Fiksie vir die vrou | Ilse Salzwedel
Dis geen verrassing om te hoor dat vroue wêreldwyd die meeste boeke koop nie. Of dat genres wat tradisioneel deur vroue gelees word, die grootste verkopers is nie. En die syfers bevestig dit. In die VSA is romanse en erotika die topverkopers.
In 2016 het dit ‘n yslike $1.44 miljard by die kasregister verdien, byna dubbeld soveel as misdaad- en spanningsfiksie. Nog meer verstommend is dat daar 30 miljoen liefdesverhaal-lesers in die VSA is – die meeste daarvan vroue. Maar vrouefiksie is beslis meer as net ou red meisie.
Wat presies is vrouefiksie? Dit word gedefinieer as fiksie vir vroue deur vroue, en bestaan uit ’n hele aantal subgenres, soos liefdesromans, chick lit, verhoudingsromans, spanningsromanses, historiese romans en wat in Engels bekend staan as “sweet spot fiction”.
Die fokus in vrouefiksie val altyd op kwessies en ervarings waarby die meeste vroue aanklank sal vind, byvoorbeeld verhoudings. Dit hoef nie altyd ’n liefdesverhouding te wees nie, maar kan ook familieverhoudings wees, of selfs werksverhoudings.
Nog ’n kenmerk van vrouefiksie is die sterk vroulike protagonis (hoofkarakter) en meestal vroulike sleutelkarakters. In die meeste soorte vrouefiksie moet die hoofkarakter ook een of ander kwessie of interne worsteling te bowe kom. Maar al verskil die sub-genres van vrouefiksie, is die hoofkarakters almal moderne, sterk vroue wat hul drome najaag, of dit nou in hul loopbane of liefdeslewe is.
Die vroue self lyk ook heel anders as die heldinne uit die liefdesverhale wat ons as tieners gelees het. Uitgewers wêreldwyd het besef hul lesers kan nie meer identifiseer met hulpelose wimper-fladderende meisietjies nie. Die tyd toe lesers tevrede was met jong, naïewe en onseker vroulike hoofkarakters (wat ook dikwels bedorwe brokkies was), is lankal verby. Deesdae se vroue is sterk, slim, dikwels snaaks en beslis meer kieskeurig oor wie uiteindelik hul liefde werd is. Hulle kan hul man staan en het sterk menings (wat hulle nie huiwer om uit te spreek nie). In ’n neutedop: moderne vrouefiksie reflekteer die wêreld waarin ons leef, en vroulike hoofkarakters begeer wat gewone vroue begeer.
Volgens die Amerikaanse skrywer en joernalis Jessica Luther het die klemverskuiwing na sterker vroulike hoofkarakters in die 1980’s en 1990’s gebeur. In ‘n artikel in The Atlantic in Maart 2013 het Luther geskryf dat hedendaagse vroulike skrywers die voordele geniet wat deur die feministebeweging teweeg gebring is, soos dat hul vroulike hoofkarakters – nes vroue in die regte lewe – die voorwaardes van langtermynverhoudings beding eerder as om in ’n wanhopige hopie te sit en wag om deur ’n prins gered te word. Vandag se hoofkarakters word ook deur mans as hul gelykes behandel en kan hul seksualiteit uitleef sonder dat iemand ’n wenkbrou lig. Klink dit soos bevryde vroue? Beslis! Soos Maya Rodale, ʼn bekroonde New Yorkse skrywer van liefdesromans dit stel: “Romance novels may actually be the most pro-feminist books you’re not reading. Romance novels – unlike most other literature – always put women in a starring role, reward their rule-breaking, and guarantee their sexual pleasure.” Nog ’n Amerikaanse skrywer, Cecilia Grant, som dit so op: “Romance is one of the few places where a woman is a subject in sex, rather than an object.”
Vrouefiksie speel steeds dieselfde rol as wat dit desjare vir ons ma’s gespeel het: dit help lesers om te ontspan én te ontsnap van hul alledaagse bestaan. Die terapeutiese waarde daarvan moet ook nie onderskat word nie – dit kan lesers bemagtig, veral wanneer sterk temas soos mishandeling en verhoudingskwessies onder die loep kom.
Wanneer mens oor die hoofkarakters in vrouefiksie praat, moet jy noodwendig ook na die lesers verwys. Cliffordene Norton, ’n voormalige vrouefiksie-uitgewer van LAPA, het in ’n blog oor romantiese fiksie geskryf dat vrouefiksielesers lankal nie meer “treurige oujongnooiens is wat alle hoop op liefde begrawe het en nou maar ’n genadige einde met nege katte inwag nie.” Nes dié genre se heldinne is die lesers ook sterk vroue “want die heldin is die leser se alter ego.” Volgens Norton is die romanse-genre “onlosmaaklik verbind aan die evolusie van die vrouebeweging”.
“Vroue is weer vroue sonder om hulle identiteit prys te gee en te probeer om soos mans te dink en te doen. Die moderne vrou voel sy is geregtig op haar eie tyd met ontvlugting soos romantiese fiksie wat haar emosioneel versorg. Want hoewel die kontemporêre vrou in teorie meer voordele het as haar susters van lank gelede, is sy steeds hoofsaaklik verantwoordelik vir die hele gesin se emosionele versorging terwyl sy op haar eie reserwes aangewese is vir haar eie versorging,” skryf sy.
Maar wat sê ons eie vroueskrywers? Het hulle hoofkarakters deur die jare verander? En watter rol speel dit in hul lesers se lewe?
Kristel Loots se eerste tydskrifkortverhale het in 1991 verskyn, en haar eerste liefdesroman in 1998. Meer as vyftig boeke later is sy beslis in ’n posisie om te praat oor hoe lesers vrouefiksie ervaar, en hoe die karakters in vrouefiksie deur die jare verander het.
“In die boeke wat ek vir LAPA skryf is alle vrouehoofkarakters nie meer noodwendig jonk en blond met albasterblou oë nie. Of rooikop-rissiepitte met wilgerlatlyfies nie. Hulle het geleidelik saam met my ouer (en vetter) en miskien bietjie wyser geword. Miskien selfs minder bitterbek en meer gebalanseerd. Dis bevrydend, vir skrywer sowel as leser. En meer geloofwaardig.”
Kristel sê haar hoofkarakters klink ook nie meer dieselfde as toe sy begin skryf het nie. “Destyds se ‘vervlaks het ‘dêmmit’ geword, en soms selfs ‘my f*k, Marelize’.” Maar binne perke, natuurlik. “Die hoofkarakter moet steeds ’n mate van onskuld en reinheid behou sodat sy simpatie ontlok en geliefd sal wees.”
Volgens Kristel word die verskuiwing in grense bepaal deur die gees van die tyd, ’n veranderde samelewing, en natuurlik deur wat die uitgewer die skrywer toelaat. Maar die skrywer moet ook gemaklik wees met wat sy skryf. “As die skrywer ongemaklik is met wat ’n karakter doen of sê, sal die leser heel moontlik ook so voel.”
Watter soort vroue wil lesers hê? “Die idee is om ‘kick ass’-alfavroue tussen die blaaie van die boek te ontmoet. Hulle is nie noodwendig die swanger en kaalvoet in die kombuis-klone van die verlede nie, hulle vlieg vliegtuie, dien op direksies van maatskappye en is soms baas, eerder as klaas. Man-soek is nie prioriteit nommer een nie en hulle vat nie kaf van kabouters nie.” Maar almal het een of ander kwessie wat pla. “Anders is daar nie ’n storie nie.”
Daar is volgens Kristel ‘n goeie rede hoekom romantiese fiksie altyd gewild sal bly, ongeag die opbloei van feminisme en sterk vroue wat nie op die rak sit en wag om gered te word nie. “Homo sapiens bewandel sedert Noag se dae al om die aarde in pare. Die behoefte, intense hunkering en selfs onbewustelike soeke na ’n maat is altyd daar. Begeerte, passie en ekstase is nodig, maar daar is ook plek vir wedersydse waardering en koestering.” Sy voel ook dis belangrik dat die misterie en die fantasie van die liefde moet bly.
Frenette van Wyk, wat al vyf Romanzas en drie SuperRomanzas op haar kerfstok het, glo vrouefiksie groei in gewildheid omdat dit in die behoeftes van die hedendaagse vrou voorsien én haar belange op die hart dra. “Dit bied noodsaaklike ontvlugting. ’n Goeie boek bied ’n maklike, vinnige en doeltreffende manier om vir ‘n rukkie te ontsnap van ’n harde, gejaagde, ongelukkige of vervelige alledaagse realiteit.” ’n Boek kan ’n leser ook help om op haar eie vervulling en voltooiing te vind. “Moderne vrouefiksie-heldinne is mense in eie reg, ongeag of sy onskuldig of deurwinter is wat die liefde en lewe betref. Haar eerste prioriteit is haar eie droom waarvoor sy veg. Sy maak haar eie plan, volg haar eie kop, loop haar eie pad om haar droom te realiseer.” Hoe sien die lesers haar? “Vir hulle is sy ’n ikoon, ’n rolmodel wat die leser aanmoedig om haar eie drome te droom, in haar vermoëns te glo en die selfvertroue te vind om dit uit te voer. Sy moenie toelaat dat hindernisse haar onderkry nie. Sy kan haarself laat geld en haar eie persoonlikheid uitleef.”
Sommige hoofkarakters moet hul eie emosionele pyn verwerk (oor verskillende kwessies, byvoorbeeld ‘n liefdesteleurstelling, haar voorkoms, molestering of mishandeling). “Daar is vandag meer vryheid en vrymoedigheid om te skryf en te lees oor temas wat in vorige dekades taboe was om in die openbaar te bespreek.” Frenette glo hierdie kennis en insig bemagtig lesers. “Die leser kry deur die heldin met wie sy identifiseer die kans om haar eie probleme in die oë te kyk en daarmee af te reken, uitdagings te aanvaar en te bowe te kom.”
Frenette meen hedendaagse vrouefiksie-hoofkarakters het ’n dubbele uitdaging. “Behalwe vir haar droom wat sy wil realiseer, of emosionele pyn waarvoor sy genesing soek, moet sy ook nog veg vir haar held se liefde. Maar anders as vroeër jare, is sy nie meer ’n hulpelose of magtelose slagoffer uitgelewer aan die lewe en afhanklik van ’n held wat haar moet red nie. Trouens, die held staan dikwels in die pad van haar drome, maar sy stel haarself steeds oop en sien kans vir die uitdaging. Sodoende inspireer sy lesers om ook in liefde te glo, iets wat die romantiese vroulike geslag graag wil doen. Die heldin wek by lesers die begeerte om self liefde te wil ervaar ten spyte van hindernisse en hartseer, en sy help hulle waag om liefde ’n kans te gee en daarvoor te veg.”
Die inspirasie om in die liefde te glo, skep ‘n goedvoel-ervaring. “Dit gee lesers hoop dat liefde werklik bestaan ten spyte van ’n siniese en liefdelose samelewing, dat ’n gelukkige liefdesverhouding moontlik is en dat hulle self in ’n liefdesverhouding vervulling en voltooiing kan vind.”
Madelie Human, skrywer van sowat dertig romanses, onthou dat sy liefdesverhale begin lees het in ’n era waarin helde met feitlik enige gedrag weggekom het. “Die heldinne van destyds was sag, vroulik en maagdelik, maar die vrouebevrydingsbeweging het sake taamlik verander.” Madelie onthou dat daar in haar begindae as skrywer ’n duidelike opdrag aan skrywers was om donker temas in romanses te vermy. Dit het egter intussen verander. “LAPA het skrywers van vrouefiksie onlangs versoek om ernstiger temas by te werk en ons verhale te verdiep. Dis deur die meeste skrywers verwelkom, en ek self het in my jongste romanses temas soos plaasmoorde, renosterstropery, aanranding en kindermishandeling bygewerk. Dis die realiteit van ons tyd en durf nie geïgnoreer word nie.”
Sy het die laaste paar dekades ’n besliste verandering onder lesers van vrouefiksie bemerk. “Dis nie meer verveelde huisvroue, skoolmeisies en tannies in ouetehuise nie, maar ’n meer gesofistikeerde vrou wat weet presies wat sy tussen die bladsye van ’n boek soek. Die leser is toegeeflik teenoor die held en hy kan wegkom met baie dinge, maar sy stel haarself in die plek van die heldin en is byna net so krities oor haar gedrag as wat sy oor haar eie sou wees. Dit daag die skrywer uit om helde en heldinne te skep wat nie net samestellings van ’n klomp geite is nie, maar volronde, simpatieke en goed gemotiveerde karakters.”
Sulke gatskop-heldinne, soos wat een van haar lesers onlangs die hoofkarakter in haar jongste boek beskryf het, is egter ’n groot uitdaging vir ’n romanse-skrywer. “Sy mag nie ’n koue vis of ’n bitterbek wees wat alle mans afkraak nie. Ons moderne heldin hoef ook nie meer haar bra te verbrand om gelyk aan die man te probeer kom nie – inteendeel, sy koop ’n wonderbra en vier haar vroulikheid met oorgawe terwyl sy stof skop in die oë van die manne by die werk. Die voorkoms van die heldin hoef ook nie meer perfek en beeldskoon te wees nie, maar sy is presies reg en pragtig vir haar held.”
“Die romansegenre is beslis bevrydend vir lesers wat in hierdie tyd van politieke onrus en onsekerhede oor die toekoms, honger is vir goedvoel-stories. Dit laat hulle besef dat hulle nie alleen deur die swaar van die lewe worstel nie, maar dat daar wel hoop is op liefde en geluk. Ek dink dat ons oor die afgelope dekades gevorder het van die sogenaamde hygroman na meer betekenisvolle verhoudingsromans.”