Skip to main content

Uittreksel | Sy is veilig

Voorwoord

Dr. Marcel van der Watt

Van die bordele in Kaapstad in Suid-Afrika en die strate van Maputo in Mosambiek, tot die toeristemarkte van Kathmandu in Nepal, en die rooiligbuurte van Pattaya in Thailand, het ek oor twee dekades heen die onlosmaaklike verweefdheid van prostitusie en mensehandel waargeneem, bestudeer en ondersoek. In hierdie tyd het ek die matelose vreugde en voorreg gehad om verskeie wetstoepassers, maatskaplike werkers, aanklaers en diensverskaffers te ontmoet en saam met hulle te werk.

Emma van der Walt is ’n baken van lig wat uitstaan tussen hierdie reuse en alte goed weet Suid-Afrika het ’n probleem wat mensehandel betref. Dit is oortuigend bewys die hoeveelheid slagoffers en oortreders word onderskat en dat sekshandel steeds die motivering is agter die meerderheid aangemelde en vervolgde gevalle in Suid-Afrika. Verskeie faktore is petrol op mensehandel se vuur. Dit sluit in Suid-Afrika se voortgesette strukturele ongelykhede, ongehinderde aanvraag deur mans wat seksuele toegang tot vroue en kinders se liggame koop, ongeërgdheid en heelwat gebreke in die hantering van hierdie euwels. Gebrekkige sekuriteit op ons landsgrense, korrupsie in wetstoepassing as die wortel van kwaad betreffende mensehandel, en die skynbaar straffelose bydrae van binnelandse sowel as buitelandse mensehandelbendes dra tot hierdie vervlegte, onheilige web by.

Dit is op hierdie gevaarlike speelgrond wat Emma haar verskyning maak. Met haar oë op die kruis, bly sy hierdie dinge beveg met ’n oog wat nie wyk nie.

Suid-Afrika se berugtheid as die bron, deurgang en bestemming van mensehandel is deeglik gedokumenteer deur navorsers, joernaliste en stenograwe wat slagoffers se ontstellende getuienis in howe transkribeer. Tog bly een perspektief jammerlik agterweë: Emma se stewels-op-die-grond-uitkykpunt, en haar verhaal van Godgegewe moed in die aangesig van gevaar en tragedie.

Sy is veilig getuig van Emma wat ja sê vir die lewe. Haar verhaal spreek van opregtheid en onselfsugtige diens, ’n bron van hoop en inspirasie vir almal wat deur hierdie bladsye blaai. In ’n land wat swaar gebuk gaan onder ongeërgdheid en veelvlakkige strukturele ongelykheid, kan ons spreek van geluk wanneer ons iemand soos Emma teenkom. Haar oortuigings bring lewensveranderende ingryping vir talle wat onsigbaar bly in een van die mees opsigtelike markpleine wat daar is: die seksbedryf. Haar ervaring en die stemme van slagoffers wat so noukeurig in haar skrywe vasgevang is, lê nie net mensehandel bloot nie maar ook sekskopers wat toeslaan op die akute weerloosheid van diegene wat in hierdie gewelddadige sisteme vasgevang is.

Sy is veilig verskyn tydig, want dit kom in ’n tyd waarin die Suid-Afrikaanse regering volledige dekriminalisering van die seksbedryf, sowel as alle wette wat sekshandel, koppelary en bordele onwettig maak, oorweeg. Wat Emma ervaar, wys wat ’n swak skuif dit sal wees en bied ’n haalbare alternatief. Sy is veilig is ’n huldeblyk aan die menige onvertelde verhale en transkripsies in die onderste laai, oor moed wat ons Suid-Afrikaanse toneel deurdrenk en ons daaraan herinner dat liefde, genade en meelewing altyd vrees oorskadu.

Mag die moed wat uit hierdie bladsye spreek ’n vlam in elke leser aansteek, ’n diepgesetelde ontroering wat ons sal dryf om kollektiewe meelewing ons eie te maak, om aktief deel te neem aan die skepping van afdraaipaaie uit die seksbedryf, en ’n diepe oortuiging dat ons geveg vir die regte van vroue en meisies om nie geprostitueer te word nie, ’n veldslag is om vryheid, waardigheid en menslikheid te laat gedy.

MARCEL VAN DER WATT, PH.D.
Voormalige Valke-ondersoeker van sekshandel
Navorsingsgenoot: Vrystaatse Sentrum vir Menseregte,
Universiteit van die Vrystaat


Inleiding

Op 23 September 2018 het God met my gepraat: “Emma, die eer sal jou nie toekom vir wat Ek nou gaan doen nie.”

Hierdie reis saam met slagoffers van seksuele slawerny was net moontlik omdat God se teenwoordigheid ons vooruitgegaan het. Aan Hom kom die eer toe vir elke lewe wat nou vryheid smaak en elke dogter wat gered en huis toe gebring is. Baie van God se dogters is steeds daar buite in slawerny, en ons sal voortveg sodat hulle God se stem hoor en sy leiding op hierdie reis aanvaar. God het hulle hulpgeroep en gebede gehoor en ons sal gehoor gee aan God se oproep om slawerny te beëindig.

Ek bid dat die realiteit van wat jy in hierdie boek lees jou perspektief sal verander en jou tot optrede sal aanspoor om jou nasie en diegene wat slagoffers was te help heel.

EMMA VAN DER WALT


Hoofstuk 1

Ingryping van God

Dit was die eerste keer wat ek ’n ander land in Afrika besoek het. Ek moes ongelooflike struikelblokke oorkom om Uganda te besoek, maar ek weet dit was God se opdrag aan my om daar te wees. Ons het tuisgegaan by mense van die gemeenskap wat so ruimhartig was om hulle huis vir ons oop te stel.

Sarah het om die woonkamer se hoek geloer en ons fyn dopgehou. Dalk het sy gewonder wie hierdie vreemde mense in hulle huis was. Hulle lyk nie soos die mense in haar gemeenskap nie. Sy was net vyf jaar oud, het Luganda gepraat en net ’n paar Engelse woorde geken.

Terwyl ons in die sitkamer sit en die week se program bespreek, het ek vir haar geglimlag. Later het ek met haar begin wegkruipertjie speel, gelag en my oë toe- en oopgemaak. Sarah het die gaste in hulle huis al hoe meer begin vertrou en wou meer van hulle weet. Gaandeweg het hierdie pret en speletjies die luide gebrul van leeus geword en ons het gekyk wie ’n leeu se gebrul die beste kon namaak.

Afrika is ’n pragtige plek met pragtige mense. Die kontinent is ook vasgevang in die wurggreep van armoede, wat hierdie kindertjies, tienermeisies en vroue weerloos maak teen die vangstrikke van mensehandelaars en ander booswigte.

Eendag het ons uitgery na dorpies en plattelandse streke wat minder dig bevolk is. Ek het nou eenmaal die slegte gewoonte om helderkleurige skoene te koop en die dag het ek juis so ’n paar aangehad. Terwyl ons op ’n grondpaadjie tussen die huise in Uganda aan die stap was, sê een van my goeie vriende: “Emma, God sal altyd vir jou vir ’n skoenetoelaag sorg sodat jy skoene kan koop.”

Ek was ’n bietjie onkant gevang en het gewonder hoekom hy dit nou vir my sou gesê het. Ja, ek hou van helderkleurige skoene maar ek gee nie ’n klomp geld op duur skoene uit nie. My gunstelingskoene is rooi en dit is ook die onderwerp van heelwat bespreking. Toe sê my vriend God wil hê ek moet Hom gehoorsaam waar ek ook al loop en plekke besoek. Waarop hy toe vir my ’n teksvers gee. Min het hy geweet ’n paar jaar later sou daardie oomblik ’n radikale verandering in my lewe verteenwoordig oor die pad wat ek betree het om God se stem te gehoorsaam. Dit herinner my aan Jesaja 52:7: “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: ‘Jou God is Koning!’”

Ek hou daarvan om mense se gedrag te probeer verstaan. Dis vir my lekker om mense wat met mekaar kommunikeer dop te hou; hulle liggaamstaal en dryfvere te ontleed terwyl hulle probeer om wat hulle sê aan diegene aan die ontvangkant duidelik te maak. En ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die mens ’n bedorwe natuur het en ’n redder nodig het. Ons het almal die krag van keuses en vrye wil tot ons beskikking, en ek het gesien hoe die mens se wil tot selfvernietiging en ander se vernietiging kan lei. Maar ek het ook gesien hoe, wanneer ’n definitiewe besluit geneem is, dit hoop en heling vir ander kan bring. Ek is al van aangesig tot aangesig gekonfronteer met situasies waarin my keuses of tot my voordeel en plesier sou kon strek, of oomblikke waarin ek my lewe sou moes aflê om mense in nood te help.

Dit klink alles baie edel, soos selfverloëning, maar die eksterne en interne geveg is nie te verstaan as ons nie kies om ons eie lewe te versaak ten einde ander te red nie. Ons is deel van ’n humanistiese samelewing wat na selfvervulling streef, na voordele vir die selfsugtige natuur, in plaas daarvan dat ons die gemeenskap en die weerloses en gebrokenes ophef. Twee keer in my lewe moes ek kies tussen óf ’n beroep wat my sou bevoordeel, óf om gehoorsaam te wees aan wat God van my gevra het.

Dit was Moedersdag. Ek het langs my ma en pa in die kerk gestaan. My ma is ’n sterk vrou, gebore in Utrecht, Nederland. Nederlanders is geneig om baie direk te wees en het ’n sterk sin vir geregtigheid. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was my ouma en oupa in Nederland. Hulle was ware helde.

Die Yad Vashem-gedenksentrum vir Jode-uitwissing het aan hulle erkenning gegee met die hoogste sertifikaat van eer. My grootouers het tydens die oorlog ’n huis van veiligheid vir Joodse kinders gebied. Sonja, ’n Joodse rabbi se dogtertjie, was die eerste kind wat in dié huis kon skuil. Ná Sonja was daar Abe en ’n ander veertienjarige seun, asook ’n sestienjarige seun.

Daar was ook ander. Studente het hierdie kinders na dié huis toe gebring en hulle later weer kom haal om hul na die boerderygebiede toe te neem. Later het ’n jong seun genaamd Rob ook hier skuiling gevind. Hy was so oud soos Nel, my tante, en vir die gemeenskap is gesê hulle is ’n nie-identiese tweeling. Hulle het saam skool toe gegaan om Rob se ware identiteit geheim te hou. Hy het my grootouers Mamma en Pappa genoem. Hulle was baie lief vir kinders en die jong gesin het hulle lewe gewaag om ’n toevlug vir kinders in gevaar te skep.

Ek raak emosioneel wanneer ek aan my grootouers se dapperheid dink. Hulle kon besluit het teen die daarstelling van ’n veilige hawe vir hierdie kinders maar hulle het nie. Dié Joodse kinders is van hulle gesinne vervreem en diep getref deur oorlogstrauma.

My ouma het my van die oorlog vertel, hoe sy braaf die grens op ’n fiets oorgesteek het vir kos, hoe sy Duitse soldate ontglip het wat wou verkrag, mishandel en boonop die kos wat die hulpbehoewendes bymekaar kon skraap, gekonfiskeer het. My oupa het met rumatiek geworstel en in Nederland se koue was hy bedlêend. Die gesin moes kies om na Australië, Egipte of Suid-Afrika te emigreer. Hulle was diep gelowiges, en ek glo dit was deel van God se plan dat hulle Suid-Afrika toe gekom het.

Toe ek vier jaar oud was, het ek my hart vir God gegee en ek was my lewe lank van Hom bewus. Ek het geweet God het ’n plan vir my lewe in Suid-Afrika en die res van Afrika en dat ek my grootouers se goddelike roeping verder moet uitdra, veiligheid vir die weerloses moet help bewerkstellig. Die sterk wete dat God my in Afrika wou hê, was altyd lewend in my. My pa is ’n Suid-Afrikaner en ’n kreatiewe entrepreneur wat my geïnspireer het. Op die dag wat God my geroep het, het ek geweet ek gaan ongemaklik raak met waar ek was. Vir ’n ruk het ek getrou as herder in die kerk gedien. Ek was lief vir mense en het die bediening geniet. Dié het ’n goeie tyd beleef en ek het die voorreg gehad om saam met my man daarin te dien. Om God se stem te hoor was soos suurstof vir my siel; dag vir dag het ek dit nagevolg en begeer om deur die Heilige Gees gelei te word. Die lewe was goed; ek het ’n doel gehad om na te streef en ek het God gevolg.

Op ’n Sondagmôre in Mei, terwyl ek na aanbiddingsmusiek staan en luister, kon ek duidelik hoor God praat met my. Trane het oor my wange gestroom. Ek het innerlike rus ervaar maar was tot in my diepste wese ontroer. Die Vader het my gevra: “Emma, sal jy jou bediening prysgee, dit op die altaar lê en my volg?”

Soos Abraham toe hy Isak moes offer, het hierdie vraag my bygebly. Ek het onthou hoe die Bybelse Maria reageer het toe die engel aan haar verskyn en haar vra of sy Jesus se moeder sal wees: “Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Lukas 1:38). Ja, het ek gesê, ek sal Hom volg en op Hom vertrou. Daardie Augustus is Brave to Love, ons niewinsgewende organisasie, gestig. Toe ons met dié oorgang begin, het ek geweet ek sal uit my gemaksone moet tree en werklik begin leer wat dit beteken om in die geloof en in vertroue op God te leef (2 Korintiërs 5:6-7).

Terwyl dit voetwerk gekos het om die bediening se verantwoordelikhede by te bring, het ek altyd die dringende begeerte gehad om die evangelie van hoop aan mense te bring. Ek het van uitreikaksies gehou, hetsy in ons woonbuurte of in Uganda. Dié aksies het gelei na waar ons begin uitreik het na vroue in ons gebied wat prostitusie bedryf. Vandat ek baie jonk was, was daar by my ’n dringende begeerte om my hande uit te steek na mense wat Jesus nog nie ontmoet het nie, want Jesus vergewe sondes en heel menselewens.

Die dag waarop ek die eerste keer ’n bordeel binnegeloop het, sal ek nooit vergeet nie. Agter dubbeldeure van die huis in ’n gegoede woonbuurt het ’n skraal vrou met ’n lieflike goudbruin vel gestaan. Ek het haar omtrent so oud soos ek geskat, sy met haarverlengings, skerp omlynde gesigstrekke en ’n volmaakte neus. Sy het oor die toonbank geleun en ons vriendelik en liefdevol verwelkom. ’n Lewendige geselser, ’n ekstrovert met ’n warm persoonlikheid.

Ons het gevra of ons met haar en die ander dames kon gesels, vir hulle geskenkies kon gee en hulle na ons geleentheid die week daarna kon nooi. Sy het ons deur die huis geneem en ons het al die vroue op die patio ontmoet. Meer as twintig van hulle, almal in helder klere, kort rompe, baie grimering en wimperverlengings. Almal was so gaaf en gewillig om met ons te gesels. Party van hulle het dagga gerook en die lug was swaar van die dampe. Dit was net rook. Ek moes beslis daarvan ingeasem het. Vir party van hulle was dit moeilik om oogkontak te maak, en ek het gewonder of hulle skaam was dat hulle hul liggame verkoop. Terug in die motor het die adrenalien deur my gepomp en ek het gegiggel, nie seker of dit van die dagga was of omdat ek so bly was dat Jesus my na my eerste bordeel toe gelei het nie.

Van daardie dag af het ons aangehou om uit te reik na vroue in prostitusie. Ons doel was om liefde, vriendskap, en emosionele en geestelike ondersteuning aan hulle te bied. En saam met hierdie dinge het ons ook Jesus vir hulle gebring. Ek het baie gesprekke met die vroue gehad, vriendskappe opgebou en na hulle verhale geluister. Nie een van hulle het ooit vir my gesê dit is iets wat hulle permanent wil doen en dat hulle dit geniet nie. In baie gevalle was dit bloot die resultaat van hierdie vroue se vergeefse stryd om in Suid-Afrika te oorleef terwyl hulle sukkel om ’n werk te kry.

Ek het hierdie vroue liefgekry met God se liefde, maar diep in my hart was ek so besorg oor hulle. Soveel van hulle het ek in die oë gekyk, gehoor van hulle ambisies en drome vir hul lewe. Hoe kon ek vir hulle sê ek is lief vir hulle, maar ek het nie ’n plan om hulle van prostitusie te help bevry nie en geen idee hoe om hulle ontsnapping – wat hulle so desperaat begeer en voor gevra het – daaruit te bewerkstellig nie? Vir my was dit maklik want ek het net weer uit die bordeel gestap ná ek vir haar ’n geskenkie gegee het en dan moes sy terugkeer na sekskopers om te voldoen aan watter seksuele fantasieë dié ook al wou uitleef. Brave to Love is in die lewe geroep met die doel om ondersteuning en vaardighede in ontwikkeling en onderrig aan vroue in prostitusie te bied.

Hierdie reis waarin ek God se stem volg, het ek begin deur gebiede te betree waarin die gewone burger nie op sy/haar gemak behoort te voel nie. Ek onthou hoe ek vir Suid-Afrika gebid het. My gemoed was oorkom in my poging om te verstaan hoe God oor ons nasie moet voel. Dit het by my ’n dringendheid en ’n honger geskep om God te hoor praat en sy opdrag uit te voer. Vanoggend het ek gebid: “God, laat my toe om u las vir hierdie mense en Suid-Afrika te dra.” Daar in gebed was ek bewus van die Heilige Gees se kragtige teenwoordigheid terwyl ek ween soos nooit tevore nie. Vanoggend het God aan my ’n deel van sy regverdigheid openbaar. Ek het ’n visioen gekry van hierdie gemeenskappe en townships in Suid-Afrika, van minderjarige meisies wat seksueel misbruik en verkrag word. Hoe het ek nie gehuil nie, selfs nou wanneer ek daaraan terugdink. “Jesus, help,” het ek gebid, “asseblief, gebruik my om te doen wat ek kan om die ongeregtigheid te beveg van jong meisies wat verkrag, uitverhuur en seksueel misbruik word.”

God het by twee geleenthede tot my gespreek. Sy woorde het my voorberei vir die reis op hande en duidelik vir my die pad aangewys. Ek was aan die stap en het God se stem duidelik gehoor: “Emma, ek is ’n God van geregtigheid.” So helder, dit het gevoel asof dit op my ganse wese afgeëts word. Ek glo geregtigheid gee uitdrukking aan empatie en meelewing met ’n menslike wese. Wanneer ons as mense geroer word deur meelewing en liefde vir ander, wil ons ’n einde maak aan die wrede ongeregtigheid van seksuele slawerny, verkragting en seksuele aanranding. Hoe forseer ’n ma haar tienerdogter om seks met ouer mans te hê vir geld? Hoe beëindig ons dit? Die ongeregtigheid as ’n man ’n jong meisie se onderklere van haar lyf af dwing en haar maagdelikheid neem asof dit sy reg is? ’n Vyftienjarige meisie van ’n skool in ons area is om die beurt deur ’n groep ouer seuns verkrag, en ek wou hulle met ’n woede en passie in my stuit. Dié groepsverkragting het daartoe gelei dat sy nie langer skoolgegaan het nie, aan verdowingsmiddels verslaaf geraak het en uiteindelik as prostituut verhandel is.

Dit is reg om daardie pyn so intens te ervaar dat dit ons daartoe dryf om sulke ongeregtigheid te beveg. God haat seksuele slawerny, Hy haat verkragting, Hy haat seksuele mishandeling, en Hy haat dit wanneer ’n kind se bed ’n plek vir seksuele uitbuiting word in plaas van ’n slaapplek. As jy dit eenmaal gesien het, kan jy dit nooit weer nié sien nie. Die pyn in die oë van daardie vroue wat ons ontmoet het, is op my siel ingebrand. Maar ek het ook hulle vreugde gesien, hul heling en bevryding. Daar is ’n onnoembare aantal vroue en meisies in Suid-Afrikaanse bordele. Ek het hulle in die oë gekyk en hul hulpgeroep gehoor.

God se woorde aan my toe ek my op hierdie dapper reis begewe het, was ’n duidelike opdrag: “Emma, gaan haal my dogters.” Sy boodskap was kristalhelder. Ek moes sy dogters wat betrokke is by prostitusie en as seksslawe aangehou word gaan haal en huis toe bring. God wou hulle bevry van hulle fisieke en emosionele gevangeneskap. Hy wou hulle genees van die weerloosheid wat hulle in die eerste plek in daardie situasies laat beland het en hulle gesond maak. My doel was duidelik: Ek moes hulle gaan soek en huis toe bring. Dit was my doel om alles in my vermoë te doen om van elkeen te kan sê, sy is veilig.