Jan Vermeulen | Skrywersprofiel
’n Skrywersprofiel
Op skool het die skryfgogga reeds vir Jan gebyt en hy neem as veertienjarige deel aan die korrespondensie-skryfkursus: Kortpad na Knap Kortverhale. En publiseer ook in daardie jaar sy eerste kortverhaal, Die Sneeuprins van Alaska, in die destydse jeugtydskrif Patrys.
Jan het ná skool sy twee jaar diensplig aan die Infanterieskool op Oudtshoorn gevolg, waarvan veertien maande Grensdiens was as lid van 202 Bataljon. In 1983 behaal hy sy BA Admissiegraad met Filosofie en Hebreeus as hoofvakke aan die Universiteit van Port Elizabeth. In 1987 sy BTh en Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy skripsie was getiteld: Die afwesige vader.
Ds. Jan Vermeulen aanvaar beroep by die NG Tuinedalgemeente in 1988. Hy dien daar as leraar tot 1991 waarna hy beroep aanvaar by die Dagbreekgemeente op Despatch. In Junie 2008 bedank hy uit die NGK en begin ‘n informele huiskerk, die Immanuel Familie Kerk.
Wat sy verdere skryfwerk betref: In 1998 woon Jan ’n kursus in kreatiewe skryf by. Dit is aangebied deur die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth en hy debuteer in dieselfde jaar met sy eerste volwasse roman, Die laaste dans, met die destydse Grensoorlog as tema. Twee jaar later is Jan weer terug met sy eerste jeugroman, Geraamtes dra nie klere nie, ’n roman vir 12-jariges.
Hy verwerf die Sanlamprys vir Jeuglektuur met hierdie boek. Sy jeugroman palm ook vir hom die gesogte M.E.R.- en Scheepersprys vir Jeuglektuur sowel as ’n ATKV-Kinderboektoekenning en ’n ereboekaanwysing deur die IBBY-kinderboekliggaam. In 2006 verskyn sy kortverhaal, In Ma se stoof, in ’n kortverhaalbundel met spookstories, Van Spoke gepraat, byeengebring deur Charles Fryer en uitgegee deur Tafelberg.
Dit is eers vyftien jaar later wat Jan weer die literêre wêreld tref met suksesverhaal op suksesverhaal. Hy wen twee keer agtereenvolgens die LAPA Jeugromankompetisie in 2015 en 2017. Sy boek Asem vloei uit die 2015 kompetisie en die boek verower ook ’n ereboekaanwysing deur die IBBY-internasionale kinderboekliggaam en word ook vir 2020 voorgeskryf vir matrikulante in IEB-skole. Die jeugroman waarmee hy weer eens gewen het in 2017 verskyn eersdaags by LAPA Uitgewers onder die titel Oopmond.
In 2017 skryf Jan nog ’n jeugroman vir die SANLAM Jeugroman Wedstryd van NB Uitgewers en verower die silwertoekenning. Soen sien die lig in 2017 en word beskryf as die Deon Meyer van Jeugromans. Soen haal die kortlys vir die M.E.R. Prys.
Jan Vermeulen slaan hand aan ’n nuwe genre in 2018 en vestig homself as rillerfiksieskrywer met Die vyfde Aspoester. Nie net skok die predikant die land met ’n grusame boek oor ’n reeksmoordenaar nie, maar het die literêre wêreld aan die klets met die tasbare boosheid wat hy in die nuwe wending losskryf. Hy vervolg in 2019 met Ondier wat beloof om weer sy lesers tot laat in die nag wakker te hou.
Jan en sy vrou, Diana, woon tans in Despatch in die Oos-Kaap. Hy het twee dogters, Karla en Joandri. Diana het ’n seun en dogter, Hein en Elmie.