Skip to main content

Uittreksel | Die kerkseun

PROLOOG

Luister fyn na die mens,
na klanke wat broei in sy pens.
Langs die Kindjie se krip
of die heiden se heup,
gaan hoor dit waar ook al jy lê.
Sluit asseblief die oë,
sonder om in Iemand te glo.
Bewonder die asem
van dié bo die laken;
behou nou jou fokus net so.
Voel die val van die bors:
eenvoudig, harmonies en fors.
Dis die Gees wat vibreer,
wat sy stem uitforseer
en na vrede op aarde dors.

W.C. Cronjé, Die Gees


Saterdagoggend, 2008

Die kerkseun kyk op na die berge, na die berg van ’n man wat bo hom staan, na die rots van ’n vader wat sy hand na hom toe uitgestrek hou. Aan die bopunt van die leer staan hy gevries; hy sukkel om te fokus. Sy beskermer glimlag en moedig hom aan.

“Amper bo,” sê die man.

Die seun se kop draai ondertoe en hy sien hoe ver hy al gekom het. Vinnig kyk hy terug boontoe en sê dat hy dit nie kan doen nie; dat hy nooit weer sal kan beweeg nie, want sy liggaam en die leer het een geword. Vir nou en vir altyd.

Sy pa glimlag net en verseker hom dat als orraait sal wees. Hy verseker hom dat hy dit kan doen, dat hy daar is om hom te beskerm. Sy pa hou sy regterhand verder uit. “Neem my hand,” sê hy.

Die seun haal diep asem. Sy liggaam wil hê hy moet afkyk, dat hy weer die gevaar moet sien, maar hy hou sy blik na bo, na die berg. Sy regterhand los die paal en gryp vinnig sy pa s’n.

Die man asem in, trek hom op boontoe, asem uit, en glimlag. Net so glimlag die seun. Ek is hier vir jou; jy weet mos. Ek sal jou teen alle gevare beskerm.

“Waarnatoe gaan ons, Pappa?”

“Ek wil graag iets vir jou wys.”

Die seun kyk af deur die klein, vierkantige opening in die middel van die sirkelvormige houtoppervlak waarop hy en sy pa staan. Die leer vang sy oog. Hy sien die donkerbruin houtvloer, en ook hoe ver hulle reeds gevorder het. Hy draai om en sien die venster. Die lig skyn deur en val binne-in die gat waardeur sy pa hom so pas gelig het. Hy hou sy hand in die ligstraal. Sy vingers dans in die warmte – een vir een beweeg elkeen op sy beurt op, en af, en op, en af.

“Kom,” roep sy pa hom. “Ons is amper daar.”

Die man lei hom deur ’n swart boogdeur na ’n nuwe, soort­gelyke vertrek. Die ronde houtvloer en die reuk van stof is daar, maar die venster en die lig het verdwyn. Sy pa maak die deur toe en skakel ’n blou flitslig aan. Hy sien dit: ’n leer nes vroeër, maar bruiner as die vorige een, en growwer.

Hierdie keer moet hy eerste op. Sy pa skyn die lig na bo, na die volgende vloergaping. Hy begin klim. Die leer se roeshobbeltjies voel lekker onder sy vingers. Dit maak die klim makliker. Terwyl hy stadig maar seker boontoe beweeg, klim die lig van onder af saam met hom.

“Wag net solank daar bo vir my, Willem. Ek is nou-nou daar.”

Vir ’n oomblik huiwer Willem. Hierdie is die moeilikste deel. Hy haal diep asem en druk homself deur tot bo-op die vaste grond. Daar is weer lig – baie lig. Hy hoor die geluid van sy pa se hande en voete soos hy van paal na paal beweeg.

Hy kyk weer by ’n venster uit. Die huise het in rotse verander en die mense wat deur die strate wandel, klippies. Waarheen is daardie klippie op pad? Wat sal vandag alles met daardie een ge­beur? Wat dink hierdie steentjie? Kan die klippies vir Willem sien, nes hy hulle kan sien?

“So. Wat dink jy?” vra die seun se pa.

“Waarvan?”

Sy pa glimlag. “Kyk bo jou.”

Aanvanklik trek die lig van die vensters sy aandag af, maar nou sien hy dit. Dit hang soos ’n massiewe, sappige vy aan die boonste tak van Bijlstad se hoogste boom. Dit hang tussen klomp hout­balke, trappe en loopgangetjies. Dit hang in die middel van die vierkantige raam soos ’n arm met ’n gebalde vuis in water gedruk. Dit hang en wag soos ’n gehoorsame skoolkind met sy vinger op sy mond om weer te mag praat. Die kerkklok. In die hoek links van hom begin ’n reeks houttrappe tot net onder die klok. Die trappe is in verskillende skakerings bruin met spinnerakke wat in elke hoek gesig wys. Sy pa neem die eerste tree. Die trappe begin teen die muur en vorm ’n hoekige spiraal soos dit algaande langer en smaller word.

“Versigtig nou, Willem, en stadig trap. Hierdie trappe is baie oud. Trap net waar ek trap.”

“Ja, Pappa.”

Die hout se gekraak maak hom benoud, maar hy hou aan be­weeg. Sy pa trap versigtig; op party planke in die middel, en op ander aan die kante.

Daar vlieg ’n duif êrens hier binne, dalk twee. Willem hoor hoe die duif koer en hoe die voël sy vlerke klap. Hy kyk op na waar die geluid vandaan kom. Hy sien geen duif nie; dit moet seker agter die kerkklok wees. Hy kyk na die houtstruktuur rondom die klok, en hoor die geskarrel van klein voetjies. Hy hoor hoe sy eie gewig die trappe laat kreun, en ook hoe sy pa hom nader roep.

“Kom, seun. Ons is amper daar.”

Met vinniger treë stap hy by die oorblywende trappe op. Hy kom tot by sy pa by ’n T-aansluiting bo in die hoogste deel van die kerk. Hulle staan in die hoek van die vierkantige raam; die metaalvy hang voor hulle in die middel van die vier houtbrûe.

Sy pa draai links met een hand op die houtreling aan die regter­kant van die paadjie. Willem kyk weer vinnig ondertoe, sluk swaar en kyk op om te sien dat sy pa reeds by die volgende hoek is. Hy loop vinnig om weer tot by sy pa te kom.

In die middel van die tweede brug, die een oorkant die spiraal­trappe, gaan staan sy pa. Hy laat rus sy voorarms op die houtreling en glimlag vir die klok voor hom. “Is dit nie pragtig nie?”

Willem staan teen sy pa se been en kyk na die reusagtige vy wat voor hom hang. Die klok se vel is ’n vieslike seegroen met klomp koper sproetjies, en die swart stroke wys ook hoe tyd dit verander het. Selfs die duiwe het help versier. Hierdie klok is baie dinge, maar pragtig is beslis nie een van hulle nie.

“Die klok?” vra Willem, net om seker te maak.

Sy pa kyk af en glimlag. “Oukei, dit is seker nie só mooi nie, maar sy geskiedenis is pragtig. Wat dit verteenwoordig, is pragtig.”

Hy sien dat sy seun deurmekaar is. “Hierdie kerkklok is hon­derde jare oud. Dit hang hier waar dit deur al die eeue verskillende geslagte families kerk toe geroep het: vir my en Mamma, vir Oupa en Ouma en ook hulle ma’s en pa’s. En net soos dit vir ons geroep het, sal dit ook vir jou. Soms mag jy dalk verlore voel; jy mag dalk twyfel, maar weet net dat hierdie kerkklok altyd daar sal wees om jou terug te roep huis toe.”

Die seun kyk weer voor hom. Eintlik ís dit nogal mooi.

Die man kyk op sy horlosie. “Kom, dit gaan binnekort lui.”

Hulle loop verder, weg van die klok. In die hoek oorkant die spiraaltrappe maak die man ’n deur oop. Die koue wind begroet Willem skielik en vroetel sy hare deurmekaar soos ’n ouer broer sou doen. Net vir ’n sekonde of twee voordat dit nes sy pa deur die opening verdwyn. Willem sien die smal balkon. Sy pa draai regs en begin om die paadjie styf teen die toringmuur te volg.

Versigtig plaas Willem sy regtervoet op die paadjie vol heksa­goon gaatjies terwyl sy hande aan die lae reling aan sy linkerkant vasklou. Tree vir tree stap hy met die paadjie langs. Onder hom kan hy die kerkgebou deur die gaatjies sien. Die swartgrys teëls weerkaats die lig. Die groot reghoekige prisma van ’n gebou onder die toring waar hy nou staan, lyk vreemd. Dit is die eerste keer wat hy die kerk van bo af sien.

Met een hand op die reling en een hand teen die muur, balan­seer hy hom versigtig na sy pa toe. Dié staan steeds op die paadjie, maar aan die einde daarvan. Die loopgang vergroot effens tot ’n klein, meter breë staanplek. Willem gaan staan langs sy pa.

Die man kyk weer op sy horlosie – 11:59. Hy druk sy wys­vingers teen sy ore, en Willem boots hom na. Hy tel met sy lippe af: drie, twee, een.

Die kerkklok se dawerende ding-dong laat Willem skrik. Hy beweeg onmiddellik tot styf teen sy pa en druk sy kop in sy pa se maag in. Hy kyk af en sien vier voete. Tussen hulle voete en die gaatjies deur sien hy hoe die kerkgebou verdeel en die gedenktuin begin; dit lyk asof iemand ’n stuk koek uitgesny het. Hy sien hoe die duiwe wat rustig op die dak gesit het, wegvlieg, en hy voel hoe die klok binne-in hom slaan. Ding-dong, ding-dong, ding-dong, dawer die toring terwyl die klok van kant tot kant swaai. Hy druk sy ore stywer toe, maar dan hou die gelui op.

Sy pa omhels hom.

Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan, nou en vir altyd.


Deel een

Roem jou nie op die dag van môre nie, want jy,
klein mens, is van die vele wat aan onkunde ly.
In natuurlike vorm, te midde van voelbare goed,
is jy naamlik sterflike herberg vir fisiese bloed,
’n dag oue suigeling wat so pas in sy warm wieg
ontwaak het. Jy, lewende wese, sal vir lank nog lieg
oor wat jy nie kan weet nie; jy sal foute begaan
omdat ’n mens méns is en altyd alles moet verstaan:
’n verduideliking vir die blits is immers noodsaaklik.
Die brandende berg en die wit sneeu is vermaaklik,
maar die krummel kennis sal jou nooit tevrede stel,
dus sal jy ewig lank stories vol leuens vertel.

W.C. Cronjé, Klein mens


Hoofstuk 1

Sondagoggend, 2020

Dit is vir hom moeilik om op die predikant te fokus, want daar is so baie ander gesigte waarna die kerkseun kan staar. Tannie Betsie sit weer nes elke ander Sondag drie rye voor Willem en sy ma reg onder die dominee se neus. Sy kyk na Dominee soos oom Andries, altyd met sy kussingoorfone en kameelperdgeel kierie, na háár kyk. Mevrou Marta en haar tweelingsuster Susanna, wat net twee minute jonger is as sy, sit met hul hande op mekaar se skouers terwyl die Heilige Gees deur hulle beweeg. Hy sien hoe oom Bart se babadogtertjie hom huilend by die kerk uit dwing, en dan begin die orrel dreun.

Sy oë beweeg links verby die bruin preekstoel, verby die groot wêreldkaart teen die wit muur, die klankdigte babakamer en die linkerkantste galery voordat dit die instrument bereik. Daar is seker twintig bronspype wat penreguit soos arms na die dak reik. Die orrel self is dieselfde bruin as die preekstoel waarop die dominee tans sit. Die man het ’n liedboek in sy regterhand terwyl sy linkerhand ’n glas water na sy mond bring.

Een van die koorlede is afwesig, nogtans kan geen gemeentelid die verskil agterkom nie. “Soos ’n Wildsbok” klink presies dieself­de as al die ander Sondae. ’n Paar van die mense sing met hul hande omhoog gehou terwyl ander op die groot skerm agter die dominee fokus. Een van die tannies links agter, die onsuksesvolle operasangeres, sing harder as die ander. Miskien ’n bietjie té hard, maar niemand kla ooit daaroor nie. Die meeste van die ooms in die nabye banke kan haar in elk geval nie hoor nie.

Hy draai sy kop weer terug vorentoe. Die gemeente hou op sing, die orrel hou op speel, en almal neem hul banke in voordat hy sy pa hoor praat.

Dominee Riaan Cronjé, die trots van Bijlstad se moederge­meente, is ’n lang man – ’n gróót man – met ’n voorkoms wat enigiemand kan inspireer. Met sy donker hare en perfekte postuur, sy spierwit tande en donkerblou oë, is dit te verstane dat tannie Betsie elke week aan sy voete gaan sit. Hy is ’n aantreklike man, nie heeltemal wat hy in die verlede was nie, maar nietemin aantreklik.

“Ons bring die eer aan U, o Here. U is net goed vir ons, en nes die wildsbok na water smag, smag ons as gemeente, as dorp en as land na U en u liefde. Gemeente, ek bid dat hierdie week vir julle goed sal wees en dat ons Vader julle sal seën in alles wat julle mag aanpak. Ek vra dat julle wanneer julle nou hierdie kerk verlaat, die woord van die Here sal versprei, nes ons dit vandag hier onder mekaar gedoen het. Gaan dan na al die nasies en maak die mense sy dissipels. En onthou: Hy is by ons al die dae tot die voleinding van die wêreld. Om U naam ontwil. Amen.”

Die orrel kry weer lewe terwyl die gemeente die kerkgebou verlaat. Sommige gaan deur die hoofingang na buite, ander by die kantuitgange en ’n paar, waaronder hy en sy ma, beweeg na die deur agter die preekstoel waar sy pa besig is om met tannie Betsie te praat. Die predikant se oë groet nie sy gesin nie; tannie Betsie hou sy hande styf vas.

“Weet Dominee, Dominee maak ons harte tog só bly. Om elke week só te kan preek … Min mense kry dit reg om God se woord só goed te kan oordra. Dominee is werklik ’n seëning van ons Hemelse Vader.”

“Dankie, tannie Betsie, maar soos Tannie sê: Dit is alles net te danke aan God se genade.”

“Natuurlik, natuurlik,” knik tannie Betsie instemmend. “Maar Dominee hoef nie so nederig te wees nie. Dominee het ’n gawe!”

“Die vroumens is reg,” bevestig oom Andries vanaf die voor­ste ry banke. Hy sukkel die verhogie se paar trappies op met behulp van sy kierie voordat hy langs tannie Betsie gaan staan. “Hierdie gemeente sou nie dieselfde sonder Dominee gewees het nie.”

“Dagsê, Andries,” groet die tannie hom.

Die oom glimlag, buig effens en groet haar terug: “Goeiemôre, mejuffrou Serfontein.”

Sy lyk nie juis beïndruk nie.

“Dis altyd ’n plesier om jou te sien, Betsie.” Die oom gee ’n tree terug en bewonder haar geel sonneblomrok. “Veral as jy só mooi lyk.”

Tannie Betsie wieg half verras op haar hakke. Willem en sy ma kan nie help om te glimlag nie.

“Dagsê, Jianni. Willem,” groet oom Andries die Cronjés. Willem skud die oom se hand terwyl sy pa, dominee Riaan Cronjé, nader aan sy vrou beweeg. Hy sit sy Bybel in haar hande.

“Hoe gaan dinge nog daar by die Bijl Gimnasium?” vra oom Andries vir Willem.

“Dit gaan goed, dankie, Oom. Ons het hierdie week met ’n toetsreeks klaargemaak, so dinge behoort nou ’n bietjie rustiger te wees.”

“Nee, dis goed, seun. Nou kan jy lekker ontspan.”

Willem glimlag. “Ja, oo...”

“Nie heeltemal nie,” sê sy pa. Willem se glimlag sink stadig weg onder sy pa se woorde. “Môre begin Willem se teologieklasse weer.” Sy pa glimlag ingenome.

“Teologieklasse?” vra die oom. “Bied die Gimnasium dan nou dít ook aan?”

“Nee,” antwoord die predikant. “Willem se teologieklasse is by die kweekskool. Spesiaal opgestelde klasse vir matriekleerders wat volgende jaar teologie gaan studeer. Nè, Willem?”

“Ja, Pa.”

Oom Andries kap sy kierie ’n paar keer liggies op die grond en plaas sy vrye hand op Willem se skouer. “Nog ’n Cronjé, nog ’n predikant. Jou oupa, mag hy in vrede rus, jou pa en nou jy. Dis wonderlik om te hoor!”

“Dit is wonderlike nuus,” stem tannie Betsie saam. “As jy enigiets soos jou pa gaan wees, en ek’s seker jy sal wees, is ek baie bly dat die volgende geslag gemeentelede net so ’n goeie predikant sal hê as wat ons nou het.”

Willem glimlag maar net. Wat kan hy nou eintlik sê?

“Ons sal maar moet wag en sien,” sê sy pa.

“Nee wat, Dominee,” begin oom Andries. “Ek kan sommer klaar sien dat hierdie seun van jou eendag God se woord gaan verkondig. Hy is daarvoor gebore.”

Willem glimlag maar net weer en kyk na sy ouers. Sy ma leun vorentoe om iets vir sy pa te sê. Oom Andries kyk nog ’n keer na tannie Betsie se rok terwyl sy na buite kyk waar die res van die gemeente reeds na die gemeentesaal tros waar koek en tee soos gebruiklik bedien word.

“Het Dominee nie dalk lus vir ’n koppie tee nie?” onderbreek die tannie Willem se ma.

Soos haar seun glimlag Jianni ook maar net gelate.

“Ja, dit klink heerlik, Tannie. Ek’s nou-nou daar.”

“Ek sny sommer solank vir Dominee ook ’n stukkie koek.”

“Dankie, Tannie.” Sy glimlag.

“Sterkte met die skool, grootseun. Die laaste jaar is altyd die lekkerste,” groet oom Andries.

“Totsiens, Oom.”

Tannie Betsie begin saam met die oom stadig deur se kant toe stap. Net voor sy buite is, draai sy om en sê: “En moenie te lank wees nie, hoor. Anderster raak Dominee se tee koud.”

Die predikant knik maar net sy kop.

“Lyk my Ma het ’n bietjie kompetisie,” terg Willem.

“Ja, nè. Ek sal versigtig moet wees. Met al hierdie koek-en-tee-afsprakies wat jou pa met tannie Betsie het …” terg sy terug. Die twee lag.

“Moenie belaglik wees nie,” sê Willem se pa. “Gaan julle twee bly vir koek en tee?”

“As ons mag, sal ons vir ons kry. Jy kan maar met die mense gaan gesels; ons sal nie in jou pad wees nie.”

“Het jy toe die notas gemaak?” vra sy pa vir Willem.

Sy glimlag verdwyn en hy lig die boek in sy hand op. “Ja, Pa.”

“Volledig van elke hoofstuk wat ek vandag bespreek het?”

“Ja, Pa.”

“Dan sal ek vanaand daardeur lees en kyk.”

“Dit was ’n pragtige preek, Riaan,” komplimenteer sy ma. “En Willem het sy notas gemaak, nes elke ander Sondag. Jy weet mos.”

Riaan probeer glimlag. “Dankie.” Hy haal ’n bos sleutels uit sy broeksak en gee dit vir haar. “Julle sal ná die tyd met die Fortuner ry, dan vat ek die Mercedes.”

Sy haal ’n silwer sleutelhouer uit haar klein amandelkleurige handsak en gee dit vir hom.

“Sien julle by die huis,” sê Willem se pa.

“Ons eet eenuur, hoor, en ek maak vanmiddag weer risotto.”

“Ek sal vir my warm maak, dankie.” Riaan maak reg om te loop. “En maak seker dat al die werk wat dominee Markus vir jou vir môre gegee het, klaar is, Willem. Ek wil nie hoor dat jy agter is nie.”

“Ja, Pa.”

“Goed so.” Riaan soen sy vrou ongeërgd op die voorkop en stap weg na die gemeentesaal. Willem en sy ma beweeg links en by ’n ander uitgang uit op pad kar toe.

“Ek wil net gou my handsak in die kar bêre, dan gaan kry ons vir ons ook ietsie.” Jianni glimlag voor sy begin hoes.

“Mamma oukei?”

Sy steek haar wysvinger uit: Moenie worry nie; die hoes is nou verby. Sy glimlag. “Als reg, dankie.”

Willem wag langs die Fortuner vir sy ma en staar na die kerk­gebou. Dit lyk asof iemand ’n massiewe roomyshorinkie onder­stebo gedraai en dit bo-op die wêreld se grootste wit skoenboks geplak het. Dit is nie die mooiste kerk nie, ten minste nie aan die buitekant nie, maar dit hoef ook nie te wees nie. Die mense kom nie omdat die kerk met historiese argitektuur, of wonderlike skoonheid, spog nie. Die mense kom vir net één ding: dominee Riaan Cronjé.

Jianni hoes weer liggies en druk die kardeur toe. “Kom ons gaan kry vir ons! Ek dink ’n ordentlike stuk sjokoladekoek sal nou baie goed afgaan.”

Die gemeentesaal langs die kerkgebou is ook nie iets om oor te spog nie. Dit lyk presies soos die kerkgebou, net kleiner en sonder die toring. Dis ’n wit skoenboks met rye vensters hoog bo teen al vier mure. Willem en sy ma stap by een van die glasskuifdeure in en groet die mense terwyl hulle verby verskillende groepies stap.

Reg in die middel van die reghoekige vertrek staan vyf opslaantafels ent aan ent. Elke tafel is versier met roosrooi tafeldoeke, en op elkeen staan drie koeke: sjokolade, wortel en kaas; vyftien koeke vir die moedergemeente. Tussen die gebakte soetighede staan hopies kleinbordjies langs vurkies en servette.

Regs van die gebou se hoofingang, die een waardeur Willem en sy ma so pas geloop het, is ’n klein kombuis waar ’n paar tannies met voorskote staan. Die een is besig om nog water in die kookketel te gooi, twee was solank die vuil koppies en pierings terwyl drie van die ander vir die gemeentelede tee en koffie skink.

“Wat kan ek vir jou kry, jongman?” vra een van die tannies toe Willem by die toonbank aankom.

“Rooibostee, asseblief, Tannie.”

Die ouerige vrou glimlag en kyk na alles voor haar op die toon­bank: koppies, pierings, lepeltjies, ketels vol tee en koffie. Sy soek die een met die rooibostee, maar kry dit nie.

“Ek is nou weer terug, hoor. Ek gaan vind net gou uit of ons nog rooibostee het.”

“Dis nie nodig nie, Tannie. Enigiets wat julle het, sal werk,” keer hy haar.

Sy kyk na die ketel voor haar. “Koffie?”

Hy glimlag. “Dit sal baie lekker wees, dankie, Tannie.”

Willem loop versigtig na een van die tafels en sit sy piering langs die hoop borde neer. Hy sny vir hom ’n groot stuk sjokolade­koek en kry vir hom ’n vurkie toe oom Marinus langs hom begin verstik.

Die ou man se bord koek val grond toe en breek kletterend toe dit die teëls tref. Hy buig effens vooroor met sy hande op die rand van die tafel en hoes al hoe harder. Dadelik sit Willem sy bord neer. Hy weet hy moet help, hy wil, maar hy weet nie wat om te doen nie. Die mense rondom hulle kyk ook net gespanne toe. Iemand moet die oom help, maar hulle is in dieselfde bootjie as Willem. Die oom se gesig word persblou en rooi. Willem sien hoe hy probeer asem kry. Water, dink Willem.

Hy hardloop kombuis toe, gryp ’n koppie en maak dit by die wasbak vol kraanwater. Oom Marinus se hoes, nou minder, maar moeiliker, is nog duidelik hoorbaar. Hy haas terug tafel toe, ver­sigtig om nie te mors nie. Hy kyk op na waar die oom staan, en gee die koppie aan. Die oom gryp gretig en probeer sluk, maar dit help nie. Nog ’n keer probeer hy sluk, en weer, maar sy gehoes gaan voort. Die oom gee die koppie terug, en Willem voel hoe die sterk greep hom aan die arm wegtrek.

“Pasop, gee pad!” beveel sy pa.

Die predikant gaan staan agter oom Marinus met sy hande om die bejaarde se middellyf. Sy linkerhand gryp sy regtervuis net bo die oom se naeltjie en druk hard boontoe tot net onder die bors­been, weer en weer.

“Een, twee, drie,” tel hy af. Die oom se liggaam ruk terwyl die predikant hom net bo die krop van sy maag druk. “Ses, sewe, agt.”

Die oom se hoes gaan met die drukke gepaard, en sy mond gaap in afwagting op die stuk koek wat uitgespoeg moet word.

“Een, twee,” gaan dominee Riaan aan. “Drie, vier ...”

En toe skiet dit uit. Die bruin bolletjie wortelkoekspeeksel vlieg soos ’n krieketbal met ’n perfekte boog oor die tafels na tant Susanna toe. Die enigste ding beter as oom Marinus se gooi, is haar borste se vang. Sy skree. Tant Marta lag terwyl sy ’n servet op een van die tafels vat. Sy vryf die slymerige bruin balletjie van haar suster se boesem af terwyl die oom weer orent kom.

Hy het ophou hoes en aanhou asemhaal. Geskok kyk Willem na die twee mans voor hom. Sy pa vat die koppie by hom aan en help die oom om die water te drink. Riaan glimlag en haal nes oom Marinus, en die res van die gemeente, weer asem. Hulle begin om vir die dominee hande te klap.

“Dankie, Dominee!” roep iemand.

“Dis ’n wonderwerk,” iemand anders.

“Wat sou ons sonder Dominee maak?”

“Dis ’n teken!”

“Dominee is werklikwaar ’n geskenk van God!”

Die predikant glimlag en hou sy hand op die oom se rug.

“Dankie, Dominee,” sê oom Marinus.

Die redder glimlag weer en gee sy seun opdrag om nog water te gaan haal. Willem draf kombuis toe. Die mense in die gemeente­saal raak effens rustiger, maar die dominee sien hoe almal nog na hom kyk.

“Laat ons bid, want hierdie is die genade van ons Here gewees, gemeente. Niks meer nie, niks minder nie.”

Van die kerkgangers staan nes tydens die diens met hul arms omhoog, ander met hul hande op diegene naaste aan hulle se skouers, terwyl Marta en Susanna steeds besig is met bloes skoonmaak.

Willem kom met die vars koppie water uit die kombuis gestap en hy sien hoe almal regmaak vir die gebed. Sy eerste instink is om sy oë toe te maak, maar hulle bly oop. Sy pa hou sy linkerhand op oom Marinus se skouer, sy regterhand uitgestrek in die lug. Willem sien hoe sy pa se wenkbroue klein beweginkies maak met elke woord wat sy mond verlaat, en die emosie wat deur hom straal.

Dis seker die Heilige Gees daai, dink hy. Dit is seker hoe dit lyk as jy gebore is om ’n predikant te wees; as jy gemaak is om vir ander te bid. Dit is seker hoe dominee Cronjé se seun ook moet lyk en voel, maar terwyl Willem daar met die koppie water in sy hand staan, weet hy dat dit nie waar is vir hom nie. Hy weet on­teenseglik dat hy nie regtig ’n predikant wil word nie.


“Die derde gebod?” vra Riaan terwyl hy in die studeerkamer met ’n Bybel van muur tot muur loop.

Willem sit by die grys houtlessenaar met sy elmboog op die tafel en sy hand op sy voorkop. ’n Swart Bybel lê voor hom, net langs die swart notaboek en skryfgoed.

“Jy mag die naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie,” antwoord hy.

“Wat presies beteken hierdie gebod?”

“Ons mag God se naam nie ligtelik gebruik nie. Ons moet ontsag aan God bewys deur Hom slegs met eerbied en verering te noem.”

“Goed, en hoekom is dit een van die tien gebooie?”

“Want die Here sal die een wat sy naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.”

“Reg. Volgende een. Wat is die vierde gebod?”

Willem skuif sy kop sodat dit nou op sy regterhand rus. “Gedenk die sabbatdag. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie.”

“Net jy?” vra sy pa.

“Jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie,” voltooi Willem sy antwoord.

“En hoekom moet ons rus?”

“Want in ses dae het die Here die hemel en aarde gemaak en op die sewende dag het Hy gerus.”

“Wat van die see en alles wat daarin is?” vra Riaan.

Willem staar hom onseker aan.

“Jy vergeet al wéér. Dit is: ‘Want in ses dae het die Here die hemel en aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.’ Maar dan gaan die vers nog aan: ‘Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig’.”

Willem vee sy oë uit.

“Dit is belangrik dat jy hierdie deel leer, Willem. Jy móés dit eintlik al geleer het.”

Stilte. “Kyk vir my as ek met jou praat!”

“Ja, Pa. Ek sal dit nie weer vergeet nie.”

Riaan sien dat sy seun moeg is. “Ek weet jy sal nie. Kom ons gaan aan.”

Willem sit nou regop.

“Die vyfde gebod wat Moses van God ontvang het?”

Willem sug saggies terwyl hy probeer dink. “Eer jou vader en jou moeder, uhm, dat jou dae verleng mag word … dat jou dae verleng mag word, uhm … ja, in die land wat die Here jou God aan jou gee.”

Riaan hou op stap en gaan staan voor die lessenaar. Hy maak sy Bybel toe en sit dit op die tafelblad neer.

“Jy’s aan die slaap. Dit help nie ons gaan verder nie.” Hy klop Willem een keer op die rug en loop deur toe. “Maak seker jy gaan môre weer deur Eksodus 20 en Deuteronomium 5, en onthou om die ligte af te skakel wanneer jy uitgaan.”

Willem kyk hoe sy dominee-pa sy hopelose geval van ’n seun agterlaat. Willem sug, kyk vir ’n oomblik na die Bybel voor hom, sug weer, en gaan lê dan maar met sy kop op sy arms.