Skip to main content

Luister Saam | Met Hart en Siel, Radiokansel 657AM

Oor die boeke:

Hospitaal Weltevreden

Anna-Mart is ’n noodeenheid-spesialis en ken die lang gange van Hospitaal Weltevreden goed. Sy is nie bang vir harde werk nie. Dis immers ál hoe sy uit die armoede van haar en haar twee broers se enkelma-huishouding kon ontsnap en haar droom om ’n dokter te word, kon verwesenlik. Maar sy en haar ma, Beatrice, is bekommerd want haar broers is met verkeerde vriende deurmekaar. Hulle het maande terug van die twee gehoor. En boonop skaam Anna-Mart haar vir haar eenvoudige ma wat deesdae by haar woon. Uit die bloute arriveer ’n pasiënt by die ongevalle eenheid vanuit haar verlede. Lees meer...

Die jare tussen ons

Elaine vlug weg van haar verloofde, Alex, sonder enige verduideliking. Haar geheim bly haar eie want sy glo as Alex ooit moet uitvind sal dit sy lewe ruïneer, en daarvoor het sy hom té lief. Sy het geen keuse as om Ben van Staden, die rykmanseun van Bloemfontein, se aanbod te aanvaar nie... Die jare wat volg is verwonde jare gevul met vrees en verwyt. Elaine verloor haar geloof in ’n liefdevolle God en dit is net haar ongesonde verhouding met wyn wat haar help om soms van al die seer in haar binneste te vergeet. Lees meer...

Woestynblom - Beskikbaar Mei 2025

Isabella voel nie soos die tradisionele beeldskone heldin wat jy op ’n silwerskerm gaan raaksien nie, want sy is ietwat sag om die kante en haar hare het ’n onbuigbare wil van hul eie. Sy besluit die tyd het aangebreek vir opwinding en avontuur, want sy wil nie meer stry teen die knaende begeerte in haar om skaamteloos aan die ontvangkant van ’n man se hartstogtelike liefde te wees nie. Sy vlug uit die stad om van haar oorbeskermende ouers weg te kom en asem te skep in die oop ruimtes waar niemand vir haar voorskryf wat om te doen nie.

Isabella soek ’n man wat haar voete onder haar gaan uitslaan en sy is vasbeslote om hom te kry. Iemand wat haar gaan liefhê vir wie sy in al haar volrondheid is. Tydens haar soektog ontmoet sy ’n hele paar mans wat nou nie almal eintlik as goeie mans met suiwer intensies beskou kan word nie. En wie is die geheimsinnige man wat oral onverwags opduik en pal op haar spoor bly? 

Die huis op die hoek - Beskikbaar Mei 2025

Dit is 1950 en Pasgatyd in Oudtshoorn. Leah Abrams, ’n jong entoesiastiese navorser in antieke tale, kuier by haar Joodse rabbi pa en sy tweede vrou, Daniela. Hulle is albei navorsers oor, onder andere, die geskiedenis van Israel. Maar daar heers konflik in die huis want Leah wil gesels oor die Messias wie sy leer ken het in haar studies, en haar Joodse gesin is nie ontvanklik daarvoor nie.

Diverse kultuur- en geloofsgroepe en na-oorlogse politieke kwessies skep ook probleme vir die Abrams-gesin en hul tuisdorp. ’n Sluipmoordaanval krap wonde en geheime in die dorp en Leah se gesin oop en die plaaslike polisie se vooroordele help nie die ondersoek na die skuldige aan nie …