Bekendstelling Pompeii | George
Oor die boek:
Voor die uitbarsting van Vesuvius, word Aeliana en haar moeder as slavinne weggevoer uit Jerusalem en bevind hulself in Pompeii – ’n besige stad vol afgodtempels. ’n Vlaag teregstellings eis haar moeder se lewe en dryf die klein groepie oorlewende gelowiges na geheime ontmoetingsplekke in vrees vir hul lewens. Haar kunstalente verseker haar ’n posisie in ’n villa, maar haar pligte strook soms nie met haar waardes nie.
Balthus, ’n gladiatorslaaf wat sy vryheid in ’n geveg gewen het, het haar moeder belowe om na Aeliana om te sien, maar haar wantroue veroorsaak innerlike konflik oor haar gevoelens vir hom. ’n Versigtige vriendskap ontstaan tussen die twee en sy voel toenemend veilig by hom. Maar is sy aangetrokkenheid tot haar slegs gegrond in sy skuldgevoelens en belofte? En kan sy hom vertrou om haar en die ander Christene veilig te hou?
Ná die plaasmoord op haar ouers, worstel Liana met bitterheid en vrae oor God se genade. Sy aanvaar ’n wegbreekkans in Pompeii om restourasiewerk te doen. Liana verdiep haar in die muurkuns, mosaïeke en gebruiksitems by die Priscus-villa terwyl haar deernis vir die eertydse skilder en slawe groei.
Doktor Ulrich Balth en Liana het ’n stormagtige ontmoeting, maar sy kennis en vriendelikheid laat haar tog geleidelik teenoor hom ontdooi. Sy onverwagse begrip vir haar sporadiese bitterheid en hartseer laat haar vermoed dat hy self ook al kennis gemaak het met tragedie. Saam vlek hulle nie net die geheime van die laaste dae voor die ramp in Pompeii oop nie, maar ook hulle harte en verledes.