Skip to main content

Word ryk, bly ryk: 7 wenke oor hoe om geld te maak en te verdien

7 WENKE OOR HOE OM GELD TE MAAK EN TE VERDIEN:

1. Wees oop vir geleenthede
Alle suksesvolle mense is positief en soek altyd ’n oplossing vir ’n probleem – dit is ’n ingesteldheid. Hulle fokus op die geleentheid in stede van die probleme of weerstand wat kan bestaan.

2. Beplan minder, begin vroeër
Om welvaart te skep en geld te maak, is dit allerbelangriks om tot aksie oor te gaan. Ons spandeer dikwels te veel tyd aan idees uitdink en planne beraam, en gevolglik begin ons nooit nie.

3. Glo in jouself
Selfvertroue en ’n vertroue in jou vermoëns is baie belangrik in die besigheidswêreld. Ongeag of jy ’n entrepreneur, professionele konsultant of werknemer is wat die korporatiewe leer bestyg, ons is seker jy wil uitstaan en iets bereik wat slegs een persent van mense bereik. Jy sal in jouself moet glo. Die fout wat baie mense maak, is dat hulle dink jy word met daardie selfvertroue gebore.

4. Luister na jou kliënt
Enige persoon, hetsy ’n entrepreneur, konsultant, professionele sportman of salaristrekker, gaan foute iewers in sy of haar loopbaan maak. Dit is menslik en dit is hoe ons groei. Hoe ons die kritiek hanteer en die fout regstel, maak die verskil. Ons moet dit nie persoonlik opneem en voel ons is mislukkings nie. Dit moet nie gaan oor ons ego nie maar eerder oor die werk of diens wat ons lewer en stelselmatig perfek wil kry. Ons moet kritiek verwelkom en dan hard werk om sake reg te stel en te verbeter.

5. Bly nederig
Oor die jare is daar talle voorbeelde van mense wat groot rykdom bekom, beroemd geword en suksesvolle besighede gebou het, net om dit alles later te verloor. Ons verstaan baie keer nie die sogenaamde “fallen heroes” se besluite of die optrede wat hulle welvaart verwoes het nie. Dan is daar talle besighede wat in duie gestort het as gevolg van geniale en magtige besigheidsleiers wat outokraties begin optree en stelselmatig, tree vir tree, oortredings begaan het. Sukses is die keerpunt. Stelselmatig begin hulle al hoe magtiger voel en raak hulle verslaaf aan die gejaag na sukses. Daar kom dan ’n punt waar hulle onverskillig of onwettig moet optree om daardie gevoel te bevredig. Dit is die lyn wat oorskry word en waar ons sogenaamde helde val.

“My grootste les was dat jy nooit te groot vir jou skoene moet word nie,” sê Raymond Ackerman, voormalige hoof van Pick n Pay.

6. Slaan ag op die detail
Een van die belangrikste aspekte van persoonlike finansiële beplanning is om ’n begroting op te stel en daarby te hou. Suksesvolle en welvarende mense is deeglik, in fyn besonderhede, bewus van hulle kontantvloei – in hul besighede, maar ook in hulle persoonlike lewens. Welvarende mense hou nie daarvan om geld te mors nie, selfs al het hulle meer as genoeg. Dit is ’n beginsel wat deur hulle are vloei in sowel hulle besighede as persoonlike lewens.

James Wellwood “Whitey” Basson, voormalige hoof van Shoprite vertel dat hy presies geweet het wat in sy winkels aangaan. Aanvanklik het hy ongeveer 70% van sy tyd daaraan spandeer om deur die winkels te loop en rakinhoude te memoriseer. So het hy vinnig agtergekom wanneer ’n item uit voorraad raak en of dit nie goed verkoop nie.

7. Gebruik die omgewing wat jy ken
Ons Suid-Afrikaners is uniek – ’n kleurvolle nasie van warm mense wat hou van rugby, medium rare steak en pinotage. Ons is ook gewoond aan teenspoed en probleme en is dus meesters in die kuns van “boer maak ’n plan”. Niemand ken Suid-Afrikaners beter as ’n Suid-Afrikaner nie. Dit klink dalk voor die hand liggend maar dit is ’n strategie wat te min mense in besigheid toepas.

Ons almal beweeg in ’n bepaalde kring en netwerk van mense wat dinge gemeen het. Jy weet hoe jou groep mense dink, hoe hulle optree en waarna hulle op soek is. Deur aandagtig te luister en probleme of behoeftes te identifiseer, kan jy begin werk aan ’n strategie oor hoe om jou produk of diens aan hulle voor te lê. Dat julle iets gemeen het, sorg dat hulle dadelik aanklank by jou vind en dus is die kanse baie groter dat hulle van jou produk of diens gebruik gaan maak.

Michael Jordaan verwoord dit baie goed: Voor ’n besigheid uitbrei na ander geografiese omgewings, moet die plaaslike omgewing eers bemeester word. Dit is soos met ’n goeie rugbyspan: Dit is uiters belangrik om seker te maak dat jy jou tuiswedstryde wen, voordat jy kan begin dink aan wegwedstryde op toer.

Word ryk, bly ryk sal jou ’n kopskuif help maak om geleenthede raak te sien in moeilike ekonomiese omstandighede. Word ryk, bly ryk is nou beskikbaar by jou naaste boekwinkel en aanlyn.