Skip to main content

Resep | Armand kook kaal - Volume 2

Pepersteak-potpasteitjies

Ons is almal mal oor ’n garage pie – moet dit nie eens probeer ontken nie.
Maar ons ken ook die grappie: Ek’s nou so lus vir ’n Rennie, ek eet sommer ’n garage pie. Dit bestaan nie sonder goeie rede nie. Wie weet watter onheilighede kruip alles tussen daardie lae goue verleiding weg.

Hiermee dan ’n suiwerder, reiner weergawe van ’n ou, maar giftige, geliefde.

BESTANDDELE

VULSEL
3 e olyfolie
1 kg beesvleisblokkies
2 e olyfolie
1 groot ui, in kwarte gesny
2 knoffelhuisies, gekap
2 selderystingels, in skyfies gesny
1 e roosmaryn
2 e gemaalde swartpeper
½ k rooiwyn
2 k water
2 blokkies/potjies biefaftreksel

KORS
2 k gerasperde mozzarella
2 e volvet-roomkaas
2 eiers
1½ k amandelmeel


METODE

  1. Verhit die 3 eetlepels olyfolie in ’n groot pot oor hoë hitte en braai die vleisblokkies daarin tot bruin. Verlaag die hitte en skep die vleis uit. Plaas eenkant.
    WENK: Braai die vleis in twee of drie sarsies om te keer dat dit stoom en sodat dit lekker bruin braai.
  2. Drup nog olyfolie in die pot en braai die ui vir sowat 2-3 minute tot liggies gaar. Voeg die knoffel en seldery by en braai nog 2-3 minute.
  3. Voeg die vleis by die groente. Voeg die roosmaryn en peper by en braai liggies.
  4. Verhoog die hitte, voeg die rooiwyn, water en aftreksel by en verhit alles tot kookpunt. Verlaag die hitte, laat prut met deksel op vir 45 minute. Roer af en toe. Indien sous te veel afkook, voeg ‘n halwe koppie water by.
  5. Verwyder die deksel ná 45 minute en laat dit nog so 10 minute kook – die sous sal indamp.
  6. Voorverhit die oond nou tot 180 °C.
  7. Terwyl die vulsel kook, kan jy solank die kors maak: Plaas die mozzarella en roomkaas in ’n mikrogolfvaste mengbak en mikrogolf dit op hoog vir 2 minute. Meng goed deur.
  8. Breek een eier in die kaasmengsel en roer weer sodat alles goed gemeng is. Voeg die amandelmeel by en meng weer goed. Gebruik ’n lepel om die deeg in die mengbak in ’n bal te vorm. Laat vir 2 minute afkoel.
  9. Plaas die deeg tussen 2 velle bakpapier en rol dit liggies uit met ’n koekroller – probeer om dit ongeveer 0,5 cm dun uit te rol. Gebruik vorms of ’n mes om die deeg in 6 ewe groot sirkels uit te sny wat die pasteibakkies sal bedek.
    WENK: Jy kan hierdie resep ook as een groot pastei bak.
  10. Verwyder die vleis van die hitte. Geur met sout na smaak. Vir ‘n dikker sous, prut ‘n bietjie langer.
  11. Skep die vleisvulsel in 6 oondbakkies en plaas die deeg op elke bakkie. Druk die deeg teen die kante om te seël. Gebruik ’n vurk om ’n paar klein gaatjies in die deeg te druk vir die stoom om te kan ontsnap.
  12. Klits die laaste eier in ’n mengbakkie en verf die deeg liggies daarmee. Plaas die bakkies op ’n bakplaat en bak vir sowat 20 minute. Laat vir 10 minute afkoel voordat jy dit voorsit.