Skip to main content

Uittreksel | Word ryk, bly ryk

VOORWOORD

Dit was vier jaar gelede toe ons ’n gesprek met ons pa in die raadsaal van Bovest, ons welvaartbestuursbesigheid, gehad het. Die gesprek het gedraai rondom die goeie strategieë wat ’n kliënt in staat sal stel om welvaart suksesvol oor die lang termyn te skep. Gedurende die gesprek kom die idee by ons op dat ons nie hierdie waardevolle inligting net vir onsself moet hou nie. Daar is talle ander wat daarby sal kan baat en dit toepas om in hulle eie lewe welvaart te skep.

Ons het begin deur dit in ons maandelikse nuusbrief te deel en later het ons pa ’n paar strategieë saamgevat en ’n boek getitel Welvaartskeppers gepubliseer. Ons het die idee toe verder gevoer en later ’n televisiereeks op kykNET, genaamd Welvaartskeppers, aangebied.

Ons het wonderlike mense ontmoet en baie waardevolle lesse geleer, lesse wat ons graag, saam met ons kennis van welvaartbestuur, met ander wou deel, en so is Word ryk, bly ryk geskep.

Met hierdie boek is dit ons doel om soveel as moontlik Suid-Afrikaners te help om beter finansiële besluite te neem. Ons lewe in ’n land met ongelooflike potensiaal en wonderlike mense wat baie kan vermag. Ons staar ons nie blind teen ons land se probleme nie, maar weet ook dat indien ons elkeen kan fokus op dit waarmee ons goed is, dit wat binne ons beheer is, ons persoonlike asook gedeelde sukses kan bekom.

Maak die boek jou eie, soek die strategieë waarby jy aanklank vind en neem beheer oor jou finansiële toekoms.


INLEIDING

Persoonlike finansies intimideer en verwar baie mense. Ons leer nie op skool genoeg van die basiese begrippe waarmee ons almal op ’n stadium te doen kry nie en gevolglik laat konsepte ons maag draai.

Van die vrae waarmee die meeste van ons op ’n stadium gekonfronteer word, en waarmee ons jou deur die loop van die boek gaan help, is:

  • Hoe kan ek my inkomste verbeter, hetsy as entrepreneur, konsultant of werknemer?
  • Hoe stel ek ’n begroting op vir myself en my gesin?
  • Hoe verminder ek my belastinglas?
  • Hoe laat groei ek die geld waarvoor ek so hard gewerk het?
  • Hoe dra ek welvaart oor na my kinders?

Dit is nuttig om te onthou dat welvaart ’n aaneenlopende siklus is wat hoofsaaklik uit drie fases bestaan:

WELVAARTSKEPPING

Eerstens moet geld gegenereer en ’n inkomste verdien word in ruil vir arbeid, kundigheid, idees of enige waarde wat tot ’n proses toegevoeg word. Die inkomste kan ’n salaris, kommissie, konsultasiefooi, bonus, dividend of winsdeling wees. Ons kyk hierna in die eerste afdeling.

WELVAARTBESTUUR

Wanneer welvaart geskep is, moet dit voorts reg aangewend en bestuur word om verder te groei en te vermeerder. Ons hoor gereeld dat jy jou geld vir jou moet laat werk. In die tweede afdeling van hierdie boek gee ons aandag aan hierdie fase.

WELVAARTOORDRAG

Wanneer die twee fases hierbo suksesvol toegepas is, sal daar addisionele welvaart wees vir ’n kommerlose aftrede en om na die volgende generasie oor te dra. In die derde afdeling van hierdie boek kyk ons na die emosionele aspekte van welvaartoordrag asook praktiese maniere om welvaart effektief oor te dra.

Persoonlike finansies word dikwels so kompleks of vervelig aangebied dat die meeste mense dit eerder heeltemal probeer vermy. Adviseurs, makelaars en ander kundiges gebruik gereeld afkortings en begrippe wat net hulle en uitgelese mense verstaan.
Die meerderheid voel dan geïntimideerd en kies een van drie roetes:

  • Hulle volg die raad van ’n adviseur of kundige sonder dat hulle werklik die advies verstaan of inkoop in die proses. Die verhouding met die adviseur is dikwels egter van korte duur – sodra ’n ander geleentheid opduik, of hulle finansiële omstandighede verander, kanselleer hulle die produkte of diens, en versoek hulle ’n uitbetaling.
  • Die beleggers sien nie die waarde wat ’n kundige inhou raak nie en gaan op eie stoom voort. Hulle dink dat hulle so geld kan spaar en probeer verhoed dat hulle forseer word om ’n beleggings- of versekeringsproduk aan te skaf.
  • Hulle doen niks, gaan voort met hulle lewens en glo dat hulle finansies in plek sal val deur iemand anders se toedoen of blote geluk.

In dié boek gaan ons, PJ en Geo Botha, jou vergesel op jou eie persoonlike welvaartreis. Ons gaan strategieë en wenke deel oor hoe om welvaart te skep, dit te bestuur en dan ook oor te dra na die volgende generasie. In die laaste afdeling steun ons op die kundigheid van ons pa, dr. Riaan Botha. Verder moedig ons jou aan om jou lewensmaat, kollega, ouer of kind uit te nooi om hierdie reis saam met jou aan te pak.

Na aanleiding van ons onlangse, suksesvolle reeks op kykNET, Welvaartskeppers, het ons die behoefte in die mark raakgesien en besluit om die kundigheid wat ons in die reeks opgedoen het ook met die publiek te deel. Ons kombineer ons ondersoek na suksesvolle mense met ons insigte as adviseurs om die verskillende fases van die welvaartsiklus onder die loep te neem.

Ons twee het elk ’n unieke aanslag tot finansies en die lewe in die algemeen: PJ is die analitiese denker wat fokus op die tegniese en praktiese aspekte van finansies en Geo is die strategiese dromer wat glo die menslike sielkunde en besluitneming is deurslaggewend in enige finansiële plan.

Veral in ’n ontwikkelende land, soos Suid-Afrika, kan ons nie meer wag vir die regering of groot korporatiewe maatskappye om ’n verskil aan die ekonomie teweeg te bring nie – óns moet die verandering wees. Ons land het heelwat strukturele probleme en om dit op te los bied ongelooflik baie geleenthede. Elke individu en klein of mediumsakeonderneming moet die verantwoordelikheid aanvaar om welvaart en geleenthede te skep, nie net vir hulleself nie, maar ook vir ander.

Ná elke afdeling van dié boek volg opdragte en vrae wat jou sal help om oor jou eie welvaartreis te dink. Gebruik hierdie boek soos ’n gids.

Moet dit nie bloot van voor tot agter deurlees nie, maar skryf jou antwoorde neer, deel dit met iemand na aan jou en pas dit toe in jou lewe.

Baie sterkte en geniet die reis! Ons weet vir seker dat indien jy hierdie praktiese wenke in jou eie lewe toepas, jy ware welvaart sal skep, nie net vir jouself nie maar ook vir generasies wat volg. Kom ons begin …


Deel 1: Welvaartskepping

Hoe om geld te maak en te verdien

In hierdie afdeling gaan ons kyk na die eerste deel van die siklus, die skepping van welvaart. Dit is belangrik dat mens die verskil tussen die skepping van welvaart en die bestuur daarvan verstaan. Welvaartskepping gebeur in ’n persoon se veld van kundigheid waar hy of sy ’n produk verkoop of diens lewer in ruil vir ’n salaris, kommissie, winsdeling, dividende of aandeelhouding. Dit is hier waar jy waarde toevoeg tot die samelewing in ruil vir geld.

Die groot fout wat ons mense sien maak, is dat hulle welvaart wil skep deur iemand anders te vertrou om die geld wat hulle reeds het onrealisties te vermeerder. Mense wil vinnig ryk word: Dink maar aan al die verskillende Ponzi- of “get-rich-quick”-skemas wat ons die afgelope paar jaar gesien het. Mense wil glo dat die beloofde opbrengste gelewer kan word en verkies om nie die gevaartekens te sien nie.

Dit was en is ook die groot aanloklikheid van kriptobeleggings: Alhoewel die meeste beleggers baie min daarvan weet of nie begryp hoe dit werk nie, hoor ons stories van kitsrykdom en glo ons dat dit ook vir ons ’n werklikheid kan wees. Ons verwar welvaartskepping – maak geld in jou eie veld van kundigheid – met welvaartbestuur, dit wil sê beperk onnodige uitgawes en gebruik die geld wat ná uitgawes beskikbaar is om vir jou te werk en stelselmatig meer te word deur risiko te versprei en in verskeie, wettige en verstaanbare bateklasse te belê.

En alhoewel dit teoreties dalk maklik klink, is dit in die werklikheid nie so eenvoudig nie. Elkeen van ons se realiteit verskil. Die manier waarop ons oor geld dink, is uniek, hoe ons ouers ons grootgemaak het, verskil, ons naastes en vriende, sowel as ons huidige omstandighede, beïnvloed hoe ons oor geld dink.

Die twee van ons is gelukkig om uit ’n huis te kom waar daar altyd genoeg geld was vir kos op die tafel, ’n sagte bed en goeie onderrig. In ’n huishouding met vier kinders was daar egter min geld vir luukshede: Uiteet was beperk tot spesiale geleenthede en ’n tweeliter-Coke tot naweke. Om nie eens te praat van oorsese vakansies of nuwe “brand name”-klere nie!
Dit het ons egter nie gepla nie: Ons huis was gevul met liefde en omgee. Ja, daar was oomblikke van jaloesie op vriende se nuwe skoene vir skaatsplankry of hul nuwe studentekarre, maar, oor die algemeen, kom ons uit ’n huis met goeie waardes en ’n gesonde ingesteldheid teenoor geld.

Ons ma en pa het verskillende benaderings en sienings oor geld en dit maak van hulle ’n gedugte span. Ons ma, ’n onderwyseres met ’n BCom-graad, is baie goed daarmee om haar sente om te draai, ’n winskoop raak te sien en welvaart te beskerm. As ons iets met ons sakgeld wou koop, het sy altyd twee of drie keer gevra of ons dit werklik nodig het en indien wel, moes ons deeglik soek vir die beste prys. Sy het altyd versigtig met haar geld gewerk en dit by haar kinders ingeprent dat geld nooit gemors moet word nie en om te soek vir waarde.

Ter illustrasie: In ons vroeë kinderjare het ons perdgery sonder dat ons werklik wou. Ons susters, Celia en Heleen, wat onderskeidelik twee en vier jaar ouer is as die oudste seun, PJ, wou graag vroeg op laerskool perdrylesse neem. Ma het navraag gedoen en afgekom op Stoffel-ryskool wat redelik naby ons huis geleë was. Ná twee lesse tel die afrigter so tussen gesprekke op dat my ma nog twee kinders het. Sy dink op haar voete en bied aan dat, indien al vier kinders lesse neem, daar net vir drie betaal hoef te word. Dit was natuurlik nie ’n kans wat my ma kon laat verbygaan nie en so word ons al vier lede van Stoffelryskool.

Om haar spaarsamigheid verder te illustreer: Perdryhelms is nogal duur en ons moes dus deel. Seuns se koppe is normaalweg bietjie groter as dogters s’n en so kla PJ een middag, voor ’n les, dat die helm nie pas nie. Na ’n getrek en gestoot en een ordentlike hou op die kop was die probleem opgelos en het die helm gepas. (Nodeloos om te sê, ons seuns se perdryloopbane was van korte duur.)

Aan die ander kant het ons pa sterker gefokus op die skep van welvaart en nuwe inkomstestrome. Hy het sy doktorsgraad in politieke wetenskap verwerf en lank vir Nasionale Intelligensie gewerk. Vandat ons kan onthou, het hy ’n entrepreneuriese ingesteldheid gehad. Vir addisionele inkomste het hy in sy 30’s vir ’n tyd lank huise gebou en later het ons, as jong seuns, saam met hom vulstasies besoek waaraan hy lekkergoed en grondboontjies verskaf het. Sy sterk werksetiek kom uit sy studentedae toe hy treine moes stook om sy studieskuld af te betaal.

Later in sy lewe interesseer beleggings en die sakewêreld hom en verwerf hy kwalifikasies om ander se geld te bestuur. Sy “side hustle” word sy voltydse loopbaan in 2008 toe hy Bovest stig – die welvaartbestuursmaatskappy waar ons vandag nog saam met hom werk. By hom het ons geleer om groot te droom en buite die boks te dink om welvaart te skep.

As broers het ons dus twee uiteenlopende voorbeelde gehad en die belangrikheid geleer van nie net welvaartskepping nie, maar ook om welvaart te beskerm en versigtig met geld te werk. Ons moes gereeld ons pligte in en om die huis nakom om ’n bietjie sakgeld te verdien. Die pligte het gewissel van die skottelgoedwasser uitpak tot gras sny, van hondemis optel tot onkruid uittrek.

Later het ons ons inkomste verhoog uit buitebronne: PJ as rekeningkunde- en wiskunde-tutor vir hoërskoolleerders en Geo as kelner by Spur. Die eerste keer dat ons saamgewerk het, was om op Sondae plakkate van opvoerings by die Centurion-teater teen lamppale te hang.

So het ons almal verhale, ervaringe en voorbeelde wat ons idees oor geld gevorm het. Miskien het jy baie swaar grootgeword met een of beide ouers wat by tye werkloos was. Dalk was jou ouers ’n baie slegte voorbeeld van hoe om geld te maak en te bestuur.

Dalk het hulle die volgende idees sterk by jou tuisgebring en by jou ingeprent:

  • Geld groei nie aan bome nie.
  • Ryk mense is skelm mense.
  • Geld kan nie geluk koop nie.
  • Om geld te maak moet jy dit van iemand neem.
  • Geld is die wortel van alle kwaad.
  • Jy kan dit nie geniet om geld te maak nie; jy moet hard werk en sweet daarvoor.

Alhoewel van hierdie frases betekenis en ’n mate van meriete kan hê, moet mens versigtig wees om hulle nie as verskonings te gebruik nie. Moenie jouself oortuig dat dit goed of edel is om nie jou talente te gebruik of geld te hê nie.

Aan die ander kant kom jy moontlik uit ’n huis waar gebrek aan geld nooit ’n probleem was nie. Waar luukse klere, uiteet en oorsese vakansies die norm was. Dalk het jy ouers wat hard gewerk het, baie suksesvol in hulle onderskeie beroepe was en vir jou ’n goeie voorbeeld gestel het oor hoe om met geld om te gaan. Miskien het hulle op ’n vroeë stadium vir jou geld beskikbaar gemaak om jou eie onderneming te begin of miskien het jy ryk geërf. Hoe jou verlede en kinderjare lyk, kan jou beïnvloed, maar dit definieer jou nie!

Daar is duisende voorbeelde van mense wat baie arm en swaar grootgeword het en later met harde werk en uithouvermoë groot sukses behaal het. So kry ons dan ook natuurlik voorbeelde van bedorwe brokkies wat die lewe te maklik gehad het en nooit op hulle eie voete kon staan nie, want hulle weet Ma of Pa sal daar wees om net weer geld te gee.

Robert Kiyosaki, die bekende sakeman wat veral bekend is vir sy boek Rich Dad, Poor Dad, lig dit goed toe: Hy hou ’n ryk pa en arm pa as voorbeelde voor. Hy kon by die een leer wat om te doen, en by die ander een wat om eerder te vermy. Die heel belangrikste les is egter dat hy iewers langs die pad self moes besluit hoe sy toekoms gaan lyk, waarop hy gaan fokus en hoe hard hy gaan werk.

Niemand op aarde kan vir jou leef, of jou lewe betekenis gee nie. Jy moet verantwoordelikheid vir jou eie toekoms aanvaar en as jy die nodige kennis opdoen en slim te werk gaan, is enigiets moontlik – ongeag jou verlede.

In hierdie afdeling van die boek deel ons vervolgens wenke, voorbeelde en strategieë van suksesvolle welvaartskeppers. Hierdie individue het reeds groot welvaart geskep deur een of meer van dié beginsels in hulle lewens toe te pas. Die verhale en voorbeelde is van gaste op ons TV-reeks, Welvaartskeppers, suksesvolle kliënte van ons besigheid Bovest en ander sakereuse wat groot hoogtes bereik het. Leer by hulle, neem hulle advies ter harte en pas dit toe op jou reis na welvaart!

JOU WELVAARTREIS

  • As vertrekpunt vir jou reis na welvaart is dit belangrik om vir ’n oomblik stil te staan en die soort huis waarin jy grootgeword het uit die bogenoemde voorbeelde te kies, of was daar ander sieninge oor geld?
  • Watter negatiewe konnotasies het geld vir jou, wat jou moontlik verhoed om meer te bekom?
  • Watter aspekte van die voorbeeld wat jou ouers gestel het, kan jy in jou eie lewe toepas?
  • Uit watter foute van jou ouers kan jy leer en watter optrede van hulle moet jy eerder vermy?
  • Wie is jou finansiële rolmodel? Het jy iemand naby aan jou na wie jy opsien, wat suksesvol is in jou oë – nie net finansieel nie, maar in elke aspek van sy of haar lewe? Dit sal help om hierdie persoon in gedagte te hou gedurende jou reis en sodoende ’n positiewe ingesteldheid teenoor geld te verseker.