Skip to main content

Liefde vir n feeprinses | Didi Potgieter

Hy is NIE by die werkskontrak ingesluit nie!

Inge se nuwe werk as die Jouberts se au pair beteken sy hoef nie meer slapelose nagte oor finansies te hê nie. Sy sal niks doen wat dié standvastigheid kan bedreig nie.

Omdat sy die tweeling van kleins af grootgemaak het, wen Inge gou Robbie se vertroue en liefde, en raak John ook teen sy sin besonder geheg aan haar. Inge het nie tyd of plek in haar lewe vir verhoudings nie, maar aangetrokkenheid tot haar baas, die aantreklike John Joubert, volg nie dié klousule nie en hy is nie by die werkskontrak ingesluit nie.

BONUS!!!! HIER IS HOOFSTUK 1!

Natuurlik sal daar ’n ongeluk op die snelweg wees vanoggend, dink Inge terwyl sy elke greintjie selfbeheersing moet inspan om nie op die toeter te gaan lê nie. Natuurlik sal die ongeluk ook net voor die afdraai na Sandton wees, sy is mos nie genoeg op haar senuwees oor die onderhoud nie.

    “Kalmeer, Inge,” maan sy haarself in die truspieëltjie. “As dit bedoel is om te wees, sal dit wees.”

Haar ouma se woorde klink net so mooi in die kajuit van haar ou skedonk as wat dit vanoggend in die kombuis geklink het. Ongelukkig help dit Inge steeds nie om te kalmeer nie. Dit is net te belangrik vir hierdie pos om bedoel te wees. Sy kan net nie meer die hoeveelheid ure by die restaurant insit wat nodig is om die dag-tot-dag-uitgawes te dek nie, en dan het Petri ook nog ’n nuwe hokkiestok nodig en Tilla het haar hart op die rokkie in MrPrice verloor wat so mooi aan haar sal lyk.

    As die Jouberts haar aanstel as hulle au pair, sal sy nie meer slapelose nagte oor finansies hoef te hê nie. Sy sal nie meer elke dag die verkeer hoef aan te durf om die tweeling te gaan aflaai by ’n skool wat sy nie kan bekostig nie en sy sal nie meer elke oggend hoef te bid dat die ou Cressida vat nie.

    Behalwe vir die verligting op haar finansies, sal sy dan vir een van die grootste name in die gasvryheidsbedryf werk – die Parkers. Goed, miskien nie dadelik in die rigting wat sy sou wou nie, maar dit is ’n voet in die deur en wie weet, dalk kan sy een of ander tyd in die toekoms ’n werk by hul oord kry en haar lewenslange droom bewaarheid.

    Inge se hart fladder van opgewondenheid. Sy was ’n klein dogtertjie toe haar pa eendag ’n geiser wat gebars het op Ukuvusa moes gaan regmaak. Sy en Lizaan moes saam omdat haar ma by die werk was en net daar het haar lewe verander. Die diere en die oord en die mense in hulle netjiese uniforms het dadelik iets in Inge geroer en sy het geweet sy wil eendag by so ’n plek werk . . .

    “Fokus op die hede,” maan sy haarself, “anders gaan jy dit nooit deur vandag maak nie.”

    Sy is genooi vir die finale onderhoude en dit sê seker reeds baie. Haar lip ontgeld die gedagte. As sy net beter gekwalifiseer was vir die pos, sou sy dalk beter gevoel het – of as een van die bekendste gesigte in die wêreld nie voor haar gesit het nie. As sy boonop gaan laat wees vir haar finale onderhoud, is dit neusie verby en sal sy moet aanvaar dat die restaurant haar voorland gaan wees tot in lengte van dae.

    Gelukkig begin die verkeer weer vloei en sy sit voet in die hoek tot sy voor die Park Towers stop.

    Sy moet behoorlik drafstap om tyd te wen toe die hysbak se deur in haar gesig wil toegaan. Sy kyk op haar horlosie en blaas haar asem uit. Sy is net- net betyds. Gelukkig is daar nou nie meer tyd om haar te steur aan die miljoene skoenlappers in haar maag nie. Vir oulaas kyk sy na haar weerkaatsing in die hysbak se spieël. Haar blonde poniestert is darem nog netjies, en die bietjie grimering ook nog oral waar sy dit aangebring het. Aan die feit dat dit lyk of sy voor skool laas ’n behoorlike nag se slaap ingekry het, kan sy ongelukkig niks verander nie.

Die sekretaresse wat reeds vir haar staan en wag, glimlag vriendelik voor sy haar deurvat na die kantoor waar haar lot beslis gaan word.

    “Juffrou Jonker.” Emma Joubert is vrek mooi vir ’n middeljarige vrou en Inge kan nie anders as om effens vaal te voel toe sy opstaan en haar perfek gemanikuurde hand uitsteek nie. “Dankie dat jy hier is.”

    “Dankie dat julle my genooi het.”
    “My seun is ongelukkig opgehou in ’n belangrike vergadering.”

    Sy ontspan effens. Sy het nog nie vir John Joubert ontmoet nie, maar die man op die foto’s wat die internet vol is, sal sekerlik nie goed wees vir haar senuwees nie.

    “Juffrou Jonker, voor ek aangaan, wil ek net seker maak. Jy weet die pos vereis dat jy Oos-Kaap toe skuif?”

    Inge knik. Sy het immers al begin kyk na skole in die omgewing van John Joubert se reservaat. Skole met goeie koshuise. Sy ignoreer die steekpyn in haar hart. “Dit behoort nie ’n probleem te wees nie.”

    “En die tweeling in u sorg?” vra sy asof sy Inge se gedagtes kan lees.

    “My broer en suster,” sê sy asof Emma Joubert nie reeds alles weet nie. “Wel, in Cradock is daar goeie skole.”

    “Cradock is ’n hele entjie van Ukuphumla, juffrou Jonker. Jy sal nie elke dag kan deur ry nie.”

    “Ek weet. Ons is almal bereid om die opoffering te maak vir ’n beter toekoms.” Toe sy die effense frons op Emma Parker-Joubert se voorkop sien, weet sy dit is in elk geval neusie verby. “Ek is jammer, mevrou Joubert. Ek weet ek is nie ’n gekwalifiseerde grondslagfasejuffrou nie en ek kan nie Frans of Italiaans praat of lees nie. Ek het net vlak een-noodhulp en ek sal beslis nie wil hê ek moet op my eie ongelukstoneel afkom nie. Maar ek kan hard werk.

Ek is ook lojaal en uiters desperaat. My ouma se woonstel raak vir ons te klein en tussen studieskuld en met die tweeling en die brandstofprys wat nou weer op gegaan het, kan ek nie meer nie. Ek het egter twee babas grootgemaak vandat ek in die hoërskool was en hulle het nog nie ’n dag in hulle lewe ’n tekort aan liefde en aandag gehad nie. As u my aanstel, kan ek dieselfde aan u kleinkind belowe.” Sy haal diep asem. “Dink dus asseblief mooi voor u, u besluit neem.”

    Daar is ’n blink in Emma Joubert se oë wat die brand in Inge se hart mimeer.

    “Maar jy het reeds die werk, juffrou Joubert.”
    “Ekskuus?”

    “Jy dink tog nie ek sou jou al die pad van Pretoria af laat kom het as dit nie die geval was nie.”
    “Ek het dit nie besef nie.”

    “Ek wou net hoor of jy reeds ’n idee het in watter skool jy jou broer en suster wil plaas. Daar is natuurlik beter skole in Grahamstad, wat nader is.”

    “Duur skole.”
    “Hulle skoolfonds word in jou pakket ingesluit.”
    “Ekskuus?” vra sy weer.

    Emma Joubert se glimlag verbreed. “Ek en my man betaal jaarliks twee kinders se skoolfonds by Kingswood Kollege. Volgende jaar sal dit jou sibbe s’n wees wat ons betaal.”

    “O.”
    Inge is seker sy droom.

    “Ek weet met Kersfees om die draai sal jy seker nie nou wil trek nie, maar ek sal dit baie waardeer as jy die eerste week in Januarie kan begin.”

    “Natuurlik.”
    “Goed dan. Ek sal die nodige dokumentasie aan jou stuur en dan sien ek jou volgende jaar.”

    “Dankie,” kom die woord uit haar binneste. “Julle sal nie spyt wees nie.”

    John stuur die hysbak op na die boonste vloer van die Park Towers. Die man in die spieël lyk soos die foto’s van sy oupa Robert toe hy jonk was. Dieselfde donker hare, dieselfde sterk ken, dieselfde blou oë – dit is net die selfvertroue wat ontbreek.

    Hy probeer sy frustrasie saam met asem uit sy lyf stoot.

    Ná ’n dag van sinlose onderhandelinge met die Suid-Afrikaanse regering om meer te doen vir die bewaring van renosters, is hy fisiek en emosioneel getap. Nou het hy boonop die finale onderhoude vir ’n au pair misgeloop. Nog ’n bal wat hy op die grond laat val en presies die rede hoekom dit belangrik is om die regte persoon te kry om met Robbie te help. Hy sou natuurlik eerder wou hê Christine moet ophou vakansie hou by eksotiese bestemmings en self na haar kind begin kyk, maar dit gaan nie binnekort gebeur nie en hy kan net nie meer by alles uitkom nie. Dit is duidelik aan Robbie se gedrag die afgelope tyd, en die feit dat die derde au pair in vier maande bedank het, dat die afwesigheid van beide sy ouers sy tol begin eis. Hopelik doen die tydjie in New York saam met geliefdes Robbie goed en kan die nuwe au pair langer met hom uithou.

    John sug.

    Daar is natuurlik ’n bal van ’n ander aard waaraan hy sal moet begin dink, die Parkers se Kersbal. Dit sal die eerste Kersfees wees wat hy sonder Christine daar opdaag, en hy weet die media is honger om sy kant van die storie te hoor. Hy kon seker ’n onderhoud toegestaan het, maar hy sien werklik nie kans om derms uit te ryg oor sy vrou se ontrouheid nie. Nie vir sy eie onthalwe nie, maar vir Robbie s’n.

    Hy hoop Robert senior en Imke se goue bruilof steel die kollig.
    Sy ma sit op die bank met ’n tydskrif toe hy die deur van die penthouse suite oopmaak.

    “O, jy is hier?”
    “Ja, jammer. Die een grootkop was laat. Ek is regtig jammer.”
    “Alles in die haak. Ek het maar die vrymoedigheid geneem en ’n oppasser aangestel.”

    Hy wil eers net sê dankie, maar iets in sy ma se oë laat hom vra: “Watter een?”

    “Inge Jonker.”
    “Die kelnerin?”
    “Ja.”
    “Hoekom sy?”
    “Want sy was die beste vir die pos.”

    “En waarop baseer Ma daardie gevolgtrekking? Sy het geen kwalifikasies nie en kan nie een ander wêreldtaal praat nie.”
    “Ek weet. Noem dit maar vroulike intuïsie.”
    “Ma …”

    “Sy het haar tweelingboetie en -sussie om voor te sorg. Sy sal nie binnekort trou en Robbie aan sy eie genade oorlaat nie.”

    “Die afgetrede kleuterskooljuffrou ook nie.”

    “Sy het die geld nodig en sal dus nie oornag bedank nie.” Sy ma kom staan voor hom. “Inge Jonker het na my mening genoeg ervaring met kinders en sy het ’n eerlike gesig.”

    John skud sy kop. “En Miss Pearson nie?” Toe sy ma niks sê nie, steek hy net sy hande in sy sakke. “Ek het seker nie ’n keuse nie.”

    “Ek wil ook net noem dat die tweeling se skoolfonds by haar pakket ingesluit word. Ek sal met die rekenmeester praat en seker maak daar is vir jou ’n belastingvoordeel.”

    “Ma …”

    “Dink so daaraan, dit is ekstra motivering om haar daar te hou. In elk geval, dit gaan jou steeds baie goedkoper uitwerk as om Christine te onderhou.”

    Hy kan nie met daardie stelling stry nie. Hy wil ook nie. Hy gee nie werklik om, om twee kinders se skoolfonds by ’n privaat skool te betaal en hulle lewe te verbeter nie. Hy gee wel om dat dit tans voel of die aanstelling sy ma se manier is om in sy lewe in te meng. Hy kan seker maar net hoop dat dit nie die geval is nie.

    Dit was moeilik om die nuus oor die werk by die Jouberts vir drie dae ’n geheim te hou, maar noudat sy haar ouma en die tweeling se gesigte sien, is sy bly sy het dit gedoen.
“Gaan ons regtig vlieg?”

    Sy knik vir Petri.
    “Ja, daar is die kaartjies.”
    “En gaan ons regtig die see sien?”
    “Ons land by die see.”
    “En ons gaan op ’n plek soos Dikhololo bly?”
    Natuurlik sal dit vir Tilla die toppunt wees.
    “Ek dink Ukuphumla is ’n bietjie deftiger as Dikhololo, maar ja, daar is baie wilde diere.”

“Gaan jy regtig vir Ami Parker se nefie werk?”
    “Ja.”
    “Wow.” Petri skud sy kop. “Jy weet sy is geskiet, nè?”
    “Ek het so gehoor.”
    Petri vat ’n groot hap van die pizza. “Dis awesome.”
    “Wat? Dat sy geskiet is of dat ons trek?”

    “Sommer alles, behalwe dat ons na die fancy Engelse skool toe moet gaan, maar as jy sê hulle bied meer sportsoorte as ons skool aan, dan is dit reg.”

    “Jip. Hulle het waterpolo ook.”

“Dis super cool.”

    Dit is, moet Inge teenoor haarself erken, en alhoewel die kontrak net vir twaalf maande is, voel sy so aan haar bas dat hierdie skuif haar hele lewe gaan verander.

    “Gelukkig ken jy klaar ’n hele klomp Engelse woorde soos awesome en super en cool.”

    Tilla glimlag en laat rus haar ken in haar hand. “Mag ek net sê dit is super awesome cool.”

    Inge vou haar arms om haar kleinsussie. “Ek stem nogal met jou saam.”

HET JY GEWEET?

• Wanneer jy ’n romanse lees, veroorsaak dit ’n chemiese reaksie in jou brein wat jou goed laat voel.
• Dit verlig stres op ’n natuurlike manier.
• Jy ervaar ’n gevoel van emosionele versorging omdat die held die heldin se diepste behoeftes verstaan.
• Lesers voel dat dit hulle insig in hul eie verhoudingsprobleme gee.
• Dit dra by tot vroue se bemagtigingsproses omdat die heldin ’n vrou in eie reg is.
• Die jongste lesers is tieners en die oudstes is in hul 90’s.
• Romanselesers is die mees belese lesers in die wêreld. Hulle is sterk, intelligente en kreatiewe vroue wat presies weet wat hulle wil hê.
• Sielkundiges stem saam dat die romanseleser warm, vriendelik en sensueel is.
• Daar is omtrent twee persent mans wat romanses lees. Baie van hulle lees dit omdat hulle graag wil weet hoe vroue voel en dink.

NOG TITELS IN MEI

’n Man vol verrassings – Elize Davies
Ses jaar gelede het Mia-Mari ’n duur, pynlike les geleer: agter Wynand se sjarme en sy aantreklike uiterlike skuil ’n agterbakse plannemaker wat nie vertrou kan word nie. Wat hy gedoen het is onvergeeflik. Haar hart is immuun teen seerkry en sy durf nie toelaat dat hy weer deur haar skanse breek nie, maar Wynand het die mag om haar hart ’n tweede keer te vernietig.

Klik hier vir die e-Boek:
Man vol verrassings e-Boek

In sy stilte – Felicia Snyman
Sashen en Olivia deel tydelik ’n meenthuis, maar sy bly vir hom ’n raaisel. Hy moet homself elke dag herinner om nie vir haar te staar nie, maar dis nie net haar skoonheid wat hom gevange hou nie. Dit is haar kwesbaarheid wat hom nadertrek.
Klik hier vir die e-Boek:
In sy stilte e-Boek

Ek vertrou jou – Ciska Olivier
Yvonne se kêrel verdwyn tussen hoor en sien op Nuwejaar, en sy broer, Kelvin, daag op om sy verdwyning te ondersoek. Die man vryf haar verkeerd op en sy kan nie wag dat hy sy ry kry nie, maar hy is heeltemal te aantreklik wanneer hy die dag besluit om iets anders as ’n suur gesig te trek.

Klik hier vir die e-Boek:
Ek vertrou jou e-Boek

SPAAR EN KOOP AL VIER!
Jy kan ook by RomanzaKlub aansluit. Stuur ’n e-pos aan romanza@lapa.co.za en vind uit hoe jy sakke vol geld kan spaar vir die heerlikste liefdesverhale.
Bederf jouself! Klik hier om Romanza as pakket teen 15% korting te koop:
Gedrukte boeke
e-Boeke