.

8. Hoe hanteer jy skrywersblok, en het jy enige spesifieke tegnieke wat jy gebruik om dit te oorkom?

Ek is nog maar nuut in die skrywersarena (5 jaar) en het nog nie skrywersblok beleef nie. Ek begin ook eers aan ’n boek skryf wanneer ek weet dat daar meer as genoeg inligting sal wees en dat ek die nodige kundigheid het om daaroor te kan skryf.

9. Enige raad vir voornemende skrywers?

Wat is daardie een ding wat God so sterk op jou hart druk? Stel ’n basiese inhoudsopgawe op om jou eie denke rigting te gee. Begin skryf onder elkeen van hierdie temas. Sodra jy klaar is met ’n tema, kan jy onderhofies maak, wat aansluit by die hooftema, maar wat die leser sal intrek in die onderwerp en sal nuuskierig maak om verder te lees.

Begin net. Niks gaan gebeur indien jy nie die eerste tree neem nie. Indien jy ook ’n deeltydse skrywer is soos ek, help dit so baie om hande te vat met goeie uitgewers. Hulle maak die hele proses net soveel makliker.

10. Het jy altyd geweet dat jy wil boeke skryf?

Om ’n skrywer te wees, was nooit ’n doelbewuste keuse nie, maar ek onthou goed dat ons deel was van die Daan Retief-boekklub, wat elke maand leesboeke oor die pos ontvang het. Iewers in die laerskool het ek op ’n dag so ’n boek vasgehou en by myself gedink: dit moet darem baie lekker wees om jou naam so buite op ’n boek te sien. Ek het op daardie stadium niks geweet van plagiaat nie en het by myself gedink…. Ek gaan sommer hierdie boek oorskryf onder my eie naam. Na die eerste bladsy het ek tou opgegooi en besluit: dis heeltemal te harde werk.

Ek het nooit ooit weer daaraan gedink nie. Nadat ek reeds 11 jaar in die onderwys was en daarna met my eie besigheid begin het, het ek op 37-jarige ouderdom ’n BrightStar-kursus gedoen. Teen die einde van die kursus moes ons neerskryf: Indien daar geen beperkinge in jou lewe was nie, wat is daardie een ding wat jy nog graag sal wil doen. Ek het gesien hoe my hand neerskryf: Ek sal wil boeke skryf soos Joyce Meyer. Ek het myself verbaas!

Ek het eers op 50-jarige ouderdom, tydens die Covid-pandemie my eerste boek begin skryf.

Vandag weet ek, dat my tyd in die onderwys deel was van die ‘teaching thumbprint’ wat daar op my is. Die modebedryf waarin ek nou reeds vir 20 jaar is, is ontsettend lekker dinamies en kreatief, maar dit het slegs ’n platform gebou, waarvandaan die boeke gelanseer word. God is waarlik in al die detail, want in my boeke ‘teach’ ek steeds.