10 Vrae aan | Lizelle von Wielligh
1. Strykstok van die hart is ’n historiese romanse. In watter era sou jy graag wou leef, en hoekom?
In die tyd van wye balrokke en galante here wat oor jou hand buig om die minuet met jou te dans.
2. Geloof speel ’n groot rol in jou romanses. Wat het jou laat besluit om geestelike romanses versus meer tradisionele romanses te skryf?
Aanvanklik wou ek glad nie omdat ek nie vir ander mense wil preek nie, maar ek skat my geloof is so onlosmaaklik deel van my dat dit nie anders kan nie.
3. Watter skrywers bewonder jy, en hoekom?
Eerstens Ena Murray. Min skrywers het die gawe om spitsvondige dialoog te skryf en die storie regdeur interessant te hou. Tweedens Jeanette Ferreira. Sy het vir seker die grootste impak op my skryfloopbaan gehad en my so baie geleer.
4. Watter items is altyd in jou handsak?
Vaseline vir my lippe, ‘n houertjie met pille vir nood, my beursie, sonbril en suiglekkers.
5. As iemand ’n fliek oor jou lewe moes maak, watter aktrise sou jy wou hê moes jou speel?
Meg Ryan.
6. Musiek is ’n belangrike tema in Strykstok van die hart. Het jy ’n gunstelingliedjie?
Sjoe, dit is moeilik om net een te kies. My musieksmaak is baie wyd, en elke liedjie hoort by ’n ander gemoedstemming. Maar ek dink The Fellowship van Lord of the Rings kan ek tot vervelens toe luister.
7. Watter advies het jy vir writer’s block?
Bly op jou skryfstoel en stoei dit uit. Dit help my om gedagtes sommer los en vas te skryf tot my brein sin daaruit begin maak. Soms gebruik ek ook vir Tinus as klankbord.
8. Wie is, volgens jou, die aantreklikste akteur in Hollywood?
Ek dink hy moet nog gebore word, maar ek moet sê Vin Diesel se sterk persoonlikheid trek my tog aan.
9. Hoe lyk ’n tipiese dag vir Lizelle von Wielligh?
Ek begin altyd met ‘n vroegoggend stappie. Daar is niks saliger as om my dag saam met my Vader in sy skepping te begin nie. Dit verlaag ook my stresvlakke en help my om my dag te beplan. Daarna help ek ons kinders met hulle skoolwerk terwyl ek tussendeur regmaak en huistakies verrig. Laastens kan ek in my skryfwêreld wegraak.
10. As jy kon tydreis, wat sou jy vir jonger Lizelle wou sê?
Lees liefdesverhale! Ek het drie maande voor ek begin skryf het vir die eerste keer liefdesverhale gelees. Agt en vyftig boeke later het ek vir die eerste keer begin wonder of ek nie maar moet begin skryf nie.