10 Vrae aan Frenette van Wyk
1.Luister jy na musiek as jy skryf? Indien ja, waarna luister jy?
Die klanke van die natuur is die meeste van die tyd my agtergrondmusiek wanneer ek skryf. Maar classics soos Conquest of Paradise – Vangelis, Elvira Madigan – Mozart, Music Box Dancer – Frank Mills, Love is Blue – Paul Mauriat, Villa Rides- Mantovani, Souvenir d’Enfance – Richard Clayderman, Blau Donou – Strauss, dit alles werk ook goed om my te inspireer.
2. Met watter fliek/boekkarakter identifiseer jy? Hoekom?
Maria van Sound of Music – Sy is ’n free spirit, lief vir musiek en die natuur. Sy het ’n uitstekende sin vir humor. Sy is superpositief, sterk en gedetermineerd, niks kan haar onderkry nie, selfs nie die bossy Captain von Trapp nie. Ek wil graag so wees.
Belle van Beauty and the Beast – Sy is ’n boekwurm, dus het sy ’n reuse verbeelding en meer ervaring van ander wêrelde as net die een waarin sy fisies leef. Ek glo dis wat haar eerstens die waagmoed gegee het om die Beast se wêreld te betree. Sy is eksentriek en anders. En meeste van alles is dit haar liefde wat die Beast red en die bose oorwin. Daar is niks wat meer edel as dit is nie.
3. Watter werk sou jy GLAD NIE kon doen nie?
Ek dink admin kan nogal dodelik wees vir kreatiwiteit.
4.Waar kry jy inspirasie vir jou verhale?
Reis na nuwe plekke. Foto’s of prentjies in tydskrifte. ’n Naam. Iets “Magic” wat iemand toevallig sê …
5. Watter lande het jy al besoek? Watter een was jou gunsteling?
Ek het Israel, Italië, Ierland, Skotland, Northumberland en Holy Island in die noorde van Engeland, die skidorpie Chamonix in die Franse Alpe, Montreaux by die Geneva meer in Switserland, Florida in Amerika, hoofsaaklik Disney World, Mosambiek, en baie plekke in Suid-Afrika besoek. Alles fantasties en uniek. Moeilik om ’n gunsteling te kies. Maar Suid-Afrika is die plek waar ek tuis is en my gunstelinge is die bosveld se son en stof en doringboompies en sy goddelike stilte wat duidelik met ’n mens praat. En Kaapstad se skoonheid is ongeëwenaar.
6. Het jy ’n geheime talent?
My intuïsie. Dis seker eerder ’n goddelike gawe as ’n talent? Sy is een van my beskermengele. Haar ‘inside info’ is gewoonlik 100% in die kol. Sy het my ook al menigmaal voorberei op situasies wat my andersins onkant sou kon vang.
7. Watter advies het jy vir vroue wat bekommerd is dat hulle nooit romantiese liefde gaan vind nie?
Believe good things will happen, and they will.
8. As jy nou karaoke moes sing, watter liedjie kies jy?
Miskien Just Like Eddie – Heinz Burt
9. Kan jy kook? Wat is jou ‘signature dish’?
My man en albei my seuns meen my lasagne is die lekkerste lasagne wat hulle nog ooit geëet het, selfs by die beste restaurante.
10. As jy kon tydreis, wat sou jy vir jonger Frenette wou sê?
Goue reëls vir vryheid en geluk op die pad: 1. Vind jouself en wees lief vir wie jy is. 2. Die lewe gaan vir jou wees soos jy die lewe sien, so sien die mooi in die lewe! 3. Deal so gou as moontlik met innerlike bagasie en konflik op jou pad soos vrese, twyfel, wrokke, onvergewensgesindheid, verwyte, skuldgevoelens, afguns.