Skip to main content

Uittreksel | Solank as die aarde

SOLANK AS DIE AARDE
Solank as die aarde bly bestaan,
sal saaityd en oestyd nie ophou nie,
ook nie koue en hitte,
somer en winter,
dag en nag nie.
Genesis 8:22

Proloog
Die eerste begrafnis, Desember 1998

Sê dit hardop en stadig, Ragel, dat dit kan insink: De Viljee. Is. Dood.

Vertel vir die voorgeslagte wat hier rondom die vars graf begrawe lê van die verskrikking wat Soetkloof getref het.

Vyftien jaar oud. Nog maar net vyftien. Hy en Cornél het weer verlede Saterdag gebots. Soos gewoonlik wou Cornél nie gaan jag nie. De Viljee het hom uitgelag daaroor en gespot oor sy ewige bokkoors en weersin om ’n ou “bokkie” plat te trek. Ma was haar ysige en onwrikbare self, en Pa het net mooi niks gesê nie. Soos gewoonlik.

“Dis die laaste keer in my lewe wat ek met my hande aan hierdie geweer gaan raak,” het Cornél deur sy tande geblaas. Hy was klaar bewend – hoe hy sodanig sou kon bedaar om raak te skiet, kon ek my nie voorstel nie. “Ek is klaar met skool, en nou is ek klaar met hierdie plaas.”

Toe storm Cornél uit met sy gelaaide .270 in sy hand, De Viljee agterna met daardie smalende trek om sy mond. Ek het in die kombuis by die tafel gesit, woedend omdat dit nie ek was met die geweer in my hand nie. Hoekom moet Cornél altyd gedwing word om te jag? Ek skiet die beste van ons drie, ek kry nie bokkoors nie, ek bekruip die beste, ek skiet altyd die perfekte doodskoot.

Toe hoor ek hoe klap die bakkie se deure. Dwa! En weer – dwa!

Die bakkie brul. Cornél ref hom moedswillig hard om Ma te ontstel, trek agteruit, briek hard, trek vorentoe dat die klippe deur die lug spat, vat die draai gevaarlik vinnig, jaag stampend in die pad af.

In my lewe het ek nog nooit ’n bok gekwes nie.

De Viljee ook nie.

Soos ek, het hy gewere verstaan. Hy het ook die fyn aanvoeling gehad vir die veld, die windrigtings, die droë gras, die gewoontes van die wild, die fluistering van die berg en die wolke en die klowe en die skeure. Wanneer ek met my Sauer 6.5 X 55 en hy met sy Sako .243, gewere wat Pa vir ons gekoop het toe ons gebore is, die huis teen ligdag verlaat met ons rugsak om te gaan skiet vir vleis en biltong, het ons nog nooit met leë hande teruggekom nie.

Maar nie Cornél nie.

Hy het al hoeveel gekwes, dan moet ons spoor vat en die hele dag soek na daardie bok, want dit het Pa by ons ingedril: Jy los nie ’n gekweste dier nie.

Cornél haat jag.

Hy haat dit om iets dood te maak, en geen redenasie – soos dat jag deel vorm van bewaring en dat ons net skiet vir die pot – kan hom van mening laat verander nie. Sy weersin in jag het hom nou al so ver dat hy weier om vleis te eet.

En dit dryf Ma teen die mure uit, want in haar oë het haar seuns geen keuse nie. Hulle is op hierdie plaas gebore, dit is hulle plig om te jag en te boer, en hierdie is háár erfgrond en hier sal hulle bly en doen wat almal voor hulle gedoen het.

Ma se houding is onversetlik.

En hier is ons nou, in die bloedige hitte, op pad teen die skuinste uit na Soetkloof se familiebegraafplasie.

Om De Viljee te begrawe. Hier, tussen julle, ons liewe voorgeslagte.

My kleinboet.

Sy laggende ligblou oë spook voor my wanneer ek opkyk na die kranse van die Kougaberge wat Soetkloof omraam. Sy songebleikte vakansiekuif waai saam met die droë gras wanneer die bergwind in die Opkomsrivier af tregter. Sy gespierde tienerbene met die mooi kuite stap voor my in die klipperige paadjie, trap-trap, versigtig soos ’n kat wat ’n duif bekruip, sy oë gefokus op die vaalribbok teen die rant. Sy mooi, sterk lyf trek deur die lug wanneer hy in Dertiende Poel duik ná ’n lang stap teen die berg op.

Ma se oogappel. Na geaardheid en bou soos háár mense, het sy altyd gesê. Nie so maer en tingerig en vreemd soos arme ek en Cornél nie. Reeds jagter en boer in murg en been. Alles wat Ma begeer in ’n man. Alles wat haar sieklike man en ander seun nie is nie.

De Viljee, hoe kan jy dood wees? Hoe kan jy in daardie kis lê waaraan die draers so swaar dra? Kyk net vir Cornél en Pa wat voor dra. Albei gebreek, geknak. Vandat ons die nuus gekry het dat jy dood is, het Pa ’n frons tussen sy oë gekry so diep soos Skeurkloof, en sy oogbanke met die ruie wenkbroue het laag en grys oor sy oë gesak. Hy is krom en trane stroom teen sy wange af. ’n Verrinneweerde landskap in ’n sakkerige, blinkgestrykte pak klere. Cornél, aan die ander kant van die kis, is so bleek soos die mistigste dag in die klowe en op Kranskop. Dit lyk of hy geskreeu het, en toe vries sy gesig; sy kop agteroorgetrek, sy mond oop, sy bolip styf gespan oor sy wit tande, sy oë toegeknyp. Hy strompel in die ongelyk paadjie en sy bene gee kort-kort onder hom pad en dan moet die prosessie stop sodat hy sy greep kan verstewig en op sy voete kan kom.

Ek wil nie eens van Ma praat nie, De Viljee. Jy wil nie weet hoe lank dit haar gevat het om haar groot lyf teen hierdie bult op te kry nie. Sy het ’n swart rok aan wat tannie Bernadette hier aangebring het – dit lyk soos ’n tent. Vandat Ma die nuus gekry het dat jy dood is, is sy met stomheid geslaan. Haar mond het oop en toe gegaan en nog nie weer oopgegaan nie. ’n Wond wat slordig aan weerskante met groot en klein steke toegewerk is, en nou sit daar net hierdie lelike, skewe letsel.

Die begraafplasie het aandag gekry. Rieme en Outatta en die bure het die mure netjies afgewit, die gras gesny, die ou grafstene gewas en versorg. Selfs die hek het nuwe skarniere en maak vir die eerste keer in jare sonder moeite oop en toe.

Ons het nou aangeskuifel tot by die nuwe, vars graf. Ek staan tussen Ma en tannie Bernadette. Ek het my wit kerkrok aan; dis ongemaklik en die ding span oor my borste.

Maar vir een keer het ek die ellendige wit rok aangetrek. Net ter wille van Ma.

Hier het nogal ’n groot klomp van jou skoolmaats met een van die skool se minibusse aangekom. Selfs ’n paar van my en Cornél se sogenaamde vriende, maar soos jy altyd gespot het: Ons is die twee weirdste matrieks in die skool en niemand praat eintlik met ons nie. Ek ignoreer almal. Gedink ek is eens en vir altyd klaar met skool. Wil nie regtig die skoolhoof of enige onderwysers of kastige vriende wat skielik van iewers af verskyn het, groet nie. Die meeste mense is hier net uit nuuskierigheid. Of om hulle in ons Kougabobbejane se ellende te verlekker.

Ma sweet verskriklik en ek ruik dit. Die son sit reg bo ons koppe. Dis malligheid om enigiets in Januarie vir twaalfuur die middag te reël. Die son staar siedend op ons neer, die diere staan koponderstebo, die vrugtebome roer skaars in die warm lug, die hemel is knarsblou, die kranse en klowe sonder skadu en sonder skakering of asem.

Almal snak.

Maar mense ry ver en het tyd nodig om Opkoms te bereik, het die bure wat al die reëlings by stom Ma en rokende Pa oorgeneem het, gesê. Dis diep in die berge, ver van alles, en die pad is lanklaas geskraap. Ná die begrafnis en die samekoms in die ou skooltjie waar die tafels kreun onder verversings, het almal tyd nodig om weer so gou moontlik hier weg te kom.

Dus is twaalfuur net mooi reg om jou te begrawe, De Viljee.

Verslaentheid, oop monde, rooi oë, tissues tussen sweterige vingers, vertrekte gesigte. Hier kom die draers met jou. Dis lekker snaaks om te sê ’n mens sit iemand onder die kluite, tot jy hier staan waar ek staan. Daar val Cornél weer amper in die proses om jou kis op die bande te sit wat oor die graf gespan is. Dominee Pienaar het sy swart pak aan en dit lyk of hy pas uit ’n swembad geklim het, so tap die sweet hom af. In sy hande hou hy ’n Bybel vas.

Ek kry nie asem nie, De Viljee. Die lug is gom. Die hitte het nes gemaak hier tussen die ou wit grafstene. Ek het hierdie prentjie in my kop van jou wat bleek en styf in daardie kis lê. Ma wou met alle geweld na jou gaan kyk, maar dit het uiteindelik die polisiekaptein gekos om haar te verbied, want jy lyk te ontstellend. Al het hulle jou glo mooi gemaak. Pa was nie gebore in staat om jou te gaan uitken nie. Oom Sakkie is gestuur. Sedert ons die aardskuddende nuus gekry het, het Pa se emfiseem honderdvoudig vererger want nou rook hy nie net in die dag nie, maar ook deur die nag.

Stilte. Almal skuif nader. ’n Kring van verdriet.

Dominee Pienaar bid, maar ek hoor heeltemal niks. My oë rus op Hoëkop, skuif dan stadig oor Platberg, volg Skuinspad se voetpad, vee oor die boorde, en kom tot rus op Cornél.

Wat hý voel en beleef, voel en beleef ek. Ons deel dieselfde naelstring. Wanneer ek na hóm kyk, kyk ek in ’n spieël na myself: maer, knopkieriebene, voete en hande nog altyd bietjie groot vir ons lywe. Al is ons agttien en gematrikuleer. Ons kry net nie ons ledemate heeltemal in verhouding gegroei nie. Ons mae is plat, en sonder klere sien ’n mens ons ribbes duidelik onder die vel. Ons borskaste verskil wel. Cornél se borskas met die twee donker tepels is plat en dun en sy skouers trek vorentoe asof ’n gewig op hulle rus. Ma roep nie verniet kort-kort “trek terug jou skouers, Cornél!” nie. Of: “Kan jy nie tog regop loop soos ’n man wat ’n bietjie trots in hom het nie, Cornél?”
Mý borskas is ’n gans ander prentjie. Selfs ek is verbaas dat ek sowaar borste ontwikkel het. “Wel, wel,” het Ma al gesê, “ek is verstom. Nou moet ek seker aanvaar jy’s regtig ’n vroumens, Ragel. Kan jy dalk ook soos een begin optree?” En dan die onvergenoegde, onderlangse: “As jou sawwe broer tog net ook soos ’n mán kan begin optree ...”

Ons het dieselfde donkerbruin oë, ek en Cornél, met donker wenkbroue wat amper bymekaar kom soos Pa s’n. En Ma se blonde hare. Presies dieselfde skakering as joune, De Viljee. Soos almal sê: Dis al hoe mens weet ons is broers en suster, die kleur van ons hare. Geil blond en krullerig, gebleik deur Opkoms se son. Julle seuns s’n lank uitgegroei ná die Desembervakansie. Myne lank en meestal, soos vandag, in ’n vervelige vlegsel. Tannie Bernadette het my gedwing om dit vas te maak met ’n swart lint. Bid jou dit aan!

Jóú lyf, De Viljee, so anders as ons s’n, is vol. Jy eet enigiets wat Ma voor jou neersit. Jy lyk soos háár mense: staalblou oë, sterk, gespierde lyf. Op vyftien bult jou armspiere soos ’n groot man s’n, en jy lig met gemak ’n vyf en twintig kilogram sak voer op jou skouers. Of ’n ribbok wat jy agter Platberg platgetrek het en lag-lag al die pad huis toe dra. Jy laat Ma glimlag. Ek sien mos hoe versag haar oë wanneer sy na jou kyk.

Nie ek en Cornél nie. Vir Ma is ons die teleurstellings van haar lewe. Behalwe seker haar sieklike, versukkelde man. Hoeveel keer in my lewe het ek dít nie in haar oë gesien nie. Gloeiende kole frustrasie. Ek het nou die dag gehoor hoe tannie Bernadette vir Ma sê ek word ’n mooi meisie. Weet jy wat was Ma se antwoord, De Viljee? “Ragel is ’n seun in ’n meisie se lyf. Daar’s niks vrouliks aan haar nie. Sy was skaars haar hare, het nog nooit in haar lewe ’n druppel grimering aangesit nie, en loop altyd met vellies en ’n broek. Sy kan skaars ’n eier bak, en ek moet haar dwing om enigiets in die huis te doen. En kyk na Cornél – ’n swakkeling. Onbeholpe op die plaas, kan nie jag nie, kan nie slag nie, wil nie help nie, wil nie werk nie. Die Here het deurmekaar geraak, Bernadette. Ragel moes Cornél gewees het, en Cornél moes Ragel gewees het.”

“Hulle is natuurkinders, Hendrien,” het tannie Bernadette darem vir ons opgekom. “Hier is nie ’n beter skut op Opkoms as Ragel nie. Sy het ’n ingebore liefde vir boerdery, ’n passievolle belangstelling. Seker ’n bietjie onnatuurlik vir ’n vrou, maar kyk na haar wanneer sy wegstap, Hendrien. Daar is ook ’n ingebore grasie in daardie kind. Álles aan haar spreek van vrouwees, dis net jy wat dit nie raaksien nie. En Cornél is maar net ’n fynbesnaarde kind met ander belangstellings. Hulle laat my dink aan Jakob en Esau in die Bybel. Gaan lees dit ’n bietjie weer. Esau was ’n jagter en lief vir die veld. Jakob was rustiger en het by die huis gebly. So iets.”

Ma het net gesnork. En nou sit sy met Pa en ons twee, want jy, wat die lig in haar lewe was, is dood, en ek voel oomblik vir oomblik hoe die mantel van agterdog al laer en laer oor ons sak, hoe dit inglip tussen die grafstene en die verskrompelde mense en lekker gemaklik vou oor die heining met die geroeste hekkie wat nou weer werk. Hoe dit ’n beskuldigende vinger wys in die rigting van Cornél.

Ek voel en sien wat hý voel en sien. Polisiekaptein Piet Nothnagel se oë spring senuweeagtig rond, al staan hy hande gevou daar eenkant. Hoekom anders is hy hier? Skoolvriende kyk vir die heel eerste keer met ontsag en feitlike bewondering na Cornél. Hét jy? Kán jy? Is jy? Vriende en kennisse wat sy skouer bemoedigend druk, of in die kombuis, woonkamer, of die stoep koppe bymekaar staan met hul stemme en hul oë vergiftig deur agterdog, bespiegelinge en moontlik verdoemende voorspellings.

In Cornél se oë sien ek ’n refleksie van wat in mý hart aangaan: donkerte, onverwoordbare pyn. Totale wanhoop. Sy hele wese skreeu om gehóór te word, gegló te word.

Hy trap rond daar langs jou kis. Hy is rusteloos. Sy hande beweeg die hele tyd, vat aan sy gesig, vee sweet af op sy bolip, trek aan sy baadjie, hande in vuiste geklem, wit op die kneukels.

Ek hoor ’n geluid. Skielik begin die kis sak. Dominee se stem weeg ’n ton. Ons glo in God die Vader, die Almagtige ... En die woorde val doef, doef, doef, op jou kis en ek sien net die ruiker proteas verdwyn in die gat in. Ma gee ’n diep kreun hier langs my, en ek weet Cornél gaan hardloop. Ja, dit is wat ons twee altyd doen. Ons hardloop. Met ons lang, maer bene hardloop ons. Ons ken hierdie plaas, ons ken elke klip, elke bossie en boom, die klowe, die koppe, die kranse. Selfs jy, De Viljee, kon nooit byhou nie. Dis my en Cornél se wapen, ons verweer teen die wêreld wat ons verstoot. Wat dink ons is mismaaksels. Teen Ma se onvergenoegdheid en Pa se onderdanigheid. Teen jóú voortvarendheid en arrogansie.

Toe Cornél beweeg, beweeg ek. Dit gebeur so vinnig, ons is by die hekkie uit voor die geluid van die beroering opklink. Ek kyk net een keer om, net betyds om te sien hoe mense Ma se slap lyf regop probeer hou.

Ons hardloop.

Ons is ribbokke, ons is windhonde, ons is lig en vinnig, ons voete raak skaars grond. Cornél hardloop voor my, ek trap waar hy trap. Selfs met die vreemde swart langbroek, baadjie en swart skoene aan, vlieg hy laag oor die grond. Hy swenk in die bekende voetpaadjie af in die rigting van Die Bos. My wit rok wapper en waai op, ek gee nie om nie, almal kan maar my onderklere sien. Ons is nou deur die driffie en teen die volgende helling uit, vol in sig van die klomp mense om jou graf. Cornél ruk sy baadjie in die hardloop uit en gooi hom, ek sien net die slap swart arms deur die lug trek. Ek voel vry van die kettings van trane; ek weet jy verstaan ons moes wegkom. Ons kon nie toekyk hoe hulle jou toegooi onder die grond nie, my kleinboet De Viljeetjie.

Want ek wéét Cornél het dit nie gedoen nie. Al dui alles daarop. Al het die koeël uit sý geweer gekom. Hy is onskuldig.

Die lang gras swiep teen my kaal bene, my asem jaag, ek kry suurstof vir die eerste keer vandat jy dood is. Cornél se knopperige elmboë werk, hy rek sy treë want nou hardloop ons opdraand. Die Bos maak sy arms oop, die bekommerde bome vou ons toe, gee ons beskerming, ons voete weet waar om te trap, ons is uit onder die gloeiende son, ons het verdwyn buite sig van die treurendes. Ek sien die blink watertjie wat ná die naweek se reën weer in die kloof af kabbel, ek hoor die sug van die mosbedekte rotse.

Ek voel veilig.


DEEL EEN
November 2003

1

Ragel sit die bakkie melkkos versigtig op die passasiersitplek neer en pak die botteltjie met spekboomtakkies en fynbos vas met haar handsak. Sy stap terug na die voorhekkie en vryf oor hul getroue ou rifrug, Kompas, se kop. “Pas vir Pa mooi op, Kompas.” Daarna stap sy na die bakkie, klim in, skakel aan, en trek agteruit. Sy ry stadig in die paadjie voor die huis verby en waai vir haar pa wat op die stoep sit.

Hy kyk skaars op en al wat sy sien, is die blou rook uit sy sigaret wat die hele stoep vol hang.

So, presies daar, sal sy hom aantref as sy vroegmiddag terugkom uit die dorp.

Sy ry stadig met die plaaspaadjie af. Aan weerskante lê die lemoenboorde tot teen die rivier. Woudgroen blare blink in die oggendson, roerloos. Geen somerluggie druk deur die rye bome nie. Dit gaan weer ’n bloedige dag wees. Sy het vroegoggend al met haar koppie koffie tussen haar handpalms op die stoep gestaan en uittuur in die rigting van Hoëkop, maar daar is nie eens ’n wolkie so groot soos ’n man se vuis in die lug te bespeur nie.

Dis droog. Die reën bly weg, die pad is sinkplaat. Stofduiwels spring en spiraal onder die wiele van die bakkie uit.

Ragel sug, sit die voertuig in tweede rat, en ry stadig deur die droë rivierloop en op met die bultjie. Wanneer die bakkie se neus oor die maanhaarrantjie stamp-stamp, lê die Opkoms-plasies met hul opstalle voor haar in die kom van die vallei. Die son vang hier ’n sinkplaat, daar ’n trekker se bakwerk, ’n pyp wat glim, ’n hek wat oopgemaak word. Op die oog af ’n prentjie van vrede en rus en vooruitgang – so met die groen boorde aan weerskante van die rivier.

Maar dié plek is tans ’n onderstroming van onsekerheid en spanning en binnegevegte. Verraad. Dis wat dit is, en die wrewel stoot op in Ragel se keel.

Sy skakel oor na derde rat, kyk reg voor haar in die pad wanneer sy verby Manus Brandt se hek ry. Sy wil nie hierdie mense sien nie. Sy het níks om vir hulle te sê nie. Hulle is die verraaiers. Hulle het geen ruggraat om op te staan en te veg vir hul plase, vir hul erfgrond nie.

En dis nie net die broers Brandt wat hulle plase wil verkoop nie. Tydens die vergadering met Bertus Oliver van die Kouga Bewaringsstigting het Petrus en Meisie Verwey glo ook saam met die paddakoor begin sing.

Hulle is bereid om alles te verkoop. Oor te gee aan vreemdelinge. Kastige natuurbewaarders.

Ragel sal dit nooit kan doen nie.

Die reën sal kom, die rivier sal weer standhoudend word, Cornél sal terugkom huis toe. Dan sal sý daar wees. Sy sal hom en De Viljee nie verraai nie.

Ragel gee petrol, ry voor die skooltjie verby sonder om ’n mens langs die pad te groet, en draai dan links onder in die grootpad af.

Nou trap sy die petrol, en haar pa se Toyota-bakkie kreun en knars oor die klipperige pad. Aan weerskante rys die hellings van die Kougaberge hemelwaarts. Die son is op en skiet sy strale verbete uit oor die dig opmekaargepakte berge. Sy kyk na links waar die indrukwekkende ou geelhout in die vallei staan, ’n baken wat sy ken vandat sy haar verstand gekry het. Tweede rat, en op met die sandsteenpad. Dan sak sy aan die ander kant af en na links, ver na onder, tussen die nou kranse, blink die Kougarivier se lieflike swemgate – die Kraaltjies. Dis nie eens so lank gelede nie wat sy en haar broers en van die ander Opkomsboere se kinders, nog heerlike piekniekdae hier deurgebring het. Voor die droogte, en voor alles verander het en soveel jong mense Opkoms verlaat het. Voor sy en haar broers agtergekom het die lewe is nie net een sorgvrye vakansie nie.

Min water in die Kouga. Sy sytakke wat daar ver in die Tsitsikammaberge ontspring, die Langkloof kruis en dan deur die bergreekse breek in die rigting van die Kougarivier, is laag. Hoekom bly die reën weg? Wat gaan aan met die weer? Alles is befoeterd – selfs die mense van hierdie streek wat al vir geslagte saam boer en saam werk en saam opgebou het en teenslae oorleef het, begin onder mekaar baklei. Oor water, oor luiperds uit die Baviaanskloof wat hul vee kom vang, oor bewaringsbedonderde mense wat hulle grond wil kom vat.

Ragel steek die laagwaterbrug oor die Kougarivier oor, en nou lê die kronkelende, steil bergpas voor.

Die spekbome blom darem ten spyte van die droogte. Dalk moet sy stop en een van die takkies met druppelpienk blomme pluk en by die ander insit wat sy vir haar ma vat. Sy stop en laat die bakkie luier, spring vinnig uit en breek ’n takkie af, terug in die bakkie en klap die deur toe. Stofdeeltjies kom oral los en dwarrel oor haar neer. Sy trek weg teen die opdraand.

Wanneer sy die bergpas deur is en aan die ander kant van die plato afsak, is die wêreld oop. Sy kry die ongemaklike en ontevrede krieweling wat sy altyd kry wanneer sy die een leë plaashuis ná die ander verbysteek, asof sy onder haar vel jeuk. In plaas daarvan om haarself te begin krap van frustrasie, trap sy die petrolpedaal dieper in. Die bakkie sidder onder die spoed.

Hier lê plase reeds leeg en verlate. Klaar opgegee. En sy kan dit nie hanteer nie. Die mense is vort, sy weet nie waarheen nie. By die Du Toits se plaashek verby. Dit was so ’n mooi plaas en ’n huis met ’n lowergroen tuin. Al wat sy nou sien, is geroeste implemente en ’n huis wat toestaan. Die honde is weg, die gras neem oor, dis hartverskeurend. In die stil lug hang die bloekomboom by die hek se arms moedeloos na onder, sy kop op sy bors, treurend oor die vergetelheid.

Sy is verlig wanneer sy die T-aansluiting met die R62 bereik.

Sy draai regs in die rigting van Joubertina.

Nou verskuif alles in Ragel. Die een warboel van emosies maak plek vir die volgende een. Dis nie nuut nie, dit gebeur net mooi elke Vrydag wanneer sy die grondpad verruil vir die teerpad. Nou lê haar ma voor, en die emosies rondom haar ma duld nie ander emosies naby nie. Dit verdring alles, dit neem elke leë holtetjie, elke moontlike spasie in. Dit is soos die mis wat afsak in die klowe op hul plaas. Soos dit ingerol kom, pluk dit alle kleur van die veld, van die bome en die kranse af. Dit sluk alles in en neem alles oor.

Emosies van wrewel en woede en verwerping, vermeng met onverklaarbare hartseer, maak Ragel se binneste vol. Ná vyf jaar wyk die hartseer nog steeds nie. Ook nie die wrewel en die woede nie. En die ergste van alles is die hoop waarteen sy geen weerstand het nie. Sy kan net nie ophou hoop nie. Dis ’n stryd wat sy lankal agtergekom het sy nie kan wen nie. Hierdie hoop dat haar ma sal versag. Dat sy sal praat. Net een iets moois vir haar sal sê. Net één keer sal sê dankie vir die melkkos en die spekboomtakkies, my Ragel-kind. Hoe gaan dit met Pa? Of, en dit is die droom waaraan sy vasklou: Het jy al iets gehoor van Cornél?

Ragel is verslaaf aan dié wrede hoop. Sy kan nie wegbly nie, want dalk gaan dit hierdie Vrydag gebeur. Dalk gaan haar ma hierdie Vrydag ’n sprankie emosie toon. Net een mondhoek wat effens na bo beweeg. Net een klein beweginkie van haar hand in Ragel se rigting.

Sy weet sy sal haar ma se hand vat. Sy sal haar hand vashou. Sy sal sê: Alles is oukei, Ma. Pa is maar siek, maar hy staan darem nog op in die oggend. Hy sit nou wel heeldag op die stoep, maar hy eet en hy praat darem met my. Al is dit net wanneer ek hom vrae vra oor die boerdery, en die vrugte is mooi, Ma ...

Nee, sy sal nie sê van die swendelary wat aangaan nie. Van mense wat hul plase wil vat nie, van die versengende droogte en die min water en die uitgeputte boorde nie. Van hoe ou vriende nou vyande geword het, en van die geskinder en venyn en die agterdog en beskuldigings nie.


Ragel draai af en stop voor Joubertina se koöperasie. Klim uit. Voor sy na haar ma toe gaan, moet sy eers haar lysie benodighede wat sy later sal kom oplaai, hier afgee.

Wolwefluit van iewers af, die gelag wat volg.

Sy gooi haar arm in die lug en waai sonder om om te kyk. Sy weet dis net Bouwer en ou Janneman, want dit is die ritueel wat elke keer afspeel wanneer sy voor die koöperasie stop.

Sy stap die gebou binne en kyk rond of sy oom Ben sien.

“Ragel van Opkoms,” hoor sy die bekende, diep stem agter haar.

Sy swaai om. “Oom Ben! Hallo, Oom ...” Ragel laat toe dat hy haar vir ’n oomblik teen hom vasdruk. Oom Ben, ’n goeie vriend van haar pa, is die enigste mens wat sy vertrou en wat sy toelaat om haar ’n drukkie te gee. Hy praat nie oor haar agter haar rug nie. Sy bemoeienis met haar is opreg. Sy voel sy kakiehemp teen haar wang, altyd dieselfde hemp, sy glo nie meer hy besit nog een nie. Sy ruik sy sigarette vermeng met sy naskeermiddel. Wat gaan sy doen wanneer hy die dag ophou werk? Hy ís immers al stokoud.

Oom Ben vat haar aan die skouers en stoot haar weg van hom, kyk haar in die oë. “Hoe gaan dit, Ragel?”

“Goed dankie, Oom.”

“Jou pa?”

“Dieselfde, oom Ben. Hy snak onophoudelik na asem, maar het weer vanoggend volstrek geweier om saam te ry en dokter toe te kom.”

Sy oë is ligblou soos helder bergwater. Hy weet en sy weet. Haar pa is op sy laaste bene, maar hy weier om sy voete van Soetkloof af te sit want netnou is hy nie daar wanneer Cornél huis toe kom nie. “Tot ek nie weet Cornél is dood nie, sal ek glo hy gaan terugkom,” is wat haar pa al die jare sê. Dan steek hy nog ’n sigaret aan. Dat hy nog kan asemhaal, is ’n wonderwerk. Hy sit op die stoep van hulle huis en hou die pad dop. Hy glo Cornél gaan eendag, soos die verlore seun in die Bybel, in daardie plaaspaadjie afgestap kom. Huis toe kom.

“Wat kan ek vandag vir jou doen, kind? Is jy op skedule met die perskes?” vra oom Ben.

“Dit gaan ’n kragtoertjie verg om klaar gepluk en gepak te kry voor Kersfees, Oom.”

“Jy lyk moeg, Ragel. Jou oë is bloedrooi. Wat gaan aan?”

“Ek het self twee vragte hierdie week Uitenhage toe gery, Oom. Ou Rieme moes ’n slag rus kry.”

“Ek hou net mooi niks daarvan nie,” sê hy vir die hoeveelste keer. “Jy, meisiekind alleen, seker weer drieuur in die oggend weg op Soetkloof om betyds by die mark te wees.”

Sy kyk na hom. Sy oë word omraam deur diep lagspoortjies. Sy vel is gevlek van son en ouderdom. Hy het baie min hare oor op sy kop, maar soos altyd dwaal haar oë na sy ore, want ironies genoeg groei daar haartjies al op die rande van sy ore – asof hulle afgesak het van sy kop en nou vir oulaas aan sy ore hang.

Sy weet oom Ben se bekommernis is eg. Sy weet sy kan ’n pap band kry. Sy weet van al die moontlike gevare. Maar niks daarvan het haar nog getref tot nou toe nie, en die perskes moet by die mark kom.

“Jammer, oom Ben. Ek weet. En dankie vir Oom se omgee.”

“Moet ons iets vir Ragel van Opkoms oplaai?” vra Bouwer en kom soos altyd vol selfvertroue aangestap.

Sy haal haar lysie uit haar hemp se bosak. “Hoofsaaklik kunsmis vandag, julle. En daar is nog ’n paar goed op die lysie.”

“Ag, ek doen dit met graagte vir jou, Rageltjie, as jy my net hier,” en hy druk sy wysvinger teen sy wang, “’n soentjie gee. Dan sal ek jou mooi oortjie liggies byt.”

Agter hom verskyn Janneman nou ook. “Onthou, ek moet hom help, want daardie sakke is swaar. Gee my jou hand, liewe Ragel, en ek plant ’n sagte soentjie daarop. Spesiaal van my, Janneman van Joubertina, gentleman van die Langkloof. Eers op die bokant van jou hand, dan in die sagte palm waar al jou senuwees bymekaarkom sodat die boodskap van my liefde tot in elke eindpuntjie van jou liggaam gedra word.”

Ragel bars uit van die lag. Elke liewe keer wanneer sy hier stop vir aankope, of om oom Ben se raad en hulp te vra, speel hierdie tafereel af. Dié twee het deur die jare al met die snaaksste goed vorendag gekom in hul wedywering om haar aandag te kry. Sedert sy die boerdery noodgedwonge moes oorneem ná De Viljee se dood en Cornél verdwyn het, en die gepaardgaande ineenstorting van haar ma en verdere agteruitgang van haar pa, is die son, maan en sterre al deur hierdie twee aan haar belowe. Die eerste jaar of twee het sy hulle óf geïgnoreer, óf so ongeskik moontlik behandel. Sy was altyd kwaad en nors. Maar hulle het later sulke belaglike manewales aangevang, dat sy nie anders kon as om te lag nie. Wie kan die langste op sy hande staan, of ’n sakresies hier voor die gebou verby hou sodat klante en werknemers saam gil en jil van plesier, wie kan die meeste pannekoeke binne vyf minute verorber – gewoonlik wanneer die NG-Kerk basaar hou – en wie kan die meeste push-ups doen. Ag, die lys is eindeloos. Bouwer is ’n lang en maer, bebrilde karakter wat so paar jaar voor haar gematrikuleer het en sedertdien hier by die koöperasie werk. Sy oorpakke se broekspype is altyd te kort en hy lyk soos ’n weeskind, maar hy het werklik ’n selfvertroue wat haar verstom. Janneman, daarenteen, is besonder kort en het ’n yslike boepens. G’n wonder hy het die pannekoekkompetisie loshande gewen nie. Sy bene is soos twee boomstompe en hy dra altyd ’n té kort en té stywe kakiebroek.

“Gaan jy gou koffie drink, Ragel?” onderbreek oom Ben haar gedagtes.

“Nee dankie, Oom. Nie vandag nie. Ek wil gou na my ma toe gaan, en dan wil ek ons voorraad gaan aanvul. Franna het vir my ’n ellelange lys gegee.”

“Goed so, gaan doen jou dinge. Jou twee bewonderaars sal die bestelling gereed kry,” en hy knipoog vir haar. “Dan kan jy dit later kom oplaai.”

Wanneer Ragel omdraai om na buite te stap, val Janneman en Bouwer aan weerskante van haar in, soos twee lyfwagte, en stap saam buitetoe. Janneman marsjeer soos ’n wafferse soldaat, en al wat haar oog vang, is sy boepie en swaaiende arms. Ragel kan haar lag nie hou nie en sien hoe die ander werkers in die koöperasie die spektakel met glimlagte staan en bekyk.

Buite spring Bouwer vinnig vorentoe en maak die bakkie se deur met ’n buiging vir haar oop. Gedwee klim sy in en wag dat hy die deur toemaak. Sy het lankal opgehou teëstribbel. Hoe minder sy sê, hoe beter is dit eintlik, want dié twee laat hulle eenvoudig nie ontmoedig nie.

Nou stap Janneman om die bakkie en bekyk die bande met arendsoë. Ag, mag hy dit nou net nie weer in sy kop kry om haar te begin aansê om die flikkers aan en af te sit en die remme te trap sodat hy kan seker maak alles werk nog nie.

“Jy moet jou linkerkantste agterwiel laat pomp voor jy terugry, Ragel,” sê hy. Ag hemel, hier kom dit nou. Sy kyk in haar kantspieël en sien hoe hy buk en met sy hand oor die regterkantste band vryf om hom ook te toets. Sy weet presies wat hy dink. Hierdie bande is glad, sy het nuwes nodig; om só met die bakkie te ry is gevaarlik.

“Dankie, julle. Ek weet, ek weet. Net nog nie tyd gekry nie. Ek sal die bande pomp.”

“Jou voertuig het ten minste twee nuwe bande nodig, Ragel,” sê Janneman nou skielik ernstig. “Asseblief, luister na my. Met hierdie bakkie is jy ’n ongeluk wat wag om te gebeur. Nie jy of Rieme kan nog ’n slag Uitenhage of Port Elizabeth toe ry met ’n swaar vrag vrugte nie.”

Sy antwoord nie, draai net die sleutel in die aansitter.

Besorgde oë. Hulle bekommernis is opreg. Selfs in die diepste ure van die nag sal hulle haar te hulp snel indien sy sou vra. Hul tergery en kastige wedywering om haar aandag het lankal ’n speletjie geword, want hulle weet sy stel nie belang nie. Maar hierdie twee het nie hulle rug op haar gedraai nie. Dalk was dit alles van die begin af ’n speletjie; hulle onbeholpe manier om haar alledaagse bestaan, die enorme verantwoordelikheid van die plaas, haar pa, haar ma, te probeer ophelder. Hulle het dit reggekry, want hier op die koöperasie se stowwerige stoep, of om die hoek van die gebou waar mens jou aankope laai, het sy al meer gelag as op enige ander plek. Om die waarheid te sê, dit is die enigste plek waar sy ooit lag.

Hierdie twee is seker die naaste wat sy sal kom aan wat ’n mens vriende noem.

Hulle woon albei hier naby die koöperasie aangesien hul ouers ook in Joubertina woon. Janneman bly nog in sy ouerhuis, en sover sy weet, bly Bouwer iewers in ’n tuinwoonstelletjie. Hulle het ook nog broers en susters hier in die omgewing, weet sy. Knus, almal bymekaar.

Stadig ry sy weg. In die truspieël sien sy hoe hulle haar agternakyk. Hulle weet van die droogte, hoe sy en die ander boere wat diep in die Kougaberge woon, sukkel om hul vrugte met die slegte pad by die markte te kry. Hulle weet ook hoe die mense van Opkoms besig is om onder mekaar te stry en te baklei oor water en oor die luiperds en oor die verkoop van hul grond.

Hulle weet veral van die stigma wat aan die Du Preez-familie kleef: De Viljee, dood met ’n koeëlwond in sy kop, komende uit Cornél se Musgrave .270. Die ondersoek, die eindelose ondervragings van familie, ander boere in Opkoms, skoolvriende. Die dagvaarding wat tot hulle almal se skok op Cornél bedien is om binne veertien dae in die hof te verskyn, sy “lafhartige” verdwyning. Natuurlik weggehol. So tipies. Skindernuus waaraan almal vir maande en jare verslaaf is. Die gelate toekyk van vriend en vyand hoe haar ma se kop haar heeltemal los, haar pa versink in hartseer wat met waterige oë nou al vir jare die pad dophou, en sy, die enigmatiese Ragel, wat nooit emosie toon nie, wat nie hulp aanvaar nie, bot en ongeskik. Volgens tannie Bernadette is dit hoe die mense van haar skinder – sy neem die boerdery oor en weier om haar ma se plaas te verkoop en glo nog sy gaan die droogte wen en bly boer.

Hulle is nie ver verkeerd nie. Dis presies wat sy gaan doen.