Skip to main content

Uittreksel | Verlief op die hartebreker

Een

“Genugtig, wat gaan aan? Het julle ’n kleuterskool gestig?”

Rudolph Beyers se diep stem dring deur die giggels en gilletjies van die swetterjoel meisies in die swembad. Carli Coetzee knip die water uit haar oë en kyk op.

Haar broer en sy beste maat staan langs die swembad. Rudolph se hande rus laag op sy skraal heupe. Daar is ’n spottende trek om sy mond.

Dis niks ongewoons nie. Vandat sy Rudolph ken – en dis al vandat sy skaars ’n baksteen hoog was – dryf hy altyd die spot met haar en alles van haar.

“Carli verjaar.” Gerrit lyk verskonend. “Sorrie, pel, ek moet vandag babysit. My ma het die spulletjie braaivleis belowe, en my pa is nie hier nie, so ek moet inspring. As jy wil, kan ons môre weer uithang.”

Rudolph haal sy skouers op. “Maak nie saak nie, ek sal jou help. Heng, die klomp kwetter erger as ’n spul spreeus in ’n rietbos!”

Rudolph vang Carli se oog. Hy knipoog en glimlag daardie lui, tartende glimlag wat altyd maak dat haar maag so ’n snaakse draaitjie gee.

“Kom ons gaan kry koeldrank. My ma het my die dood voor die oë gesweer as ek bier drink voor die klomp kleintjies.” Die twee groot seuns draai weg en stap na die vrolik gedekte verjaarsdagtafel.

“Wow, ek het nie geweet Rudolph Beyers gaan hier wees nie!” Lienke swem nader en kom hang langs Carli aan die swembadrand. Haar oë is rond van bewondering.

“Hy en my broer is vriende.”

“Rudolph Beyers. Wow,” sug Lienke droomverlore.

Carli snuif onelegant. “Rudolph Beyers is ’n pyn in die dinges,” sê sy minagtend. “Buitendien, hy en my broer dink alle meisies jonger as sestien is verspotte bakvissies – veral noudat hulle klaar met matriek en kastig grootmense is.”

“Bakvissies kan ook droom,” giggel Lienke stout.

“Gmf.” Carli skop teen die kant van die swembad en swem weg van haar klasmaat. Maar Lienke is nie die enigste meisie wie se aandag skielik by die groot wilgerboom is nie. Omtrent al haar maats staar na die twee seuns, wat nou langbeen in die koelte sit met koeldrankblikkies in hulle hande.

As hulle dink hulle gaan Rudolph Beyers se aandag trek, is hulle verkeerd, dink Carli bejammerend. Sy weet van beter.


“Hoe oud is Stertjie vandag – twaalf? Dertien?” vra Rudolph ingedagte.

“Sy is veertien. Nou wat kom soek hý hier?” Gerrit klink onverwags iesegrimmig.

’n Blinkrooi motorfiets kom brullend by die hek ingery en hou met ’n swierige draai in die oprit stil. Die bestuurder skakel die enjin af en haal sy valhelm tydsaam af voordat hy naderdrentel. “Haai, ouens!”

“Hallo, Louis.” Gerrit loop nie oor van vriendelikheid nie, maar die jong man met die goudblonde hare steur hom nie daaraan nie. Hy trek ongenooid ’n stoel nader en maak hom tuis.

Rudolph knik. Sy gesig bly uitdrukkingloos. Hy en Louis Lehmann sit nie langs dieselfde vuur nie.

“Daar’s koeldrank in die koelboks, kry vir jou.”

“Dalk later. Wat gaan hier aan?” Louis beduie na die gillende, jillende meisies by die swembad.

“My suster verjaar.”

“Ál daardie meisies, en julle ouens sit hiér?”

“Hou jou in. Hulle is hopeloos te jonk vir ons,” brom Gerrit. Hy staan op. “Kom ons steek die vuur aan, dat ons die storie kan verby kry.”

’n Rukkie later vul die watertandlekker reuk van braaivleis die lug.

Rudolph se maag grom. Vanoggend se swart koffie en droë brood lê baie ure ver, en die bykans dolleë kombuiskaste in sy huis beteken dat aandete nie ’n belowende vooruitsig is nie.

“Hallo, Rudolph, Louis.” Mevrou Coetzee kom uit met ’n groot bak slaai. Rudolph staan dadelik op en neem dit by haar.

“Dankie, Rudolph. Sit dit onder die net, asseblief, die vlieë is lastig. Hoe ver is die vleis? Kan ons eet?”

Gerrit knik. “Ja, Ma, die vleis is reg.” Hy skep die gaar vleis in ’n bak.

“Ek sal die meisies gaan roep.” Louis spring op en draf na die swembad.

Minute later staan die drie seuns en mevrou Coetzee eenkant en kyk hoe Carli en haar swerm maats op die tafel toesak. Toe hulle geholpe is, beduie Gerrit vir Rudolph en Louis om ook nader te staan. Rudolph se tande sak behaaglik in ’n boereworsrol weg. Hemel, dit proe goed.

Eendag, wanneer hy baie geld het, sal hy Gerrit en sy hele gesin uitnooi na ’n braai, en daar sal só baie kos wees dat hulle dit nie sal kan baasraak nie, neem hy hom stilweg voor. Eendag.

Maar voordat eendag kom, moet ál die Vaalrivier se water eers in die see loop.

“Kom ons gaan swem weer!” roep ’n swartkopmeisie wat klaar geëet het.

“Ja, kom!” Die meisies plak hulle borde neer en storm water toe.

Mevrou Coetzee kyk meewarig na die tafel wat lyk of ’n storm dit getref het. “Gerrit, help gou om die goed in te dra, asseblief?”

Rudolph en Gerrit begin dadelik borde opmekaar pak. Louis bly sit. Gou by die bak, lui by die vak, onthou Rudolph een van die idiome van ou Rautie se Afrikaansklas.

Toe hy en Gerrit van die kombuis terugkom, is Louis nêrens te sien nie.

“Hy is wragtig by die meisiekinders,” sê Gerrit omgekrap.

Louis is in die swembad. Die meisies gooi ’n bal heen en weer vir mekaar, maar die veel langer Louis neem dit maklik by hulle af en glimlag van oor tot oor toe die meisies op hom toesak.

“Komaan, laat ons gaan toesig hou,” sê Gerrit geïrriteerd. Hy en Rudolph stroop hulle hemde af en draf swembad toe.

Op daardie oomblik word die bal bo-oor Carli se kop gegooi. Sy het onder die water gehurk sodat net haar kop uitsteek; en sy spring regop en rek sierlik om die bal by te kom. Rudolph sien wrokkig hoe Louis se begerige blik oor haar skraal figuur met die beduidenis van vroulike rondings gly.

Sy nek word rooi van woede. Verdomp, sy vriend se sussie is net ’n kind, magtig. Louis beter sy hande tuishou, of hy foeter hom van hier af tot anderkant die plot se grensdraad.

Hy duik tussen die wriemelende lywe in die water en kom langs Carli op.

“Hallo, Stertjie,” sê hy plaerig. “Geluk met jou verjaarsdag.” Die volgende oomblik raap hy die bal wat ’n vriendinnetjie vir Carli gooi, voor haar neus weg en gooi dit vir Gerrit, wat dit dadelik vir hom teruggooi.

’n Lewendige spel ontwikkel. Dis drie teen tien, maar die seuns is soveel langer en sterker as die meisies dat die oormag skaars saak maak. Louis doen sy bes om naby Carli te kom, maar Rudolph keer hom telkens netjies weg.

Mevrou Coetzee maak ’n einde aan die spel. “Kom eet koek!” roep sy.

’n Yslike verjaarsdagkoek vol kersies staan op die tafel. Vir ’n rukkie is Carli die middelpunt van almal se aandag. ’n Pienk tongetjie loer by haar mond uit terwyl sy konsentreer om die veertien kersies versigtig aan te steek. Hulle sing vir haar, toe blaas sy die kersies dood.

Rudolph staan eenkant. Dis nie die eerste verjaarsdagpartytjie wat hy bywoon nie, maar dit bly vir hom ’n aardigheid om te sien hoe ander gesinne verjaarsdae vier.

As sy ma nog geleef het, sou sy vir hom ’n koek op sy verjaarsdag gebak het? wonder hy ingedagte. Maar hy skud die gedagte vinnig af. As is verbrande hout. Sy ma is dood toe hy ’n baba was en sy dronklap pa het hom alleen grootgesukkel. Daar was altyd ’n ewe groot tekort aan geld as liefde in hulle huishouding. Wensdenkery sal niks aan die feite verander nie. Al wat hy kan doen, is om te keer dat die geskiedenis homself herhaal – ás hy ooit sover kom om vrou te vat en self pa te word. Maar daardie kans is skraal. Iemand met sý opvoeding en agtergrond is nie trou- of pa-materiaal nie, dit besef hy baie goed.

“Wie het nog nie gekry nie? Rudolph, wat van jou?” Mevrou Coetzee hou ’n bordjie met ’n groot sny koek na hom uit en hy neem dit met ’n onderstebo glimlaggie.

Hoeveel borde eetgoed het hy al van Gerrit se mense ontvang? Hy skuld hulle groot, sowaar. Eendag . . .

“Gaan ons weer swem?” wil Louis weet toe die koekbordjies leeg is. Hy kyk afwagtend na Carli.

“Nee wat, Louis, los die kleintjies. Kom ons gaan na my kamer toe. Ek het ’n nuwe CD wat ek vir julle wil speel,” sit Gerrit beslis sy voet neer.

“O, wel, eintlik moet ek huis toe gaan. My ma-hulle kry vanaand mense,” sê Louis afgehaal.

Gerrit gee hom nie kans om van plan te verander nie. “Ons stap saam met jou,” besluit hy en begin summier aanstryk na die rooi motorfiets.

“Ek wonder wat gaan in sy kop aan,” frons Gerrit toe die motorfiets by die plot se hek uitry. “Ons was nog nooit eintlik pelle nie. Wat kom soek hy so gereeld hier?”

“Dis duidelik wat hy hier soek. Dis nie sy kop wat hom aandryf nie, dis sy hormone,” antwoord Rudolph snedig. “’n Haan onder die henne, maljan onder die hoenders – jy ken tog die idiome wat ou Rautie by ons ingedril het? Dalk moet jy ’n woordjie van waarskuwing in Stertjie se oor fluister. Louis is heeltemal te wêreldwys vir haar.”

“Ék? Dalk moet jý liewers met haar praat. Sy sal tog nie na my luister nie.”

Rudolph snuif. “En jy dink Stertjie sal na mý luister? Jy weet tog sy ruk haar altyd op vir my.”

“Wat verwag jy as jy aanhou om haar Stertjie te noem? Sy verpes die bynaam. En sy draf lankal nie meer soos ’n stertjie agter ons aan nie. Jy kan haar gerus nou maar op haar naam begin noem.”

“Ek sal daaroor dink,” verklaar Rudolph. “Kom ons gaan luister na jou CD.”

’n Uur later klop Carli aan haar broer se oop kamerdeur. “Waar’s Gerrit?” vra sy ongemaklik vir Rudolph, wat op die naat van sy rug op die mat lê.

“Badkamer toe.”

“My ma sê hier is van vanmiddag se vleis as julle honger is,” rammel sy haar boodskap af en sit ’n bord op Gerrit se lessenaar neer.

“Sê vir jou ma dankie. Is jou maats weg?”

“Ja.”

Sy mik om om te draai.

“Wag, Stertjie.” Rudolph sit regop en slaan sy arms lossies om sy knieë.

Carli pers haar lippe opmekaar. “My naam is nie Stertjie nie.”

“Aspoestêrtjie?” vra Rudolph onskuldig en sien met innerlike pret hoe rooi kolle op haar wange uitslaan. Sy is eintlik oulik, mymer hy. Oor nog ’n jaar of drie gaan sy stunning wees. Geen wonder Louis is besig om die kluts kwyt te raak nie.

“My naam is Carli Coetzee en jy wéét dit,” verklaar Carli met blitsende blou oë.

Sy was seker so ses of sewe en besig met die een of ander verbeeldingspel toe hy en Gerrit haar afgeluister het, onthou Rudolph. Twee poppe was haar nare stiefsusters, ’n derde was die nare stiefma, en syself was duidelik die heldin van die verhaal. Hy en Gerrit het ’n rukkie gestaan en luister en toe uitgebars van die lag.

“Ou Stertjie het Aspoestêrtjie geword!” het hulle geterg en hulle gebreek toe sy kwaad word.

Eintlik was hulle baie lelik met haar, dink Rudolph ’n bietjie skuldig.

“Goed dan, Carli Coetzee,” sê hy kalm. “’n Woordjie van waarskuwing. Jy is veertien en jy is besig om ’n oulike Stertjie te word, maar asseblief, hou jou by jou portuur. Pasop vir Louis Lehmann. Hy draai om jou soos ’n by om ’n blom, en hy is te oud vir jou.”

Carli se wange word nog rooier. “Ek weet nie waarvan jy praat nie. Jy is . . . jy is mislik, Rudolph Beyers!” Sy swaai weg en storm by die kamer uit.

Rudolph val met ’n sug terug op die mat. Wel, dit was nie baie suksesvol nie. Hy sal tienersielkundige en -voorligter van sy lysie van moontlike toekomstige beroepe moet skrap.

“Wat gaan aan? Carli het verby my gestorm soos iemand met sewe duiwels op haar hakke!” vra Gerrit geamuseerd toe hy terugkom.

“Ek het haar teen Louis gewaarsku,” sê Rudolph wrang. “Sy het dit nie waardeer nie, en dít nogal nadat ek haar op haar regte naam genoem het.”

Gerrit lig sy wenkbroue. “Dis goed jy het gepraat, dalk neem sy dit ter harte. Ek sal dinge dophou. As Louis ’n oorlas word, sal ek met my ma praat.”

“Jou ma stuur daai.” Rudolph beduie na die bord wat Carli gebring het. Dit is hoog gelaai met vleis en brood.

“Great. Help jouself.”

Rudolph aarsel. Hy kan wragtig nie wéér hier eet nie. Maar honger en lus wen loshande oor gewetenswroeging.

Eendag . . . neem hy hom opnuut voor.

“Wil jy môre kom swem?” wil Gerrit weet toe Rudolph later opstaan om huis toe te gaan.

“Ek begin môre werk. Ek weet nie wanneer ek weer sal kan kom nie.”

“O ja, ek het vergeet. Jy is gelukkig dat jy so vinnig werk gekry het.”

“Ja, ek is seker.” Gelukkig in vergelyking met hulle klasmaats wat moet uitspring en werk soek in ’n skraal arbeidsmark. Minder gelukkig in vergelyking met die bevoorregte handjievol – soos Gerrit – wat eers universiteit toe kan gaan om hulle beter te bekwaam vir daardie arbeidsmark.

Hy sou wát wou gee om universiteit toe te kon gaan. Om sorgvry te kan studeer, sonder onderbrekings en ’n gevloek en geskel, en die allesoorheersende reuk van drank en armoede om hom. Maar dis nie moontlik nie. Nie vir hom nie. Dis nie eens net geld wat die probleem is nie. Hy verwag ’n paar onderskeidings, en hy sou dalk ’n beurs kon losslaan as hy regtig wou. Dis net . . . Hy moet onafhanklik raak. So gou moontlik. Die enigste manier waarop hy dit kan doen, is om sy eie geld te verdien – geld wat hy in ’n bankrekening kan bêre, buite sy pa se bereik.

“Hoe gaan jy in Vereeniging kom? Wil jy my fiets leen? Dis darem vrek ver om elke dag meer as twintig kilometer soontoe en weer terug te draf,” bied Gerrit aan.

“Dankie, maar ek het losies gekry – ’n kamer in ’n agterplaas.” Hy grim. “Hulle noem dit ’n tuinwoonstel, maar dis net ’n buitekamer met ’n stort, wasbak en toilet. Maar nou ja, dis spotgoedkoop en naby die uitgewerskantore.”

“Jy werk nie naweke nie, nè?”

“Ek twyfel. ’n Hansie-my-kneg soos ek werk seker hoofsaaklik gedurende kantoorure, maar as ek oortyd kan werk, sal ek nie nee sê nie.”

“Laat weet my wanneer jy vry is. Ek sal jou kom oplaai.”

“Ons maak so. Sien jou later.”

Rudolph wuif en gaan by die buitedeur uit. Hy loop stoeplangs in die rigting van sy donker huis op die plot langsaan.

Sy ouerhuis. Of liewers, die modderhuis, soos dit in die omgewing bekend staan, te danke aan die paar strepe modderkleurige verf wat nog hardnekkig aan die growwe sementmure vasklou. Die modderhuis op die gemorsplot, die verwaarloosde stuk grond vol kakiebos, lang gras en stukkende, geroeste karre, grassnyers, wasmasjiene en ander gemorsgoed wat sy pa nog ééndag wil regmaak en verkoop. En eenkant, langs die huis, die asgat vol leë drankbottels.

Vannag is sy laaste nag op die gemorsplot. Sy pa weet nie dat hy werk gekry het nie. Hy weet nie dat sy enigste seun vannag sy karige aardse besittings in ’n rugsak gaan pak en vroeg môreoggend, wanneer hy nog sy roes lê en afslaap, gaan wegdraf om ’n nuwe lewe te begin nie.

Hy beplan nie om sy selfoonnommer te verander nie, so sy pa sal hom seker probeer kontak om geld te bedel, maar sowaar as wragtig, hy sal nie ’n enkele oproep van sy pa beantwoord nie, en hy sal nooit weer vir hom ’n sent van sy swaarverdiende geld gee nie.

Nie dat hy ooit vir sy pa geld gegéé het nie. Sy pa het doodgewoon altyd gevat wat hy kon uitsnuffel.

Nooit weer nie.

Gelukkig is hy fiks, danksy die derduisende koerante wat hy afgelewer het sedert hy ’n laerskoolseun was. Daardie dae is gelukkig nou verby; dae van vieruur opstaan, winter of somer, reën of sonskyn. Dae van kilometers ver dorp toe draf, sy vraggie koerante aflewer, en daarna terugdraf, sommer direk skool toe vir die dag se lesse. En dít vir ’n paar sente wat hy probeer wegsteek het, maar wat sy pa met sy afgestompte, drankbenewelde brein keer op keer met verstommende vernuf kon opspoor en vir homself toe-eien.

Van graad agt af het dinge makliker geraak, want die hoërskool is in die dorp. Smiddae was hy dikwels gelukkig om ’n geleentheid huis toe te kry. Gewoonlik saam met Gerrit-hulle, maar partykeer saam met Louis se neerbuigende, hooghartige ma of pa met hulle bejammerende, meerderwaardige blikke na sy verslete klere en die blou kolle op sy arms.

Hy sal Gerrit en sy mense vir ewig dankbaar bly vir die spontane, vriendelike liefdadigheid wat hulle so ongevraag gegee het, maar voor Louis Lehmann en sy hoogmoedige ouers sal hy nóóit weer bakhand staan nie, dink hy verbete.

Rudolph steek vas toe hy om die hoek stap. ’n Donker figuur hurk voor Carli se kamervenster. Die persoon tuur deur die venster en gewaar hom nie.

Hy oorweeg sy opsies blitsvinnig. As hy eers vir Gerrit gaan roep, sal die oortreder hom waarskynlik hoor en padgee.

Hy gaan geluidloos nader.

“Wat doen jy, hè?” vra hy toe hy by die persoon kom. Rudolph gryp hom aan die skouers en pluk hom regop.

“Wat de . . . Los my!” kom Louis Lehmann se benoude stem.

“Louis!” sê hy verstom. Lig stroom vanuit die kamer. Die gordyne is oopgetrek. Carli lê op haar bed en lees, en sy het haar slaapklere aan: ’n pienkerige bostukkie en ’n baie kort broekie.

“Jou verdomde Peeping Tom!” Louis se kop ruk toe Rudolph se vuis sy kakebeen tref. “Sy is nog ’n kind, magtig.” Hy stamp Louis van hom weg.

“Dis nie soos dit lyk nie. Ek wou net . . .” Louis kom dronkerig regop met sy hand teen sy ken. “Wie de hel dink jy is jy om jou gewig hier rond te gooi, Beyers?” verander hy van taktiek.

Rudolph staan dreigend nader. “Gee pad hier, jou stuk gemors. En Louis, as ek jou óóit weer naby Carli Coetzee vang, sal jy dit berou.”

Hy kyk minagtend hoe Louis omdraai en soos ’n skuldige hond weghardloop. Sekondes later brul die motorfiets.

Rudolph se lippe is opmekaar gepers toe hy hek toe stap. Hy sal Gerrit moet waarsku. Iemand sal moet sorg dat Stertjie saans haar gordyne toetrek.

Verdomde Louis Lehmann met sy splinternuwe motorfiets en sy skatryk ouers en sy onuitstaanbare arrogansie.


Die dorpshuis se netjiese tuin is verlig, maar Carli sien dit nie raak nie. Haar oë bly op die veiligheidshek gerig. Wanneer kom Gerrit tog?

Die harde musiek laat die hoofpyn agter haar oë net nog erger klop. Leë glase, blikkies en partytjie-reste staan orals rond. Niknaks en tjips lê oor die mat gesaai. Iemand het rooi koeldrank gemors. Erika se ma gaan ’n hartaanval kry as sy die vertrek sien.

Dit traak haar nie. Sy wil net hier wegkom.

Op kussings op die sitkamervloer sit paartjies met hulle arms om mekaar. ’n Klompie van haar maats bondel in die een hoek saam. Hulle beskinder haar seker, want hulle fluister vir mekaar en kyk elke nou en dan in haar rigting.

Sy het nog nooit in haar lewe só alleen en só vernederd gevoel nie.

Motorligte draai by die hek in. Is dit Gerrit?

Haar selfoon piep. “Ek is by die hek.”

Eindelik.

Sy lig haar ken en stap dapper na die groepie meisies. “Dankie dat jy my genooi het, Erika. My broer is hier, ek moet gaan.”

“Báái, Carli!” Die koor stemme groet oordrewe vriendelik. Sy weet sodra sy haar rug draai, gaan hulle haar verder beskinder, maar sy ken haar maats. Oor twee weke, wanneer die nuwe skooljaar begin, het hulle al weer ’n ander teiken vir hulle bitsigheid gekry.

Sy draf hek toe en maak die motordeur aan die passasierskant oop. “Jy’s laat,” verwyt sy toe sy inklim. “O, Rudolph, dis jy!”

Die straatligte gooi skaduwees oor Rudolph se gesig. Hy is die heel laaste persoon wat Carli nou wil sien. “Waar’s Gerrit?” vra sy kortaf.

“Hy kuier nog by sy meisie. Hy het gevra ek moet jou solank kom haal.”

“O.” Sy draai haar gesig weg en kyk onsiende by die venster uit.

Vir ’n rukkie is die gedreun van die enjin die enigste geluid in haar ore.

“Die partytjie geniet?” verbreek Rudolph se stem die stilte.

“Dit was orraait.”

“Hoekom het jy gehuil?”

Carli verstyf. Deksels, dis donker. Hoe weet hy sy het gehuil?

Sy antwoord nie. Rudolph sit die flikkerlig aan, druk ’n knoppie wat ’n veiligheidshek laat oopskuif en ry by ’n erf in.

“Hoekom, Carli?” vra hy toe die enjin ophou dreun.

Sy byt op haar lip. Kan sy dit waag om hom te vra? As hy vir haar lag, vergewe sy hom nooit in haar lewe nie.

“Stertjie, ek praat met jou!”

“Rudolph, sal jy my leer hoe om te soen?”

Dit raak doodstil in die motor, en Carli wens sy kan krimp en krimp tot sy so groot soos ’n muis is, sodat sy in die donkerte kan wegskarrel.

“Hoekom, Carli?” kom die diep stem bedaard.

“Hoe anders kan ek leer? Ek kan tog nie my pa of Gerrit vra nie.”

“Wat het vanaand gebeur?”

Lag hy vir haar? Sy loer vinnig na hom, maar in die amper-donkerte lyk sy gesig ernstig.

“Dit was goor. Hulle het ’n simpel speletjie gespeel. Ons moes strooitjies trek en elke meisie het ’n seuns-maat gekry. Michael Kruger was my maat. Hy het my tuin toe gevat en my vasgedruk en my gesoen, en dit was . . . dit was aaklig. Dit was die grillerigste, natste, spoegerigste soen van my lewe.” ’n Rilling trek opnuut deur haar lyf. “En toe ek nie nóg wil nie, toe vertel hy vir almal ek weet nie hoe om te soen nie. Almal het vir my gelag.” ’n Snikkie glip uit voordat sy dit kan keer.

“Carli . . .” ’n Warm hand vat meteens haar yskoue hand vas. “Jy is ’n oulike meisie, maar jy is veertien. Ek is amper negentien. As ek jou soen en jou pa of ma of Gerrit vind dit uit, is ek in groot moeilikheid.”

Ag tog, kan hierdie aand se vernederinge tog net asseblief nou ophou! Hy klink spyt, maar sy wéét hy lag vir haar, en nou gaan hy seker vir Gerrit vertel, en sy sal hom nooit ooit weer in die oë kan kyk nie.

Sy trek haar hand uit syne. “Dis oukei,” mompel sy. “Ek is sommer simpel. Ek moes nie gevra het nie. Vergeet dit.”

“Ek kan jou één ding sê,” vervolg die diep stem in die donker. “Die ou wat ’n meisie soen dat sy gril, weet nie hoe om te soen nie. ’n Regte soen is . . . spesiaal. Dit is sag. Teer. Jy wil nie ophou daarmee nie. Jy kan nie genoeg kry daarvan nie. Maar dis net spesiaal as dit tussen die regte twee mense gebeur, anders is dit aaklig en grillerig. Michael Kruger verdien nie jou soene nie. Bêre hulle vir die regte ou, en ek waarborg jou, dan sal jy nie lesse nodig hê nie. Oukei?”

Sy knik stom, te verleë vir woorde.

Die voordeur gaan oop en lig stroom na buite. Gerrit en sy meisie kom uitgestap.

Rudolph sit sy hand op die deurhandvatsel. “En Carli, vra my asseblief weer oor vier jaar wanneer jy agtien is. Dan sal ek jou met die grootste graagte soen,” sê Rudolph tergerig voordat hy uitklim en agter in die motor klim.

“Haai, Carli, het jy die partytjie geniet?” vra Gerrit toe hy agter die stuurwiel inskuif. “Dankie dat jy haar gaan haal het, Rudolph,” sê hy sonder om vir ’n antwoord te wag. Hy waai vir sy meisie en trek weg.

Carli sit doodstil. Die vernedering van die aand het weggesmelt. Wat Michael Kruger met sy puisiegesig en sy pap mond en dik lippe van haar dink, is nie belangrik nie. Rudolph Beyers, die droomheld en hartebreker van die hoërskool, dink sy is oulik. Hy sal haar graag wil soen as sy ouer is.

’n Dromerige glimlaggie plooi om haar mond.