Skip to main content

Bekendstelling van Wegkruiper en Swyg | Stellenbosch

Oor die boeke:

Wegkruiper: 

Onheil op Onrus

Iemand speel ’n grusame speletjie op Onrus. ’n Oudonderwyseres word in haar dansateljee vermoor en twee vroue word ontvoer en gemartel.

Kaptein Werner de Wege en adjudant Lisamore Talakase moet ’n legkaart bou om die raaisel op te los, maar die belangrikste stukke speel wegkruipertjie met hulle.

Sal die speurders die moordenaar betyds kan vastrek voor die volgende slagoffer val? En wat het ’n afgetrede onderwyseres, ’n bekende dokter, ’n sukkelende eiendomsagent en ’n boer gemeen?

Wegkruiper, Christelle Wessels se vierde spanningsroman, wys in watter nagmerrie ’n dorp ontaard wanneer die sondes van die verlede ’n gemeenskap inhaal.

Swyg

Slegs die dooies kan swyg soos die graf ...

In 2009 word Stellenbosch geruk deur ’n sensasionele moord. Vanessa Wessels, dogter van ’n welgestelde familie, vermoor haar studentemaat, maar swyg soos die graf oor die voorval. Dokters beweer sy ly aan psigotiese geheueverlies weens die dwelms wat in haar bloedmonsters gevind is, maar almal het hulle bedenkinge.

’n Paar jaar later jaag die bekende digter en dosent Didi Donkermann, geheime en al, by Voëlklip oor die afgrond in ’n vermeende selfdood.

Die raaisels begin net stof opgaar, toe die Molenberg psigiatriese hospitaal vir dr. Ann Marais laat weet dat Vanessa Wessels haar wil sien. Ná jare se stilte wil sy uiteindelik praat oor wat die aand van die moord gebeur het. Dan kom Didi se seun, die skrywer Louis Donkermann, ook uit die houtwerk met aantygings dat ’n jong skrywer sy nuutste boek geplagieer het.

Maar hoe is hierdie twee ou sake verbind? Waar oorvleuel moord obsessie en letterkunde? En hoe vind jy die waarheid na soveel jare se stilswye?

Swyg, Erla Diedericks se vierde spanningsroman, snuffel heerlik tussen die geraamtes van die akademiese en uitgewerswêreld.