Skip to main content

Uittreksel | Engele in Kosmoslaan

1

Januarie

Donderdagoggend vroeg het die son net-net sy kop bokant die berge uitgesteek toe die groot meubelvervoerwa afdraai in Kosmoslaan en voor Ida Scholtz se huis stilhou. Werkers van die vervoermaatskappy het dwarsdeur die dag meubels afgedra, maar teen vroegaand toe hulle wegry, is daar nog geen teken van nuwe intrekkers nie.

Twee jaar gelede het Ida se verlede haar ingehaal toe die seun wat sy as agtienjarige moes afstaan, Hugo Conradie, na haar kom soek het. Toe haar man en seun albei in ’n motorongeluk dood is het sy gedink sy word gestraf vir wat sy gedoen het, maar sy het net weer opnuut besef hoe groot die genade van die liewe Here is. Hugo het haar nie kwalik geneem oor wat sy gedoen het nie maar was net dankbaar om met haar herenig te word.

En toe hy sy hart op Claire, haar skoondogter, verloor en vir haar wat Ida is boonop vra om by hulle in te trek ná sy en Claire se troue, was haar beker tot oorlopens toe vol.

Ida het oor die afgelope twee jaar verskeie aanbiedinge van kopers ontvang, maar die transaksies het telkens deur die mat geval. Sy het haar huis verhuur, maar die tydelike bewoners het net op ’n dag stil verdwyn sonder om veel kontak met die inwoners van Kosmoslaan te maak. Maar nou is die huis uiteindelik verkoop, en die nuwe eienaars se meubels is afgelaai. Miskien is die betekenis van die woord “kosmos”– joy in love and life – die rede waarom die res van die laan se inwoners nog steeds hier bly, almal oënskynlik heel gelukkig.

Claire doseer steeds genderstudies aan die Universiteit van Kaapstad. En hoewel Hugo nog altyd by dieselfde kantoor in die stad werk, het die naam daarvan onlangs verander na Kaapstadse Effektebeurs.

Ellie en Justin Brink wat reg oorkant die Conradies bly, praat nie meer so baie daaroor nie, maar die verlange na ’n baba is nog daar. Ellie stort haar hartseer uit in die kinderboeke wat sy skryf. Daar het reeds vier verskyn wat pryse wen en fluks verkoop. Justin het intussen sy eie prokureursfirma begin en oefen ook vir die Comrades.

Ellie en Justin se bure, Alma en Jurie Jordaan, se daaglikse roetine gaan binne die volgende paar weke heeltemal verander. Sabina is agtien, het pas matriek voltooi en is op pad Stellenbosch toe. Dalene is sewentien en vanjaar in matriek. Sy is ’n taamlike bekommernis vir haar ma en pa.

Julia Louw, Ellie en Justin se buurvrou aan die oorkant, is nog altyd ’n enkelma en departementshoof by een van die omliggende laerskole. Maar vandat haar seun, Rudi, BCom op Stellenbosch swot met behulp van ’n rugbybeurs is haar lewe baie anders. Hy is selde by die huis, want wanneer hy nie rugby speel nie, probeer hy sy agterstallige studies inhaal.

Die vorige skoolhoof, meneer Schutte, het verlede jaar afgetree en ’n nuwe skoolhoof is aangestel wat hierdie jaar begin. Julia het nog steeds nagmerries oor Manie Bruwer, ’n vorige kollega wat die lewe vir haar baie moeilik gemaak het. Nie net het hy haar verbaal afgekraak nie, maar hy het ook onwaar stories oor haar en haar kind by die skool aangedra. Dit was egter eers toe Manie vir Rudi op sy fiets raakgery het dat dinge na ’n punt gedryf is.

Alhoewel Manie luidkeels op sosiale media kerm oor sy onskuld en vir almal vertel dat hy Rudi nie met opset raakgery het nie, weet Julia wat gebeur het. Gelukkig hoef sy hom nie meer elke dag te sien nie; hy is deesdae by ’n ander skool.

Marella en Lourens van Wyk, wat reg oorkant Alma en Jurie bly, se oudste seun, Klein-Lourens – hy staan een punt agt meter in sy sokkies en niemand behoort hom meer so te noem nie – is ook op Stellenbosch waar hy regte swot en rugby speel.

Bouwer, hulle tweede seun, is vanjaar in matriek. Marella skud net haar kop oor dié kind van haar. Wat hy heeldag in sy kamer agter sy rekenaar doen, weet net hy, maar sy is maar bekommerd. Hy praat nie oor sy toekomsplanne nie. Ada, hulle baba en enigste meisiekind, is sestien en in graad tien vanjaar. Sy is nog altyd geïnteresseerd in die res van die laan se mense, maar deesdae het sy ook ’n ander belangstelling: mode.

Lourens se derde boek het pas verskyn en word goed ontvang. Marella het intussen haar eie prokureurskantoor oopgemaak. Lourens het vir haar ’n gerieflike kantoor aan die een kant van hulle huis ingerig. Die idee was dat sy net soggens sou werk sodat sy smiddae tyd saam met die kinders spandeer. Maar wanneer jy vir jouself werk, het sy agtergekom, werk jy eintlik maar vier-en-twintig-sewe.

Marella het twee jaar gelede haar lysies weggegooi en besluit sy gaan meer spontaan lewe. Soos Ada graag beduie: “Go-with-the-flow, Mamma.” Binne weke het Marella egter agtergekom dis ’n resep vir totale chaos. Ander mense kan dalk regkom sonder lysies, sý nie. Sy plak egter nie meer lysies in al die kleure van die reënboog teen die yskas se deur nie. Niemand hoef mos te weet sy hou dit nou in haar lessenaar se laai nie, en niemand hoef ook te weet van die Rescue-druppeltjies wat sy al hoe meer gereeld gebruik wanneer selfs die lysies nie help nie.


“Kan ek net weer sê hoe ek uitsien na ons breigroep-byeenkoms?” Alma glimlag terwyl sy die gordyne toetrek. “So baie dinge het oor die afgelope twee jaar verander, maar ons hou nog vol met ons maandelikse kuiers. Ek is veral bly ons kan bymekaarkom voor die skole begin.”

“Hierdie kuiers mis ek ook vir niks,” sê Ellie. “Tannie Ida, ek sien daar is vandag meubels by jou huis afgelewer. Ek neem aan die nuwe eienaars trek in?”

Ida knik. “Ja, ek is so dankbaar die huis is uiteindelik verkoop danksy Alma se harde werk. Nogmaals baie dankie, buurvrou.”

“Ek glo mos elke huis sal die regte eienaar kry,” glimlag Alma. “En uiteindelik het dit gebeur.”

“Wie is die nuwe intrekkers?” vra Marella. “Met ons byeenkoms verlede maand was die huis mos nog nie verkoop nie.” Sy nies in ’n snesie in haar hand. “Skies, julle. Ek is regtig oukei, dit is net die hoeveelste simpel verkoue.”

“Ene Conrad Enslin en sy gesin. Hulle is van Worcester. Hy is glo in die onderwys,” antwoord Alma. “Die hele transaksie is aanlyn gedoen. Dit is wonderlik wat ’n mens deesdae alles van ’n eiendom aanlyn kan sien, maar ek weet darem nie of ek sommer ’n huis sal koop sonder om dit self te sien nie.”

Julia kyk vinnig op. “Enslin? Ook in die onderwys, sê jy? Die nuwe skoolhoof wat nou by die skool moet begin se van is ook Enslin, en ...” Sy frons. “Kom hy nie ook van Worcester af nie? Dis seker net toevallig. Sy aanstelling was ’n vreeslike uitgerekte affêre. Die onderwysdepartement kan so sukkel om dinge te finaliseer. Hy het wel by die skool besoek afgelê, maar ek het daardie dag van die kinders na die eisteddfod geneem en het hom nie ontmoet nie.”

“Solank dit net nie weer daai man is wat jou lewe so versuur het nie,” frons Ellie.

Julia kreun. “Moenie eens Manie Bruwer se naam noem nie. Dit kan nie hy wees nie; hy is gelukkig by ’n ander skool in een van die suidelike voorstede. Ek het by Dawn, die sekretaresse, gehoor hy is intussen ook van sy vrou geskei.”

Alma gaan sit. “Foeitog, sy het seker haar lewe lank gely onder ’n narsis soos hy. Ek kan nog steeds nie glo die hofsaak is uitgegooi nie.”

“Ek raak sommer dadelik weer opgewerk,” brom Marella terwyl sy konsentreer op haar breiwerk. “Howe funksioneer nie regtig meer deesdae nie. Dis ’n wonderwerk indien ’n saak uiteindelik voor ’n regter of landdros beland. In hierdie geval het die verfmonsters wat hulle van Manie se motor en Rudi se fiets geneem het, weggeraak uit die SAP 13-bewysstukkluis. Moenie eens vra nie.”

“Ek moet bieg, ek is maar bly,” sê Julia. “Vir ’n lang uitgerekte hofsaak waar ek elke dag vir Manie moet sien, sien ek eenvoudig nie kans nie. Solank ek net nooit weer iets met hom te doen hoef te hê nie en hy ver van my en my kind af wegbly, is ek tevrede.”

Sy ril. “Kan ons asseblief oor iets anders praat? Ek begin sommer hiperventileer as ek net dink aan wat gebeur het. Alma, sien Sabina al uit na Stellenbosch?”

Alma druk Julia se hand. Sy verstaan maar te goed hoekom sy eerder oor iets anders wil praat. Hulle almal onthou die aand toe Rudi raakgery is nog baie goed. “Ja, sy is baie opgewonde. Sy is maar op haar senuwees omdat sy ’n kamer met iemand moet deel, maar sy sien baie uit na haar studies.”

“Wat gaan sy nou weer swot?” vra Ida.

“Rekenaarwetenskap en inligtingstelsels, Tannie. Pa se kind. Sy is so anders as Dalene – háár enigste fokus is die volgende partytjie. Ons probeer met haar oor volgende jaar praat want sy moet begin planne maak oor wat sy ná skool wil doen, maar sy lag dit net weg.”

“Is Sabina en Klein-Lourens nog bymekaar?” wil Claire weet.

Alma haal haar skouers op. “Hy was lanklaas by ons, so ek weet nie regtig nie. Ek het probeer uitvra, maar Sabina wil nie praat nie. Marella, weet jy iets?”

Marella kyk op van haar breiwerk. Daar is ’n effense frons tussen haar wenkbroue. “Nou dat jy dit noem ... ek kan ook nie onthou wanneer laas ek vir Sabina gesien het nie. Klein-Lourens was nog altyd baie erg oor haar; ek sal tog vra. Wat my meer bekommer op die oomblik is sy studies. Hy begin vanjaar met sy finale jaar BCom Regte, maar ek is bevrees hy spandeer baie meer tyd aan rugby as aan sy studies.”

“Hulle maak mos darem deesdae goed geld met rugby, of hoe?” sê-vra Ellie.

Marella skud haar kop. “Jong, hy kan nie die res van sy lewe rugby speel nie. En wat doen hy dan? Ons wil graag hê hy moet sy studies voltooi. Al gaan hy nie aan met LLB nie, sal ek bly wees as hy ten minste BCom Regte voltooi.” Sy kyk na Julia. “Dit klink my Rudi kry dit reg om sy rugby en studies te balanseer. Ek het hom nou die dag in die straat raakgeloop.”

“Ja, dit gaan goed met hom,” glimlag Julia. “Ek sien hom net te min. Ek weet byvoorbeeld nie eens of hy en Dalene nog iets aan het nie. Weet jy, Alma?”

“Sy praat ook nie,” sê Alma. “Trek net haar skouers op. Ek het gedink as hulle verby die tienerjare is, gaan dit beter. Ons gesels oor allerhande dinge, maar sy het nog nie weer oor Rudi gepraat nie.”

Marella kreun hardop. “Wel, Ada is sestien en heeltemal verslaaf aan haar foon. Deesdae is haar groot belangstelling mos modes. Sy is van vroeg soggens tot laat saans op sosiale media. Die nuutste gier is om makeovers te doen. Ek waarsku maar solank. Moenie verbaas wees as sy aan julle deure kom klop nie. Sy soek proefkonyne. Bouwer weer maak my heeltemal mal. Hy sit mos so heeldag agter sy rekenaar. Nes Dalene wil hy ook glad nie praat oor volgende jaar nie.” Sy steek vinnig ’n hand uit na Ellie wat langs haar sit. “Skies, Ellie. Hier sit ons en kla oor kinders, en jy en Justin wil so graag ’n baba hê.”

Ellie kyk nie op van haar breiwerk nie. Sy glimlag net baie effens.

“Ek glo nog vas daar is ’n dogtertjie in ons toekoms. Intussen skryf ek stories wat sy eendag kan lees.”

“Ek is so bly jou boeke doen so goed,” sê Alma. “Jy stap met die een prys ná die ander weg. Ek brag graag met my beroemde buurvrou.”

Ellie lag skaam. “Dankie. Ek is baie dankbaar.”

Claire maak keel skoon en loer onderlangs na haar skoonma. Ida knik baie effens. “Ek ... ons het nuus. Ons ... ek en Hugo is swanger. As alles reg loop, kom ons babatjie in September.”

Vir ’n oomblik is dit doodstil in Alma se sitkamer. Dan vlieg Marella op met ’n gil en storm met oop arms op Claire af. “Ek is so bly vir julle!”

Die ander vroue kom vinnig nader. Ellie ook.

Claire gryp vir Ellie om die nek. “Ek is so jammer ...” Haar oë skiet vol trane. “Ek weet hoe lank julle al wag ... jy het ook nog ’n miskraam gehad ... ek ...”

Ellie gee haar ’n drukkie. “Ek is bly vir julle. Dis wonderlike nuus. Dis seker nog te vroeg om te weet of dit ’n dogtertjie of ’n seuntjie is?”

“Ja, ’n mens kan blykbaar so teen week veertien uitvind, maar dit maak regtig nie vir ons saak nie.” Claire lag so tussen haar trane deur. “Ek wou so graag vir julle vertel vanaand, maar ek ...”

Ellie gee weer vir haar ’n drukkie. “Dis wonderlike nuus so aan die begin van hierdie nuwe jaar.”

Uiteindelik gaan almal weer sit.

“Ek is regtig bly vir julle, Claire,” sê Julia. “Die manier waarop jy en Hugo by mekaar uitgekom het, gee my nou nog hoendervleis. Ek het nie ’n goeie ondervinding van die huwelik gehad nie en wil regtig nooit weer trou nie, maar dis altyd vir my so mooi om stories te hoor oor mense wat kans sien om liefde ’n tweede of selfs derde kans te gee.”

“Moet nooit sê nooit nie,” glimlag Claire. “Ek het baie beslis ook nie gedink ek kan weer lief raak vir iemand nie, maar toe ek die eerste keer in Hugo se blou oë kyk ...” Sy druk haar hand teen haar hart en sug teatraal.

Almal lag.

“Dalk wag iemand baie spesiaal vir jou ook,” knipoog Claire.

Julia skud haar kop beslis. “Nee wat. Ek is hopeloos te jonk getroud, en dis nie ’n ondervinding wat ek wil herhaal nie. Ek sal nooit spyt wees daaroor nie, want anders het ek nie vir Rudi gehad nie.”

“Tannie Ida, wat van jou?” terg Marella. “Jy is nog eintlik jonk, dink jy ooit daaraan om weer te trou?”

Duidelik onthuts kyk Ida vinnig op. “Nee, o aarde, kind, ek het meer as wat ek verdien. Ek het mos vir julle my storie vertel. Toe my man en seun dood is, het ek gedink ek word gestraf oor die baba wat ek lank terug moes weggee. Maar toe stap Hugo in my en Claire se lewens in. Nie net het ek my kind teruggekry nie, daar is nou ook ’n kleinding op pad.” Haar oë blink van die trane. “My beker loop oor. Die liewe Heer se genade is baie groot. Buitendien, ek word een van die dae twee-en-sestig. Ek is heeltemal te oud vir sulke lawwigheid.”

Marella glimlag. “Tannie lyk pragtig. Ons het baie lanklaas ’n groot partytjie in die laan gehou. Ek dink dis tyd dat ons weer iets opwindends soos ’n verlowing vier.”

“Wel, julle kinders word nou so vinnig groot, hulle is seker nie meer so ver van verloof raak en trou af nie,” sê Ida sedig.

Dié keer is dit Marella wat ietwat uit die veld geslaan lyk. “Nee, o heng, Tannie ...” Haar oë rek. “Klein-Lourens is al twintig, maar niemand trou meer so vroeg nie, of hoe?”

“Ja, asseblief tog nie!” roep Julia uit, haar hand teen haar nek. “Ek is nog glad nie gereed om Rudi heeltemal aan ’n ander vrou af te staan nie.”

“Ek kry die idee ons moet weer die onderwerp verander,” lag Ellie. “Marella, het jy al gedink wat ons vanjaar gaan brei?”

Marella kyk na Claire en glimlag. “Ek het omtrent al kopgekrap, maar nou weet ek. Ons gaan vir Claire en Hugo se kleinding ’n kombers brei. Miskien katoen, of hoe? Die kleinding kom wel in September, maar dis dan tog nog koelerig. Ons kan dalk weer blokkies brei of hekel en iets daarop borduur. Miskien het julle elkeen ’n gedagte wat julle met die kleinding wil deel? Ek sal gaan uitwerk hoe groot en min of meer hoeveel blokkies elk behoort te brei. Het jy al aan ’n kleurskema gedink, Claire?”

“Nog nie,” sê Claire. “Maar ek dink as almal met wit en grys begin, kan ’n mens altyd later nog ’n kleur of wat bysit?”

Marella haal haar foon uit. “Dis nou ’n goeie plan, julle. Kyk solank op Pinterest waarvan jy hou en laat weet my. Ek sal vir ons ’n patroon uitwerk en vir almal stuur.”

Claire druk haar hande teen haar hart. “Baie dankie, julle. Dis baie spesiaal.”

Opgewonde begin almal idees uitruil. Alma leun terug in haar stoel. Vanaand se kuier doen haar goed. ’n Vreemde onrustigheid het die laaste ruk in haar kom nesmaak. Sy weet nie of dit is oor die meisiekinders wat so vinnig grootword en al hoe meer onafhanklik van haar en Jurie lewe en of dit is omdat sy haar oor haar man bekommer nie, maar haar gemoed is vanaand vol.

Daar is ook haar werk. Sy geniet dit om huise te verkoop, maar die laaste tyd is sy rusteloos. Haar voete jeuk. Sy wou nog altyd reis en die wêreld sien, maar met Sabina wat nou universiteit toe gaan en Dalene wat nog geen idee het wat sy wil doen nie lyk dit na ’n onmoontlike droom. Ná die gesels met haar bure, voel sy ligter. Daar is so baie om voor dankbaar te wees. Dit is goed om omring te wees van mense by wie sy enige tyd om hulp kan aanklop.


Teen die tyd dat Ida en Claire oor die straat terugstap huis toe, is Ida nog half ontstig oor Marella se vraag of sy weer sal trou. Haar gedagtes is juis deesdae weer so besig met die verlede – met Ken Myburgh om presies te wees.

Darem snaaks hoe sy dinge van lank terug so kristalhelder kan onthou, maar sy vergeet waar sy haar motor se sleutels vanoggend neergesit het.

Claire haak by haar in. “En as Ma so diep in gedagte is?”

Sy glimlag en druk Claire se arm. Haar skoondogter praat vlot Afrikaans, maar haar Engelse aksent slaan steeds deur. “Nee wat, ek dink sommer aan almal se stories.”

“Ek wou so graag vir almal van die baba vertel, maar Ellie ...”

“Ja, ai, my hart gaan ook so uit na haar en Justin. Maar ons weet mos ons liewe Heer se genade is groter as wat ons menslike verstand kan begryp. Ellie glo so onwrikbaar in die droom wat sy van ’n dogtertjie gehad het. Ek hoop en bid ’n baba is vir hulle beskore.”

“Ek moet sê, al die stories oor die tieners en hulle nukke maak my maar ietwat bekommerd. Ek onthou nog so goed die aaklige foto van Sabina wat op sosiale media rondgestuur is. Dis nie maklik om vandag kinders groot te maak nie.”

“Gelukkig maak niemand alleen kinders groot nie,” glimlag Ida en gee haar skoondogter ’n drukkie. “Ek het gereeld gebid toe Philip klein was. Ek was maar dwarsdeur die dag aan die gesels met die Here, want die gedagte dat ek verantwoordelik was vir so ’n klein mensie was oorweldigend.”

“Dis hoekom ek so bly is Ma is naby,” sê Claire sag. “Ná Philip se dood het ek die idee om kinders te hê heeltemal uit my kop gesit, maar toe trek Hugo langs ons in, en nou is daar vir ons ’n baba op pad. Ek is so opgewonde, maar met tye wil my keel toetrek.”

“Ek kan ook nie wag nie,” glimlag Ida. “Ek het doelbewus nooit aan kleinkinders gedink nie, en kyk nou ...” Sy sluk. Elke keer wanneer sy aan babas dink, is Ken weer in haar gedagtes. Dis meer as veertig jaar later, maar sy het hom nog nooit vergeet nie.

Claire groet en Ida stap na haar woonstel toe. Sy trek stadig uit, haar gedagtes nog steeds by Ken. Hy was haar eerste liefde. Haar eerste minnaar ...

Vinnig trek sy haar kamerjas aan. Waaraan dink sy? Ken is heel waarskynlik getroud met ’n string kinders en kleinkinders. En sy is ’n ou vrou vol plooie en alles hang. Om voor ’n man te ontklee is baie beslis nie iets wat sy ooit weer kan doen nie. Kopskuddend stap sy badkamer toe. Hier trek sy weer haar kamerjas uit en hang dit aan die haak agter die deur op. In die stort lig sy haar gesig na die vallende water terwyl haar hand met die koekie seep in oor haar lyf gly.

Haar vry hand huiwer ’n oomblik teen haar bors. Verbeel sy haar of is daar ’n knop wat nie voorheen daar was nie? Noudat sy daaraan dink, dié bors is nogal sensitief deesdae. Sy moet miskien tog maar by die dokter uitkom. Dis in elk geval seker weer tyd.