Skip to main content

Uittreksel | Vlug van gister

Een

Die skril lui van Gert se selfoonwekker ruk haar wakker. Hy tas op die bedkassie rond, skakel die leeslamp aan. Uitein­delik kry hy die aaklige geluid stil. Hy sug, sit regop en gooi die komberse af. Sit eers op die rand van die bed, kop tussen sy hande voordat hy onvas op sy bene stort toe waggel.

Emma druk die punt van die kussing voor haar gesig om die sweet en drankwalm wat agterbly te probeer verdryf.

Elke oggend se walglike ritueel: wasbakkraan, keelskoonmaak, neus blaas, gorrel en spoeg, stort. Sy draai op haar sy en staar na die muur asof dié moet help.

Terug in die kamer skakel hy die hooflig aan. Hy skud sy lyf in die oorpak in, gaan sit op die bed om sy sokkies en skoene aan te trek.

“Jy my brood gemaak?”

“Ja,” mompel sy in die kussing.

Hy staan op en loop genadiglik uit.

Die motorfietssleutel klingel, die yskas se deur klap toe en dan die agterdeur. Die motorfiets dreun om die huis. Straataf. Die klank raak weg. Net die gekoer van die tortelduiwe bly oor.

Die stilte kom nie alleen nie; daarmee saam elke oggend se oorbekende leegheid.

Totsiens soen? Gelukkig gebeur dit nie meer nie. Die tandepasta is nie sterk genoeg om die ou drankreuk te laat wyk nie.

Hoe het hulle lewens tot by hierdie rampspoedige huwelik ge­kom? Genadige slaap neem oor.


Ná wat vir Emma soos ’n paar oomblikke voel, maak die lui van haar selfoon haar wakker. Johanna Buurvrou, wys die skerm.

“Môre.”

“Môre. Is jy op? Ek wil kom koffie drink. Ek bring ’n brekfisvetkoek saam.” Johanna klink opgewek.

Emma rol haar oë, maar die vooruitsig aan een van Johanna se alombekende vetkoeke oorreed haar om in te stem. “Ek moet net gou stort.”

“Doodreg, dan sien ek jou so agtuur,” tjirp sy.

Die koffiebekers is skaars reggesit toe die deurklokkie lui.

“Is ek te vroeg?” Johanna gee haar nie kans om te antwoord nie. Sy sit ’n bak vetkoeke op die tafel neer en trek ’n stoel uit.

“Wil jy nie voor sit nie? Dis so deurmekaar hier. Ek het nog nie skottelgoed gewas nie.”

“Nee. Ek kan nie wag om jou te vertel nie. Ek kon laas nag nie slaap nie. Ek wou gisteraand al kom vertel, maar toe sien ek Gert se motorbike is hier. Was hy nie klub toe nie?”

“Hy was, maar die laaste tyd kom hy vroeër huis toe.”

Johanna skud haar kop. “Die voggies begin hom seker gouer vang.”

Sy is nie lus om oor Gert se suipery te praat nie, hou haar eerder met die ketel besig.

“Een van die dae hel sy dronk lyf nog van daai motorbike af, wag maar.” Johanna sit haar elmboë op die tafel, ken in die een hand. “Miskien drink hy nou bietjie minder omdat hy ’n nuwe baas het.” Johanna lag. “Ek het gehoor van die nuwe plant manager, ene Ben van Nieuwenhuys. Blykbaar ’n hunk, volgens Sarie. Het jy hom al ontmoet?”

“Nee,” en ek stel nie belang nie, wil sy sê, maar vra eerder: “Ver­tel my wat jou so opgewonde maak?”

“Ek was gister vir die onderhoud as ontvangsdame by die myn.”

“Hoe het dit gegaan?”

“Hulle sal volgende week laat weet, maar ek dink nie ek sal die pos kry nie. Ou Joan Kriel was ook daar. Jy weet, die mynkaptein se vrou.” Johanna sit agteroor op die stoel, vou haar arms onder haar borste. “Sy het mos glo papiere en is boonop in by die base.”

Emma wil hierdie kuier agter die rug kry. Sy is nie vanoggend lus vir Johanna se snertpraatjies nie, maar Johanna stoom voort. “Toe besluit ek, to compete, I’ll have to use my other skill.” Sy lag vir haar eie grappie.

“En wat doen jy toe?” verbaas dat Johanna verborge skills het.

“So seduce ek toe vir ou Paul Richards.” Sy kyk selfvoldaan na Emma. “Ek is mos eintlik ’n exhibitionist.”

Emma sit ’n beker koffie voor Johanna neer en haar oë beweeg van die krullerige blonde hare na die heldergeel minirokkie wat bolangs sy bes probeer om die groot borste toe te hou. Sou Johan­na dieselfde rok aangehad het vir die onderhoud?

“Het jy dit al voorheen gedoen?” Sy is nie seker of sy regtig belang stel nie.

“Soort van; ek hou nogal daarvan om mans te laat kwyl.” Sy knipoog skelm. “Jy sal mos nie uitpraat nie, nè?”

“Nee, ek sal nie uitpraat nie.” Emma rits haar lippe denkbeeldig toe.

Johanna skuif die koffiebeker effens vorentoe, trek die stoel onder haar nader en sit weer haar elmboë op die tafel.

Emma ken daardie houding. Dis nie die eerste keer dat Johan­na kom geheime deel nie. Van die skoolhoof wat haar en Koos ingeroep het om te sê dat klein Kobus nie vorder nie. Dat hy na die spesiale klas oorgeplaas moet word. Van Koos se familie wat nou daaroor skinder. Sy kan dit nie verstaan nie, want Kobus is slimmer as al die ander kinders in die familie.

Sy loer oor die beker se rand na Emma. “As mens valuables het om te exhibit, kan jy dit mos nie staan en wegsteek nie, of hoe?”

“Wat exhibit jy toe vir Paul Richards?”

“My dinges.”

Emma frons. “Jou dinges?”

“Ja man, jy onthou mos hoe Sharon Stone dit in Basic Instinct gedoen het. Net so kruis ek toe my bene.” Sy giggel.

“Vir die personeelbestuurder? Hy is stokoud. Ek het nie geweet jy het ’n ding oor hóm nie?”

“Ek het nie ’n ding oor hom nie. Ek het net nie van sy snobbish houding gehou nie. Ek wou net vir hom wys hy is ook maar nét ’n man.”

Johanna vee haar kuif van haar voorkop af weg, sit terug op die stoel. “En ek sê jou hy het dit moerse gelike.”

“Hoe weet jy?”

“Maklik. Hy het sy hand onder die tafel ingedruk.”

Emma se oë rek. “Het jy iets onder aangehad?”

“Natuurlik, ek loop nie sonder ’n panty nie.” Sy boog haar wenk­broue kamma geskok en las dan so terloops by: “’n Baie kleintjie.” Sy lag weer vir haar grappie.

“So, jy het geflash.”

“Maar my liewe vriendin, wat dink jy doen exhibitionists?”

“Ek weet nie veel van die goed af nie.”

Johanna glimlag trots en lig haar koffiebeker. “Jy sal by my ’n kursus moet loop, maar dit gaan jou kos, hoor.” Weer die laggie.

“En toe?”

“Hy het net uitgevra oor my werk experience, maar met ou Joan wat daar in die ontvangs sit, het ek in elk geval gedink ek sal nooit die werk kry nie.”

Beelde van die situasie tydens die onderhoud speel voor Emma se geestesoog af en sy skud haar kop, onseker wat om volgende te sê.

“Jy dink seker nou ek is goedkoop?”

“Nee, ek dink jy is baie dapper,” antwoord sy, hoewel “slet” eint­lik die woord is wat sy eerder wou gebruik. Sy sidder om te dink wat haar konserwatiewe ma van hierdie gesprek sou sê. “Gaan julle na die myn se jaareindfunksie toe?” Dis beter om die onderwerp te verander.

“Ja, of course. Ek het spesiaal vir my ’n rok by Foschini laat uithou. Ek gaan hom volgende week koop. As Koos Maandag weg is werk toe en die kinders in die skool, jaag ek dorp toe soos ’n celeb op ’n shopping spree.”

“Nou hoekom wag tot volgende week?”

“Ek wil gaan as Koos by die werk is.”

“Hoekom?”

“Die rok kos oor die seshonderd rand. Koos kry ’n oorval as hy weet.”

“Sjoe! Waar kry jy soveel geld sonder dat Koos weet?”

Johanna kyk om asof sy bang is iemand luister af. Sy sit effens vorentoe. “Ek stash al ’n jaar lank vir my einde-van-die-jaar-rok.”

“Stash?”

“Stash jy nie? Baie vrouens stash. Ek vat van Koos se geld wat hy in sy wallet en in sy broeksakke vergeet, dan steek ek dit weg.”

“Genoeg om seshonderd rand op te maak?”

“Baie meer.” Johanna kyk haar selfvoldaan aan. “Jy het nie ’n idee hoeveel kan ’n mens in ’n jaar bymekaarmaak nie.”

“Net uit sy sakke en wallet?”

“Nee, ek het nog so ’n paar ander tricks up my sleeve.”

“Soos wat?”

“Ek maak Kobus se skoolfonds meer, en die groceries.”

Die stash-idee skop nes. Sy dink aan die kroegkleingeld wat sy soggens uit Gert se broeksakke haal.

“Wat gaan jý aantrek?” onderbreek Johanna haar gedagtes. “Jy het verlede jaar stunning gelyk.”

“Ek het nog nie besluit nie. Die funksie is darem nog twee maande weg.”

“Twee maande is om die draai, ou girl. Jy is gelukkig jou man gee nog vir jou geld om iets te koop. Myne het nie ’n saak hoe ek lyk nie.”

Emma antwoord nie. Sy twyfel of Gert haar ooit raaksien.

“Hoekom lyk jy vanmôre asof jy hier is, ma’ ok nie?”

“Hoe bedoel jy?”

“Jy lyk in die laaste tyd so sad. Slaap jy sleg? Ek en tannie Tossie het nou die dag by die damesklub oor jou gepraat. Jy is so stil. Jy kuier nooit. Bly net soos ’n gevangene in jou huis. Ons kan mos sien.”

“Ag, ek makeer niks. Net besig.”

“Waarmee?”

“Huis skoonmaak, wasgoed, en ek werk aan my blog.” Emma staan op en tel die leë koffiebekers op. Sy hoop Johanna kry die boodskap.

“Jy moet bietjie uitkom. Maak vrede met jou ouers, dan kan jy meer vir hulle gaan kuier.” Sy kyk Emma aan asof sy pas die beste raad ooit kwytgeraak het.

Hoekom het sy Johanna ooit vertel van haar en Gert se mis­stap in matriek, die miskraam en haar ouers se skok en teleur­stelling?!

Ná ’n paar oomblikke se ongemaklike stilte staan Johanna op. “Ek moet my loop kry, het nog baie te doen vandag. Dankie vir die koffie.”


Nadat sy die deur agter Johanna toegemaak het, staan Emma vir ’n oomblik met haar rug daarteen. Dalk was die kuier tog nodig.

Sy stap kamer toe, kyk oor haar skouer asof iemand haar kan dophou. Gert se broek lê langs die bed. Daar is honderd en dertig rand in die sak. Sy haal ’n vyftigrand, tienrand en die helfte van die kleingeld uit. Die res sit sy op die bedkassie en die sestig rand en kleingeld in die laai onder haar onderklere.

Haar eerste stashgeld. Sodra sy genoeg het, gaan sy boeke koop, nuwe onderklere en grimering.

“Waar dink jy moet die geld vandaan kom?” vra Gert gewoon­lik as sy iets vra.

Hy het geld om elke aand te drink. Sy het net die paar rand wat haar ma vir haar gee as sy vir hulle gaan kuier. Sy is nie ondank­baar nie, maar die geld laat haar soos ’n bedelaar voel.

Melk en brood by die mynwinkeltjie gaan duurder word en die kar heelwat swaarder op brandstof.


By die kamerdeur stop die spieël haar. Die sad waarvan Johanna gepraat het, kyk terug na haar. Hoeveel keer was sy nie al spyt oor die besluit om ná matriek by Gert en sy ouers te gaan bly nie. Dit was om van haar ma se verwyte en haar pa se oorverdowende swye weg te kom, maar wat sy in ruil daarvoor gekry het, was veel erger. Saam met Gert se ouers, twee susters en broer, sewe mense in ’n klein drieslaapkamerhuis. Daarmee saam die miskraam. Die geleentheid om oor te begin het gekom toe hulle in die mynhuis intrek, maar die eerste krake in hul jong huwelik het al deurge­slaan. Hulle het van mekaar weggedryf. Was daar ooit ’n mekaar? Dit alles sien sy in die spieël.

Wat het van hulle geword? Hulle drome? Ideale?

Bang dat die spieël haar gaan antwoord, draai sy om.


Twee

Gert se motorfiets dreun om die huis. Sy kyk op haar horlosie. Tweeuur. Hoekom so vroeg?

Met ’n slag val die valhelm op die kombuistafel.

“Ek is promote!” Hy begin die oorpak in die loop uittrek. “Plant supervisor. Ons moet dorp toe. Ek moet ander klere kry, gaan nie meer met ’n overall werk nie. Toe-toe, roer jou, ek wil in die dorp wees voor die winkels toemaak.”

Terwyl hy stort, sit Emma grimering aan en borsel haar hare.

“Die base het my ingeroep. Ek het gedink ek is weer in die kak. Onthou jy laas met die bar fight? Hierdie keer het hulle my surprise,” brei hy uit op pad dorp toe. “Ben van Nieuwenhuys is ’n great baas. Hy is die eerste baas wat kon sien ek is ’n man met balls.” Hy slaan met sy hand op haar been. “Nou kan ’n man net vorentoe.”

Dankbaar oor die vooruitsig van ’n salarisverhoging en dat sy nie meer oorpakke hoef te was nie, laat sy hom begaan.

Sy kry ’n lesing oor hoe om op te tree as ’n amptenaar se vrou.

“Jy moet jou dom skinnerbektjommies ôk nou los. Johanna en ou Tossie is nie ons soort nie. Ek gaan nou hulle mans se baas wees, so ek kan hulle nie uitkak as my vrou met hulle vrouens pelle is nie. Hulle moet vir my respek hê.”

Sy kyk by die venster uit, wens sy kon haar ore toedruk.

“En jy moet by die myn se damesklub aansluit. En tennis speel. Is jou raket nog by jou ma-hulle? Anders moet ons vir jou een koop.”

Damesklub? Tennis? Sy sien nie kans nie. Johanna het lankal in detail uitgebrei oor elke lid se sondes, hartseer en vreugde. Snobs wat spog met hulle kinders se prestasies en hulle familie se sosiale status.

Sy wil alleen by haar huis wees, wil haar gedagtes vir Gert skree wat klouend aan die stuurwiel homself in sy avontuurlike toekoms inleef.

“Ben het belowe sodra daar ’n huis oopgaan in die voorste ry waar die officials bly, is dit myne.” Hy trommel op die stuurwiel, fluit ’n deuntjie.

“Daardie huise is groot. Waar gaan ons meubels kry?”

“Ons sal koop, wat het jy gedink? Van nou af sal ek ’n paytjek kry wat by my pas. Die bliksems het my lank genoeg deur die ore gewerk.”

“Ek en Johanna het vanoggend oor die jaareindfunksie gepraat. Ek het gedink ek moet materiaal koop en vir tannie Tossie vra om vir my ’n rok te maak.”

“Vir wat? Koop ’n rok. Sommer nou terwyl ek vir klere shop. Jy kan met die kredietkaart betaal. My vrou moet die beste op daai paartie lyk.”


Bella’s Boutique met die blink rokke in die vertoonvenster laat haar dink aan die matriekafskeidrok wat sy nooit aangehad het nie. Die rok wat sy en haar ma uitgesoek het. Haar droomrok.

Bella herken haar dadelik. “My maggies, Emma.” Sy word in ’n omhelsing toegevou. Emma draai haar kop weg om eerder die te rooi tuitlippe net skrams op haar wang te kry.

Die rok wat Bella voorstel, is rooi, knielengte en mouloos. Die rug laag oop.

“Ideaal vir die warm Novemberaande,” bemark Bella glimlag­gend. “Jy lyk pragtig.”

“Is dit nie te styf om my heupe nie? My borste? Die hals is bietjie laag …”

“Glad nie. Die snit beklemtoon jou pragtige figuur.”

Die spieël beaam wat Bella sê. Harmonie tussen elegant en smaakvol. Sy draai om en kyk oor haar skouer. Die kleur en snit laat haar oorgeërfde breë heupe en ronde boude sexy lyk. Dit gee haar nuwe waagmoed. Sy laat haar hare oor haar skouers val en knik instemmend vir Bella.

“Dit sal pragtig lyk met silwer juwele.” Bella se krom jigvinger wys na die juwelerak.

Die prysetiket aan die rok laat Emma skuldig wegkyk van die juwele af. Gelukkig hoef sy nie skoene te koop nie.

“Middag, kan ek help?” praat Bella agter haar en sy kyk om.

Gert stap nader. “Hoe ver is jy?” Hy ignoreer vir Bella.

“Hoe lyk dit?” vra Emma.

“Goed.” Hy draai sy rug op haar.

Het hy haar ooit raakgesien? wonder sy terwyl sy uittrek.

By die huis is hy haastig om mynklub toe te gaan. Sy nuwe baas het glo ’n afspraak met hom om die bevordering te vier. Of dit waar is, of bloot ’n verskoning om te suip, sal sy nie weet nie.

Sy haal die rok uit die pakkie en haar goue sandale uit die kas. Die sandale is van die min dinge wat vir die matriekafskeid gekoop is waarop haar pa kommentaar gelewer het: “My kind, gaan jy nie van daardie stelte afval nie?” Sy het gemaak asof sy dit nie hoor nie. Die hoë hakke en dun enkelbandjies het haar hart gesteel. Voor die kamerspieël draai sy weer om en kyk oor haar skouer. Sy lyk mooi.

Met haar ou gunstelingsweetpakbroek en T-hemp aan, gaan sit sy voor haar rekenaar. Sy maak haar blog oop en begin ’n nuwe plasing.

Te wees

Vir ’n oomblik
’n breukdeel van ’n oomblik
die gevoel asof ek weer is
My hart het gesê
die verlede is ’n droom
My kop het gesê
die spieël lieg
daar is nie drome nie
Toe is dit verby
en nou
is dit weer ek
alleen.