Hans du Plessis ATKV | Litnet-Skrywersalbum
Sêgoed van Hans du Plessis
“Afrikaans gaan nêrens anders heen as waarheen ons dit vat nie. Ons moet produkte skep wat só goed is dat mense agter ons aanloop.” (Beeld, 30 September 2002)
“Afrikaans moet in Afrika bestaan, en hy doen dit al eeue. Die vraag is net of sy kundiges dit wil weet – ás hulle natuurlik vir die taal Afrikaans net soveel omgee as wat hulle vir die vak Afrikaans omgee …” (Beeld, 23 April 1997)
“My filosofie by die skryfskool – en dis deels hoekom ek die skryfskool gedoen het – is dat daar net een manier is om Afrikaans in stand te hou: Maak hom onmisbaar. En daarmee bedoel ek: Skryf goed, doen goeie navorsing, doen goeie goed – en práát hom net eenvoudig met mekaar. Ek glo vas jy kan nie iemand leer skryf nie. Ek kan nie talente gee nie, ek het te min, ek kan nie nog weggee nie!” (Beeld, 13 November 2011)
Om tussen genres te wissel, is nie vir Du Plessis ’n wilsbesluit nie: “Die stof wat hulle by my kom aanmeld, besluit daaroor. Ek kan net een ding op ’n slag doen, en daarom is dit nie regtig wissel nie. Skryf is vir skryf, en dit maak nie vir my saak in watter genre nie; ek probeer goed skryf.
Daar is vir my net twee soorte skryf: goed skryf of sleg skryf. Daarom is daar kruisbestuiwing: ’n goeie natuurbeskrywing in die prosa moet elemente van die poësie hê, soos ritme; en dialoog in die roman is die dialoog wat op ’n verhoog moet kan werk.” (Vrouekeur, 22 Julie 2016)
Lees meer op LitNet.