Jeugdag 2019 | Skrywers se briewe aan hul jonger self
Vandag, 16 Junie 2019, is dit al 43 jaar ná die verskriklike gebeure wat gelei het tot Jeugdag. Ons vier dus nie Jeugdag soos wat ons ander vakansiedae vier nie, maar neem tyd om te reflekteer op die toekoms van ons jeug. Ons het ’n paar van ons skrywers gevra om aan hul jonger self raad te gee oor die lewe.
Christien Neser, skrywer van die Elle-reeks en ander jeugromans sê:
Liewe jong Christien
Daar is net een van jou gemaak. Wees jou eie jy. Leef jou eie lewe. En as die wiele afkom? Solank dit ’n goeie storie gaan maak, is dit nie ’n ramp nie.
Groete
Ouer Christien
Wendy Maartens, wat baie bekend is vir haar skryfwerk wat volkverhale toegankliker maak vir jonger mense, skryf:
Wendy
Steur jouself baie minder aan wat ander dink en sê. Maak 100% seker dat jou studiekeuses klop met jou passies – vergeet van die salaris. Leer baie vinniger om jou sesde sintuig te vertrou – daardie ja/nee gevoel op die krop van jou maag. Leer om al die eienskappe wat ’n mens “anders” maak en soms soos ’n seer vinger laat uitstaan uit die staanspoor te embrace, want dis waar jou krag en waarde werklik lê.
Moet glad nie jaloers wees op die sogenaamde mooiste meisie in die skool nie. Jy het jou eie mooi. Lug jou eie mening meer, want jy is hier vir ’n rede!
Liefde
Wendy Maartens
Hilda Steyn en Nadia de Kock wat onlangs Hekel en word heel uitgegee het, het ook aan hulself raad gegee. Hulle skryf onderskeidelik:
Hilda
Laat ander se kritiek en twyfel in jou jou motivering word.
Groete
Hilda Steyn
Toe ons vra of sy na haar eie raad sou luister het sy gesê:
Ek sou luister, ja. Sonder dat ek dit besef het, het ek presies dit gedoen. Elke keer wat iemand kritiek gelewer het, het ek harder probeer. Elke keer wat iemand vir my gesê het ek sal dit nie maak nie, het ek ekstra hard probeer om daardie persoon verkeerd te bewys en dit gewoonlik reg gekry.
Nadia skryf:
Daar is maniere om na al die plekke te reis waaroor jy nog net gelees het. Doen navorsing, kyk na watter werksmoontlikhede daar is en pak jou tas. Daar is baie tyd vir grootmensdinge wanneer jy terugkeer.
Ek sou waarskynlik nie geluister het nie, want ons was gebreinspoel om na matriek te gaan swot en dan dadelik te begin werk.
Groete
Nadia de Kock
Chanette Paul, wat haar boek Lira skaars ’n maand gelede op die boekrak geplaas het, skryf
Liewe jong Chanette
Ons hoef nie, kan nie, almal dieselfde wees nie. Wees die beste, mees opregte jy wat jy kan wees. Wees getrou aan wie jy is, al is jy anders as ander. Glo in jouself, maar luister ook na raad van mense vir wie jy agting het. Oorweeg wat hulle sê en besluit eers daarna of hulle ʼn punt beet het of nie.
Mooi bly!
Chanette Paul
Alta Cloete wat ook bekend is as Marilé Cloete onder haar Romanza-aanhangers sê:
Beste Alta
Leer ken jouself – vind uit wat jou sterk- en swakpunte is. En wanneer jy dit weet, begin jy soek na jou droom. Daarna? Jaag daardie droom na – maar moet ook nie te bang wees om dit te verander nie.
Ek dink ek sou heeltemal verbouereerd gewees het – selfontwikkeling was nie ’n konsep wat in my jeug op my (geliefde) Karoodorpie bestaan het nie. Ek moes eers ’n lang pad stap voor ek (min of meer) by bogenoemde uitgekom het. As mens hierdie dinge vroeg in jou lewe ontdek, kan jy soveel méér vermag in die tyd wat jou op aarde beskore is.
Groete
Alta Cloete
Peet Venter is bekend vir sy spanningsverhale. Onlangs het Soos ’n diep waterkuil die lig gesien. Peet sê:
Moenie jou geld op vinnige motorfietse mors nie. Nee, ek het nie geluister nie, maar dit was die geld werd.
Groete
Peet Venter
Madelie Human skryf aan haar jonger self:
As jy oor ’n studierigting moet besluit, kies iets wat vir jou ’n breë basis van vaardighede sal verskaf, nie noodwendig iets wat jou sal laat spesialiseer in een spesifieke beroep nie. Die wêreld van werk het so verander dat mens in jou leeftyd beslis ’n paar verskillende beroepe sal beoefen – bewapen jouself daarvoor! Kies ook so dat jy die kennis en vaardighede sal kry wat jou bemagtig om jou eie baas te kan wees, moenie staatmaak daarop om werk te kry by groot instansies nie.
As jy wil skryf, beoefen dit eers as stokperdjie totdat jy seker is dat jy goed genoeg is om ’n lewe daarvan te kan maak. Gesels met gevestigde skrywers en vind alles uit voordat jy kop eerste induik.
Liefde
Madelie
Fanie Viljoen hou dit kort en kragtig:
Beste Fanie
Chill net ‘n bietjie.
Mooi bly
Fanie
Hy sê verder dat sy 16 jarige-self heel waarskynlik nie sou luister nie.
Malene Breytenbach se raad:
Liewe Malene
Glo in jouself. Jy kán met harde werk en toewyding sukses behaal in wat jy ook al kies om te doen. Die lewe skuld jou niks. Jý moet dinge laat gebeur. Wees genadig teenoor jouself en ander. Glo in die liefde. Jy sal daarvoor beloon word. Maar moenie naïef of goedgelowig wees nie. Kyk alles, mense ook, eers goed deur, voordat jy jou blootstel.
Groete
Malene Breytenbach
Jeanette Ferreira het ons leesgenot verryk met Bloedlelie.
Jeanette
Dink aan maniere waarop jy jou talent en opleiding só kan inspan dat jy daarmee ’n bestaan kan maak. En probeer voortdurend jou talent en opleiding slyp. Enige mens wat kan bewys dat hy of sy self iets kan skep wat in aanvraag is, trek die aandag van instansies wat dit kan gebruik. Dis goed om nou al oor moontlikhede te begin dink en dit solank te toets vir lewensvatbaarheid. Moenie wag vir jou matrieksertifikaat nie.
As jy kan skryf, waag jou hand aan die soort skryfwerk wat gewild is in koerante en tydskrifte en by uitgewerye. Berei jou voor op kritiek van sulke instansies – en steur jou daaraan ten einde jou werk te verbeter en meer effektief te voldoen aan wat in aanvraag is.
Die meeste mense het nie net een talent ontvang nie. Kyk eerlik na talente naas jou hooftalent en kyk of jy nie ’n kombinasie kan skep wat kan verkoop nie.
Liefde en groete
Jeanette Ferreira
Elsa Winckler het aan haar jonger self die volgende raad:
Liewe Elsa
Ek wens baie dae ek kon teruggaan en jou ’n bietjie skud, dis regtig nie nodig om so oor álles te wroeg nie! Don’t sweat the small stuff. En daai ou wat jou hart breek? Stap weg, hy’s nie die man vir jou nie. Daar is iemand daarbuite wat jou altyd eerste sal stel – iemand met wie jy uiteindelik trou.
Hoërskool is nie die begin en die einde nie, moenie bekommerd wees omdat jy nie heeltemal inpas nie. Alhoewel daar dinge is wat jy nooit gaan vergeet nie, kan ek jou verseker – dit word beter. En dis oukei om nie deel van die ‘cool’ klomp te wees nie, jy gaan dit nooit regkry nie, maar weet jy wat? Jy vind in elk geval uiteindelik wonderlike hartsvriendinne, jou ’tribe’.
Moenie die tyd omwens nie, oukei? Leef in die oomblik, geniet elke liewe dag. Voor jy jou oë uitvee, gaan jy die stof van jou klein dorpie se strate vir altyd van jou skoene afvee en jy gaan terugverlang – ek weet dis moeilik om te glo, maar daar is iets aan die sonsondergang in die Kalahari wat ’n mens nêrens anders kry nie.
Dis wonderlik dat jy so baie lees. Dis jou ontvlugting, maar woorde gaan deel wees van jou lewe eendag – maak so veel as moontlik deel van jou.
Jy’s so opgewonde oor die lewe, grootoog oor alles wat nog voorlê al het jy nie ’n idee van wat alles wat op jou wag nie. Maar jy sal oukei wees – daarvoor sorg die Liewe Vader en jou makabere sin vir humor!
Baie liefde
Vier dekades later se Elsa Winckler
Watter raad het jy vir die jonger jy?